GRAAFF-REINET: Die Reinet-huis (deesdae 'n museum) op Graaff-Reinet is só sorgsaam gerestoureer dat dit weinig anders lyk as in 1866. In 'n Panorama-tydskrif uit 1957 is geskyf die herstelwerk is as 'n "onpersoonlike, byna argeologiese projek" behartig. Niks is ontsien om die oorspronklike gebou tot in die fynste besonderhede te herskep nie.
Vandag is die Reinet-huis 'n juweel in dié geskiedkundige Karoo-dorp se bewaringskroon. Tog is dit eens so byna-byna gesloop. Teen 1947 was hierdie oudpastorie vervalle en die kerkraad wou dit vervang met 'n moderne woonstelblok (in die hart van die historiese dorpskern!). Gelukkig het bewaringsbewuste Graaff-Reinetters vasgeskop, en in 1950 is die huis tot 'n gedenkwaardigheid verklaar.
Nes die Drostdy, aan die ander punt van Pastoriestraat, is Reinethuis (1812) waarskynlik ontwerp deur die die Franse argitek Louis Michel Thibault.
Nie minder nie as 82 jaar lank is dit bewoon deur ds. Andrew Murray en sy seun, Charles. Ds. Charles was 'n kranige tuinier wat in die uitgestrekte pastorietuin bome, plante en blomme van oral geplant het. In 1870 het hy 'n swartakker-wingerdstok geplant wat die grootste ter wêreld sou word, met 'n rankwydte van 120 m!
Bekendes soos Robert Moffat en dr. David Livingstone het ook deur die jare hier aangedoen.
Ná die bou van 'n meer moderne pastorie in 1904 is die ou pastorie onder toesig van Ellen Murray, suster van Charles, in 'n koshuis omgeskep. In 1907 het sy die naam Reinet-huis daaraan gegee.
BLOEMFONTEIN: Die Tweetoringkerk in Bloemfontein dien die afgelope jaar of wat nie meer as aanbiddingsplek vir 'n gemeente nie, maar word gebruik as tuiste vir die Torings van Hoop-projek wat hulpbehoewendes in die Bloemfonteinse middestad ondersteun.
Dié kerk se geskiedenis strek ver terug. Dit was die inhuldigingsplek vir die laaste twee staatspresidente van die Republiek van die Oranje-Vrystaat, F.W. Reitz en M.T. Steyn, kort voordat die Vrystaat deel geword het van die Unie.
Vele bekendes is ook uit dié kerk begrawe, soos vader J.D. Kestell, genl. C.R. de Wet, press. J.H. Brand en einste M.T. Steyn, Emily Hobhouse, en ook die eerste drie staatspresidente van die Republiek - Nico Diederichs, Jim Fouché en C.R. Swart.
Dis reeds in 1963 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar en die eerste predikant was ook iemand met 'n bekende naam: Andrew Murray jr., wat toe maar 21 jaar oud was.
Die eerste kerk, die sogenaamde Ou kerk, is in 1852 ingewy en was op dieselfde erf as die Tweetoringkerk, toe nog aan die buitewyke van Bloemfontein.
Die Ou Kerk het ongepleister gebly, want die aangewese messelaar was blykbaar te lief vir die bottel gewees.
Omdat Bloemfontein flink gegroei het, moes 'n groter kerk gebou word - ook maar goed so, want teen 1870 was die Ou Kerk aan't intuimel. Dis uiteindelik in 1878 gesloop, en terwyl die nuwe kerk gebou is, is eredienste gehou in 'n pakhuis by Fichardts (oorkant die straat waar die Middestadsentrum nou is).
Die argitek William Bennett Hays se plan in die Middeleeuse Duitse styl met twee torings sou die gemeente 33 500 pond uit die sak jaag.
Dít was te dik vir 'n daalder, en daar is besluit op 'n afgewaterde ontwerp in die moderne Romeinse styl deur die argitek Richard Wocke. Die kerk sou 17 500 pond kos en sitplek bied vir 810 mense.
Op 10 Mei 1878 het pres. Brand die hoeksteen gelê. Sowat 6 000 mense het die inwydingseremonie op 7 Mei 1880 bygewoon.
Die nuwe kerk het sommer ver uitgetroon bo Bloemfontein se enkelverdieping-geboutjies.
In 1935 het die westelike toring inmekaar getuimel, waarna die ander toring om veiligheidsredes ook gesloop is.
Die argitek Gerard Moerdyk het gemeen die beste sou wees om 'n nuwe kerk te bou, maar dit het nie gebeur nie. Die twee torings is bloot herbou.
In 1952 is die preekstoel verwoes en die orrelpype beskadig toe boemelaars by die kerk ingebreek en 'n brand gestig het.
In die jare tagtig is die bekende Tweetoringkerk toe uiteindelik deeglik gerestoureer.
In die toringkamer is afgekom op 'n groot vonds van antieke nagmaalgerei en sestien Nederlandse Bybels uit die negentiende eeu.
WINBURG: Skaars ’n kilometer suid van Winburg swenk ’n pad suidwaarts uit die N1 na die Voortrekkermonument en die plaas Rietfontein.
Hier staan ’n eenvoudige, langwerpige kliphuisie waarin Marthinus Theunis Steyn, latere president van die ou Republiek van die Oranje-Vrystaat, op 2 Oktober 1857 gebore is.
Sy pa, Marthinus Steyn, het op die plaas Josephinesdal in die distrik Winburg geboer. Met die dood van sy vader moes hy na Swellendam gaan.
Daarom het hy veiligheidshalwe sy swanger vrou na sy swaer Theunis Cornelius Wessels van die plaas Rietfontein geneem.
“Dit was ’n onrustige tyd,” skryf Karel Schoeman in Boukunsskatte van die Vrystaat. “Die Eerste Sotho-Boereoorlog het die volgende jaar uitgebreek en Winburg was slegs ’n gehuggie baie naby aan die grens van Moshweshwe se gebied.”
En só is die toekomstige president toe in die huisie van sy oom gebore.
Terloops, M.T. Steyn was een van 11 kinders van wie 8 oorleef het.
Benewens sy geskiedkundige waarde is die woning ook van argitektoniese belang.
Dit neem ’n belangrike plek in die ontwikkeling van ons volksargitektuur in, skryf J.J. Oberholster in Die Historiese Monumente van Suid-Afrika.
Tydens die pioniersjare van die Vrystaat is gewoonlik met kleistene gebou, maar soms is klip ingespan. Dit was meer tydrowend, maar wel duursamer. Dit is dan ook ’n rede waarom die woonhuis op Rietfontein ná al die jare behoue gebly het.
“By die oprigting (van die huis) het die boer van die materiaal wat byderhand was, gebruik gemaak. Uit die nabygeleë rantjie het hy die klip vir die buitemure gehaal, uit die leegte die rooigrond vir die rou bakstene vir die binnemure, en uit die vlei die klei vir die vloere en die brandsolder, asook die riet vir die dak.”
By die deurdrumpels en voor die kaggels waar die kleivloer maklik kon uittrap, is perskepitte gelê.
Steyn se geboortehuis is verdeel in ’n slaapkamer, voorhuis en ’n kombuis. ’n Stal en kraal is later aangebou.
Die huis is in 1952 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar.
In 1978 het die provinsiale museumdiens dit met groot sorg gerestoureer om ’n goeie idee te gee van die woonkultuur van die vroeë Vrystaatse Republiek.
Die stal en kraal is verwyder, terwyl ’n bakoond aangebou is.
Sowat 100 m van dié opstal rus diegene wat eens die werf bewandel het in die plaaskerkhof.