DIT was nog donkeroggend toe my selfoonalarm afgaan in Kuching. ‘n Vlug  via Johor Bahru, Kuala Lumpoer en Johannesburg na Bloemfontein het gewag, maar  eers sou ek al my goed ingepak moes kry.   
G’neen van ons het besef watter inkopieparadys dié Borneose stad is  nie.  Talle Suid-Afrikaanse winkels kom  skynbaar hul ware hier aankoop en verkoop dit dan peperduur  tuis.
Só koop ek  VOC-keramiek, ‘n kompassie met Chinese jaartaltekens, groentee, ‘n bessierooi  tafeldoek vir my ma en ‘n borriegele vir my (‘n smaakblaps?), ‘n houtstensil,  chilli-sous,  en vele  meer.  
Die vraag is net:  hoe kry jy dié  goed by die huis?  Anders as die  binnehuiseversieringswinkels het ek nie ‘n reuse bootkrat tot my beskikking nie.  
Dit word ‘n inpaksessie waar ek elke slenter inspan om my goed op die  vliegtuig te kry.   
Ek gooi ‘n voosgedrukte buis tandepasta weg, en trek my sware  Caterpillar-bootse aan.  Net dalkies maak  dit die bagasie ‘n gram ligter!
By die inweegtoonbank vermy ek vroue (‘n vriend reken hulle is veel  strenger as mans) as dit by weeg kom. 
“Selamat Datang” (welkom), sê die man agter die toonbank.  
Gemaak maklik sit ek my twee loodsware tasse op die rubberbandskaal.  
Die res van my bagasie (duty-free inkopiesakke tot boordensvol) kry ‘n  tydelike staanplekkie reg voor sy toonbank.   Dáár waar hy dit nie kan sien nie (en hopelik van gaan vergeet).  
Al dié slimstreke werk, want sonder om ekstra te betaal vlieg ek terug  met 19 kg se Borneose memorabilia.   
Dié  snuistery word dikwels gemaak in die diepe tropiese reënwoorde van Sarawak om  later verkoop te word in winkels en markte van Kuching.  Dié stad is die hoofstad van Sarawak,  Maleisië se grootste  provinsie op die eiland Borneo.   
As handelspos het Kuching vir Maleiers, Chinese, Indiërs, Europeërs en  inboorlinge hier byeen gebring deur die eeue.   
Voor die 1800’s was Sarawak onder beheer van die sultan van Brunei.  Dit was ‘n vreedsame plek, maar humeure het  opgevlam oor korrupte sultan-beamptes wat hoë belasting afgedwing het.  Díé belasting het in hul eie sakke  beland.
James Brooke, ‘n ryk Engelse avonutrier is deur die sultan gevra om die  gemoedere te kalmeer.  Met sy jag, die  Royalist, het hy vrede afgedwing.  Die  sultan het vir Brooke goewerneur gemaak van Sarawak.  
Brooke wou sy posisie verstewig en het dit reggekry met Britse  vloot-ondersteuning.  Die sultan is  gedwing om ‘n ooreenkoms te onderteken en Sarawak is oorgedra aan Brooke, die  eerste Engelse Rajah van Sarawak.   Kuching sou voortaan nie slegs ‘n belangrike hawestad wees nie, maar ook  ‘n administratiewe sentrum.   
Sedert 1963 is Sarawak deel van die Maleisiese Federasie.  
Oor Kuching se naam is nie enigheid nie.   Sommige reken dit stam van “Gu Chin”, Chinees vir hawe.  Tweedens, verwys dit dalk na ‘n lichi-vrug  genaamd Mata Kuching.  Maar die algemene  geloof is dat “Kuching” verwys na ‘n kat (dit klink nogal na die Afrikaanse  “kietsie”, né?).   
In dié Katstad is dan ook die eerste museum ter ere van kietsies. As jy ‘n katteliefhebber is mag jy dalk swig voor die opgestopte Persiese katte, en Tom & Jerry-uitstallings.
Alles wat in water lewe is op die plaaslike vismark se spyskaart.  Terwyl jy by die skoonste van die vuil tafels  vis-en-skyfies eet, sien jy hoe ‘n kok ‘n lewende vis se skubbe afpluk voordat  dit keel-af gesny word.   
Skynbaar is  ‘n eeu nie genoeg om van Borneose “headhunter”-gene ontslae te raak nie.  Dié kannabalistiese gedagtes laat  my stik aan my vis.
‘n Sirene roep mans om te gaan bid.   Die Sentrale Moskee. is maklik te vind, want sy vergulde koepels troon  uit bokant die twee-verdieping winkelhuise.   Waterfront-straat staan ook bekend as die “Antieke Arkade” weens sy  historiese fasades, asook antieke stukke en handewerk wat hier te koop is.  Dit was verseker my gunsteling koopplek.  
Die doweskool by die Perkata Galery (Ridgeway Road) en die Sarawak Craft  Council, bied ook waarde vir geld.  Die  pryse is laag, die kwaliteit goed, en die goedere word nie massa-vervaardig  nie.  
Vlugte na Kuching is meestal via  Johor Bahru.  Dié lughawe is ‘n  hanetreetjie noord van nog ‘n inkopie-mekka, Singapoer.  Johor Bahru se lughawe-afkorting, JHB, stem  toevallig ooreen met die naam van die Goudstad.   
Ook werd om te weet
*  Fooitjies is ongewoon – veral  by die koskraampies oftewel “kopitiams”.   
*  Plakkies en kortbroeke is uit  as jy ‘n draai by die moskee wil maak.   Nie-Moslems word nie toegelaat tydens bidure nie.  
*  Verwag sondeurdrenkte dae en ‘n  tropiese klimaat (25 tot 30 ºC bedags).   Tussen Oktober en Februarie word die lug verfris deur ‘n klipharde  reënbui daagliks rondom 16:00.  Na enkele  minute breek die son weer deur.   
*  As jy lus voel vir plaaslike  vrugte, probeer die Durian.  Dié “koning  van vrugte” is bekend vir sy sterk reuk en is verbode in hotelle soos die  Merdeka Place Hotel waar ek gebly het.   
*  Die grootste etniese groep in  Borneo is die Iban.  Hulle woon in  “longhouses”, reuse huise met plek vir tot honderd families in aparte  vertrekke.
* Oesfeeste word Junie en Julie gevier deur die drink van ryswyn by danspartytjies.
