Thursday, February 23, 2012

Spaar so in Rome

Die redes vir besoeke aan Rome is uiteenlopend, maar die gemene deler bly: Aan die skoonheid, kuns en beskawing bly almal hul vergaap. Dié volgende dinge gaan jou boonop nie ‘n sent kos nie, skryf JENS FRIIS.

VATIKAANSTAD: DIE kleine Vatikaanstad kan spog met vele internasionale rekords. Benewens dat dit die wêreld se kleinste onafhanklike staat en hoofstad is, is dit ook die enigste land wat heeltemal binne in 'n stad (Rome) lê. Die webblad, www.vatican.va is propvol feite. Elke laaste Sondag van die maand word geen toegang by die Vatikaan-museums in Rome gevra nie. In die Ewige Stad is dit ongelukkig wyd bekend en daarom is die bekendste museums tot oorlopens toe vol. Nietemin is die pasella-toegangsdag 'n ideale geleentheid om van die minder gewilde versamelings te sien wat dikwels nie 'n tree vir die res hoef terug te staan nie. Sou jy die gewilde Nr. 64-bus na die Vatikaan neem, is dit raadsaam om jou beursie styf vas te hou. Die openbare bus wat van die Termini-stasie loop is ook bekend as die Pickpocket Express of Wallet Eater.

TUINE: National Geographic het verlede jaar die beste tien piekniekplekke ter wêreld aangewys. Buiten Kirstenbosch was die Villa Borghese-tuin in Rome ook op dié lys. Dis ‘n ideale plek om ‘n kombers oop te gooi as jy vooraf salami, olywe, brood en wyn aangeskaf het. Ongelukkig is toegang tot die Galleria Borghese (R90), ‘n galery nie verniet nie. Nog ‘n tuin wat die moeite werd is om te besoek is die Gianicolo Park, suid van die Vatikaan, wat pragtige uitsigte op Rome bied. En as daar kinders saam met jou is, moet jy hulle hierheen bring, want daar word elke dag ‘n paar keer marionet-vertonings hier gehou.

WIT NAG: Die tradisie van La Notte Bianca het helaas gesneuwel, maar die Italiaanse Toerismeraad het by navraag gesê dat dit vanjaar dalk weer mag herleef. Dit het behels dat galerye, teaters en museums vir ‘n enkele nag in mid-September oopgebly het van 20:00 tot 08:00 die volgende oggend. Die ligte is nooit gedoof tydens Notte Bianca oftewel Wit Nag nie. Rome mag dus dalk net weer vanjaar fees vier voordat die koue wintermaande kop uitsteek. Vervoer word dan vergemaklik deurdat die metro en treine heelnag verniet loop.

KERKE: Daar is meer as 900 kerke in Rome waarvan die meeste geen toegangsfooi vra nie. Sky Tours Rome bied halfuur toere deur die Basilika van die St. Petrus-kerk om 09:00 elke oggend (behalwe Sondae). Dit kos nie ‘n sent nie.

PANTHEON: My gunsteling gebou in Rome is die Pantheon. Dié kerk (wat nie toegang vra nie) bestaan uit twee duidelik onderskeibare dele: 'n buitenste stoepgedeelte (pronaos) met pilare en 'n reusagtige sirkelvormige vertrek met 'n allesoorheersende koepel. As jy in die koepel staan mag dit voel of jou sintuie jou kul. Hoe is dit moontlik dat 'n gemesselde koepel van steen reeds vir byna 2 000 jaar dóér bly hang? Michelangelo het tydens die Renaissance reeds die Pantheon beskryf as "nie 'n menslike nie, maar 'n hemelse ontwerp". Die kongresgebou in Buenos Aires en die Capitol in Washington is ook hiervolgens ontwerp. Die radius van die halfronde koepel is dieselfde as die hoogte van die silinderagtige gebou. Teoreties sou dit beteken dat 'n sirkel wat horisontaal die hele gebou vul, ook vertikaal gedraai sou kon word en steeds volmaak pas. Hierdeur word volmaakte harmonieuse proporsie aan die gebou verleen. Hierdie koepel is die grootste in sy soort. Dit is selfs groter as dié van die katedraal in Florence of St. Paul in Londen. Om te verhinder dat die Pantheon se uitgespande gewelf intuimel, is swaarder boumateriaal in die basis gebruik as bo. As jy in die somer 19:00 hier is, kan jy ‘n halfuurlange, pasella toer van Angel Tours meemaak.

SPANISH STEPS: Dié indrukwekkende trappe, genoem na die nabygeleë Spaanse ambassade, bied dag en nag sitplek vir wie ookal hul bene wil laat rus. Aan die bokant is die Trinita dei Monti-kerk langs die Piazza di Spagna en by die onderste trap sal jy die Barcaccia-fontein vind wat die middelpunt is van die Piazza di Spagna.

MUSEUMS: Die meeste galerye en museums vra toegangsgeld. Uitsonderings is die Museum vir die Italiaanse Munt met sy meer as 20 000 gesogte medaljes en munte, die Historiese Museum oor die Bevryding van Rome, en die galery by die Nasionale Akademie van San Luca met werke deur onder meer Rafael.

TREVI-FONTEIN: Nog voordat jy dié wêreldbekende fontein gaan sien, sal jy die vallende water reeds hoor. Om dit te sien, gaan jou niks kos nie – maar jy mag dalk soos miljoene voor jou iets wil wens en ‘n munt in die water laat plons. As jy ‘n geldstuk oor jou skouer gooi tot in die fontein is dit blykbaar ‘n waarborg dat jy sal terugkeer na die Ewige Stad.

WERD OM TE WEETOm jou ‘n idee te gee hoeveel die rand in euros jou sal kan laat koop in Rome, die volgende as riglyne:
* Vervoer: ‘n Basiese kaartjie vir ‘n stadstrein, trem of metro kos 1 euro (sowat R11). Dit is geldig vir 75 minute vandat dit die eerste keer gestempel is.
* Verblyf: ‘n Nag in die Hotel Campo de’Fiori (hotelcampodefiori.com) kos sowat r1500 (goeie drie-ster; dubbelkamer).
* Te drinke: ‘n Espresso (tafel by ‘n café) sal jou R20 kos, maar in ‘n gewilde toeriste-area kan dit R60 of meer kos. ‘n Groot glas bier sal jou sowat R50 uit die sak jaag.
* Te ete: Italië is bekend vir sy pizzas, maar daar is baie minder goed op as elders in die wêreld. Hulle sê ons pizzas is “soutterte”. ‘n Basiese pizza margeritha kos R90. ‘n Tweegang middagete vir twee sonder wyn in ‘n goeie restaurant kos sowat R500.