Sunday, September 7, 2008

"Kiekies van 'n Dorpie" in Nederland uitgestal

TOE Annalize Mouton se boek "Portrait of a Village: Stanford 150" 'n paar maande gelede bekend gestel is om saam te val met dié dorp se 150ste bestaansjaar, sou sy sekerlik nooit kon dink dat haar kiekies nou in Nederland te sien sou wees nie.
Maar die lewe loop soms snaakse draaie en dis presies wat gebeur het.
'n Argitek van Hilversum, Jan Frederik Groos, sy vrou, Sakina Groos-Dijkstra, en Marga Kruijer van Klaveren, 'n dramaturg van Schagen, het die boek vir verskeie Nederlanders gewys.
Die terugvoer oor die foto's wat met natuurlike lig geneem is was baie positief.
Annalize is toe genooi om 24 van haar foto's na Nederland te stuur as 'n rondreisende uitstalling wat 'n blik gee op 'n Suid-Afrikaanse dorpie.
Die kiekies sal onder meer te sien wees by die jaarlikse gala-funksie van die Suid-Afrikaanse Huis in Amsterdam gedurende Januarie 2009.
Die eerste uitstallings het op 4 September geopen in die Scagon-teater in Schagen en in die Podium Mozaiek in Amsterdam.
'n Uitstalling van die foto's sal ook te sien wees by die Arts Association van Belville tussen 28 Januarie en 25 Februarie 2009.
Annalize en haar man, Maré Mouton, is die redakteurs en uitgewers van Village Life. Dié glanstydskrif het aanvanklik gefokus op Stanford en buurdorpe soos Hermanus, Gansbaai en Franskraal, maar deesdae bied dit artikels van dwarsoor Suid-Afrika.
"Die boek onder bespreking is in ’n sin ’n uitvloeisel van die tydskrif, geskryf en gefotografeer deur Annalize Mouton met dieselfde sin vir die geskiedenis, kultuur en karma van Stanford en omgewing," skryf Kerneels Breytenbach onlangs. "Die somtotaal is ’n uiters boeiende en indrukwekkende greep in die tyd. ’n Portret, in die volste sin van die woord, van ’n dorp en sy mense binne die jaar wat dié dorp 150 geword het."
"Portrait of a Village" herinner aan David Goldblatt se Some Afrikaners Photographed en Some Afrikaners Revisited deurdat dit 'n getroue weergawe gee van hoe "gewone" mense in 'n "gewone" Suid-Afrikaanse dorp lyk.
Die Nederlanders behoort dié foto's fassinerend te vind.
Volgens Annalize is die belangstelling aan't uitbrei en word die moontlikheid oorweeg om die uitstalling ook te neem na Swede, Engeland, Duitsland en Amerika.
Dis 'n bevredigende ervaring vir enige fotograaf - veral as jy 50 000 foto's in vyf maande geneem het en toe die allerbestes uitgesoek het vir die wêreld om te sien.
* Portrait of a Village: Stanford 150, deur Annalize Mouton (teks en foto’s). Village Life, Stanford, 2008. (Hardeband, 240 bladsye, ISBN 9 780 62039 871 8.)