Sunday, August 14, 2011

Wild Coast ontrimpel ten bedrae van R400 miljoen



DAAR waar Natal die Oos-Kaap word staan die Wild Coast Sun al vir ‘n dertig jaar of wat as ‘n baken van pret en plesier.

Maar dis allermins meer hoofsaaklik ‘n casino-oord. Daar is immers deesdae ‘n groot casino in Durban self en jy hoef nie meer ‘n rivier oor te steek na die ou-Transkei om te dobbel nie.


Daarom spits Sun International hom al hoe meer toe om die Wild Coast Sun ‘n vakansieoord te maak waar daar genoeg vermaak is vir die kleingoed, maar waar volwassenes ook kinderlik gelukkig sal wees.


Ek het onlangs gaan inloer, want dis daardie tyd van die jaar wanneer mens graag van die hoendervleisweer in mid-Suid-Afrika wil ontsnap.


Skynbaar het baie ander dieselfde idee gehad, want Afrikaans het jy oral gehoor en daar was ‘n magdom GP-, NW- en FS-motors.


Ek het ‘n spesmaas dat dié oord selfs nog gewilder sal word as die huidige opknappingsprojek afgehandel is. Dit behels ‘n allemintige R400 miljoen en is reeds ver gevorder.


Dié opknappingsprojek volg ná die suksesvolle hernuwing van die Wild Coast Sun se dobbellisensie waarvolgens Sun International die oord sal bedryf vir ‘n verdere tien jaar vanaf September 2009.


Die casino-area wat vergroot is en met nuwe masjiene en meubels spog, was die eerste fase van die opknappingsprojek wat oor drie jaar strek. Hierna het van die gastekamers gevolg en ook die Lagoon Bar en die Chico’s restaurant. By laasgenoemde móét jy saans gaan eet, want die tafels wil swig onder die uitgebreide buffet.


Die opknappingswerk het ons nooit gepla nie, want die werksareas word heeltemal afgeskei.


Die kamer waarin ons tuisgegaan het was een van dié wat reeds smaakvol oorgedoen is. Mores breek die son tot in die kamer vanoor die Indiese Oseaan as die digte gordyne oopgetrek is. Die badkamers is só ontwerp dat jy groot skuifdeure kan ooptrek wat dit dan met die slaapkamer verbind en die hele vertrek ‘n ruim gevoel gee.


Van die balkon van dié kamer kon jy uitkyk oor die magtige Indiese Oseaan waar skepe op die horison na Durban vaar en reuse branders na die lang strand inrol. Tussendeur die blaredak het die blou van die hotelswembad gebreek en jy kan jou net voorstel hoe lywe hier ingeryg gaan lê as dit nie mid-winter is nie.


Eersdaags sal die oord spog met ‘n nuwigheid: ‘n temawaterpark. Sun International glo dat dié trekpleister die Wild Coast Sun “’n hoogs mededingende alternatief vir vakansiegangers en gesinne sal maak.”


Maar hier is reeds ‘n magdom ander dinge ook te doen waaronder ‘n reuse speletjiesarkade vir kinders, perderitte op die strand, een van die beste gholfbane in die land, 10 -pin bowling en as jy lus voel kan jy die golwende heuwels van die oud-Transkei inry. Maar hierin gaan jy waarskynlik nie eens sin hê nie, want die hotel se ligging tussen die Mtamvuna- en Mzamba-riviere is van die mooiste langs die Wildekus.


Die N2 van Durban is ‘n dubbele, breë pad tot by Southbroom. Ook die laaste 21 km is ‘n goeie teerpad. Dis dus maklik om hier uit te kom.


Bespreek by www.suninternational.com.