Thursday, September 4, 2008

'n "Towerbed" na droomland toe



DIE wêreld se luuksste bed is in Suid-Afrika te kry teen die prys van 'n huis.
En die vervaardigers is allermins skaam oor wat hul daarvoor vra.
In 'n tydskrifadvertensie sê hulle pront-uit: "Wie sal 50 620 Euro vir 'n bed betaal?"
En nee, jy is nie in droomland nie. Die prys word wel in Euro (en nie Rand nie) aangedui in dié advertensie wat in die tydskrif Wallpaper verskyn.
Volgens J.C. Bibbey, 'n verkoopsassistent van die Hästens-winkel by die Design Quarter in Fourways, Johannesburg, kos "die Vividus op die oomblik R669 000".
Dit klink na 'n nagmerrie-prys om vir 'n bed op te dok, maar volgens dié Sweedse maatskappy is die kontinentale Vividus-bed "ideaal as net die beste sal doen".
Hulle meen die byna R700 000 is nie te dik vir 'n daalder nie, want iedere Vividus is uniek: Dit neem 160 uur om met die hand te maak uit die allerbeste natuurlike materiaal.
Elk van hierdie beddens word onderteken deur 'n Hästens-meestervakman as simbool van die gehalte daarvan. Hierdeur word ook bevestig dat die bed vir 25 jaar gewaarborg word.
Selfs voordat Bell of Edison bekendheid verwerf het, het die Hästens-familie al beddens gemaak. Dié kundigheid wat die Hastens-pa's aan hul seuns oorgedra het word gekombineer met materiaal soos perdehare, vlas, katoen en wol vir "'n perfekte balans. Die resultaat is 'n bed wat jou liggaam oplig en ondersteun, terwyl dit terselfdertyd jou toelaat om weg te sink en te ontspan."
As jy wik en weeg of jy só 'n droombed wil aanskaf kan jy 'n toetssessie op www.hastens.com bespreek. Jy kan dan by 'n handelaar dié matras gaan "toetsbestuur" en voel of dit jou geval.
En as jy wel besluit om een te bestel moet jy eers 'n string keuses maak
Buiten enige kleur onder die reënboog moet jy ook sê of jou bed se vere sag, medium of ferm moet wees.
Dit kan in enige grootte gemaak word, maar as dit groter is as 210 x 210 cm sal dit die prys beïnvloed. Laat dan ook ses maande toe vir aflewering.
Verskeie vyfster hotelle in Europa en Amerika laat hulle nie deur die prys afskrik nie en maak gebruik van vertroude Hästens-beddens.
Want soos die Tsjeggiese model Adela Capova in 'n advertensie al swewende wys: hierdie is 'n towerbed wat ver bokant ander kooigoed uitstyg.
Dis net jammer die prys is óók in 'n ander klas!
Ja, vir algar is hierdie "towerbed" gewis nie beskore nie.