Monday, January 28, 2019


Slegs as dit hoogsomer is sak die son so ver wes dat dit die NG kerk Philippolis deels van voor verlig laatmiddag. Dié kerkgebou, 'n nasionale gedenkwaardigheid, aan die bo-punt van Voortrekkerstraat (vroeër Kerkstraat) bied sitplek vir 1 000 mense. Foto: Jens Friis

Thursday, December 13, 2018

"Philippolis - die oudste nedersetting in die Vrystaat" deur Jens Friis

Die meegaande berig kom uit Volksblad (Kontrei).

* "Philippolis - die oudste nedersetting in die Vrystaat" is beskikbaar teen R350 of R600 vir twee boeke (jy spaar dus R100).
Ek kan dit koerier na 'n Postnet teen R100. Daar is ook afsetpunte in Gauteng, Philippolis en Bloemfontein.
Die boek het 260 glansbladsye, 'n hardeband, 'n ideale koffietafelboek ...
As jy een wil bestel of meer wil weet, skryf gerus aan my by jejofr@hotmail.com

Boek oor Philippolis gewild

Die meegaande berig kom uit Volksblad (Kontrei).

* "Philippolis - die oudste nedersetting in die Vrystaat" is beskikbaar teen R350 of R600 vir twee boeke (jy spaar dus R100).
Ek kan dit koerier na 'n Postnet teen R100. Daar is ook afsetpunte in Gauteng, Philippolis en Bloemfontein.
Die boek het 260 glansbladsye, 'n hardeband, 'n ideale koffietafelboek ...
As jy een wil bestel of meer wil weet, skryf gerus aan my by jejofr@hotmail.com

Wednesday, December 12, 2018

Nuwe boek: "Philippolis - die oudste nedersetting in die Vrystaat" deur Jens Friis

Nie minder nie as 500 mense het die boekbekendstelling van Jens Friis se boek in die NG kerk Philippolis bygewoon. "In my meer as 45 jaar was daar nog nooit soveel mense in dié pragtige gebou tesame nie. Dit was merkwaardig."

Die boekbekendstelling het saamgeval met die eerste reünie van die eertydse Hoërskool M.T. Steyn.

"Philippolis, die oudste nedersetting in die Vrystaat," is 'n hardeband glanspublikasie en is by verskeie besighede in dié dorp te kry.


"Nooit skryf ek weer 'n boek van hierdie omvang (260 blaaie) in drie maande nie," sê Jens. "Dit tap jou, maar as die kalf in die put is, dan gaan sit jy voor jou rekenaar - veral as dit iets is wat jy al dekades wou doen. Om só iets uiteindelik te verwesenlik is immers een van die beste maniere om jou tyd te gebruik, skryf Stephen Covey in sy boek, "Seven habits of highly effective people"

Jens wou nog altyd 'n boek van dié aard oor Philippolis lees, maar die rede waarom hy in 'n hoek gedryf is om dit te skryf is omdat die Hoërskool M.T. Steyn vir die eerste keer in 16 jaar 'n algemene reünie beplan het vir 2 tot 4 November.

"Jy moet nou 'n boek skryf," het Marnie van Wyk, wie se breinkind die reünie was, gesê. En baie ander mense moes ook gevoel het dat die tyd ryp was, want die bestellings vir boeke het ingestroom.

"Ek is steeds oorbly oor dié reaksie, want om geld te gee vir iets wat nog nie bestaan nie, spreek letterlik boekdele," sê Jens.


"Ten spyte van 'n druktyd wat vanaf die begin op die horison gewink het, het die boek relatief maklik gekom weens 'n onblusbare passie vir my geboortewêreld waarvan ek 'n deurgronde kennis het én 'n onuitputbare bron van foto's - tot so 'n mate dat ek maklik nog 'n boek oor Philippolis die lig sou kon laat sien as daar die nodige aanvraag voor is," sê Jens, 'n korrespondent van Kontrei en oud-redakteur van Bloemnuus.

Jens het die boek opgedra aan sy ouers. "Buiten dat ek wil, is daar geeneen wat dit meer verdien dat hierdie boek aan hul opgedra word as my ouers, Jens (77) en wyle Naómi Friis. Hul spore lê oor dekades heen diep in Philippolis. Toegewyd het dié twee onderwysers boompies in die regte rigting help buig, maar ook hul lewens gewy vir die groter Philippolis - hul harts- en wortelwêreld. Hul gees om te verryk, te bewaar en te ondersteun word gereflekteer op die boek se blaaie."

Nico Friis, Jens se broer, het die uitleg vanuit Londen gedoen waar hy die afgelope 17 jaar woon.

Die kenners is beïndruk met die eindproduk. Só skryf Pieter Fourie, 'n Hertzogpryswenner: "Dis 'n pragpublikasie: informatief en deernisvol met indrukwekkende foto's uit die pen van 'n seun van Philippolis wat die wêreld soos die palm van sy hand ken."

(Kos)skrywer Niel Stemmet skryf: "Om Philippolis deur Jens se oë te lees is 'n belewenis", terwyl Tom Prinsloo, 'n Bloemfonteinse onderwyser, meen "dié boek het Africana-waarde".

"Philippolis, die oudste nedersetting in die Vrystaat" vier 'n langverwagte, omvangryke optekening van die dorp se wel en wee: geskiedenis, geboue, mense ...", sê Jens.

Dié pragtige Karoo-dorp aan die onderpunt van die Vrystaat het 'n lang en ryk geskiedenis.

Deur die eeu het die Boesmans, toe die Griekwas en later die Trekboere wat die Oranje vanuit die Kaapkolonie oorgesteek het deur die Transgariep, hul vee kom laat drink by dié dorp se twee fonteine.

Eens het die hoofpad tussen die Kaap en die Witwatersrand hierdeur geloop. Die sluiting van die destydse "N1" was 'n groot terugslag, maar die voordeel is dat dit die dorp in 'n tydsvakuum geplaas het met groot toeristebemarkingsgeleenthede.

"Op vele vlakke is die boek nie bloot oor 'n spesifieke dorp(ie) nie, maar oor 'n Suid-Afrikaanse landelike gemeenskap. Is dit jou soort wortelwêreld?

"Jy sal in dié boek belangstel as jy die geskiedenis en jou herkoms koester en vir die nageslag wil bewaar. Wanneer ons die waarde van ons kultuur-historiese erfenis begryp, begin ons ook om besef hoe die bewaring van ons verlede 'n manier is om die toekoms te help vorm."

*** Boeke is beskikbaar by afsetpunte in Bloemfontein, Philippolis en Johannesburg. As jy meer wil weet oor die boek, skryf aan Jens Friis by jejofr@hotmail.com of loer by www.facebook.com/diegroenhuis

Wednesday, July 16, 2014

Per kar deur die Pireneë

JENS FRIIS is tuis ná ‘n “road trip” deur die Pireneë-bergreeks op die grens tussen Spanje en Frankryk.

Hulle sê enige reis van ‘n duisend myl begin met ‘n eerste tree. En só was dit ook met ons onlangse reis ná Europa.
As ek mooi terugdink, het daai eerste “wiel” begin draai op ‘n luilekker Desember-middag kort voor Nuwejaar.
Die ding het só begin: ‘n Nederlandse vriend, Jean-Louis (oftewel J.L.), het by ons gekuier en terwyl ons op die trappies van ons swembad gebaai het, het hy vertel van ‘n fietsrit van enkele maande gelede.
Dié het hom geneem deur die Pireneë-bergreeks vanaf die landjie Andorra al langs die grens tussen Spanje en Frankryk. “Dis van die mooiste op aarde!,” het dié kranige fietsryer beloof.
Ek en my wederhelf is dol oor grootse, ongerepte natuurskoon soos dié waardeur die ryers in die Tour de France fiets. Daar’s g’n kans dat ons dit sou aftrap nie, maar potensiaal vir ‘n “road trip” per motor was daar gewis.
Ons het J.L. gepols vir meer inligting en só het hy met ‘n nat voorvinger ‘n kaart begin trek op die stene langs die swembad. Maar die “ink” was alte vinnig droog onder die Vrystaatse son.
“Sou julle besluit om te gaan, is die wysste raad wat ek julle kan gee om nie meer as 60 km per dag te ry nie.”
En ná ons terugkeer enkele dae gelede, weet ek waarom: Hier is soveel mooi dat dit ‘n sonde is om meer te probeer doen – nie dat mens in elk geval kan nie, want die afgrond is altyd naby en die paaie vol esse.
Ook belangrik is om die regte tyd van die jaar daar te wees. Die winter en die aaneenliggende maande is taboe, tensy jy wil gaan ski. Ek sou weer in die vroeë somer (dus laat-Junie) gaan, want dan is die wêreld lowergroen en oortrek met veldblomme. Tog is daar steeds sneeu (‘n snaaksigheid vir ‘n Suid-Afrikaanse oog) op die hoë spitse – en daarsonder sou die besoek baie minder aanskoulik gewees het.
Gepraat van hoogtes, die laagtepunt van die besoek was beslis dat Wes-Europa peperduur geword het vir Suid-Afrikaners. Sedert my laaste besoek agtien maande gelede was alles die helfte duurder – wat sin maak, want die Rand het met byna 50% verswak. Trek jy 250 euro het dit jou destyds R2500 gekos. Nou dok jy skielik R3750 op. Ja, dis nogal ‘n aardige sommetjie!
Wat wel gehelp het is dat die akkommodasie in die Pireneë aansienlik goedkoper is as in Parys en Nice – maar selfs hier betaal jy omtrent die helfte meer as in Suid-Afrika vir iets soortgelyks.
Om geld te spaar gaan ons dus op ‘n volgende keer eerder iets soos Malawi, Viëtnam of Montenegro verken. Maar juis hierom het ons besef: die besonderse Pireneë-kuier móét ons indrink.

VERTREKPUNT

‘n Goeie vertrekpunt vir ‘n reis deur die Pireneë is Carcasonne wat ‘n Wêrelderfenistitel dra. Die Franse het in die Middeleeue dié stad deeglik gefortifiseer teen aanslae van die Spanjaarde. Kyk jy op ‘n mooiweersdag van hier suid, sien jy die berg wat Frankryk en Spanje skei.
Waarom weet ek nie, maar ek het my ‘n dorre bergreeks (byna soos die Atlas-gebergtes) voorgestel, maar reeds in die voetheuwels was dit klinkklaar: water is volop en varings gedy langs strome wat gevoed word deur veral swaar sneeuneerslae.
Net só ‘n verrassing was die landjie Andorra wat in die hart van die Pireneë wag. Soos Lesotho het dit sy onafhanklikheid daaraan te danke dat dié berge feitlik ondeurdringbaar is. As belastinghemel floreer die eiendomsbedryf en veral ski-hotelle van meer as vyf verdiepings het die afgelope jare opgeskiet.
Oornag gerus hier, want die regering moedig toerisme aan en probeer hotelpryse laag hou sodat besoekers langer vertoef.
Waar jy die grens oorsteek na Spanje word motors steeds gereeld voorgekeur, want veral die smokkel van sigarette is ‘n probleem. Van hier lei ‘n pad noordwes deur Spanje waar jy na sowat 3 ure weer Frankryk binne ry.
Dit was opvallend hoeveel stiller die Spaanse paaie was as dié in Frankryk – ‘n groot lekkerte, want dit kos ekstra konsentrasie omdat die stuurwiel aan die ander kant sit én waar die een pas eindig begin die ander.
Ons het die nuwe C-klas Mercedes-Benz wat pas in Suid-Afrika vrygestel is, gehuur. Die ietsie ekstra wat dié luukse voertuig gekos het was die moeite werd omdat sy padhouvermoë goed te pas gekom het en so ook die satellietnavigasiestelsel.
Die beste boek wat ons kon opspoor om ons rit te verryk was “Back Roads France – scenic routes, charming hotels, authentic regional cuisine” van Eyewitness Travel.

FIETSRYERS

Veral aan die Franse kant het ons hordes fietsryers, soos J.L. vertel het, teëgekom. Ek kan my voorstel dat dit iets moet wees vir ‘n fietsryer om te kan vertel dat hy dele van die tradisionele Tour de France-roete afgetrap het, maar ek het meerdere keer gewonder waarom iemand homself só tot die uiterste beproef.
Van oraloor kom hulle – bloedjonk tot spierwitgrys om met geoefende (en minder geoefende!) kuite dié paaie aan te durf.
Elke paar honderd meter dui padbordjies aan dat hul trappery die moeite werd was, want hulle is soveel meter hoër bo seespieël. Dit dui dan ook die gradiënt aan van die pad wat kom.
Op die kruin wag spanmaats op die agterosse met ‘n bemoedigende handeklap om die laaste paar meters af te lê.
Dis dan tyd om spiere wat kramp vet te smeer, energiedrankies te drink en die uitsig te geniet.
Af is maklik. Al wat dan moeilikheid kan gee is dat te vinnig ry tot ‘n val kan lei of dat ‘n melkkoei die pad onverwags wil oorsteek.
Ons het nêrens vooraf slaapplek bespreek nie, want akkommodasie is volop en dit bied die voordeel dat jy kan ry sover as wat jy op ‘n dag kom. Meerdere keer was gastehuise en hotelle egter vol en het ons eers by die derde of vierde plek geholpe geraak.
By oornagplekke was daar deur die bank fietsryers wat graag meer wou weet van veral die Cape Argus.
Ook was daar ekstra belangstelling in ons Suiderland omdat die 29-jarige Brit Chris Froome die verdedigende kampioen is in vanjaar se 101ste Tour de France. Verlede jaar was Froome (Team Sky) in ‘n klas van sy eie en het nie veel moeite ondervind nie om die Colombiaanse debutant Nairo Quintana (wat nie vanjaar ry nie) om die titel te klop. Froome, wat in Kenia gebore is, het in Johannesburg skoolgegaan.
Die deelnemers aan 2014 se fietstoer het vir die eerste keer van Leeds in Brittanje weggespring. En soos gebruiklik sal dié ystermanne ook in Pau, Hautacam, Saint-Lary Pla d’Adet, Bagnères-de-Luchon en Carcassone se gebergtes ‘n draai gaan maak voordat hulle ná 21 dae en 3 663 km die eindstreep sal kruis in Parys.
Ek haal my hoed vir hulle af, want dit sit nie in elkeen se broek om dié roete te voltooi nie. G’n wonder twaalf deelnemers, insluitend die voorloper Maurice Garin, is in 1904 gediskwalifiseer vir ‘n verskeidenheid redes wat die onwettige gebruik van motors en treine ingesluit het. As ek in dié pragtige berge moes fietsry sou ek selwers dit waarskynlik sterk oorweeg het om te kroek en ‘n stukkie in ‘n motor af te lê!
Maar genadiglik was dit darem nie nodig nie – en sal dié onlangse “road trip” my nog jare bybly. Die volgende is sekerlik ‘n bewys daarvan: Waar ek vantevore g’n sin in fietsry as sport gehad het nie, kan ek sedert ons terugkeer nie wag om saans op DStv te kyk na die opsomming van die dag se wedren deur Frankryk nie. Loer gerus, dis op SS2 oftewel kanaal 202.

Tuesday, December 4, 2012

Dié kerke is ware Gibraltars

- Sandsteenkerkgeboue waak oor Vrystaatse dorpe

JENS FRIIS het ‘n draai gery deur die Oos- en Suid-Vrystaat en bied hier ‘n blik op van die besonderse voorbeelde van sandsteenkerkgeboue in dié geweste.

WINBURG: M.T. Steyn, president van die Oranje-Vrystaat, het die hoeksteen van dié kerk in Januarie 1899 gelê, maar spoedig sou die Anglo-Boereoorlog uitbreek en die onvoltooide kerk is deur die Britte as hospitaal gebruik. Bouwerk is hervat ná die vredesluiting in 1902 en dit kon uiteindelik ingewy word op 18 Maart 1904. Die indrukwekkende neogotiese sandsteen kerk is ontwerp deur die argitekte JH & AE Till en opgerig deur die bouers Rundle, Rowe & Marshall.

KESTELL: Die NG kerk op Kestell is vir my die imposantste sandsteenkerk in die Vrystaat. Dit is dan ook die tweede grootste kerk van dié soort in die Vrystaat, slegs dié op Warden is groter, aldus Vrystaatse Argitektuur deur PJ Nienaber, JD Smit en SM Botes.
“’n Halfmaanvormige trap voer na ‘n portiek met Ioniese sandsteensuile. Dit vorm ‘n visuele basis vir die agtkantige toring daaragter. Die suile en portiek toon sterk ooreenkomste met die klassieke boustyl terwyl die ingange en toringopeninge Romaans is.”
Die hoeksteen van die kerk wat ontwerp is deur Gerard Moerdijk is deur dominee E.J. Smit, die eerste leraar, gelê in 1926. Twee jaar later is dit ingewy en die boukoste was 18 000 pond (sowat R200 000 – minder as wat die meeste motors deesdae kos!).
Daar is destyds in Die Volksblad só oor dié kerk geskryf: “(Die kerk is) ‘n ware Gibraltar wat oor die dorp en gemeenskap in die rustige berlandskap van die Oos-Vrystaat waak.”

EXCELSIOR: Die dorp is in 1910 uitgele op die plase Excelsior en Sunlight omdat boere moeg was vir die lang afstand tussen Winburg en Ladybrand. Die NG kerk is in 1925 gebou en dus nog nie eens ’n eeu oud nie. Excelsior, 55 km van Winburg, het in 1911 dorpstatus gekry en sy naam beteken in Latyn “meer verhewe/hoër”, volgens PE Raper se Dictionary of Southern African Place Names.

ROSENDAL: Soos baie ander plekke langs die trekroete het Rosendal sy naam te danke aan die Voortrekkers. Die dorp is in 1911 aangelê, maar reeds op 18 Oktober 1837 het die Voortrekkerprediker Erasmus Smit dit aangedui as Roderozendal of Bloemendal.
Hy skryf in sy dagboek dat van die trekkers wild gaan skiet het en pragtige blomme uit 'n ``bloemrijk oord'' saamgebring het ``vele door onze ogen nog nooit geziene bloemen, . . . zodat ik proponeerde de plaats, waar we nu met's Gouverneurskamp gekampeerd liggen, Bloemendal of Roderozendal te noemen; overwegende de uitnemend grote rozenrode bloemen de hier in grote menigte gevonden worden: Men behoeft nie eens naar't veld uit te gaan, om de bloemen te zoeken; maar de aangename geur der bloemen wandelt of komt ons hier in `t leger als vanzelf te gemoet.''
En dis in dié blomrykeoord waar daar ook ‘n pragtige sandsteenkerk opgerig is. Maar anders as in Europa is die kerk hier nie omring met huise nie. Nee, in Rosendal - soos menige Hoëveldse dorpie - is die wonings ver van mekaar. Erwe lê oop. Die verwagte ontwikkeling het nooit gekom nie.
Voor dié sandsteen gebou staan 'n gedenkteken met die inskripsie "Uit Afrikaner-rou is gebore Afrikanter-trou."

ROUXVILLE: Die sandsteengebou met neogotiese eienskappe is ontwerp deur Richard Wocke. Die hoeksteen van die kerk, ‘n nasionale gedenkwaardigheid, is in 1879 gelê en ná twee jaar was die bouwerk voltooi. Die veranderde toring is in 1924 opgerig, volgens Historic Sites of South Africa deur Deirdré Richardston. Rouxville is in 1864 gestig op die plaas Zuurbult en genoem na dominee Pieter Roux, leraar van die NG kerk op Smithfield van 1853 tot 1874.

WEPENER: Die gunstiger toestande in die Vrystaat ná 1870 het geleidelik ook in die kerkbou weerspieël. Die imposantste gebou op Wepener, soos in vele ander plattelandse dorpies, is uiteraard die NG kerk. Dis uit sandsteen in 1882 gebou. Wepener, naby die Lesotho-grens, het tot stand gekom om as ‘n bufferdorp te dien teen die Basothos. Dit het in 1904 munisipale status gekry en is genoem na Lourens Jacobus (Louw) Wepener wat in 1865 omgekom het tydens ‘n geveg met die Basothos.

Thursday, August 9, 2012

Lemoenfontein: Van sanatorium tot herberg

JENS FRIIS het oornag by 'n gasteplaas digby Beaufort-Wes.

"De Grote Karoo, uitgestrekte en zonder genade is een uniek Zuid-Afrikaans landschap," lees ek in Zuid-Afrika (Capitool Reisgidsen).

'n Nederlandse gas het waarskynlik dié boek vergeet in die kamer waar ons slaap op 'n gasteplaas, 'n klipgooi van Beaufort-Wes.

Lemoenfontein, anders as die Karoo, sou ek nie as "uniek" beskryf nie, maar dat dit wel 'n "Suid-Afrikaanse ervaring bied", sou ek mee akkoord gaan.

In my Vraag-en-Antwoord-kolom in Naweek+ is 'n algemene vraag wat ontvang word: "Waar kan ons oorslaap langs die N1?"

So toe dit so kom dat ons hierlangs ry, dog ek dat ek Lemoenfontein (ja, dis 'n pragtige naam!) beproef, want dié 4-ster-instelling word meestal hoog aangeskryf.

As jy met die N1 van Drie Susters ry, lê Beaufort-Wes se dorpsdam wat lank leeg was links en reg oorkant draai die De Jagerspas uit na Lemoenfontein.

Van die uitdraai is die opstal teen die Nuweveldberge reeds sigbaar. Ja, anders as wat mens verwag is dié plaashuis nie op nóg 'n vlakte nie, maar het jy van daar 'n panoramiese blik op eindelose myle veld wat slegs onderbreek word deur die "hoofstad van die Groot Karoo".

'n Victoriaanse Engelsman het in die 1850's besluit om híér huis te bou, want 'n fontein ontspring in 'n klofie agter die opstal. Só standhoudend is die oog dat daar volop water was toe Beaufort-Wes enkele maande gelede een van die ergste droogtes nog beleef het.

Weinig is bekend van die oorspronklike eienaar, want die museum in Beaufort-Wes het eens afgebrand, maar dis wel bekend dat hy een keer per jaar van sy vriende uit Engeland en Skotland genooi het om hier te kom jag en die beste te geniet van dié geweste.

In latere jare sou die tamaaie plaashuis dien as 'n sanatorium vir tuberkulose-lyers, want droë lug is bevorderlik om dié siekte te beveg. Daarna was dit 'n skaapplaas en nou is dit 'n herberg vir besoekers - byna soos in die begindae.

Die oorspronklike gebou met sy dik mure, hoë plafonne en hout vloere het goed behoue gebly, maar moderne byvoegings sluit in plafonwaaiers, eie ingange vir elke kamer en en suite-badkamers.

Die binnehowe word omsoom deur koel stoepe voor die kamers. Bougainvilleas tuimel oor die witgekalkte mure, terwyl spuitfonteintjies bydra tot die rus en vrede op Lemoenfontein.

Somers kan jy die hitte afspoel in 'n swembad op die plaaswerf of jy kan gaan loer hoe lyk die kameelperde, sebras en elande. By die Karoo- Nasionale Park, net aan die anderkant van die dorp, kan jy ook gaan diere kyk.

Beaufort-Wes is naby genoeg dat jy daar kan eet, maar beide die driegang-aandete en die ontbyt op Lemoenfontein is sterk aan te beveel. In die somer word dit op die groot veranda voorgesit en van hier kan jy saans kyk hoe glip 'n onophoudelike stroom motors deur Beaufort-Wes.

SOU JY WOU GAAN
* Lemoenfontein se groot afdraaibord kan jy nie mis nie. Dit is langs die bekende dorpsdam by Beaufort-Wes. Van hier tot op die plaas is dit seker so 4 km waarvan die grootste deel met 'n grondpaadjie.
* Bel Lemoenfontein by 023-415-2847, skryf aan lemoen@mweb.co.za of kyk by www.lemoenfontein.co.za
* Die rekening vir ons 2 het só gelyk:
R 790: Kamer (R395 x 2, maar in hoe seisoen kan dit tot R575 p.p. kos)
R 150: Ontbyt
R 300: Aandete
R 269: Drinkgoed
R 54: Toebroodjies met aankoms
R 192: Belasting
R1563: TOTAAL

Friday, August 3, 2012

Halfway house between Gauteng and Cape Town = Groenhuis, Philippolis

Op die voetspore van 'n onbesonge skrywer

Die skrywer PH Nortjé is onlangs oorlede. JENS FRIIS het op sy voetspore gaan stap in die Baviaanskloof waar Nortjé eens gewoon het. “Ek is gebore in die tyd toe moeders nog nie verwagtend ¬geword het nie en ’n engeltjie die baba uit die hemel aarde toe ¬gebring het,” lui die aanvangsin van Korsies van growwebrood, PH Nortje se biografiese ¬vertelling. En 91 jaar ná dié “aankoms” op aarde het dié skrywer onlangs die aardse met die ewige verwissel. Sy laaste jare het hy deurgebring in ‘n aftree-oord op die Strand. En dis van hier waar hy en sy drie seuns ‘n herinneringstog na sy jeugland aangepak het in 2000. Dié nostalgiese terugreis na die familieplaas in die Baviaanskloof anderkant Willowmore het gelei tot Volstruise, met wie gaan jy trou? – ‘n móét as jy ‘n tog ná die onherbergsame vallei aanpak, soos ek onlangs. Van die Strand tot in die Kloof en eindelik tuis op Ouma Gerty se verlate plaaswerf het die 80-jarige Nortjé (saam met sy seuns) gereis “met ‘n laaste rustelose verlange soos ‘n ‘kriewel’ in sy hart”, om by Marina le Roux op oulitnet.co.za te leen. En in die skrywer se woorde self: “Of ek weer in my leeftyd hier sal kom, weet ek nie. Dit is onwaarskynlik. En daarom het ek nou wat my betref, finaal kom afskeid neem. Die herinneringe sal ten minste altyd by my bly; dit kan niemand van my wegneem nie.” Dis in die hoofslaapkamer van sy ouers se opstal op Klipfontein waar Nortjé op 20 Oktober 1920 gebore is. Hy was die jongste van vier kinders en die tweede kleinseun van Petrus Hendrik Smith – ‘n Britse Settelaar. Hy word Peter Henry gedoop omdat dit glo sagter op die oor is vir só ‘n klein dingetjie. Maar die voorletters PH bly. Sy geboortehuis staan steeds. As jy van Willowmore se kant deur die Winterhoek- en Kougaberge ry is dit regs van die pad by Studtis. Die veranda en pilare is daar. Ook die klipmuur wat dit omring. Maar die groot huis is jammerlik vervalle. ‘n Muur is nat van ‘n dak wat lek. Die inwoners het glo vuurgemaak met van die plafonplanke. “Dis ‘n tragedie,” sê ‘n boer. “As dit nóú gered word, kan dit nog ‘n lieflike gastehuis word. Dis goed geleë hier langs die pad.” Só het die familiebegraafplaas en die ou verwaarloosde woning Nortjé ontstel dat hy skryf: “Maar wanneer die woonhuis, die veilige hawe van geslagte in die familie, stuk-stuk verval totdat daar nog net ’n bouval oorbly, is dit amper roerender as die dood.” Maar eens was dit anders. “Geld was hier nooit. Maar aan geborgenheid en liefde en gasvryheid was daar nooit ’n gebrek nie”, verduidelik Nortje aan sy seuns. In sy kinderdae, byna ‘n eeu gelede, was dié ‘n geïsoleerde boeregemeenskap - ‘n plek waar gelééf is deur oorvloed én droogtes. Sulke lief en leed in ‘n plaasgemeenskap ontruk hy dan ook aan die vergetelheid en herskep dit in boeke soos Voetpad se kloof, Die Groen ghoen en Die Wildedruif val. Laasgenoemde vertel getrou van die tragiese gebeure van die nag van 5 Mei 1916. ‘n Vloed, soos nog nooit tevore, het die Klowers toe getref. Maar sedertdien het daar baie water in die see geloop. En Nortjé, onder meer kontreiskrywer, het genadiglik baie hiervan geboekstaaf. Kort ná Nortjé se dood onlangs was hordes mense in die Baviaanskloof vasgekeer deur vloedwater in ysige weer. En só het die geskiedenis van Die wildedruif val, homself byna herhaal. SOU JY GAAN * Hou die weer (www.weathersa.co.za) fyn dop as jy ‘n rit na die Baviaanskloof beplan. Reën en sneeu is swerknaters wat jou maklik hier kan vaskeer. * Daar is net één grondpad deur die Kloof. Van Willowmore tot by Nortjé se grootwordhuis by Studtis kan jy met ‘n motor aanpak. Maar as jy deur die hele kloof wil ry het jy ‘n bakkie of ‘n 4x4-nodig. Die pad se toestand hang baie af of dit onlangs gespoel het. * Daar is deesdae meer blyplek hier as wat daar toeriste is. Gasteplase gedy. Ek het oorgebly by die Sederkloof Lodge (www.sederkloof.co.za). Meer hieroor in ‘n volgende uitgawe van Naweek+.

Monday, July 23, 2012

Hotel met 'n uitsig

JENS FRIIS het oorgebly in 'n hotel met een van die allerbeste uitsigte langs die Tuinroete. As jy soek na 'n besonderse plek om jou geliefde (of jouself) te bederf, verloof te raak of vir wittebrood te gaan, is die Views Boutique Hotel in Wildernis hoog op my lysie. Hier op 'n enorme duin is dié eksklusiewe vyfster boetiekhotel nie te lank gelede staangemaak. Die pasklaar naam sê alles: dié luukse kleiner hotel (Boutique Hotel) het voorwaar 'n panoramiese uitsig (View). Só hoog troon dit bokant die strand uit dat dit waarlikwaar voel of jy bo-op die waters van die Indiese Oseaan dryf. In die ooste voer die kuslyn jou oog so ver as wat die oog kan sien in die rigting van Knysna, suid verdwyn die see in Antarktika se rigting, oos sien jy drie of vier huisies uitsteek van Victoriabaai en agter jou waak die Outentiekwa-berge. Ja, dis 'n area ryk aan skoonheid en dinge om te doen, maar dié is só 'n besonderse hotel dat jy waarskynlik nooit sy deure sal wil verlaat nie. Views Boutiquel Hotel verlei jou om van die gewone wêreld te vergeet sodat jy al te geneë is om weinig te wil doen in 'n omgewing waar alles byderhand is. Só is die ruim kamers - in blou, wit en beige - voorsien van ekstras soos 'n espresso-masjien, reuse platskerm-TV, multi-mediapseler en iPod-koppelings. Hortjies skei die badkamer van die slaapkamer, maar dié kan jy ooptrek en só 'n kollosale vertrek skep. Slegs 'n ekstra-grootte ovaalbad verdeel dan dié twee ruimtes. Daar is nie ingeboet op plek om soveel hotelkamers moontlik te kon indruk nie. Ruimte is byvoorbeeld gelaat vir 'n groot dubbelstort en twéé wasbakke. Winters verdryf verhitte handdoekrelings en ondervloerse verhitting die hoendervleis as jy uit die stort of bad klim. Verlaat jy jou spogkamer wag 'n verrassing in die glashysbak. Dié ry heen en weer verby 'n spiraal nagemaakte vissies wat in sirkels "swem". Jy sou sweerlik kon dink jy's in 'n duikboot! Die allerlekkerste lekker vir my was om op dié hotel se dakdek in die son te lê, my tone te tel, of ver verby my voete te kyk na die waters van die Indiese Oseaan dóér onder. Laat-middag sou ons dieselfde doen op ons kamerbalkon wat suid én wes front. Jy kan dus kyk hoe die son sterf agter die heuwels wat Victoriabaai omring voordat jy gaan aansit vir 'n liplekker maaltyd. Maar die hotel bied handevol meer waaronder die Views Spa waar jy onder meer in 'n soutbad kan dryf of kan gaan sweet in die volledig-toerguste gim. Daar is ook 'n twaalf-sitplek mediasaal en 'n kamer met Wii-speletjies. Weens die hoë ligging van die hotel reg langs die strand en see, trek die wind goed hier. Dis daarom gewild onder valskermswewers en vlieërbranderplankryers. Wildernis is in die hart van die Tuinroete en gevolglik is bergfietsroetes tot woudstaptogte net 'n klipgooi ver. Oorweeg dié hotel beslis as jy weer in dié geweste kom - jy sal verkwik weggaan. >>>Aparte blokkie, asb. SOU JY WOU GAAN * Views Boutique Hotel & Spa in Wildernis, is 20 minute vanaf die George-lughawe. * Buite-seisoen (1 Mei tot 30 September) kos 'n dubbelkamer met 'n see-uitsig vanaf R1600. Daar is gereeld spesiale aanbiedings waar jy 'n ekstra nag verniet kry as jy 'n paar nagte bly of komplimentêre spa-behandelings op die koop toe. * As jy by dié vyfster boetiekhotel wil bespreek, bel 044-877-8000 of skryf aan info@viewshotel.co.za of reservations@viewshotel.co.za * Vir meer inligting loer by www.viewshotel.co.za of www.mantiscollection.com.

Monday, July 16, 2012

Groenhuis Guesthouse / Accommodation Philippolis

Noord-Kaapse plaas het ryk geskiedenis

- Jens Friis Naby die Magersfontein-slagveld lê 'n plaas met 'n besondere ryk geskiedenis. Hoewel dié plaas naby die grens van die Noord-Kaap en Vrystaat is, herinner die Kaaps-Hollandse opstal sterk aan die Boland - waar sy eertydse eienaars dan ook vandaan kom. Nes die woonhuis is die perdestalle sorgsaam gerestoureer en met antieke meubels versier. Dié stalle is gebruik vir die teel van Clydesdale-perde wat aan delwers verkoop is om swaar vragte diamantgrond uit die oop myn in Kimberley te verwyder. Luidens 'n inligtingstuk is "Langberg op 7 November 1890 deur die Goewerneur van Haar Majesteit Koningin Victoria, Koningin van Groot Brittanje en Ierland, ingevolge 'n huurpagstelsel teen 9 pond en 5 sjeilings per jaar aan Pieter Johannes Marais verhuur en uiteindelik teen 'n onbekende bedrag verkoop." Destyds was dit dalk baie, maar om 'n plaas van 7 929 hektaar (9 255 morg) vir R120 per jaar te huur, sou deesdae kleingeld wees. Pieter, of "Lang Piet" Marais was die oudste van die Marais-broers. Jannie die jongste was destyds die eienaar van die plaas Coetzenburg waarop die Universiteit van Stellenbosch vandag staan. (Dink net hoeveel is dié lap aarde deesdae werd!) Piet, Jannie en hul ander twee broers, Abraham en Christiaan het in 1870 van Stellenbosch vertrek om hul geluk te beproef op die Vaalrivier-delwerye. Maar nuus oor groot, blink klippies by Kimberley het hulle laat besluit om eerder hierheen te skuif. Die Marais-broers se pad in Kimberley was besaai met diamante. Danksy dié ongekende voorspoed koop die Marais-broers heelwat plase op waaronder Langberg. Hier sou Piet Marais met sy Clydesdale-perde boer en ook 'n allemintige 5 000 volstruise. In 1902, die jaar wat die Anglo-Boereoorlog tot 'n einde kom, koop Charles Niehaus van Tulbagh dié plaas. Sy skaapkudde van 6 000 loop egter só erg deur onder jakkalse dat hy van die plaas moet afstand doen. En só beland die plaas in 1943 in die hande van Tienie Mynhardt wat dit koop vir 25 000 pond (sowat R328 000). Sy dogter Hannah en haar man Polla Neethling boer vanaf 1948 op Langberg. En in 1982 sit Tienie Neethling en sy vrou Maritha die boerdery op Langberg voort en boer met Bonsmara-beeste, wild en olywe. Tien jaar later begin Tienie en sy personeel met restourasiewerk aan die ou perdestalle en plaasskool en voltooi dié projek in 1995 waarna die gasteplaas in gebruik geneem word. Die plaasskooltjie het tussen 1890 en 1915 as skool gedien. Hierna was dit 'n melkkamer en toe 'n kroeg. Dié Tiermelkkamer roep dorstiges om halfsewe saans wanneer die ou skoolklok oor die ysterklipkoppies van die Noord-Kaap beier.

Tuesday, April 10, 2012

Groenhuis Gastehuis, Philippolis, Karoo, Suid-Vrystaat, Suid-Afrika: www.philippolis.co.za

Het jy dit van Kanada geweet?

Almal weet Kanada is ‘n enorme land waar yshokkie gewild is, dit wemel van esodrings (maple trees) en dat die indrukwekkende Niagara-waterval op sy grens met Amerika is. JENS FRIIS wat daar gewoon het, deel egter ook ‘n paar onbekender feite.

Stap dwarsoor land 'n Voetslaanroete van 10 keer die afstand tussen Kaapstad en Johannesburg strek oor Kanada.
Die Trans Canada Trail, waarby dié land se landbou in 'n groot mate baat vind, is op 16 000 km die langste in sy soort ter wêreld.
Die roete loop langs bestaande staproetes, deur federale of provinsiale parke, langs ongebruikte treinspore en oor private grond.
Waar dit oor plase loop, is reg van weg met die private grondeienaars onderhandel.
Dit is 'n gemeenskapsprojek wat deur al die belanghebbendes in stand gehou sal word. Dit sluit in boere, plaaslike organisasies en provinsiale en nasionale owerhede.
Dit bevorder onder meer ekotoerisme en bewaring.
Belanghebbendes glo dit sal plaaslike ekonomieë stimuleer deurdat gastehuise daarby sal baat vind en eiendomswaardes sal styg.
Reeds in 1992, toe Kanada sy 125ste bestaansjaar as 'n verenigde volk gevier het, is besluit om die roete tot stand te bring. Dit is dus vanjaar 20 jaar oud.
Dit strek verby al die vernaamste Kanadese stede en verbind die Stille, Atlantiese en Arktiese Oseane.
Vir 75% van alle Kanadese kos dit net 'n rit van 20 minute per motor om die naaste punt op die roete te bereik.
Vir die avonturier bied die roete kanovaarte op die grootse Mackenzie-rivier in die noorde, perdry, ski en fietsry.
Meer besonderhede is te vind by www.tctrail.ca en www.walkcanada.com.

Anglo-Boereoorlog-monumentIn Toronto pryk ‘n reuse oorlogsmonument wat Kanada se deelname aan die Anglo-Boereoorlog gedenk. Sowat 270 Kanadese soldate het tydens die Anglo-Boereoorlog van 1899 tot 1902 in Suid-Afrika omgekom.
Die monument was by sy voltooiing destyds die grootste openbare monument in Toronto. Dit is steeds een van die grootste monumente in dié stad wat onder sy inwoners duisende gewese Suid-Afrikaners tel.
‘n Rede vir die grootsheid daarvan is waarskynlik dat dit Kanada se eerste deelname aan 'n oorlog in die buiteland gedenk. Dit bestaan uit onder meer drie bronsbeelde. 'n Vrouefiguur beeld Moeder Kanada uit en twee soldate die infanterie-regimente wat in Suid-Afrika geveg het. Bo-op 'n graniet-obelisk van 27,4 m is 'n vredesengel met gespreide vlerke en arms wat na die hemel reik.
Die monument is die eerste keer in 1910 luisterryk onthul, maar dis twee keer afgebreek en heropgerig - eers weens die bou van 'n moltreinstasie en later weens die verbreding van University Avenue.
Dit staan nou waar University Avenue en Queen Street West kruis.
Detail aan die beelde, soos die oë en naeltjies, was vir jare onder 'n groen roeslaag bedek. Besoedeling, reën en voëlmis het hul merk op die monument gelaat in die afgelope eeu. ‘n Dekade gelede is dit sorgsaam gerestoureer en lyk dit nou weer na die oorspronklike Jakob.
Walter Allward was die skepper van die monument. Hy het later internasionale erkenning gekry as die argitek van die massiewe monument ter herdenking aan die Eerste Wêreldoorlog wat by Vimy Ridge in Frankryk opgerig is.

Wyn gemaakDie Okanagan-vallei in Brits-Colombië en die Niagara-skiereiland in Ontario is nie alombekend vir sy wyne nie. Tog bied dit 'n wye verskeidenheid wyn wat gekenmerk word deur 'n unieke karakter danksy die gebied se topografie en koel klimaat.
Veral yswyn kenmerk die Kanadese wynbedryf. Om dié seldsame wyne te maak word bevrore water onder druk uit die druiwe onttrek. Dit maak vrugtegeure en suur gekonsentreerd en die volume minder. Gevolglik is yswyne duur.
Die geografie van die Niagara-skiereiland word gekenmerk deur 'n 50 m hoë rif. Dit beskerm die wingerde teen die hange teen winde van die Ontariomeer, maar verskaf ook voortdurend warmer lug in die winter en koeler lug in die somer.
Goeie rieslings en chardonnays word ook gebottel.
Die rypheid van veral die rooi druiwe word sterk beïnvloed deur reënval wat vanjaar hoog was.
Nagenoeg 10% van die Kanadese wyn word uitgevoer - hoofsaaklik na Japan en Amerika.

Nog interessanthede* Halifax aan die Kanadese ooskus is verder van Vancouver aan die weskus as Londen.
* Kanada is in tien provinsies en ses tydsones verdeel.
* Net Rusland is groter as dié land.
* By verre die meeste Kanadese woon binne 320 km van die Amerikaanse grens. Die res van die enorme land is yl bevolk.
* Soos die Britte uitwyk na hul ``country manors'' of ``seaside digs'', die Switsers na hul bergvillas of chalets en die Amerikaners na ``ranches'', hou die Kanadese daarvan om na hul ``country cottages'' te gaan wanneer lente in die lug is.
* Kanada se enorme waterreserwes het gelei tot die bou van hidro-elektriese aanlegte wat vandag die nasie een van die wêreld se voorste produsente van hidro-elektriese krag maak. Varswatermere beslaan 'n 13de van Kanada se oppervlakte. Hieronder tel dele van die vier Groot Mere op die grens met die Verenigde State van Amerika in die suide.
* Suid-Afrika is nege keer kleiner as Kanada, maar het nogtans meer inwoners.
* Die meeste van die duisende Suid-Afrikaners wat hierheen geëmmigreer het, woon in Vancouver of Toronto, die grootste Engelssprekende stede.
* Ondanks die feit dat Suid-Afrika weer deel van die Statebond is, is paspoort en visum steeds nodig om Kanada te besoek.

Thursday, March 29, 2012

Tuesday, March 27, 2012

Oude Kraal

De Oude Kraal, 30 km suid van Bloemfontein digby die Tierpoort, is vir jare reeds ‘n instelling vir kieskeurige reisigers langs die N1 en Bloemfonteiners wat uit die Vrystaatse hoofstad wil wegkom, maar nie ver wil ry nie.
Dié gasteplaas van die Lombard-familie is al telkemaal aangewys as een van die toprestaurante in die land (vyfgang-aandetes kos R295) en in die rustige tuin is daar 14 kamers (vanaf R545 per persoon wat deel) wat spog met met ‘n vierstergradering.
Een van die beste plekke vir ‘n spesiale ete of partytjie is die kelder onder die restaurant. HIer word ook ‘n wye verskeidenheid van Suid-Afrika se beste wyne geberg.
Die plaas het in die jare toet bekend gestaan as Wilhelmshöhe en was deel van die plaas Bruidegomspruit wat aan die Griekwas behoort het.
’n Sendeling genaamd Friedrich Wilhelm Salzman het Bruidegomspruit by Johannes Witvoet gekoop.
Marie  is  die  sesde generasie  wat op hierdie plaas van 2 400 ha boer en hul kinders sit dié tradisie voort.
Die Lomards het die ou plaashuis, wat in 1885 gebou is, gerestoureer en dit as ’n gasteplaas ingerig.
Die naam De Oude Kraal verwys na die ou klipkrale wat deur Salzman gebou is en na die murasie, wat hier deur die Khoi gebou is.
Min sou die huidige Lombards se voorsate kon dink dat toeriste van die wêreldoor eendag hier sou aansit by keurig gedekte tafels, slaap in sagte beddens en die moegheid uitsweet van ‘n dagreis in die plaaslike spa.
* www.deoudekraal.com

Halfaampieskraal


Gaan span (jou osse) uit op Halfaampieskraal van Jan-Georg Solms en Cobus Geldenhuys. Soos hul graag hier sê: “Dis die perfekte plek om niks te doen.”
Dié plaas tussen die graanlande van die Suidwes-Kaap duskant Napier spog met ‘n karaktervolle opstal en wonderlike gasteverblyf.
Die 250-jaaroue stalle en skuur is in gastekamers en ‘n onthaalplek omskep. Gaste kan in ontspanne glansrykheid op die plaas vertoef, terwyl ‘n produktiewe boerdery met koring, skap een ganse voortgaan.
Aandete, ontbyt en slaapplek kos R900 vir volwassenes en R500 vir kinders. En as jy op jou eie wil gaan kos dit steeds R900 – niks meer omdat jy ‘n alleenloper is nie.
Troues en funksies word in die Kubaans-geïnspireerde Club Havana (voorheen die skuur en stalle) aangebied.
En as daar hier feesgevier word, word ʼn rooi ster op die plaas se naambord geplaas sodat die bure weet wat aangaan.
Dié Overbergse plaas het skrywer Maia du Plessis en fotograaf Simon Scarboro só beïndruk dat hul die boek “Halfaampieskraal vier fees” die lig laat sien het. Dit bestaan uit resepte vir Cobus se heerlike disse en foto’s van Jan-Georg se binneshuisversiering.
* www.kraal.biz

Thursday, February 23, 2012

Spaar so in Rome

Die redes vir besoeke aan Rome is uiteenlopend, maar die gemene deler bly: Aan die skoonheid, kuns en beskawing bly almal hul vergaap. Dié volgende dinge gaan jou boonop nie ‘n sent kos nie, skryf JENS FRIIS.

VATIKAANSTAD: DIE kleine Vatikaanstad kan spog met vele internasionale rekords. Benewens dat dit die wêreld se kleinste onafhanklike staat en hoofstad is, is dit ook die enigste land wat heeltemal binne in 'n stad (Rome) lê. Die webblad, www.vatican.va is propvol feite. Elke laaste Sondag van die maand word geen toegang by die Vatikaan-museums in Rome gevra nie. In die Ewige Stad is dit ongelukkig wyd bekend en daarom is die bekendste museums tot oorlopens toe vol. Nietemin is die pasella-toegangsdag 'n ideale geleentheid om van die minder gewilde versamelings te sien wat dikwels nie 'n tree vir die res hoef terug te staan nie. Sou jy die gewilde Nr. 64-bus na die Vatikaan neem, is dit raadsaam om jou beursie styf vas te hou. Die openbare bus wat van die Termini-stasie loop is ook bekend as die Pickpocket Express of Wallet Eater.

TUINE: National Geographic het verlede jaar die beste tien piekniekplekke ter wêreld aangewys. Buiten Kirstenbosch was die Villa Borghese-tuin in Rome ook op dié lys. Dis ‘n ideale plek om ‘n kombers oop te gooi as jy vooraf salami, olywe, brood en wyn aangeskaf het. Ongelukkig is toegang tot die Galleria Borghese (R90), ‘n galery nie verniet nie. Nog ‘n tuin wat die moeite werd is om te besoek is die Gianicolo Park, suid van die Vatikaan, wat pragtige uitsigte op Rome bied. En as daar kinders saam met jou is, moet jy hulle hierheen bring, want daar word elke dag ‘n paar keer marionet-vertonings hier gehou.

WIT NAG: Die tradisie van La Notte Bianca het helaas gesneuwel, maar die Italiaanse Toerismeraad het by navraag gesê dat dit vanjaar dalk weer mag herleef. Dit het behels dat galerye, teaters en museums vir ‘n enkele nag in mid-September oopgebly het van 20:00 tot 08:00 die volgende oggend. Die ligte is nooit gedoof tydens Notte Bianca oftewel Wit Nag nie. Rome mag dus dalk net weer vanjaar fees vier voordat die koue wintermaande kop uitsteek. Vervoer word dan vergemaklik deurdat die metro en treine heelnag verniet loop.

KERKE: Daar is meer as 900 kerke in Rome waarvan die meeste geen toegangsfooi vra nie. Sky Tours Rome bied halfuur toere deur die Basilika van die St. Petrus-kerk om 09:00 elke oggend (behalwe Sondae). Dit kos nie ‘n sent nie.

PANTHEON: My gunsteling gebou in Rome is die Pantheon. Dié kerk (wat nie toegang vra nie) bestaan uit twee duidelik onderskeibare dele: 'n buitenste stoepgedeelte (pronaos) met pilare en 'n reusagtige sirkelvormige vertrek met 'n allesoorheersende koepel. As jy in die koepel staan mag dit voel of jou sintuie jou kul. Hoe is dit moontlik dat 'n gemesselde koepel van steen reeds vir byna 2 000 jaar dóér bly hang? Michelangelo het tydens die Renaissance reeds die Pantheon beskryf as "nie 'n menslike nie, maar 'n hemelse ontwerp". Die kongresgebou in Buenos Aires en die Capitol in Washington is ook hiervolgens ontwerp. Die radius van die halfronde koepel is dieselfde as die hoogte van die silinderagtige gebou. Teoreties sou dit beteken dat 'n sirkel wat horisontaal die hele gebou vul, ook vertikaal gedraai sou kon word en steeds volmaak pas. Hierdeur word volmaakte harmonieuse proporsie aan die gebou verleen. Hierdie koepel is die grootste in sy soort. Dit is selfs groter as dié van die katedraal in Florence of St. Paul in Londen. Om te verhinder dat die Pantheon se uitgespande gewelf intuimel, is swaarder boumateriaal in die basis gebruik as bo. As jy in die somer 19:00 hier is, kan jy ‘n halfuurlange, pasella toer van Angel Tours meemaak.

SPANISH STEPS: Dié indrukwekkende trappe, genoem na die nabygeleë Spaanse ambassade, bied dag en nag sitplek vir wie ookal hul bene wil laat rus. Aan die bokant is die Trinita dei Monti-kerk langs die Piazza di Spagna en by die onderste trap sal jy die Barcaccia-fontein vind wat die middelpunt is van die Piazza di Spagna.

MUSEUMS: Die meeste galerye en museums vra toegangsgeld. Uitsonderings is die Museum vir die Italiaanse Munt met sy meer as 20 000 gesogte medaljes en munte, die Historiese Museum oor die Bevryding van Rome, en die galery by die Nasionale Akademie van San Luca met werke deur onder meer Rafael.

TREVI-FONTEIN: Nog voordat jy dié wêreldbekende fontein gaan sien, sal jy die vallende water reeds hoor. Om dit te sien, gaan jou niks kos nie – maar jy mag dalk soos miljoene voor jou iets wil wens en ‘n munt in die water laat plons. As jy ‘n geldstuk oor jou skouer gooi tot in die fontein is dit blykbaar ‘n waarborg dat jy sal terugkeer na die Ewige Stad.

WERD OM TE WEETOm jou ‘n idee te gee hoeveel die rand in euros jou sal kan laat koop in Rome, die volgende as riglyne:
* Vervoer: ‘n Basiese kaartjie vir ‘n stadstrein, trem of metro kos 1 euro (sowat R11). Dit is geldig vir 75 minute vandat dit die eerste keer gestempel is.
* Verblyf: ‘n Nag in die Hotel Campo de’Fiori (hotelcampodefiori.com) kos sowat r1500 (goeie drie-ster; dubbelkamer).
* Te drinke: ‘n Espresso (tafel by ‘n café) sal jou R20 kos, maar in ‘n gewilde toeriste-area kan dit R60 of meer kos. ‘n Groot glas bier sal jou sowat R50 uit die sak jaag.
* Te ete: Italië is bekend vir sy pizzas, maar daar is baie minder goed op as elders in die wêreld. Hulle sê ons pizzas is “soutterte”. ‘n Basiese pizza margeritha kos R90. ‘n Tweegang middagete vir twee sonder wyn in ‘n goeie restaurant kos sowat R500.

Thursday, February 16, 2012


'n TREFFER: Stuur 'n poskaart of nog beter 'n brief vanaf oorsee en plak 'n mooi posseël daarop. Dis veel lekkerder vir familie en vriende om te ontvang as 'n epos of SMS. Dié posseël is verlede jaar in Switserland uitgegee ter steun van die Wêreldomgewingsfonds.






AFSLAG BY PARKE: Bespreek by www.sanparks.org vir verblyf tussen 25 November en 7 Desember en kry 'n allemintige 40% afslag. Die aanbod geld onder meer by die Augrabies-ruskamp, Golden Gate Hotel, Twee Rivieren in Kgalagadi, Pretoriuskop in die Krugerwildtuin, die Bontle-kampeerarea in die Marakele Nasionale Park en die Lilydale-ruskamp in die Mokala Nasionale Park.

'N EERSTE: Die Groen-Kalahari-kanomarathon (www.gkcm.co.za) word vir die eerste keer aangebied en vind plaas tussen 22 en 24 Maart. Op dag een gaan die roeiers 34 km van Upington af tot by Oranjerus roei. Dag twee spring by Ikaia op Keimoes weg en eindig 39 km verder by Die Mas op Kakamas. Dag drie is slegs 26 km lank en begin by Die Mas en eindig by Khamkirri by Augrabies.

WAARDE VIR GELD:
Suid-Afrika bied die sesde beste waarde as langafstand-bestemming vir Britse reisigers. Lande wat beter waarde bied is Sri Lanka, Thailand, Vietnam, Mexiko en Maleisië. Na Suid-Afrika volg Bali, Argentinië, die Dominikaanse Republiek en Kenia. Dié bestemmings is oor die algemeen ook van die beste waarde vir Suid-Afrikaners (hoewel ons vlugte daarheen verskil). Die Holiday Costs Barometer vergelyk die koste van 10 items waaronder 'n bottel bier, koppie koffie en 'n driegang maal vir twee met wyn. Suid-Afrika het veral goed gevaar met die driegang maal. In slegs Sri Lanka en Mexiko kan jy goedkoper eet.

Dit & Dat wat die moeite werd is


Jens Friis beveel hierdie dinge aan

WONDERSKOON: Forbes.com se lys van die mooiste stede is bekend. Kaapstad pronk ook onder die dosyn mooistes ter wêreld. Hulle is Parys, Vancouver, Sydney, Florence (foto), Venisië, Kaapstad, San Francisco, Chicago, New York, Londen, Cambridge en Tokyo.

IN EUROPA BEMARK: 'n Nuwe reistydskrif in Nederlands, maar uitsluitlik gerig op reise deur Suid-Afrika, sien later die maand die lig. "Mzanzi: Reismagazine over Zuid-Afrika" se skrywers bestaan uit Nederlanders wat hier aan die suidpunt van Afrika woon en die land goed ken. Barbara van den Broek sê die tydskrif sal in Nederland verkoop word, maar ook by afsetpunte in Suid-Afrika waar Nederlanders gereeld aandoen soos lughawens. Kyk by www.mzanzi.nl

UITSIG: Vir 'n breë blik op die Oranjerivier, gaan drink iets met sononder op die oewer van dié rivier by die Riverside Pub and Grill in Aliwal-Noord.

POTJIE SKAAK: Rhodes spog deesdae met 'n groot skaakbord in dié Oos-Kaapse bergdorpie se karavaanpark. Gaan maak 'n paar skuiwe.

NIE BESKORE: Die Suid-Afrikaanse Lugdiens sê hy gaan nie 'n Airbus A380-makrostalers (wat tot 800 passasiers kan dra) koop nie, want dit pas nie in by sy netwerkplanne in nie. Dis 'n ongelooflike ervaring om met dié reuse voël te vlieg. Op 'n Air France-vlug was ek bekommerd dat die enjins afgeskakel het kort ná opstyging, want dit vlieg feitlik geluidloos.

NUWE VLUG: Vandeesmaand brei 1time hul vlugte uit na Mombasa, Kenia se tweede grootste stad, met twee direkte vlugte vanaf OR Tambo na Mombasa Internasionale Lughawe. Hulle vlieg reeds na Zanzibar, Tanzanië en Zambië. Tussen 200 en 300 mense sal na verwagting weekliks na Mombasa vlieg.