Wednesday, September 14, 2011

Fiets Mauritius plat



Maak soos JENS FRIIS en verken dié subtropiese eiland in die Indiese Oseaan met ‘n fiets.

Die songeel blomme van ‘n onbekende boom lê soos konfetti om ons op die grond gestrooi. Dié boom bied weinig skuilte teen die vet druppels van ‘n subtropiese reënbui, maar minstens koel dit ons af.

Dis altyd drukkend in Mauritius, maar die eintlike rede waarom die sweet op ons voorkoppe pêrel is dat ons rondrits op fietse op dié eiland oos van Madagaskar.

Dié fietsryery wat ‘n gans ander kleur aan ons eilandvakansie sou gee het begin toe ons na die monument wat die Helderberg-vliegramp herdenk, wou gaan kyk. Ons wou ‘n taxi huur, maar die concierge, het gesê: “Nee, dis te naby om te ry. Maar tog te ver om te stap. Waarom ry julle nie met die hotel se fietse daarheen nie?”

Om hier fiets te ry is kinderspeletjies, want enigeen kan ‘n 15 km plat trap en dit is al ‘n kwart van die eiland se deursnee. Nes in Nederland is die afstande klein en veral die dele rondom die kuslyn van 177 km is plat. Dis in die middel waar die vulkaniese bergspitse verrys waaronder Pieter Both (825 m) wat vernoem is na ‘n Duitse goewerneur uit die 16de eeu. Bo-op tart ‘n rots die aarde se aantrekkingskrag. Solank dit nie aftuimel nie, is Mauritius honkiedorie, sê hulle.

Maar vir Pieter Both en sy maters kan jy genadiglik misry en net van ver bewonder.

Ons ry verby bougainvilleas en onderdeur hibiscus-bome en voordat ons dit verwag is ons by die Helderberg-monument.

Nooit ooit het ek in 1987 kon droom dat ek eendag hier sou staan nie. Dit was voor middagete op ‘n Saterdag terwyl Edwill van Aarde se Afrikaanse Treffers oor Radio Suid-Afrika uitgesaai is dat die program onderbreek is deur ‘n noodsein. En toe die stem wat iets gesê het soos: “Die Helderberg, ‘n vliegtuig van die Suid-Afrikaanse Lugdiens, word vermis. Dit was op pad van Taipei na Suid-Afrika”.

In die ure wat kom sou ons hoor dat al 160 mense aan boord dood is toe die vliegtuig ontplof het. Onwetend van hul lot, het familielede op die slagoffers gewag by Jan Smuts. Dis die grootste lugramp in die geskiedenis van die SAL, sou Riaan Cruywagen om agt op SAUK-nuus berig.

In die jare wat kom sou ons leer dat onskuldige mense se lewens in gevaar gestel is deurdat ook wapens op dié vlug vervoer is.

Hoe kan enigeen só roekloos wees? Die oorledenes was meestal toeriste, net soos ek wat nou voor die kille marmermonument staan wat hom ontuis voordoen langs die skitterwit strand en kobalblou see.

Die monument is in ‘n goeie toestand, maar hier in die verre was daar skynbaar lanklaas ‘n familielid of vriend, want daar is geen teken van ‘n verdroogde krans.

Ek neem ‘n foto, ons staan nog ‘n bietjie rond en met die wegry neurie ek nugter weet waarom “Eiland van die son, Madagaskar” – iets wat Bles 24 jaar gelede op Edwill se program sou sing.

Op pad na Belle Mare, die naaste dorpie moet ons twee keer stop: eers sodat vyf kwaakers oor die pad kan stap en toe weer vir die prosessie van ‘n Hindu-troue met ‘n bruid in goud, geel en rooi geklee.

Nes in Suid-Afrika ry jy hier ook aan die linkerkant van die pad. Die paadjies is smal, maar die bestuurders is bedagsaam en elke keer wat hulle jou wil verbygaan word dit voorafgegaan deur ‘n kort toet.

Plaaslike inwoners ry selde fiets, maar indien wel is dit met mandjies en sakke wat oorvol is van kruideniersware of groente wat hul na die mark aanry. Vir hulle is fietsry ‘n manier van vervoer en nie ontspanning nie.

In Belle Mare koop ons bloekomboomheuning in die aller mooiste bottelgroen flessies, drink elkeen een van die gewilde Phoenix-bier, en eet gebraaide piesangs wat deurweek is met rum.

Dié rum word gemaak uit suikerriet, ‘n nalatenskap van die Hollanders wat die eiland by die Portugese afgevat het. Nes die Kaap van Goeie Hoop was Mauritius vir die Hollanders ‘n verversingspos onderweg na die Oos-Indiese eilande. Suikerriet is deesdae saam met toerisme en die tekstielbedryf die hoofvertakkings van Mauritius se ekonomie.

Op pad terug na die hotel, maak ons ons twee fietse staan teen ‘n palmboom – van ‘n slot en ketting om dit te sluit is daar nie sprake nie. Die enigste slang in die paradys is dat die gebreekte koraal op die strand nogal kaalvoete kan steek. En só hang ons toe rond in Belle Mare se seewater van sowat 25 C.

Was dit nie vir die fietsryery nie, sou ons nooit al dié dinge op een dag beleef het nie en boonop het ons werklik deel geword van ons ontdekkingstog van Mauritius. Dis net soveel beter as om agteroor te sit in ‘n kar wat jou rondkarwei.

FIETSRYRAAD

* Fietse (gewoonlik bergfietse) is te huur van baie hotelle, gastehuise en motorhuuragentskappe soos in Flic en Flac en Grand Baie. Dit sal jou sowat R25 per dag en ‘n deposito van R1250 kos wat jy kontant moet betaal of deurdat jy jou kredietkaartbesonderhede moet verskaf.

* Toets die ratte, remme en saal voordat jy dit huur.

* ‘n Resiesfiets is lekker vinnig op die teerpaaie, maar as jy die grondpaadjies en strande wil verken is ‘n bergfiets beter, want hoe dunner jou bande hoe vinniger sak jy weg.

* Hoewel die verkeer nie druk is nie (buiten in die hoofstad Port Louis) en die slaggate min, is dit wys om ‘n valhelm te dra.

* Moenie saans fietsry nie, die paaie is swak verlig.

* Hier en daar is ‘n opdraand, maar dan beloon die afdraand jou weer.