Friday, October 3, 2008

Verken Vlaandere vanuit Veurne

VEURNE, België. “Frans-Vlaanderen is z'n volkse eigenheid snel aan het terugvinden,” merk ‘n Belgiese vriend op terwyl ons na ‘n restaurant stap in Veurne, sy grootworddorp.
Hoewel groot Franse stede soos Duinkerken (30 km), Calais (65 km) en Rysel (Lille) (90 km) om die draai is, kan Kristof (soos baie Flaminge) nie die Franse veel nie.
In sy oë is hulle maar ‘n arrogante lotjie wat wil inpalm wat hulle kan.
Daarom gee dit hom groot genot om by die restaurantbaas te verneem dat de rue d’Eckel in ‘n naburige dorpe nou amptelik bekend staan as de Eckelstraete.
Veral weens die ekonomiese voordele van toerisme word Flaams en Nederlands gewild in noord-Frankryk.
By die restaurant word ons ontvang met ‘n vriendelike “goënavond” en “spijskaarten” propvol streeksdisse soos potjesvleesch en Vlaamse wafels. Hierby drink ons bier – eers ‘n Zannekin Blonde en toe ‘n Hommelpap. Beide word plaaslik gebrou.
Die geselskap vlot en ons gesels oor dié “gemeente” (distrik) van hopvelde, brouwerye, meule, dorpsfeeste, reuse en heuwels wat hier berge genoem word.
Dis ‘n poskaartmooie landstreek waar uitgestrekte landerye geskei word deur “waterloopjes” en “kleine dorpskernen”.
Veurne, 50 km van Brugge, “de provinciehoofdplaats”, is ‘n ideale basis vanwaar Wes-Vlaandere verken kan word.
Honderde kilometers se voetpaaie strek in alle windrigtings van hierdie vlakke land. Een van die gewildste is die Kapellenwandelinge (23 km) met sy “prachtige vergezichten”. Dit lei verby talle kerkies vanaf Wemaers-Capel oor Zermezeele na Hardenvoort.
Onderweg kan jy ook ‘n draai maak by ‘n meule waar maalstene nog ingespan word om graan te verbrysel tot goudbruin meel.
En as jy te lui is vir stap kan jy dié “wandeling” ook aflê te perd of fiets. Die paaie is meestal pylreguit, want die Romeinse waens se asse kon glo nie maklik draai nie, lees ek in Het Nieuwsblad.
Oorweeg gerus dié platte-land as jy ‘n vakansie in Europa oorweeg. Dis ‘n pragtige area van waar Nederland, België en Frankryk verken kan word. Toeriste word met ‘n ope hand verwelkom. Verblyf is heel bekostigbaar. Die taalooreenkomste met Afrikaans maak dit maklik om in hierdie geweste te reis. Boonop jy kry 'n insiggewende blik op hoe die Flaminge hul kultuur probeer handhaaf ten spyte van talle aanslae daarop deur die jare.
* Vir meer inligting skryf aan De Dienst voor Toerisme, Grote Markte 29, Veurne, 8630, België.