Monday, August 22, 2011


Maak soos JENS FRIIS en verken ‘n nedersetting naby jou.



DAAR word gesê watter lewenspad jy neem gaan bepaal waar jy gaan eindig, maar met ‘n vakansie is dit anders: dan hoef jy nie altyd ‘n bestemming te hê nie.


Soms is dit van die lekkerste lekkertes om eenvoudig ‘n pad te vat sonder enige verwagtings.


En só moet dit wees as jy oor ‘n naweek besluit om ‘n draai te gaan ry deur jou dorp of stad se distrik.


Op ‘n Saterdagoggend nie te lank gelede slaan ons neus in die wind in die rigting van Jagersfontein met die R706 wat sommige sê is die langste reguit stuk pad in die land.


Op die kop 65 km uit Bloemfontein kruis die Petrusburg/Edenburg-grondpad dit en dis hier waar ons op die ingewing van die omgewing links draai toe die R706 te reguit word.


‘n Verdere 3 km wag Austin’s Post langs die Rietrivier. Sy bome sien jy in die verte vanaf die teerpad.


Oor dié plekkie wat was is beslis in sy ganse bestaan nog g’n reisberig geskryf nie. Maar hierin lê juis die lekker: Om op ‘n plek te kom waar plaaswerkers verbaas na jou kyk as jy ‘n foto neem van hul wêreld. Hier kom immers selde besoekers en jy gaan een van weinig wees wat ‘n prentjie aan die naam “Austin’s Post” sal kan koppel. Ja, dis maklik om deesdae te reis en onontdekte plekke word min.


Dié stippel op ‘n kaart bestaan deesdae uit weinig meer as ‘n plaasopstal en skure. Maar op sy dag het die omliggende boere en werkers hierheen gestroom om die nodige goedjies aan te skaf by die plaas-like winkel. Jy sou ook jou pos hier kon kry en waarskynlik brandstof ingooi. Austin’s Post was voorwaar ‘n pos vir die onmiddellike omgewing.


Maar só vergete is dit nou dat ‘n soektog op Google niks leer oor waar Austin’s Post se wortels lê nie.


Al wat ek wys word is dat dit wel nog ‘n aparte inskrywing as “plek” het in die Geelbladsye met name soos Van der Merwe van Diepfontein, King van Wonderkop en nog ‘n Van der Merwe van Poskraal.


En dis deur dié wêreld suidwes van Bloemfontein wat ons na Wurasoord ry om die N1 noord terug huis toe te vat. Dié voordeel van só ‘n sirkelroete is dat jy nie weer dieselfde pad terugry Bloemfontein toe nie.


En as jy ‘n ekstra uurtjie het kan jy in plaas van Wurasoord ook verder suid ry na Edenburg, die Rietrivier weer oorskruis onderweg na Reddersburg en dan na die Rosestad terugkeer.



SOU JY GAAN


· Die afgelope nat winter beloof goeie veldblommetjies met die dat dit nou warmer word.


· Vat drink- en eetgoed saam en hou piekniek langs die pad.


· Gooi petrol in op Bloemfontein of Edenburg, daar is nie ‘n garage op Austin’s Post of Wurasoord nie.


· Onthou jou sonbril en sonbrandroom.


· Lente en herfs is die beste tyd om dié geweste te besoek. Die winters is vaal en bitterkoud en die Vrystaatse vlaktes is in ‘n droë, uitmergelende somer nie altyd die mooiste plek nie.