Monday, December 7, 2009

Vervoerrevolusie in Europa

- Jens Friis
AMSTERDAM en Kopenhagen het jare reeds toegewyde fietspendelaars.
Maar nou het fietsdeelskemas tot 'n vervoerrevolusie in Europa gelei waar warmer temperature dit vir ryers moontlik maak om gemaklik jaarlank te fiets.
Soos die New York Times berig: "In 'n omgewingsbewuste Europa is daar twee soorte burgemeesters: dié wat 'n fietsdeelskema het en dié wat een wil hê."
Want oor die afgelope paar jaar het dié skemas gewilder geword as wat enigeen kon raai in Barcelona en Düsseldorf tot Pamplona en Lyon. In Rome lyk dit of die Roma'n'Bike-skema ook suksesvol gaan wees, want hoewel dié eeueoue stad ongelyke keisteenstrate het is hulle smal en is dit veel makliker om hier met 'n fiets te ry as met 'n motor.
Met 'n onlangse besoek aan Frankryk was dit opvallend hoe Parysenaars (toeriste mag ook) gebruik maak van die Vélib-skema se 20 000 fietse.
Dit werk só: Daar word swaar op tegnologie gesteun deurdat die fietse gereed staan op geoutomatiseerde rakke. Toeriste kan 'n sewedag-kaartjie teen sowat R50 aanskaf of andersins kan jy jou kredietkaart gebruik om 'n fiets te ontsluit. Hiermee saam kry jy pasella 'n Paris a Vélo-kaart met fietsroetes.
In Barcelona koop jy 'n slimkaart wat vir 'n jaar geldig is teen sowat R220. Die eerste halfuur is verniet waarna jy sowat R2,50 vir elke halfuur daarna betaal. 'n Fiets moet binne twee ure by enige fietsrak terugbesorg word anders mag die kaart gedeaktiveer word.
En in Duitsland en Oostenryk kry fietsryers SMS-boodskappe met kodes waardeur fietse ontsluit kan word.
Londen se fietsdeelskema is in sy kinderskoene, "maar fietsry in die algemeen neem baie toe hier," sê my broer, Nico Friis, wat jare al daar woon. "Fietsrybane word oraloor gebou wat die voorstede met mekaar sal verbind vóór die Olimpiese Spele in 2012."
Selfs in Nederland word fietsry ál gewilder, sê Chris van Oordt, 'n Amsterdammer, "want dis vinniger om só deur die druk verkeer te swiep in ons klein, plat landjie. Fietsry is só gewild dat dit feitlik net so moeilik is om staanplek vir jou fiets te kry as parkeerplek vir jou kar!"
En dis juis híérom wat die fietsdeelskemas nie in Nederland veld wen nie: almal het rééds 'n fiets.
Ook is die steel van fietse hier 'n reuse probleem. "Die tot drie fietsslotte is duurder as die fiets self. Daarom spandeer inwoners nie baie op nuwe fietse nie. Veral dwelmverslaafdes steel graag fietse om geld te kry. Jy kan dié fietse van hulle terugkoop vir omtrent €25 wat veel minder is as die sowat €100 in tweedehandse fietswinkels."
Maar in ander Europese stede blyk fietsdeelskemas 'n suksesvolle manier te wees vir burgemeesters wat vervoerdruk wil verlig en hul "groen" bona fides wil verhoog. Vir die prys van 'n enkele bus kan hul 'n vloot fietse koop en só jare se konstruksiewerk en goedkeuring vir moltreine vryspring.
Uiteraard kom só 'n projek ook met sy probleme.
In Barcelona byvoorbeeld gebeur dit dat pendelaars wat in die middestad gaan werk al die fietse soggens gebruik en die geoutomatiseerde fietsrakke dáár dan oorvol raak.
Dié probleem word vererger omdat die middestad van dié Spaanse stad in 'n kom lê. Dis dus lekker om soggens afdraand fiets te ry, maar eerder smiddae 'n bus huis toe te neem. Dié probleem word nou oorbrug deurdat Bicing's 100 se werknemers fietse per vragmotor terugneem na waar dit benodig word.
Kritici van fietsdeelskemas wys daarop dat só 'n aanryery van fietse allermins tot 'n groener wêreld meehelp.
Maar hoe dit ook al sy, die Europeërs ry wéér fiets - méér as in etlike dekades.

Thursday, December 3, 2009

Hitler se heiligdom herleef


JENS FRIIS vertel hoe Hitler se omstrede Olimpiese-stadion buite Berlyn 'n nuwe lewe gekry het.
VERLEDE week het die Britse koerant, The Guardian, in 'n uitgebreide artikel daarop gewys dat talle van die stadions wat in Suid-Afrika gebou word ná die sokkerwêreldbeker dalk 'n wit olifant kan word.
"In Kaapstad en Durban is besluit om nuwe stadions te bou eerder as om die bestaande Nuweland en Kings Park te gebruik. Tensy die onderskeie rugbyspanne oortuig kan word om die nuwe stadions te gebruik, is dit onwaarskynlik dat dit lewensvatbaar sal wees," lui die berig.
Dié probleem is uiteraard nie eie aan Suid-Afrika nie. In talle wêreldstede staan Sokkerwêreldbeker- en Olimpiese Spele-stadions wat ná dié groot geleenthede bitterselde gebruik word.
Vir jare was dit ook die geval met "Hitler se stadion" in Berlyn. Maar sedert die Olympiastadion opgeknap is en die sitplekke 'n dak gekry het in 2004, word hier gereeld konsert gehou tot sokker gespeel - dis die tuisveld van Hertha BSC.
Die stadion, met sitplek vir 76 000 mense, is oorspronklik vir die Olimpiese Spele van 1936 ontwerp. Maar 'n insiggewende toer deur dié omstrede stadion se wandelgange en uitkykpunte vertel jou óók dat dit deur die jare al vir meerdere opskuddings en onderonsies gesorg het.
Nadat Duitsland op omstrede wyse as gasheer aangewys is vir die wêreldbekersokkertoernooi van 2006, het sommige Duitsers vir nóg 'n opskudding gesorg deur voor te stel dat die eindstryd asook die openingswedstryd "in die hart van die Nazi-Spele'' gespeel word.
Die stadion is gebou om steun te gee aan Hitler se droom van 'n nasie wat ``skoon ledemate'' sal hê en ``vlekloos wit'' en ``perfekte atlete'' moet wees. In 'n terugslag vir die Führer se plan dat dié Spele Ariese meerderwaardigheid moes bewys, hardloop die swart Amerikaanse atleet Jesse Owens bykans die asbaan aan die brand en laat byt die bestes van die Nazi's in die stof.
Hitler was glo brusend. Of is dit nie die volle waarheid nie?
Mark Leach en Gary Wilkins skryf in hul boek, The Olympic Dream, dat Hitler eintlik die volmaakte gasheer was. Hy het al die atlete verwelkom en het selfs die wenners van die eerste klompie nommers gelukgewens. Vir hom het dit nie saak gemaak of 'n swart atleet 'n goue medalje ontvang het nie.
Nadat hy aanvanklik die atlete gelukgewens het, is hy deur die Internasionale Olimpiese Komitee ingelig dat dit hul taak is en dat hy dit nie moet doen nie. Hy was daarna bloot 'n toeskouer.
Wat die meeste mense nooit geskryf het nie, is dat dit eintlik die Amerikaners was wat Owens se vertonings misken het, skryf Joe Venter etlike jare gelede in Volksblad.
"In New York en Cleveland is groot onthale vir Owens gereël na sy Duitse triomf, maar die president, Franklin D. Roosevelt, het hom geïgnoreer. Ondanks sy ses wêreldrekords in 1935, is Owens nie as sportman van die jaar aangewys nie. Die eer het 'n taamlik onbekende amateur-gholfspeler, Lawson Little, te beurt geval. In 1936, ná sy medalje-oes in Duitsland, is 'n paalspringer as die beste sportman vereer."
Maar om terug te kom na die wêreldsokkerbeker van 2006. Bomme en ander plofstof uit die Tweede Wêreldoorlog word gereeld in Duitsland gevind - meer as ses dekades ná die einde van die oorlog. Maar min sou verwag dat een van die bomme na al die jare steeds in Hitler se heiligdom gelê het. In 2000 is 'n bom uit die Tweede Wêreldoorlog wat nie ontplof het nie onder sitplekke van die stadion gevind en deur polisie-deskundiges onskadelik gemaak. Die bom van 250 kg is gevind toe konstruksiewerkers herstelwerk aan die onderste sitplekke van die stadion gedoen het met die oog op die wêreldsokkerbekertoernooi. Genadiglik het die onskadelikmaking sonder enige probleme verloop.
Terloops, Suid-Afrika se vertoning by die Olimpiese Spele van 2008 in Beijing was die swakste sedert 1936. Die laaste keer dat Suid-Afrika slegs een medalje op ’n Olimpiese Spele kon verower, was in 1936 in Berlyn toe die bokser Charles Catterall ’n silwermedalje in die veergewig-afdeling verower het. Op die Beijing-Spele was dit net die verspring-atleet Khotso Mokoena wat met sy sprong van 8,24 meter vir die spreekwoordelike silwer randjie om ’n baie donker sportwolk verantwoordelik was.
SOU JY GAAN ...
* Hoe kom ek daar? Neem die trein na Olympischer Platz. Dis so 20 minute se ry uit die middestad. Die stasie is reg langs die stadion.
* Wanneer is dit oop? Somers van 09:00 tot 19:00 en winters tussen 09:00 en 16:00.
* Hoeveel kos dit? 4 Euro (sowat R45) vir volwassenes en 3 Euro vir kinders.

Wednesday, November 11, 2009

Witsand roep





JENS FRIIS sê dis nou die tyd om 'n draai te gaan maak by die Witsand-natuurreservaat, want die besondere duine brul glo die hardste in die maande met die letter "r".

EK wil die piep kry as sommige siele so graag verkondig: "Oorsee vakansie hou?! Nog nooit, daar is hopeloos te veel plekke wat ek nog éérs in Suid-Afrika wil sien."
As jy só redeneer gaan jy beslis nóóit in die buiteland kom nie, want in Suid-Afrika is daar gans te veel plekke wat iedereen in hul kort lewentjies behoort te sien.
Maar dít daar gelaat.
Die Witsand-natuurreservaat is inderdaad een van daai besonderse plekke waarmee ons mooie land so mildelike geseën is wat jy behoort te sien tydens jou kortstondige aardse bestaan van baie werk en min vakansie.
En dis nie net ek wat dink dis besonders nie. So lank terug as 40 000 jaar het mense al hier vertoef, want vir hulle was dié plek heilig.
Dat dié vroeë bewoners só gedink het, is verstaanbaar, want soos iemand eens opgemerk het: Witsand lê soos 'n eiland van wit sandduine midde-in 'n see van koperrooi sand.
Deesdae is dié duidelik onderskeibare stuk sandwêreld in die suidoostelike hoek van die Kalahari een van die Noord-Kaap se voorste toeristebestemmings.
Veral voëlkykers, stappers en fotograwe kan hierdie eko-wonder gerus oorweeg as 'n naweekwegbreekplek.
En des te meer behoort jy nou hier 'n draai te maak, want daar word gesê dat die duine die hardste "brul" in maande met die letter "r" in die naam.
Dis veral die suidelike duine wat 'n geraas maak wanneer die sand versteur word.
Hou dus jou ore oop as jy die energie het om uit te klouter teen een van die steil "berge" van die Witsand-duinekompleks. Hulle is 20 tot 60 m hoog.
Niemand weet waarom die sand brul nie - en nog minder waarom slegs die suidelike duine só raas nie.
Volgens die Witsand Nasionale Park se brosjure is dit moontlik weens die intense wrywing tussen die geronde ysteroksiedvrye korrels. Of dalk is die granulometriese eienskappe, onder meer die eenvormige korrelgrootte, die rede.
Buiten dat Witsand se sand wit is én brul, is daar nog iets waarvoor jy moet uitkyk.
Asof ingesteek, staan gietswart donderbuise in die sand. Dis die werk van weerligstrale wat tydens donderstorms die sandduine tref en lang skerwe silika-glas vorm.
Daar is waarskynlik so baie donderbuise hier omdat die duinekompleks veel hoër is as die omliggende vlakte.

SOU JY GAAN

HOE KOM EK DAAR? Witsand lê in die stuk oop vlakte sowat 80 km suid van Olifantshoek, oos van Upington, noord van Groblershoop en oos van Postmasburg. Die maklikste manier om daar te kom, is om by Volop op die pad tussen Griekwastad en Groblershoop noord te draai na Witsand, wat 50 km verder langs 'n goeie gruispad lê. Dit kan ook direk van Olifantshoek bereik word of van die pad tussen Olifantshoek en Upington.

MOENIE VERGEET OM DIE VOLGENDE TE PAK: Swembroek, kamera, stapskoene, en 'n verkyker.

WAAR KAN EK TUISGAAN? Die oord het gerieflike huisvesting en hope kampeerplek. Dit wissel van luukse chalets tot geriewe vir groepe en puik kampeerplekke vir woonwaens en tente. Dit smelt met die asemrowende Kalahari-omgewing saam. Van die diere soos springbokke en duikertjies wei dikwels óm die blyplekke.

OOK TE DOEN: Een van die voordele van Witsand is dat jy oral in die reservaat kan rondstap. Langs die botaniese wanelpad van 3,2 km word handevol inheemse bome en struike aangedui soos die witgatwortel, rosyntjiebos, vaalkameelbome en blinkblaar-wag-'n-bietjiebossie.

VIR MEER INLIGTING: Loer by http://www.witsandkalahari.co.za/ of bel 053-313-1061/2.

Sunday, November 8, 2009

Bariloche



- Jens Friis
DIT gebeur nie aldag dat 'n ganse stad omring word deur 'n nasionale park nie.
Maar Bariloche is darem ook nie sommer net nóg 'n Suid-Amerikaanse stad nie.
Dis immers met rede dat dit naas die veel groter Buenos Aires die gewildste stad in Argentinië is. Ja, Bariloche is 'n móét as jy op dié deel van die aardbol kom - nie net vir sy sjokolade-, bier- en soetgoedwinkels nie, maar ook omdat dit die toegangspoort is na Patagonië.
Bariloche is so na aan paradys as kan kom met sy donkergroen, mosbegroeide woude, plate varings, afgronde, gletsers en mere waarin die Andes onderstebo weerkaats.
Dit sien jy nog vóór die landing by die lughawe van San Carlos de Bariloche, of eenvoudig Bariloche - 1 621 km suidwes van Buenos Aires.
En as jy op jou bagasie wag is dit interessant om te let wat toeriste alles hierheen saambring. Ski-toerusting tot kano's en allerhande ander bagasie wat ek nog nooit vantevore gesien het nie, vertel dat hier 'n magdom buitelug-aktiwiteite wag.
Dan is daar ook nog bootvaarte op spieëlgladde mere, eersteklas restaurante en ontelbare inkopie-geleenthede. Besoekers kan inderdaad dae hier deurbring ongeag die seisoen.
Nietemin is somers by verre die gewildste, want as die eerste wit val kan dit bibberkoud hier word. Maar selfs dan is die hotelle en herberge nooit leeg nie, want dan kom die ski-entoesiaste.
Een van hulle was 'n Rus uit Vladiwostok wat ons raakgeloop het laat-herfs. Sy Engels was maar power, maar langs 'n knetterende vuur in 'n restaurant kon ons met die nodige handgebare lekker lank gesels en agterkom dat hy wag dat die koue die nodige sneeu bring, want Bariloche se kontrei is sy gunsteling ski-plek.
Maar Bariloche se gewildheid het ook reeds 'n lelike merk gelaat. Weens hordes Argentyne wat vakansietyd uit Buenos Aires vlug, ‘n immergroeiende toerismeindustrie, en twee dekades van ongereguleerde ontwikkelings is Bariloche nie meer die idillies bergdorp van eens nie.
En die Rus het vertel dat hy soms nogal oorweldig voel deur die hoeveelheid lelike woonstelbokke, disko's en derduisende mense in die middedorp - veral van mid-Desember tot die einde-Februarie.
Tog is brokke van die aanloklike, eertydse argitektuur steeds sigbaar wat Duitse, Switserse en Engelse immigrante agtergelaat het. En gelukkig lê Bariloche in die middel van die Nahuel Huapi Nasionale Park en word omring deur 'n reuse meer met dieselfde naam.
Dus is mens altyd naby aan die mooi. Ry dus net uit die dorp en jy is weer omring deur digte woude, silwerskoon mere, en ysbedekte bergpieke.
As jy smag na ‘n stil vakansie is dit dus wys om eerder buite die stad te bespreek soos langs die pad na die Llao Llao-skiereiland.
Vanaf die punt van dié skiereiland vertrek bote na Puerto Blest vir ‘n voldagtoer. Hierdie vaarte gaan deur tipiese fjords en digte plantegroei bekend as die Valdiviese Woude.
Van Puerto Blest is daar ‘n busrit na Laguna Frías, gevolg deur ‘n bootrit na Puerta Frías en dan terug na Puerto Blest. Die terugtog na Puerto Pañuelo sluit ‘n stop in by die Los Cántaros-waterval. Daar is ‘n restaurant by Puerto Blest, maar jy kan ook ‘n piekniekmandjie saambring.
En nes Bariloche is Nahuel Huapi 'n lieflings-aandoenplek: dis Argentinië se oudste en gewildste nasionale park.
Die hoofaantrekkingskrag is die 3 500 m hoë onaktiewe vulkaan, Tronador oftewel Donder. Dit heet só weens die rumoer wat die ys maak wat tuimel vanaf sy piek.
Maar die park is ook bekend vir die Nahuel Huapi-meer wat deur gletsers gevorm word, sy skiereilande bedek met woude en waterweë wat vergelyk word met dié in Suid-Patagonië en die fjords van Noorweë. Winters word die park se ander oorheersende piek, Cerro Catedral, ‘n gewilde ski-oord.
Nou-ja, hoef ek meer te vertel? Wat se aanmoediging wil jy nóg hê om in Bariloche se paradyswêreld 'n draai te kom maak?

Thursday, November 5, 2009

Groenhuis Gastehuis, www.philippolis.co.za


Spierwitter kan dié strand se sand skaars


- Jens Friis
SOOS hulle in "Let the river run" sing, "dié blou is die kleur wat jy nie eens sien in die oë van jou minnaar nie."
Tog is die kleur van die Great Barrier Reef se water nie die enigste van sy soort ter wêreld nie. By die Secyhelles en Italiaanse Riviera is die waters immers ook só 'n besonderse deurskynende turkoois.
Maar van Whiteheaven Beach, telkens al aangewys as die mooiste ter wêreld, is daar beslis nie nóg een nie. Hiervan maak die kleur van dié strand se sand seker: Spierwitter kan dit nie. Só blink dit byvoorbeeld in jou oë dat jy 'n sonbril móét dra.
Ook as jy langs die 7 km lange strand stap kan jy hoor dié is letterlik 'n perd van 'n ander kleur. Elke keer wat jy jou voet neersit klink dit soos die geblaf van robbe.
Die rede?
Whiteheaven Beach bestaan uit 99% suiwer silika. Só suiwer is dit dat die Hubble-teleskoop se lens grootliks van dié silika gemaak is.
Was dit nie dat die Great Barrier Reef 'n Wêrelderfenisgebied is nie, sou 'n mynmaatskappy waarskynlik lankal reeds dié sand ontgin het.
Oor die sand se oorsprong is daar groot onsekerheid, maar sekere geoloë meen dit kom van ver, want die Whitsunday-eilande se rotse is kwartsarm.
'n Moontlikheid is dat die silikasand deur 'n seestroom meegevoer word vanaf die suide van die Queenslandkus. Volgens dié teorie word swaar minerale stowwe en ander onsuiwerhede uitgewas tydens dié lange reis wat slegs die kwartssand agterlaat. Daar is vermoedelik 'n maling by die Whitsunday-eilande wat dan die oorblywende sand hier laat uitsif.
'n Ander teorie is die volgende: As koraal afbreek in storms word dit wit as dit doodgaan en kom dan tot ruste op 'n hoop onder die branders. Oor miljoene jare stapel dié koraal dan só op dat dit later uit die see toorn en 'n eiland vorm. Só word dan van die suiwerste wit sand in die ganse Great Barrier Reef gevorm.
Hoe dit ook al sy, toe afdelingsoffissier E.P. Bedwell in 1879 die eerste was om hier voet aan wal te sit, het dit weinig anders gelyk as vandag. James Cook het reeds in 1770 hier rondgeseil en die eilandgroep The Cumberland Islands gedoop, maar dit was hom nooit beskore om The Beach, soos Whiteheaven ook bekend staan, te aanskou nie.
Whiteheaven is beslis een van dié plekke wat my vir ewig sal bybly. Soos 'n vriend wat in Brisbane woon opgemerk het: "The Beach is the epitome of paradise found. If there's one dream you can realize in life, it's experiencing this natural wonder."
SOU JY GAAN ...
* WAAR PRESIES IS WHITEHEAVEN BEACH? Dis op die Whitsunday Island, die grootste van die 74 eilande genaamd die Whitsundays, langs die noordoostelike kus van Queensland, Australië.
* HOE KOM EK DAAR? Kleinerige veerbote en luukse jagte vertrek daagliks van Airlie Beach na Whiteheaven Beach. Seevliegtuie en helikopters doen ook gereeld hier aan. Die meeste van die bote wat oornag op die waters van die Great Barrier Reef maak ook by Whiteheaven 'n draai - en so behoort ook jy!
* HOEVEEL KOS DIT? Daar is nie 'n goedkoop manier om by Whiteheaven te kom nie en jy sal 'n ekstra duisend of drie by jou vakansiebegroting moet tel as jy na dié droomstrand wil gaan. Sommige opsies soos die veerbote is bloot goedkoper as byvoorbeeld 'n seevliegtuigie met net plek vir ses mense.
* WAT KAN EK DOEN? Swem, stap, snorkel en hou piekniek. Wees op die uitkyk vir skole kleurvolle "mak" visse wat sommer tussen jou bene sal deurswem.
* 'N BESONDERSE ERVARING is om 'n hand van die skoon, suiwer sand te vat en jou lyf daarmee in te smeer. Hierdie klam, fyn "sout" waarborg een van die allerbeste masserings denkbaar.
* ONTHOU jou sonbril, swemklere, sonbrandolie, snorkeltoerusting, handdoek, drink- en eetgoed, maar sandale is nie nodig nie, want selfs op 'n snikhete dag voel die silikasand koel weens sy kompakte struktuur en omdat dit die sonstrale wegkaats.

Maak jou Paryse-kuiertjie só bekostigbaar


Jy kan langs die Seine sit en 'n baguette-en-kaas eet, maar daar is genadiglik ook ander maniere om geld in Parys te spaar, skryf JENS FRIIS ná 'n onlangse besoek. Hier's raad.
* Sekerlik die beste manier om Parys te sien is met 'n een-uur een-rigting rit op die No. 69 bus teen €1,30. Die roete begin en eindig by twee bekende toeriste bestemmings, naamlik die Eiffeltoring in die weste (langs Avenue Joseph Bouvard) en eindig in die ooste by die Père Lachaise-begraafplaas. Die ooswaartse roete gaan verby Les Invalides, die Seine-rivier, die Louvre, die Hôtel de Ville, die Marais en die Place de la Bastille. Veral Franse gebruik dié bus en weinig toeriste.
* Drink die somerson in op 'n sonstoel in die Jardin du Luxembourg, Parys se elegantste park. Dis ook 'n ideale plek vir een van die grootste demokratiserende instellings, naamlik 'n piekniek.
* Op Donderdagaand het baie galerye, veral in die Marais, openingsaande waar Franse wyn vrylik vloei.
* Die Vélib-fietsdiens is in 2007 geloods. Meer as 20 000 fietse staan in geoutomatiseerde rakke oraloor. Gebruik jou kredietkaart of andersins moet jy 'n sewedag-kaartjie teen €5 aanskaf. Hiermee saam kry 'n pasella Paris a Vélo-kaart met fietsroetes.
* Eet vir 'n appel en 'n ei by die oud-werkerskantien, Chartier, langs 7 rue du Faubourg-Montmartre (Metro Grands Boulevards).
* Oorweeg die Hôtel des Arts Bastille (2 rue Godefroy Cavaignac) vir blyplek. Teen €59 vir 'n dubbelkamer sal jy nie veel beter kan doen nie.
* Binnekort sal dit moontlik wees vir individue om 'n kaartjie aanlyn te koop om teen die Eiffeltoring op te gaan. Die prys (sowat R175) sal dieselfde wees as wanneer jy in 'n ellelange ry dit sou aanskaf aan die voet van dié toring. Hou http://www.toureiffel.fr/ dop.
* Die boheemse, bekostigbare rue Mouffetard-mark (Metro Cardinal Lemoine) is een van die oudste in die stad. Doen Dinsdag- tot Sondagoggende hier inkopies.
* Betoon eer aan Edith Piaf, Oscar Wild en ander bekende inwoners in die Père Lachaise-begraafplaas (Metro Père Lachaise).
* Soek na winskopies by die reuse antiek- en vlooimark, Les Puces de St-Quen (Metro Porte de Clignancourt).
* Toegang tot die tuin van die Musée Rodin is slegs €1. Talle van Rodin se bekendste werke staan hier.
* In die voetgangervriendelike Marais-woonbuurt gaan dit jou nie 'n sent kos nie om Victor Hugo se huis te sien of die Musée Cognacq-Jay. Een van my gunstelinge is die Musée Carnavalet (23 rue de Sévigné) wat ook geen toegang vra nie. Dié museum word gehuisves in pragtige 16de eeuse herehuise en bied 'n blik op Parys se geskiedenis deur die eeue. Ook die Centre Pompidou is verniet as jy jou dinge so kan reël dat jy hier is op die eerste Sondag van die maand.
* Die Fragonard-parfuummuseum vra geen toegang nie en so is ook die Notre Dame verniet. Gaan na dié katedraal vroegoggend of op weeksdae, want anders word jy vertrap.
* Toeriste wat genoeg gehad het van museums kan 'n draai maak by die haute couture, prêt-à-porter modevertonings op die sewende vloer van die Galeries Lafayette-vlagskipwinkel op Vrydae om 15:00. Beide mans en vroue modes word vertoon. Dit kos nie 'n sent nie. Besprekings is 'n moet (http://www.galerieslafayette.com/). Die Le Printemps-vlagskipwinkel oor die straat bied 'n soortgelyke modevertoning op Dinsdae om 10:00.
* Dis om twee verdere redes die moeite werd om die Galeries Lafayette-vlagskipwinkel (langs die Operahuis) te besoek. Die indrukwekkende, kleurvolle glaskoepel is só groot dat dit nie sommer inpas op 'n foto nie, selfs al gebruik jy 'n wyehoeklens. En vanaf dié winkel (wat nie sleg afsteek teen Harrods in Londen nie) se dak het jy 'n 360-grade blik oor die Franse hoofstad.
* Gebruik die moltrein. Jy gaan goedkoop by baie meer plekke só vinnig uitkom as om te sukkel met 'n taxi. 'n Kaartjie kos €1,60 of skaf 10 (un carnet) aan vir €11,40. As jy in Parys gaan wees van Maandag tot Sondag, of as jy beplan om die Métro gereeld te gebruik, sal dit loon om te belê in 'n Navigo-kaart. Dié kaart kos €5 en jy kan soveel rondry as wat jy wil vir 'n bykomende €16,80. Bêre die kaart veilig as jy terug is in Suid-Afrika, want met jou volgende besoek kan jy dit weer gebruik.