Wednesday, September 14, 2011

Hanover

"Stedelinge ry deur die Karoo na ander stede toe, hou by dorpies stil om petrol in te gooi, koop 'n hamburger, gaan piepie, ry weer aan … en mis die hárt van ons land heeltemal. Wanneer iemand uit 'n stad my vra wat de vloek maak ek hier, weet ek klaar die persoon sal nie my antwoord verstaan nie," het skrywer Paul C. Venter aan rooirose gesê kort nadat hy hom op Hanover in die Noord-Kaap gevestig het. JENS FRIIS wat 'n voorliefde vir klein dorpies het, het op Hanover gaan kuier. Moenie volgende keer met die N1 hier verbyswiep nie, sê hy en doen twee handevol dinge aan die hand om hier te doen.


RYK GESKIEDENIS: As deel van die Graaff-Reinet-distrik vroeër jare moes die gebied waar Hanover vandag staan destyds tevrede wees met die vae geografiese naam Bo-Zeekoeirivier. Die gebied is in die 1820's deur die Britte beset en soos die boeregemeenskap gegroei het, het die behoefte aan 'n eie dorp met 'n eie identiteit toegeneem. In 1854 is die dorp gestig op die plaas Petrusvallei. Dit is genoem na Hannover in Duitsland van waar die voorouers van Gert Gouws, die eertydse eienaar van die plaas gekom het.


AS VAN WIEL: Hanover vorm die middelpunt van 'n boog bestaande uit Richmond, Middelburg en Colesberg (75 km). Maar dit lê ook halfweg tussen Johannesburg en Kaapstad, tussen Kaapstad en Durban, en tussen Port Elizabeth en Upington. Tot vandag toe is dit dus nog steeds 'n gewilde halfweghuis 720 km noordoos van Kaapstad op pad na Johannesburg. Vroeër jare het koetse met passasiers onderweg na die Diamantvelde hierdeur gery en die poskoets na Transvaal en die Oranje-Vrystaat het hier aangedoen. Maar in 1884 met die koms van treine het dit gaande weg stiller geraak in Hanover - 'n seën in sekere opsigte, want Hanover het deels behoue gebly soos in die 19de eeu.


STIL STRAATJIES: Stap deur die stofstrate en herleef 'n tipiese Karoo dorp uit 'n vergange era. Hier is 'n magdom huise uit die pioniersera. Hieronder tel wonings met boligte bokant die deure vir lig en lug, swaar kroonlyste en skuifraamvensters met hortjiesluike alkant. Feitlik al die huise is op die straat gebou met tuine agter - 'n vereiste van die kerkraad wat die dorp ná sy ontstaan bestuur het. Lae klipstoepe skei soms die huis van die straat. Toe verandas later mode was, moes huiseienaars ‘n oorskrydingstarief van een sjieling per jaar betaal.


KERK: In 1859 het Thomas Francois Burgers Hanover se eerste predikant geword. In dieselfde jaar is die eerste N.G. Kerk gebou wat in 1906 afgebreek en herbou is. Indrukwekkend is die reuse preekstoel deur Anton Anreith. Burgers sou in latere jare die president van die Zuid-Afrikaanse Republiek (Transvaal) word en op sy oudag terugkeer na die Karoo. Op die plaas De Dammen buite Hanover en later op Schanskraal het hy onder meer met volstruise geboer. Hy is op Richmond begrawe, maar is later na Zoetvlei verskuif en uiteindelik ter ruste gelê in Pretoria se ou begraafplaas.


VOëLBLIK: Klouter Trappieskoppie uit om die dorp van 'n ander hoek te sien. Dit was Charles Richard Beere, Hanover se eerste magistraat, wat die trappies in die 1870's teen dié koppie uit laat bou het met die hulp van bandiete. Beere wat lief was vir die Karoo en dié uitsig met ander wou deel het gereeld van hier kom kyk hoe die son verrys en sak. Ná sy dood in 1881 is 'n klipstapel bo-op die kop opgerig ter ere aan sy rol tot die ontwikkeling van die dorp. Dit was die einste Beere wat inwoners aangemoedig het om bome te plant sodat hul nageslag koelte in die Karoo kon hê.


SCHREINER-HUIS: Tussen 1900 en 1907 het Olive Schreiner op die hoek van Grace- en Nuwestraat gewoon saam met haar prokureursman, Samuel Cronwright-Schreiner. Dit was Anglo-Boereoorlog en Olive was uitsproke teen oorlogvoering. Daarom het die Britse regering haar bewegingsvryheid aan bande gelê, maar waarskynlik omdat sy ‘n bekende skrywer was en gesukkel het met asma kon sy feitlik kom en gaan soos sy wou en is sy selfs toegelaat om saans ‘n kers aan te steek.


KERKHOF: Die N1 sny die dorp en sy kerkhof in twee. Hier lê drie jong mans J.A. Nieuwoudt, J.P. Nienhaber en Sarel Nienhaber wat tot die einde volgehou het hulle is onskuldig, maar nietemin deur ‘n Britse vuurpeleton tereggestel is tydens die Anglo-Boereoorlog. ‘n Trein het ontspoor by Taaibosch, 20 km uit die dorp en dié drie is daarvoor verantwoordelik gehou. Die teendeel blyk egter uit “Die Oorlogsavonture van genl. Wynand Malan” deur H.J.C. Pieterse. Hierin erken die generaal dat sy kommando verantwoordelik was vir die ontsporing. Die drie jong mans was glad nie betrokke nie. Die Britte het hulle gestuur om voer vir hul perde bymekaar te maak toe die trein die spoor byster geraak het.


DARLINGSTRAAT 3: “Uit Hanover bring ek kappertjiesaad/Uit die tuin van nr. 3 Darlingstraat” het Lize Beekman eens geskryf oor dié gastehuis op Hanover en dis veral Laurika Rauch wat die liedjie bekend gemaak het. Gaan kyk bietjie waar die kappertjies groei.


ONDERGRONDSE WATER is goud werd in die Karoo en omtrent in elke agterplaas staan in ‘n windpomp. Hanover is geseën met ‘n sterk fontein, Die Oog, langs die pad na Middelburg. Leivoortjies wat in 1870 gebou is het die water vir jare na die erwe gelei, maar dié leivoornetwerk het in die afgelope jare erg verval. Nietemin is die erwe steeds geregtig op twee leibeurte per week nes die dorpsvaders vanmeleë bepaal het.


SEEKOEIE IN DIE KAROO: Seekoeie is een van die laaste goed wat jy te wagte is hier, maar op die plaas New Holme is selfs 'n seekoekalfie gebore - die eerste in meer as 230 jaar wat in die Karoo die lewenslig aanskou het. Die laaste seekoeie is hier rondom 1775 gejag. Die seekoeie is enkele jaar gelede uit die noorde van die land hierheen verskuif nadat hulle skade aan boorde aangerig het. Een is dood, maar die kalfie is 'n bewys dat hulle in die Karoo aangepas het.


* VOORDAT JY GAAN: Lees "In die mond van die wolf" van Paul C. Venter oor Karoo-mense se lief en leed.