Friday, August 3, 2012
Op die voetspore van 'n onbesonge skrywer
Die skrywer PH Nortjé is onlangs oorlede. JENS FRIIS het op sy voetspore gaan stap in die Baviaanskloof waar Nortjé eens gewoon het.
“Ek is gebore in die tyd toe moeders nog nie verwagtend ¬geword het nie en ’n engeltjie die baba uit die hemel aarde toe ¬gebring het,” lui die aanvangsin van Korsies van growwebrood, PH Nortje se biografiese ¬vertelling.
En 91 jaar ná dié “aankoms” op aarde het dié skrywer onlangs die aardse met die ewige verwissel.
Sy laaste jare het hy deurgebring in ‘n aftree-oord op die Strand. En dis van hier waar hy en sy drie seuns ‘n herinneringstog na sy jeugland aangepak het in 2000.
Dié nostalgiese terugreis na die familieplaas in die Baviaanskloof anderkant Willowmore het gelei tot Volstruise, met wie gaan jy trou? – ‘n móét as jy ‘n tog ná die onherbergsame vallei aanpak, soos ek onlangs.
Van die Strand tot in die Kloof en eindelik tuis op Ouma Gerty se verlate plaaswerf het die 80-jarige Nortjé (saam met sy seuns) gereis “met ‘n laaste rustelose verlange soos ‘n ‘kriewel’ in sy hart”, om by Marina le Roux op oulitnet.co.za te leen.
En in die skrywer se woorde self: “Of ek weer in my leeftyd hier sal kom, weet ek nie. Dit is onwaarskynlik. En daarom het ek nou wat my betref, finaal kom afskeid neem. Die herinneringe sal ten minste altyd by my bly; dit kan niemand van my wegneem nie.”
Dis in die hoofslaapkamer van sy ouers se opstal op Klipfontein waar Nortjé op 20 Oktober 1920 gebore is. Hy was die jongste van vier kinders en die tweede kleinseun van Petrus Hendrik Smith – ‘n Britse Settelaar. Hy word Peter Henry gedoop omdat dit glo sagter op die oor is vir só ‘n klein dingetjie. Maar die voorletters PH bly.
Sy geboortehuis staan steeds. As jy van Willowmore se kant deur die Winterhoek- en Kougaberge ry is dit regs van die pad by Studtis.
Die veranda en pilare is daar. Ook die klipmuur wat dit omring. Maar die groot huis is jammerlik vervalle. ‘n Muur is nat van ‘n dak wat lek. Die inwoners het glo vuurgemaak met van die plafonplanke.
“Dis ‘n tragedie,” sê ‘n boer. “As dit nóú gered word, kan dit nog ‘n lieflike gastehuis word. Dis goed geleë hier langs die pad.”
Só het die familiebegraafplaas en die ou verwaarloosde woning Nortjé ontstel dat hy skryf: “Maar wanneer die woonhuis, die veilige hawe van geslagte in die familie, stuk-stuk verval totdat daar nog net ’n bouval oorbly, is dit amper roerender as die dood.”
Maar eens was dit anders. “Geld was hier nooit. Maar aan geborgenheid en liefde en gasvryheid was daar nooit ’n gebrek nie”, verduidelik Nortje aan sy seuns.
In sy kinderdae, byna ‘n eeu gelede, was dié ‘n geïsoleerde boeregemeenskap - ‘n plek waar gelééf is deur oorvloed én droogtes. Sulke lief en leed in ‘n plaasgemeenskap ontruk hy dan ook aan die vergetelheid en herskep dit in boeke soos Voetpad se kloof, Die Groen ghoen en Die Wildedruif val.
Laasgenoemde vertel getrou van die tragiese gebeure van die nag van 5 Mei 1916. ‘n Vloed, soos nog nooit tevore, het die Klowers toe getref.
Maar sedertdien het daar baie water in die see geloop. En Nortjé, onder meer kontreiskrywer, het genadiglik baie hiervan geboekstaaf.
Kort ná Nortjé se dood onlangs was hordes mense in die Baviaanskloof vasgekeer deur vloedwater in ysige weer. En só het die geskiedenis van Die wildedruif val, homself byna herhaal.
SOU JY GAAN
* Hou die weer (www.weathersa.co.za) fyn dop as jy ‘n rit na die Baviaanskloof beplan. Reën en sneeu is swerknaters wat jou maklik hier kan vaskeer.
* Daar is net één grondpad deur die Kloof. Van Willowmore tot by Nortjé se grootwordhuis by Studtis kan jy met ‘n motor aanpak. Maar as jy deur die hele kloof wil ry het jy ‘n bakkie of ‘n 4x4-nodig. Die pad se toestand hang baie af of dit onlangs gespoel het.
* Daar is deesdae meer blyplek hier as wat daar toeriste is. Gasteplase gedy. Ek het oorgebly by die Sederkloof Lodge (www.sederkloof.co.za). Meer hieroor in ‘n volgende uitgawe van Naweek+.
Monday, July 23, 2012
Hotel met 'n uitsig
JENS FRIIS het oorgebly in 'n hotel met een van die allerbeste uitsigte langs die Tuinroete.
As jy soek na 'n besonderse plek om jou geliefde (of jouself) te bederf, verloof te raak of vir wittebrood te gaan, is die Views Boutique Hotel in Wildernis hoog op my lysie.
Hier op 'n enorme duin is dié eksklusiewe vyfster boetiekhotel nie te lank gelede staangemaak. Die pasklaar naam sê alles: dié luukse kleiner hotel (Boutique Hotel) het voorwaar 'n panoramiese uitsig (View).
Só hoog troon dit bokant die strand uit dat dit waarlikwaar voel of jy bo-op die waters van die Indiese Oseaan dryf. In die ooste voer die kuslyn jou oog so ver as wat die oog kan sien in die rigting van Knysna, suid verdwyn die see in Antarktika se rigting, oos sien jy drie of vier huisies uitsteek van Victoriabaai en agter jou waak die Outentiekwa-berge.
Ja, dis 'n area ryk aan skoonheid en dinge om te doen, maar dié is só 'n besonderse hotel dat jy waarskynlik nooit sy deure sal wil verlaat nie.
Views Boutiquel Hotel verlei jou om van die gewone wêreld te vergeet sodat jy al te geneë is om weinig te wil doen in 'n omgewing waar alles byderhand is.
Só is die ruim kamers - in blou, wit en beige - voorsien van ekstras soos 'n espresso-masjien, reuse platskerm-TV, multi-mediapseler en iPod-koppelings.
Hortjies skei die badkamer van die slaapkamer, maar dié kan jy ooptrek en só 'n kollosale vertrek skep. Slegs 'n ekstra-grootte ovaalbad verdeel dan dié twee ruimtes.
Daar is nie ingeboet op plek om soveel hotelkamers moontlik te kon indruk nie. Ruimte is byvoorbeeld gelaat vir 'n groot dubbelstort en twéé wasbakke.
Winters verdryf verhitte handdoekrelings en ondervloerse verhitting die hoendervleis as jy uit die stort of bad klim.
Verlaat jy jou spogkamer wag 'n verrassing in die glashysbak. Dié ry heen en weer verby 'n spiraal nagemaakte vissies wat in sirkels "swem". Jy sou sweerlik kon dink jy's in 'n duikboot!
Die allerlekkerste lekker vir my was om op dié hotel se dakdek in die son te lê, my tone te tel, of ver verby my voete te kyk na die waters van die Indiese Oseaan dóér onder.
Laat-middag sou ons dieselfde doen op ons kamerbalkon wat suid én wes front. Jy kan dus kyk hoe die son sterf agter die heuwels wat Victoriabaai omring voordat jy gaan aansit vir 'n liplekker maaltyd.
Maar die hotel bied handevol meer waaronder die Views Spa waar jy onder meer in 'n soutbad kan dryf of kan gaan sweet in die volledig-toerguste gim. Daar is ook 'n twaalf-sitplek mediasaal en 'n kamer met Wii-speletjies.
Weens die hoë ligging van die hotel reg langs die strand en see, trek die wind goed hier. Dis daarom gewild onder valskermswewers en vlieërbranderplankryers.
Wildernis is in die hart van die Tuinroete en gevolglik is bergfietsroetes tot woudstaptogte net 'n klipgooi ver.
Oorweeg dié hotel beslis as jy weer in dié geweste kom - jy sal verkwik weggaan.
>>>Aparte blokkie, asb.
SOU JY WOU GAAN
* Views Boutique Hotel & Spa in Wildernis, is 20 minute vanaf die George-lughawe.
* Buite-seisoen (1 Mei tot 30 September) kos 'n dubbelkamer met 'n see-uitsig vanaf R1600. Daar is gereeld spesiale aanbiedings waar jy 'n ekstra nag verniet kry as jy 'n paar nagte bly of komplimentêre spa-behandelings op die koop toe.
* As jy by dié vyfster boetiekhotel wil bespreek, bel 044-877-8000 of skryf aan info@viewshotel.co.za of reservations@viewshotel.co.za
* Vir meer inligting loer by www.viewshotel.co.za of www.mantiscollection.com.
Monday, July 16, 2012
Noord-Kaapse plaas het ryk geskiedenis
- Jens Friis
Naby die Magersfontein-slagveld lê 'n plaas met 'n besondere ryk geskiedenis.
Hoewel dié plaas naby die grens van die Noord-Kaap en Vrystaat is, herinner die Kaaps-Hollandse opstal sterk aan die Boland - waar sy eertydse eienaars dan ook vandaan kom.
Nes die woonhuis is die perdestalle sorgsaam gerestoureer en met antieke meubels versier.
Dié stalle is gebruik vir die teel van Clydesdale-perde wat aan delwers verkoop is om swaar vragte diamantgrond uit die oop myn in Kimberley te verwyder.
Luidens 'n inligtingstuk is "Langberg op 7 November 1890 deur die Goewerneur van Haar Majesteit Koningin Victoria, Koningin van Groot Brittanje en Ierland, ingevolge 'n huurpagstelsel teen 9 pond en 5 sjeilings per jaar aan Pieter Johannes Marais verhuur en uiteindelik teen 'n onbekende bedrag verkoop."
Destyds was dit dalk baie, maar om 'n plaas van 7 929 hektaar (9 255 morg) vir R120 per jaar te huur, sou deesdae kleingeld wees.
Pieter, of "Lang Piet" Marais was die oudste van die Marais-broers.
Jannie die jongste was destyds die eienaar van die plaas Coetzenburg waarop die Universiteit van Stellenbosch vandag staan. (Dink net hoeveel is dié lap aarde deesdae werd!)
Piet, Jannie en hul ander twee broers, Abraham en Christiaan het in 1870 van Stellenbosch vertrek om hul geluk te beproef op die Vaalrivier-delwerye.
Maar nuus oor groot, blink klippies by Kimberley het hulle laat besluit om eerder hierheen te skuif.
Die Marais-broers se pad in Kimberley was besaai met diamante. Danksy dié ongekende voorspoed koop die Marais-broers heelwat plase op waaronder Langberg. Hier sou Piet Marais met sy Clydesdale-perde boer en ook 'n allemintige 5 000 volstruise.
In 1902, die jaar wat die Anglo-Boereoorlog tot 'n einde kom, koop Charles Niehaus van Tulbagh dié plaas. Sy skaapkudde van 6 000 loop egter só erg deur onder jakkalse dat hy van die plaas moet afstand doen.
En só beland die plaas in 1943 in die hande van Tienie Mynhardt wat dit koop vir 25 000 pond (sowat R328 000).
Sy dogter Hannah en haar man Polla Neethling boer vanaf 1948 op Langberg. En in 1982 sit Tienie Neethling en sy vrou Maritha die boerdery op Langberg voort en boer met Bonsmara-beeste, wild en olywe.
Tien jaar later begin Tienie en sy personeel met restourasiewerk aan die ou perdestalle en plaasskool en voltooi dié projek in 1995 waarna die gasteplaas in gebruik geneem word.
Die plaasskooltjie het tussen 1890 en 1915 as skool gedien. Hierna was dit 'n melkkamer en toe 'n kroeg. Dié Tiermelkkamer roep dorstiges om halfsewe saans wanneer die ou skoolklok oor die ysterklipkoppies van die Noord-Kaap beier.
Tuesday, April 10, 2012
Het jy dit van Kanada geweet?
Almal weet Kanada is ‘n enorme land waar yshokkie gewild is, dit wemel van esodrings (maple trees) en dat die indrukwekkende Niagara-waterval op sy grens met Amerika is. JENS FRIIS wat daar gewoon het, deel egter ook ‘n paar onbekender feite.
Stap dwarsoor land 'n Voetslaanroete van 10 keer die afstand tussen Kaapstad en Johannesburg strek oor Kanada.
Die Trans Canada Trail, waarby dié land se landbou in 'n groot mate baat vind, is op 16 000 km die langste in sy soort ter wêreld.
Die roete loop langs bestaande staproetes, deur federale of provinsiale parke, langs ongebruikte treinspore en oor private grond.
Waar dit oor plase loop, is reg van weg met die private grondeienaars onderhandel.
Dit is 'n gemeenskapsprojek wat deur al die belanghebbendes in stand gehou sal word. Dit sluit in boere, plaaslike organisasies en provinsiale en nasionale owerhede.
Dit bevorder onder meer ekotoerisme en bewaring.
Belanghebbendes glo dit sal plaaslike ekonomieë stimuleer deurdat gastehuise daarby sal baat vind en eiendomswaardes sal styg.
Reeds in 1992, toe Kanada sy 125ste bestaansjaar as 'n verenigde volk gevier het, is besluit om die roete tot stand te bring. Dit is dus vanjaar 20 jaar oud.
Dit strek verby al die vernaamste Kanadese stede en verbind die Stille, Atlantiese en Arktiese Oseane.
Vir 75% van alle Kanadese kos dit net 'n rit van 20 minute per motor om die naaste punt op die roete te bereik.
Vir die avonturier bied die roete kanovaarte op die grootse Mackenzie-rivier in die noorde, perdry, ski en fietsry.
Meer besonderhede is te vind by www.tctrail.ca en www.walkcanada.com.
Anglo-Boereoorlog-monumentIn Toronto pryk ‘n reuse oorlogsmonument wat Kanada se deelname aan die Anglo-Boereoorlog gedenk. Sowat 270 Kanadese soldate het tydens die Anglo-Boereoorlog van 1899 tot 1902 in Suid-Afrika omgekom.
Die monument was by sy voltooiing destyds die grootste openbare monument in Toronto. Dit is steeds een van die grootste monumente in dié stad wat onder sy inwoners duisende gewese Suid-Afrikaners tel.
‘n Rede vir die grootsheid daarvan is waarskynlik dat dit Kanada se eerste deelname aan 'n oorlog in die buiteland gedenk. Dit bestaan uit onder meer drie bronsbeelde. 'n Vrouefiguur beeld Moeder Kanada uit en twee soldate die infanterie-regimente wat in Suid-Afrika geveg het. Bo-op 'n graniet-obelisk van 27,4 m is 'n vredesengel met gespreide vlerke en arms wat na die hemel reik.
Die monument is die eerste keer in 1910 luisterryk onthul, maar dis twee keer afgebreek en heropgerig - eers weens die bou van 'n moltreinstasie en later weens die verbreding van University Avenue.
Dit staan nou waar University Avenue en Queen Street West kruis.
Detail aan die beelde, soos die oë en naeltjies, was vir jare onder 'n groen roeslaag bedek. Besoedeling, reën en voëlmis het hul merk op die monument gelaat in die afgelope eeu. ‘n Dekade gelede is dit sorgsaam gerestoureer en lyk dit nou weer na die oorspronklike Jakob.
Walter Allward was die skepper van die monument. Hy het later internasionale erkenning gekry as die argitek van die massiewe monument ter herdenking aan die Eerste Wêreldoorlog wat by Vimy Ridge in Frankryk opgerig is.
Wyn gemaakDie Okanagan-vallei in Brits-Colombië en die Niagara-skiereiland in Ontario is nie alombekend vir sy wyne nie. Tog bied dit 'n wye verskeidenheid wyn wat gekenmerk word deur 'n unieke karakter danksy die gebied se topografie en koel klimaat.
Veral yswyn kenmerk die Kanadese wynbedryf. Om dié seldsame wyne te maak word bevrore water onder druk uit die druiwe onttrek. Dit maak vrugtegeure en suur gekonsentreerd en die volume minder. Gevolglik is yswyne duur.
Die geografie van die Niagara-skiereiland word gekenmerk deur 'n 50 m hoë rif. Dit beskerm die wingerde teen die hange teen winde van die Ontariomeer, maar verskaf ook voortdurend warmer lug in die winter en koeler lug in die somer.
Goeie rieslings en chardonnays word ook gebottel.
Die rypheid van veral die rooi druiwe word sterk beïnvloed deur reënval wat vanjaar hoog was.
Nagenoeg 10% van die Kanadese wyn word uitgevoer - hoofsaaklik na Japan en Amerika.
Nog interessanthede* Halifax aan die Kanadese ooskus is verder van Vancouver aan die weskus as Londen.
* Kanada is in tien provinsies en ses tydsones verdeel.
* Net Rusland is groter as dié land.
* By verre die meeste Kanadese woon binne 320 km van die Amerikaanse grens. Die res van die enorme land is yl bevolk.
* Soos die Britte uitwyk na hul ``country manors'' of ``seaside digs'', die Switsers na hul bergvillas of chalets en die Amerikaners na ``ranches'', hou die Kanadese daarvan om na hul ``country cottages'' te gaan wanneer lente in die lug is.
* Kanada se enorme waterreserwes het gelei tot die bou van hidro-elektriese aanlegte wat vandag die nasie een van die wêreld se voorste produsente van hidro-elektriese krag maak. Varswatermere beslaan 'n 13de van Kanada se oppervlakte. Hieronder tel dele van die vier Groot Mere op die grens met die Verenigde State van Amerika in die suide.
* Suid-Afrika is nege keer kleiner as Kanada, maar het nogtans meer inwoners.
* Die meeste van die duisende Suid-Afrikaners wat hierheen geëmmigreer het, woon in Vancouver of Toronto, die grootste Engelssprekende stede.
* Ondanks die feit dat Suid-Afrika weer deel van die Statebond is, is paspoort en visum steeds nodig om Kanada te besoek.

Subscribe to:
Posts (Atom)