Friday, August 31, 2007

Spaar só paar duisend op ‘n Europese vakansie

- Jens Friis

DAAR is nie so iets soos sakpas Europese bestemmings nie. Die euro is sterk. Die rand is swak. Tog kan die volgende wenke help om ‘n besoek aan dié kontinent heelwat meer bekostigbaar te maak.

Neem die goedkoopste, aanvaarbare vlug na Europa. Vlieg dan na jou eindbestemming met ‘n lae-koste lugdiens soos easyJet, Flyglobespan, Eurofly, of Ryanair. ‘n Vlug van Berlyn na Barcelona kan minder kos as R400 as jy vroegtydig bespreek. kan jy spaar op die vlug na Europa wat tussen R6500 en R10 000 kan kos, én boonop ‘n ekstra stad sien. Dis voorwaar twee vlieë met een klap.

‘n Schengen-visum kan jou tot R1 000 uit die sak jaag. Na Switserland, Skotland, Engeland, en Wallis kan Suid-Afrikaners egter gaan sonder ‘n visum (‘n paspoort is wel nodig). Dink daaraan om jou reisroete hiervolgens te beplan.

Vermy lughawetaxi’s. Neem eerder ‘n bus of trein. Van Heathrow na Londen kos ‘n taxi R900, teenoor ‘n trein (R50) en die vinnige Heathrow Express (R200).

Bepaal vooruit waar jy die eerste nag of drie gaan slaap. In ‘n vreemde stad is mens gedisoriënteerd en allermins lus om te soek na ‘n lêplekkie. Onthou: Jou eerste paar dae is altyd die duurste, want jy weet nog nie waar wat is nie. Doen daarom vooraf ‘n behoorlike internetsoektog vir akkommodasie.

Gaan koop kos so gou moontlik by ‘n supermark. Jy gaan vlugvoos voel, maar moenie dit uitstel nie: restaurante skud ‘n sak. Maak vroeg-vroeg ‘n draai by daai Marks & Spencers in Groot-Brittanje, of die markte in feitlik enige Europese stad.

As jy wel uiteet is dit goed om dit oor middagete te doen, want aandetes kos meer. Eetplekke se prix-fixe maaltye is ook altyd goedkoper as à la carte.

As bogenoemde na te veel moeite klink is ‘n bootvaart dalk ‘n meer ontspanne meer om vakansie te hou. Omdat ‘n skip beide jou blyplek en vervoer is, kos ‘n bootvaart soms minder as ‘n reis per land. Die maaltye is gewoonlik ook reeds ingesluit by die pakketprys.

Besin vooraf of dit rerig nodig is om te oornag in gekommersialiseerde, toeristestede soos Milaan en Venesië? Tussen dié twee is die pragtige Como-meer wat omsoom is met blyplekke wat véél minder kos – des te meer buite-seisoen.

Hou jou oë en ore oop – en beplán jou uitstappies hiervolgens. Museums wat toegangsfooie vra, gee gewoonlik afslag op sekere dae. Dan word dit druk besoek, maar gaan vroeg en jy sal die vrugte pluk. Óf vergeet van die groot museums soos die Louvre in Parys en besoek die kleineres wat steeds baie bied soos die Petit Palais, Musée Carnavalet, en Victor Hugo se huis. In die Madeleine-kerk (8ste Arrondissement) is daar gereeld Sondae om 16:00 uitsekende orrel- en kooruitvoerings. Dit kos nie ‘n dooie duit nie.

In Berlyn betaal jy niks by die meeste staatsmuseums op laat-Donderdag-middae.

Die pond is sterk, maar minstens is toegang verniet tot alle Britse nasionale museums en gallerye. Jy kán dus die beste van Brittanje sien soos die British Museum en die Tate Modern. Dit loon om ‘n weekkaartjie te koop as jy langer as vier dae in Londen is, want jy kan dan soveel ry as wat jy wil op die Tube (moltrein).

Skaf ‘n goedkoop SIM-kaart aan in anderland. kan jy steeds jou selfoon gebruik om goedkoop plaaslike oproepe te maak. Soms raak die verlange groot of wil mens bloot iets met iemand in Suid-Afrika deel, maar helaas kos ‘n oproep steeds veel meer as ‘n epos, SMS, of poskaart.

Gebruik jou kredietkaart vir betalings eerder as kontant. Vir sulke kredietkaarttransaksies hef die meeste banke geen fooi nie.

Dis wys om ‘n bietjie buitelandse valuta in Suid-Afrika aan te koop sodat jy darem ‘n neseiertjie het as daar fout kom met jou bankkaarte. Maar moenie te veel trek nie, want jy gaan minder vir euro’s in Nederland of Oostenryk betaal as in Suid-Afrika.

Bankfooie word gehef elke keer as jy kontant trek. Dit kan sommer R50 wees – ongeag of dit 10 of 100 euro is. Spaar deur minder onttrekkings te maak, maar meer op ‘n keer te trek.

Moenie goedgelowig wees as jy iets koop nie. Dit gebeur selde, maar ‘n winkelier gaan jou, die naïewe toeris, iewers probeer indoen. Gaan kleingeld behoorlik na. Dit mag na min lyk, maar ‘n enkele 10 Euro-noot is byna R100 werd.

Vra winkels of hul deelneem aan ‘n “Tax Refund Program” as jy iets duurs koop. Europese belasting op toegevoegde waarde kan tot 25 % op die koopprys wees. Volg die reëls en heelwat van dié geld kan teruggeëis word voor jou terugvlug.

As daar dan nog ‘n geldjie oor is, kan jy dit oorweeg om met ‘n lae-koste langafstand lugdiens van Europa na byvoorbeeld Israel of Marokko te vlieg. Zoom Airlines vlieg nou van Europa na JFK in New York vir so goedkoop as R2500. ‘n Nadeel is dat hierdie lugdienste soms ekstra vra vir jou bagasie. Ook vlieg hulle merendeels vanaf kleiner lughawens wat verder vanaf die stad is. Dit kos dus meer om daar uit te kom.

Moet dus nooit onnodig suinig wees nie, want goedkoop koop is dikwels duur koop. Gebruik jou gesonde verstand. Spaar waar jy kan, maar moenie die heeltyd oor jou sente kwel nie, want dit ís immers ‘n vakansie waarvoor jy ‘n jaar (of dalk ‘n leeftyd) gespaar het. Geniet dit, want anders gooi jy nou eers geld in die water!