Wednesday, August 31, 2011

MUSIEKFEES BY NUWE GOLDEN GATE-HOTEL



AS jy lankal lus is om te gaan kyk hoe die Golden Gate-hotel en sy chalets lyk ná ‘n opknapping van R30 miljoen, is dit nóú die tyd, skryf JENS FRIIS. Boonop is dié park nou drie keer groter as vroeër.



DIE Golden Gate- Nasionale Hooglandpark bied ‘n musiekfees op 8 en 9 September aan in samewerking met die KwaZulu-Natalse ereveldwagters en die Drakensberg-seunskoor. Hierdie fees is soortgelyk aan die Sunset Serenade wat in die Nasionale Kruger-wildtuin gehou is en sal dien as ’n geldinsamelingprojek om renosterstroping in die nasionale parke te beveg.


En as jy nie lus is om ná die konsert huis toe te ry nie, is die Golden Gate-hotel (ou Brandwag-hotel) net die plek om oor te slaap.


Met Wêreldomgewingsdag vroeër vanjaar is dit amptelik geopen deur me. Edna Molewa, die minister van waterwese en omgewingsake. Die hotel was sedert begin-2009 gesluit en daarna is R30 miljoen bestee om die gebou op te knap.


‘n Omgewingsvriendelike benadering is gevolg. Só word water nou verhit deur sonverwarmers en blaasverwarmers in kamers wat 2 000 kW elk gebruik het, is vervang met paneelverwarmers wat slegs 400 kW gebruik.


Die gebou is struktureel redelik baie verander en die 34 kamers het 55 geword. Daar is nou ook ’n luukse premier-suite en ’n wittebrood-kamer met ’n kaggel en borrelbad.


Al die badkamers is gestroop en nuut ingerig en selfs die hotel se bedrading en waterpype is grootliks vervang. Die chalets by die hotel is ook op beperkte skaal opgeknap.


Die verskillende vleuels se versiering beeld die vier seisoene uit in die Oos-Vrystaat. Met die binneviersiering is daar ryklik van glas, hout en klip gebruik gemaak. Bestaande elemente soos die mooi houttrap en klipwerk is behou, maar sommige mure is met glas vervang om die uitsig te verbeter.


Die restaurant is vergroot en kan nou tot 200 mense hanteer teenoor die 100 van voorheen. Die Mabaleng-sportkroeg is op die kelderverdieping gesetel en loop uit op die hotel se onderste grasperke. Van die Brandwag Lounge, ‘n skemerkelksitkamer, kyk jy uit oor die Brandwagkop wat wag hou oor die Rooiberge en die omringende grasvalleie.


Onder die ander nuwighede tel ‘n hysbak wat ingebou is sodat mense met gestremdhede makliker toegang tot die hotel se drie verdiepings kan hê. Die hotel spog ook nou met uitgebreide konferensiegeriewe vir groot en klein kongresse.


Uiteindelik was die hotel 18 maande lank gesluit, maar die kool was die sous werd. Die blinknuwe Golden Gate-hotel en chalets is gewis ‘n aanwins vir dié deel van die Vrystaat waar toeriste graag uitspan.



PARK NOU VEEL GROTER


In 1963 het die Suid-Afrikaanse regering drie plase in Golden Gate gekoop en aan die destydse Nasionale Parkeraad oorhandig om as die Golden Gate Hoogland Nasionale Park te bestuur.
Mettertyd is verskeie plase bygevoeg en ook tot nasionale park verklaar.


Maar ‘n reuse uitbreiding het onlangs plaasgevind toe die park se grondgebied verdriedubbel het toe die sogenaamde Qwaqwa-natuurreservaat by die Golden Gate Hoogland Nasionale Park ingesluit is.


‘n Groot voordeel hiervan is dat besoekers nou veel groter troppe wild sal kan sien. Die oorspronklike Golden Gate Hoogland Nasionale Park het uit die vallei en die pieke daaromheen bestaan, terwyl middelplatograsvlaktes nou bykom wat die park aan die noorde- en oostekant begrens. Dis op dié middelplatograsvlaktes waar die groot hoeveelhede diere veral voorkom.
Wildbesigtingsroetes word nou in die gebied beplan, asook stap-, bergfiets- en viertrekroetes.



SOU JY GAAN


· Die Golden Gate Hoogland Nasionale Park is 15 km oos van Clarens.


· Vir meer inligting oor die musiekfees stuur ’n e-pos aan Mankhole.modise@sanparks.org of Esther.Khatite@sanparks.org.


· As jy ‘n draai by die Golden Gate-hotel wil maak, besoek www.sanparks.org of bel 058-255-0000. Of as daar nie plek is in die hotel nie, bly oor in die Glen Reenen-ruskamp.


· Buiten oorslaap in die hotel en die musiekfees is daar heelwat te doen in die omgewing waaronder verskeie staproetes in die park. Golden Gate Hoogland Nasionale Park se hoogte wissel tussen 1800 en 2800m, met die hoogste punt Ribbokkop wat 2828m hoog is. Die staproetes se moeilikheidsgraad wissel. Onthou om ‘n paar uitgetrapte skoene saam te vat sodat jy nie met waterblase terugkom nie.


· Of jy kan ‘n draai maak by die Basotho-kultuurdorp agter die Phofungberge by Qwaqwa waaroor Naweek+ onlangs berig het.