Sunday, August 14, 2011

Mattanu: Geskenk van Bo




Mattanu: Beste in dié geweste



JENS FRIIS het gaan kyk waarom die AA vir die Mattanu-wildreservaat in die Noord-Kaap aanslaan as die beste van sy soort in Suid-Afrika.



OP die Mattanu-wildreservaat anderkant Barkly-Wes sou jy sweerlik kon dink jy is in die Bosveld. Hier is nie kremetarte nie, maar die omgewing lyk pure Satara.


Boonop is dit in mid-Suid-Afrika, dis malaria-vry en jy sien diere - baie daarvan.


Dat Mattanu by die Automobiel-Assosiasie (AA) se prysuitdeling in Durban aangewys is as die beste verblyfplek vir 'n klein wildreservaat (minder as sewe kamers) in die land, is ook nie te versmaai nie.


Só val ons kort gelede een Saterdag in die pad vanaf Bloemfontein, eet 'n laatontbyt in Kimberley, steek die Vaalrivier oor by Barkly-Wes en ry die laaste 20 km grondpad deur Kalahari-Bosveld-savanna tot by Mattanu.


Dis bibberend buite, maar in die luukse tente wat blyplek bied is daar ondergrondse verhitting, dik duvets, verhitte handdoekreëlings en lugreëlaars.


Boonop is ek aangenaam verras om te sien dat daar nie plek vir 'n muis is nie - al die tente is vol.


Die Kriek-familie wat Mattanu besit en bestuur is deurwinterde omgewingsbewaarders. Hul voorsate het op 'n familieplaas in die distrik Enkeldoring van die destydse Rhodesië geboer voordat hulle in die 1980's na Suid-Afrika moes verhuis.


Dr. Johan Kriek, die eienaar van Mattanu, is onder meer ’n vlieënier en wildboer. Hy is in 2009 as die nasionale wildboer van die jaar aangewys en was die eerste uit die Noord-Kaap om dié eerbewys te ontvang. Met die aanwys van die wenner word onder meer gekyk na die kandidate se betrokkenheid in die wildbedryf, die bestuur van die plaas en hoe daar na personeel omgesien word.


Dr. Kriek se een seun, Johann, is ook ’n vlieënier, terwyl die ander seun, Jacques, die bemarkingsbestuurder van die wildreservaat is.


Laatmiddag neem Jacques al sy gaste op 'n wildbesigtigingstoer, maar eers stop ons by 'n rehabilitasiekraal waar wild gemonitor word wat deur die lewe gekniehalter word. Hieronder tel 'n bastergemsbokkie waarop die Krieks in die veld afgekom het.


"Sy ma het nie genoeg melk gehad nie en ons het die verswakte bokkie na ons kraal gebring," vertel Jacques.


Die bokkie se naam is Nhamo wat in Shona ‘n woord is vir iemand wat deur ‘n moeilike tyd gaan.


Maar dit wil lyk of daar ‘n voorspoedige toekoms op Nhamo wag, want danksy heilsame koeimelk uit Bretta, 'n staatmaker Jersey, se spene is dié kleinding nou blakend gesond. Bretta was deur die jare reeds pleegma vir ’n buffelbulkalf, ’n sebratjie en swartswitpenskalfies.
Haar Jersey-kalf en die bastergemsbokkie is dol oor mekaar. As hulle nie aan hul ma drink dat die spoeg so spat nie, dan speel die tweetjies al óm haar.


Hopelik sal die bastergemsbokkie eendag weer in die natuur vrygelaat kan word. Naas die eland (wat ook op Mattanu voorkom) is die bastergemsbok die grootste bokspesie.


Swartwitpense, swart rooibokke en siektevrye buffels is van die skaars en bedreigde wildspesies waarmee hier geteel word. Van die oorspronklike bastergemsbokke en swartwitpense het dr. Kriek jare gelede uit Malawi ingevoer.


Dis opvallend dat die meer as 36 wildspesies nie gespanne is nie en daarom kan jy tot naby aan hulle kom. “Dit maak dit ideaal vir internasionale kameraspanne om hier te kom verfilm,” vertel Jacques terwyl ons iets drink by ‘n watergat.


Jy hoor verskeie voëls, maar die riete en gras rondom die dam is dig. Net dan en wan sien jy van die geveerdes.


Dis verstommend hoe ruig die veld handomkeer verander het in die afgelope maande. ‘n Veldbrand November verlede jaar het groot stukke weiveld, ‘n tienbed-chalet, die onthaalgebied se lapa en ‘n luukse tent verteer.


“Iets positiefs wat gekom het van die brand is dat talle uitheemse bosse in die slag gebly het en daar nou meer weiveld is as vantevore. Daar moes heelwat ekstra voeding gegee word vir die wild ná die brand, maar vanweë die goeie reën vanjaar het die veld vinniger herstel as verwag. Vaalbosse, haak-en-steek, swarthaak en kameeldoringbome het onder meer in die slag gebly.”


Dit was die ergste brand wat die familie Kriek beleef het in die 20 jaar wat hulle hier bly.


Talle plase in die omtrek is ook deur die brand verniel. Laatmiddag het brandslaners verbete geveg teen vlamme wat aan ‘n wye front op die Windsorton-pad afgestorm het. Die onbegaanbaarheid van die ruwe terrein het die taak ook nie vergemaklik nie.


“Toe die vuur daai dag omgeswaai het moes ons vroegaand in die swembad spring om van die vlamme weg te kom!”


Maar intussen het die veld flink gegroei en die Krieks het die plaas weer opgeknap, “want Mattanu beteken nie verniet ‘n geskenk van Bo nie.”


Net voordat ons terugkeer kamp toe word ons geseën met ‘n besonderse sonsondergang. Ek moet met my hand skerm om na die rooi gloed agter die kameeldorings te kyk, want my donkerbril lê tuis (soos gewoonlik).


Met ete die aand kan jy kies uit ‘n uitgebreide versameling wyn uit die ondergrondse wynkelder. En vir later wag sigare van oraloor.


Ná ‘n lekker lang nag (soos dit hoort op só ‘n vakansie) was dit tyd vir nóg ‘n wildrit waar ons letterlik omtrent aan die bastergemsbokke en swartwitpense kon vat.


En daarna is ons kuiertjie afgesluit met ‘n ontbyt uit die boonste rakke.


Skuld daai spaarvarkie vir ‘n nag by Mattanu. Die R1 400 wat dit jou gaan kos is die moeite werd – en só het die AA ook gedink. Jy word immers nie sonder rede aangewys as die beste van jou soort in die land nie. Die prys is per persoon en sluit verblyf, ‘n ontbyt, aandete en twee wildsritte in.


Gaan maak gerus ‘n draai. Bogenoemde is nie net papierbeloftes nie.



SOU JY GAAN


* Mattanu is 58 km noordwes van Kimberley.


* Wildbesigtingstoere vir dagbesoekers is moontlik, maar besprekings is noodsaaklik.


* Gaste kan ook gaan stap en voëls uit ‘n uitkykpunt by ‘n vlei dophou.


* Onthou jou sonbril en in die sonbrandroom. Somers wag hier ‘n swembad om die Noord-Kaapse hitte af te spoel.


* Vir meer inligting loer by www.mattanu.com of stuur 'n epos aan info@mattanu.com.