Friday, August 31, 2007

Bekendes se gunsteling hotelle


- Jens Friis

Talle hotel se voortbestaan is al verseker deurdat ‘n bekende eendag, lank, lang gelede daar oornag het.

Toeriste wil graag hul koppe neerlê in dieselfde beddens (of minstens dieselfde hotelle) as die sterre.

En daarom beplan reisoperateurs toenemend hul toere hiervolgens.

Só floreer The Norfolk Hotel in Nairobi glo omdat Karen Blixen eens daar aangedoen het. Dieselfde geld vir die Goldeneye in Jamaika (Ian Fleming), The Pensinsula in Hong Kong (Frank Sinatra), en The Copacabana Palace in Rio de Janeiro (Orson Welles).

Ek is nie met die sterre gepla nie, maar moet erken ek loer graag waar die celebs uitspan, want dit bied uitstekende vakansie-idees.

Nes Jean Cocteau het ek na my asem gesnak toe ek sien hoe lyk die Franse Riviera vanaf die Hotel Welcome in Villefranche.

Soos koningin Victoria moes ek gaan tee drink in die Ierse platteland by die sorgsaam gerestoureerde Carton House.

En op San Diego se uitgestrekte strand het ek gaan stap omdat Marilyn Montroe by die Hotel del Coronado gebly het met die maak van “Some like it hot”.

By sommige stadshotelle stap mens bloot verby, maar dis nietemin interessant om te weet Hugh Grant het ‘n draai gemaak by die Londense Ritz in “Notting Hill”.

Richard Burton en Elizabeth Taylor het passievolle nagte deurgebring in Montreal se statige ou Ritz-Carlton langs Sherbrooke Street.

In ‘n Berlynse paleis (deesdae die Adlon Hotel) is Greta Garbo “gebore”. ‘n Maaltyd hier is ‘n belewenis, want die eetkamer kyk uit op die bekende Brandenburghek en die eertydse Muur.

En in Los Angeles het ek spesiaal gaan kyk na The Regent Beverly Wilshire. Wie sal immers ooit vir “Pretty Woman” se Julia Roberts kan vergeet?

In “Hotel Stories” vertel Francisca Matteoli dat die bekendes nogal bisarre eise kan stel.

Salvador Dali het gereeld gebly in die Meurice Hotel in Parys. Dié surrealis was hoogs ontsteld toe hy merk sy gunsteling kamer se toiletsitplek is vervang. “Wat het gebeur met Alfonso se troon?”, wou hy weet. Die hotelbestuurder kon nie anders as om die oud, verslete houtsitplek te herinstalleer nie.

Personeel van die Portobello Hotel in Londen moes in 1979 muise gaan soek by troeteldierwinkels vir Alice Cooper se onversadigbare luislang. Die ronde bed wat spesiaal vir Cooper bestel is, is steeds in Kamer 16, nes die antieke bad waarin sy slangetjie gesluimer het.

Helaas kan ekself nie in dieselfde suites as die sterre oorbly nie. Daarvoor is my sak gans te plat. ‘n Uitsondering was egter by Zimbali Lodge aan die Natalse Noordkus: Robbie Williams het enkele nagte vroeër in my bed geslaap tydens sy Suid-Afrikaanse toere.

Ook was daar die keer in Borneo toe ons skoon van hotel moes verander, want die Maleisiese koning het sy opwagting gemaak. Dit sou glo ‘n té groot sekuriteitsrisiko wees as gaste in die verdieping bó hom bly.

By die Royal Livingstone in Zambië het ek g’n celeb gesien nie, maar wel soos een gevoel. Terwyl jy langs die hotelswembad bak stort die waters van die Zambezi oor die Victoria-waterval. Hier word selfs jou sonbril vir jou skoon gepoets as dit net lyk of daar ‘n vingermerkie op is. Dis voorwaar vyfster-bederf de luxe.

Vir die jare wat kom wag daar reeds ‘n magdermenigte hotelle op my wenslysie. Hemingway se retreat by die Ambos Mundos Hotel in Havana klink eksoties, nes Igor Stravinsky se National Hotel in Moskou.

Al Capone het sy laaste dae in ‘n hotel in Miami deurgebring, Ava Gardner het vertoef in ‘n Madridse hotel, Frida Kahlo het met Leon Trotsky ontsnap na ‘n hacienda in die Meksikaanse platteland …

Dis jammer ‘n menselewe is kort, en die rand weinig werd.