Tuesday, October 14, 2008

Spaar só duisende op verblyf

Oorweeg dit om in Gent, België, eerder as Brussel of Antwerp te oornag. Akkommodasie in kleiner dorpies is gewoonlik veel goedkoper as in stede.

MEERDERE keer oorsee het ek al gewens dit was moontlik om vir 'n onbepaalde tyd wakker te bly en dan later tuis slaap in te haal.
Só sou mens darem baie kon spaar, want naas 'n vliegkaartjie jaag verblyf jou die meeste uit die sak in anderland.
Maar helaas is dit 'n móét dat jy elke aand 'n plekkie nodig het om jou kop neer te lê.
Tog kan jy der duisende spaar deur jou huiswerk behoorlik te doen en nie te kieskeurig te wees nie.
By die vind van akkommodasie is daar twee opsies. Jy kan self jou vliegkaartjie én verblyf reël óf 'n (dikwels goedkoper) pakket koop. Die vliegkaartjie en verblyf word by sulke pakkette tesame verkoop. Dis veral gewild vir eilandvakansies soos Mauritius en enkel-bestemming-vakansies soos 'n "inkopie-vakansie" in Hong Kong.
Maar as jy besluit om byvoorbeeld vyf stede oor drie weke in Europa te besoek mag dit goedkoper wees om self die reëlings te tref.
As ek na slaapplek soek in 'n peperduur stad is die belangrikste drie kriteria vir my dat dit skoon, bekostigbaar en veilig moet wees. Nog 'n deurslaggewende faktor is dat dit naby 'n stasie, bus- of tremstop moes wees. Taxi's is duur en om met bagasie ure lank na slaapplek te soek onder 'n bloedige son en deur 'n menigte mense, is nie pret nie.
Sulke verblyf is makliker te vind as wat jy mag dink, maar dít leer jy eers as jy gekonfyt raak met die soekproses.
'n Bespreking vir 'n eerste nag in Europa is aan te beveel. Dit is gerusstellend om te weet dat 'n bed vir jou wag in 'n vreemde stad. Boonop moet jy op die meeste lande se doeane-landingskaartjies ook aandui waar jy gaan oornag. Met die internet is sulke besprekings deesdae kinderspeletjies.
Hoe vroeër jy in 'n stad aankom, hoe beter is die kans dat jy 'n goeie kamer sal kry. Ja, in dié geval het die oggendstond gewis goud in die mond. Sorg dat jy vroeg uit die vere is sodat jy die pad kan aandurf. Só sou ek Hamburg om 07:00 verlaat om nog betyds in Dresden te wees om 'n behoorlike kamer te kry.
Kamers is dikwels eers om 14:00 beskikbaar. As jy vroegdag in 'n stad is, is dit wys om dan reeds 'n kamer te reserveer. Laat jou bagasie agter die hoteltoonbank. Sonder om swaar te dra, kan die stad dan ligvoets verken word.
As die verblyfsituasie hopeloos is op 'n sekere nag, is dit wys om jou vlerke te sprei. Van Amsterdam is Den Haag, die parlementêre setel, net 45 minute ver. Utrecht met sy indrukwekkende kanale, is net 'n halfuur weg. Daar sal byna verseker slaapplek wees. Dit is maklik bereikbaar en nie saai nie. Boonop sal dit minder kos as in Amsterdam, want dié dorpe word nie deur toeriste platgetrap nie.
Dit help ook om nie alleen te reis nie. 'n Kamer vir twee kos gewoonlik slegs 'n raps duurder as 'n enkelkamer.
Maar die meer-vir-minder-beginsel geld nie in jeughostels met slaapsale nie. Sou jou keuse hierop val, vra of 'n promosie nie geld nie. Hostelkaarte word gewoonlik gestempel en dikwels is daar 'n bonusnag ná drie of vier slapies.
Dis wys om 'n dorp te kies wat as basis dien vir daguitstappies: hoe langer die verblyf, hoe minder die koste per dag. Brugge in België is byvoorbeeld nie meer as 50 km van Gent, Brussel of Antwerpen nie.
'n Kaartjie waarmee jy só saans kan terugkeer, kos in Engeland feitlik presies dieselfde as 'n enkelrit.
As die tyd druk, kan 'n oornagtrein geneem word en kosbare tyd só gespaar word. Oorweeg 'n gemaklike sitplek in eersteklas bo 'n duurder slaapbank in tweedeklas. Dié sitplekke kan gewoonlik platslaan. Boonop reis min mense snags eersteklas buite seisoen. Telkens het ek 'n ganse kompartement net vir myself gehad, soos tussen Berlyn en Keulen.
Hoewel dit gereeld aanbeveel word, is inligtingskantore meestal van weinig hulp om slaapplek te vind. Jy word gewoonlik bloot 'n brosjure in die hand gestop.
Pantser jou eerder met 'n goeie gidsboek soos 'n Lonely Planet of Let's Go. Oor die aanbevole herberge, hostels, hotels en kampeerplekke hierin was ek voor die eerste gebruik sinies. Tog is my verwagtinge in Milaan tot Salzburg telkens oortref.
Wanneer jy by 'n vol hotel aankom, is dit wys om te vra of hulle nie 'n soortgelyke plek kan aanbeveel nie. Dikwels bel hulle na 'n ander hotel om te hoor of daar plek is, want anderdag verwys daardie hotel weer gaste na hulle.
Dit word al hoe algemener dat pryse in veral Europa buite die deur aangedui word. In Wallis is dit feitlik deur die bank reeds die geval by gastehuise.
Soms lyk 'n prys aanloklik omdat ontbyt ingesluit is, maar moet jou nie daardeur laat flous nie. Jy kan waarskynlik elders ontbyt baie goedkoper kry.
As die prys reg is, beteken dit nog nie dat jy 'n kamer eenvoudig uit dankbaarheid moet aanvaar nie. Vra om dit eers te sien en as dit jou nie welgeval nie, moenie skaam wees om dankie, maar nee dankie te sê nie.