Tuesday, October 14, 2008

Deurkruis Europa per vliegtuig

DIS deesdae goedkoper om in Europa te vlieg as hier te lande. En om enigiets in Europa te vind wat goedkoper is as in ons Suiderland, is op sigself nuuswaardig!
Dié "wonderwerk" is toe te skryf aan prysbesnoeiingsvlugte. Nes Mango wat van Kaapstad na Bloemfontein vlieg, is daar dosyne soortgelyke lugdienste in Europa.
Met ryanair.com kan 'n vlug tussen Londen (Luton-lughawe) en Barcelona so min as R300 kos en met easyjet.com van Madrid na Geneve 'n skrale R280. Maar in die middel van die somer kan sulke kaartjies jou maklik R1 200 uit die styg jaag.
Om goedkoop te vlieg moet jy bereid wees om opofferings te maak. Een hiervan is dat die prysbesnoeiers se lughawens gewoonlik ver uit die stede is -- selfs tot 50 km. Om daar te kom duur dus 'n ruk. 'n Busrit van Brussel na Charleroi, die Belgiese basis van Ryanair, kos 15 euro vir 'n enkelkaartjie. Van Bergamo na Milaan betaal jy 25 euro (retoer).
Moenie lughawebelasting uit die oog verloor nie. Dit varieer na gelang van die bestemming en is dikwels méér as wat die kaartjie kos.
Jonk en oud betaal dieselfde. Kinderkorting is daar nie.
Daarom is dit altyd wys om pryse te vergelyk met maatskappye soos virgin.com, jetairfly.com en brusselsairlines.com wat dan en wan goeie kortings bied. Maar gewoonlik vind jy die superlae pryse by prysbesnoeiers soos Ryanair en Easyjet.
Besprekings word via die internet met 'n kredietkaart gedoen. So word 'n middelman uitgesny.
Om lank vooraf te bespreek is geen waarborg vir die laagste prys nie. Ervaring leer dat jy tussen vyf en ses weke vooraf die beste kans het vir 'n spotgoedkoop kaartjie. Naweke styg die pryse.
Goedkoop vlugte na bestemmings in Oos-Europa soos Krakow, Boedapest en Praag was tot enkele jare onbekombaar, maar van die bogenoemde lugdienste vlieg nou ook daarheen. Daar is heelwat goedkoop vlugte na Skandinawië en binne die Verenigde Koninkryk kan jy haas na enige groot sentra vlieg.
Ook die Lae Lande is goed verbind. So vlieg Ryanair byvoorbeeld van Charleroi (Brussel) na handevol Europese stede, waaronder Pisa, Londen, Liverpool, Dublin, Glasgow, Rome en Gerona.
Sou jy nie net heen en weer wil vlieg nie, maar na verskillende bestemmings, verg dit behoorlike beplanning. Groot verbindingstede is Amsterdam, Brussel en Londen.
Ná 'n internetbespreking word daar onmiddellik 'n bevestigingsnommer per e-pos aan jou gestuur. Jy kry geen kaartjie nie. Jy moet dié nommer en jou paspoort saamneem lughawe toe.
Vooraf bespreekte plekke is daar nie. Gereelde reisigers kry die voordeel om eerste die vliegtuig in te stap en hul sitplek uit te kies.
Kaartjies kan gewoonlik nie verander word nie. Wees dus doodseker van jou reisplanne wanneer jy daardie enter-knoppie kliek.
Hier en daar is dus 'n adder in die gras, maar in die algemeen betaal jy aansienlik minder en reis veel verder.