Sunday, August 14, 2011

Mattanu: Geskenk van Bo




Mattanu: Beste in dié geweste



JENS FRIIS het gaan kyk waarom die AA vir die Mattanu-wildreservaat in die Noord-Kaap aanslaan as die beste van sy soort in Suid-Afrika.



OP die Mattanu-wildreservaat anderkant Barkly-Wes sou jy sweerlik kon dink jy is in die Bosveld. Hier is nie kremetarte nie, maar die omgewing lyk pure Satara.


Boonop is dit in mid-Suid-Afrika, dis malaria-vry en jy sien diere - baie daarvan.


Dat Mattanu by die Automobiel-Assosiasie (AA) se prysuitdeling in Durban aangewys is as die beste verblyfplek vir 'n klein wildreservaat (minder as sewe kamers) in die land, is ook nie te versmaai nie.


Só val ons kort gelede een Saterdag in die pad vanaf Bloemfontein, eet 'n laatontbyt in Kimberley, steek die Vaalrivier oor by Barkly-Wes en ry die laaste 20 km grondpad deur Kalahari-Bosveld-savanna tot by Mattanu.


Dis bibberend buite, maar in die luukse tente wat blyplek bied is daar ondergrondse verhitting, dik duvets, verhitte handdoekreëlings en lugreëlaars.


Boonop is ek aangenaam verras om te sien dat daar nie plek vir 'n muis is nie - al die tente is vol.


Die Kriek-familie wat Mattanu besit en bestuur is deurwinterde omgewingsbewaarders. Hul voorsate het op 'n familieplaas in die distrik Enkeldoring van die destydse Rhodesië geboer voordat hulle in die 1980's na Suid-Afrika moes verhuis.


Dr. Johan Kriek, die eienaar van Mattanu, is onder meer ’n vlieënier en wildboer. Hy is in 2009 as die nasionale wildboer van die jaar aangewys en was die eerste uit die Noord-Kaap om dié eerbewys te ontvang. Met die aanwys van die wenner word onder meer gekyk na die kandidate se betrokkenheid in die wildbedryf, die bestuur van die plaas en hoe daar na personeel omgesien word.


Dr. Kriek se een seun, Johann, is ook ’n vlieënier, terwyl die ander seun, Jacques, die bemarkingsbestuurder van die wildreservaat is.


Laatmiddag neem Jacques al sy gaste op 'n wildbesigtigingstoer, maar eers stop ons by 'n rehabilitasiekraal waar wild gemonitor word wat deur die lewe gekniehalter word. Hieronder tel 'n bastergemsbokkie waarop die Krieks in die veld afgekom het.


"Sy ma het nie genoeg melk gehad nie en ons het die verswakte bokkie na ons kraal gebring," vertel Jacques.


Die bokkie se naam is Nhamo wat in Shona ‘n woord is vir iemand wat deur ‘n moeilike tyd gaan.


Maar dit wil lyk of daar ‘n voorspoedige toekoms op Nhamo wag, want danksy heilsame koeimelk uit Bretta, 'n staatmaker Jersey, se spene is dié kleinding nou blakend gesond. Bretta was deur die jare reeds pleegma vir ’n buffelbulkalf, ’n sebratjie en swartswitpenskalfies.
Haar Jersey-kalf en die bastergemsbokkie is dol oor mekaar. As hulle nie aan hul ma drink dat die spoeg so spat nie, dan speel die tweetjies al óm haar.


Hopelik sal die bastergemsbokkie eendag weer in die natuur vrygelaat kan word. Naas die eland (wat ook op Mattanu voorkom) is die bastergemsbok die grootste bokspesie.


Swartwitpense, swart rooibokke en siektevrye buffels is van die skaars en bedreigde wildspesies waarmee hier geteel word. Van die oorspronklike bastergemsbokke en swartwitpense het dr. Kriek jare gelede uit Malawi ingevoer.


Dis opvallend dat die meer as 36 wildspesies nie gespanne is nie en daarom kan jy tot naby aan hulle kom. “Dit maak dit ideaal vir internasionale kameraspanne om hier te kom verfilm,” vertel Jacques terwyl ons iets drink by ‘n watergat.


Jy hoor verskeie voëls, maar die riete en gras rondom die dam is dig. Net dan en wan sien jy van die geveerdes.


Dis verstommend hoe ruig die veld handomkeer verander het in die afgelope maande. ‘n Veldbrand November verlede jaar het groot stukke weiveld, ‘n tienbed-chalet, die onthaalgebied se lapa en ‘n luukse tent verteer.


“Iets positiefs wat gekom het van die brand is dat talle uitheemse bosse in die slag gebly het en daar nou meer weiveld is as vantevore. Daar moes heelwat ekstra voeding gegee word vir die wild ná die brand, maar vanweë die goeie reën vanjaar het die veld vinniger herstel as verwag. Vaalbosse, haak-en-steek, swarthaak en kameeldoringbome het onder meer in die slag gebly.”


Dit was die ergste brand wat die familie Kriek beleef het in die 20 jaar wat hulle hier bly.


Talle plase in die omtrek is ook deur die brand verniel. Laatmiddag het brandslaners verbete geveg teen vlamme wat aan ‘n wye front op die Windsorton-pad afgestorm het. Die onbegaanbaarheid van die ruwe terrein het die taak ook nie vergemaklik nie.


“Toe die vuur daai dag omgeswaai het moes ons vroegaand in die swembad spring om van die vlamme weg te kom!”


Maar intussen het die veld flink gegroei en die Krieks het die plaas weer opgeknap, “want Mattanu beteken nie verniet ‘n geskenk van Bo nie.”


Net voordat ons terugkeer kamp toe word ons geseën met ‘n besonderse sonsondergang. Ek moet met my hand skerm om na die rooi gloed agter die kameeldorings te kyk, want my donkerbril lê tuis (soos gewoonlik).


Met ete die aand kan jy kies uit ‘n uitgebreide versameling wyn uit die ondergrondse wynkelder. En vir later wag sigare van oraloor.


Ná ‘n lekker lang nag (soos dit hoort op só ‘n vakansie) was dit tyd vir nóg ‘n wildrit waar ons letterlik omtrent aan die bastergemsbokke en swartwitpense kon vat.


En daarna is ons kuiertjie afgesluit met ‘n ontbyt uit die boonste rakke.


Skuld daai spaarvarkie vir ‘n nag by Mattanu. Die R1 400 wat dit jou gaan kos is die moeite werd – en só het die AA ook gedink. Jy word immers nie sonder rede aangewys as die beste van jou soort in die land nie. Die prys is per persoon en sluit verblyf, ‘n ontbyt, aandete en twee wildsritte in.


Gaan maak gerus ‘n draai. Bogenoemde is nie net papierbeloftes nie.



SOU JY GAAN


* Mattanu is 58 km noordwes van Kimberley.


* Wildbesigtingstoere vir dagbesoekers is moontlik, maar besprekings is noodsaaklik.


* Gaste kan ook gaan stap en voëls uit ‘n uitkykpunt by ‘n vlei dophou.


* Onthou jou sonbril en in die sonbrandroom. Somers wag hier ‘n swembad om die Noord-Kaapse hitte af te spoel.


* Vir meer inligting loer by www.mattanu.com of stuur 'n epos aan info@mattanu.com.


Wild Coast ontrimpel ten bedrae van R400 miljoen



DAAR waar Natal die Oos-Kaap word staan die Wild Coast Sun al vir ‘n dertig jaar of wat as ‘n baken van pret en plesier.

Maar dis allermins meer hoofsaaklik ‘n casino-oord. Daar is immers deesdae ‘n groot casino in Durban self en jy hoef nie meer ‘n rivier oor te steek na die ou-Transkei om te dobbel nie.


Daarom spits Sun International hom al hoe meer toe om die Wild Coast Sun ‘n vakansieoord te maak waar daar genoeg vermaak is vir die kleingoed, maar waar volwassenes ook kinderlik gelukkig sal wees.


Ek het onlangs gaan inloer, want dis daardie tyd van die jaar wanneer mens graag van die hoendervleisweer in mid-Suid-Afrika wil ontsnap.


Skynbaar het baie ander dieselfde idee gehad, want Afrikaans het jy oral gehoor en daar was ‘n magdom GP-, NW- en FS-motors.


Ek het ‘n spesmaas dat dié oord selfs nog gewilder sal word as die huidige opknappingsprojek afgehandel is. Dit behels ‘n allemintige R400 miljoen en is reeds ver gevorder.


Dié opknappingsprojek volg ná die suksesvolle hernuwing van die Wild Coast Sun se dobbellisensie waarvolgens Sun International die oord sal bedryf vir ‘n verdere tien jaar vanaf September 2009.


Die casino-area wat vergroot is en met nuwe masjiene en meubels spog, was die eerste fase van die opknappingsprojek wat oor drie jaar strek. Hierna het van die gastekamers gevolg en ook die Lagoon Bar en die Chico’s restaurant. By laasgenoemde móét jy saans gaan eet, want die tafels wil swig onder die uitgebreide buffet.


Die opknappingswerk het ons nooit gepla nie, want die werksareas word heeltemal afgeskei.


Die kamer waarin ons tuisgegaan het was een van dié wat reeds smaakvol oorgedoen is. Mores breek die son tot in die kamer vanoor die Indiese Oseaan as die digte gordyne oopgetrek is. Die badkamers is só ontwerp dat jy groot skuifdeure kan ooptrek wat dit dan met die slaapkamer verbind en die hele vertrek ‘n ruim gevoel gee.


Van die balkon van dié kamer kon jy uitkyk oor die magtige Indiese Oseaan waar skepe op die horison na Durban vaar en reuse branders na die lang strand inrol. Tussendeur die blaredak het die blou van die hotelswembad gebreek en jy kan jou net voorstel hoe lywe hier ingeryg gaan lê as dit nie mid-winter is nie.


Eersdaags sal die oord spog met ‘n nuwigheid: ‘n temawaterpark. Sun International glo dat dié trekpleister die Wild Coast Sun “’n hoogs mededingende alternatief vir vakansiegangers en gesinne sal maak.”


Maar hier is reeds ‘n magdom ander dinge ook te doen waaronder ‘n reuse speletjiesarkade vir kinders, perderitte op die strand, een van die beste gholfbane in die land, 10 -pin bowling en as jy lus voel kan jy die golwende heuwels van die oud-Transkei inry. Maar hierin gaan jy waarskynlik nie eens sin hê nie, want die hotel se ligging tussen die Mtamvuna- en Mzamba-riviere is van die mooiste langs die Wildekus.


Die N2 van Durban is ‘n dubbele, breë pad tot by Southbroom. Ook die laaste 21 km is ‘n goeie teerpad. Dis dus maklik om hier uit te kom.


Bespreek by www.suninternational.com.




Geelgids gewild onder tuiniers, toeriste

- Jens Friis

VAN posseëlgrootte kruietuine tot poskaartmooie parke rondom kastele tel onder die bykans 4 000 private en openbare tuine wat vermeld word in Gardens of England and Wales and Gardens of Scotland. Dié gidse staan algemeen bekend as die ``Yellow Books'' en is uiters gewild onder plantliefhebbers.


Hoewel dit baie wat-en-waar-inligting bied, is dit ook 'n mini-kursus in Britse maatskaplike en literêre ge- skiedenis soos in Chartwell, Kent (``red brick wall built by Sir Winston Churchill''), en Rudyard Kipling wat 'n visdam laat maak het in Sussex.


'n Mens moet bespreek om koningin Elizabeth se Frogmore-tuin by die Windsor-kasteel te besoek. Besprekings word ook aanbeveel vir Sandringham-paleis in Norfolk. Iedereen kan egter besoek aflê by die groentetuin ( een akker) van die McCosh-familie in Clydesdale. So ook by 'n tuin waar bye reeds die afgelope 200 jaar om 'n korf zoem of 'n ``secret garden'' wat sou kon herinner aan Winnie the Pooh se ``Hundred Acre Wood''.


Chelsea Physic Gardens (1673) in Londen is die oudste botaniese tuin in die Verenigde Koninkryk naas dié van Oxford wat terugdateer na die jare 1500. Digby is die Royal-hospitaal waar die jaarlikse Chelsea-blommeskou (23 tot 26 Mei 2000) plaasvind.


Brittanje se bekende ``public schools'' is skynbaar vrugbare grond vir vermeldenswaardige tuine. Gordonstoun, alma mater van prinse Philip, Charles en Andrew, word in die gids vermeld. So ook Eton, 'n klipgooi van die Windsor-kasteel, waarvan die tuine in 1880 aangelê is deur die koshuishoof.


Die warm water van die Golfstroom het 'n reeks mikroklimate geskep langs die weskus noord tot by Skotland. Subtropiese plante floreer in die sewe hektaar van die Abbey Gardens, Tresco en Scilly-eilande.


Die Yellow Books word in boek- en tuinbouwinkels in die Verenigde Koninkryk verkoop of kan bestel word van amazon.co.uk of die Garden Schemes, 31 Castle Street, Edinburgh EH12EL.


Sunday, July 3, 2011

Gaan kuier in Bethulie

Was Bethulie nader aan Gauteng of Kaapstad, dan was dit lankal ‘n Dullstroom, Clarens of Darling. Dié dorp het die regte kombinasie van natuur en kultuur om ‘n bo-baas toeristedorp te wees, skryf JENS FRIIS.
MEESTE NAME? Bethulie kan moontlik daarmee spog dat dit die meeste name van enige dorp in Suid-Afrika gehad het. Die dorp is in 1829 as sendingstasie deur die Londense Sendinggenootskap begin. Dit is Moordenaarsgat/-poort genoem omdat baie San en Griekwas hier deur die Basotos vermoor is. Nadat die sendingstasie in 1835 deur die Paryse Evangeliese Sendinggenootskap oorgeneem is, is dit Caledon genoem na die rivier met die soortgelyke naam wat digby verbyvloei. Om verwarring met Caledon in die Kaap te voorkom is dit later na Verheullpolis verander, maar die inwoners kon nie vat kry aan dié koddige naam nie. Dit is toe Heidelberg genoem, maar daar was ook ‘n Heidelberg in Transvaal! En daarom is dit in 1872 herdoop tot Bethulie. In Hebreeus beteken Bethulia “gekies deur God.”
PASTORIE: Die Franse sendeling Jean Pierre Pellissier het ‘n huis hier in 1833 begin bou. Die werk het langsaam gevorder, want die boumateriaal moes van ver aangekwarwei word. Onthou, dit was nog in die dae van die Groot Trek. Uit moedeloosheid het Pellissier later van wilgerhout gebruik gemaak wat hy aan die oewers van die nabye Oranjerivier gevind het. Nietemin kon dié stewige gebou met gewelmure van 90 cm in 1835 betrek word. Dit is ‘n goeie voorbeeld van die vroegste dorpsargitektuur noord van die Oranje en moes vir jare een van die indrukwekkendste geboue in dié deel van die wêreld gewees het toe die Boere nog in hartbeeshuisies gewoon het. Van Pellissier se personalia het behoue gebly waaronder stukke porselein, glassware, ‘n preekstoeltjie en sy gesang- en gebedeboek. Dié huis langs Voortrekkerstraat huisves nou die dorpsmuseum. Eerwaarde Pellissier, sy vrou Martha en vyf van sy kinders wat kleintyd dood is aan witseerkeel, rus in vrede in die tuin.
BEKENDES: As jy voor die Pellissierhuis staan, het wyle Patrick Mynhardt, in die huis regs daarvan grootgeword. Die Boy van Bethulie het bekenheid verwerf deur sy rolle in Vyfster en Suburban Bliss, maar veral as oom Schalk Lourens deur Herman Charles Bosman. Ook die bekende kunstenaar Walter Meyer en Benjamin Smartenryk Fourie, een van Suid-Afrika se voorste pianiste, se paaie het met Bethulie gekruis. Sanger Theuns Jordaan het hier skoolgegaan en so ook rugbyspeler A.J. Venter. Coenie de Villiers het ‘n sagteplek vir Bethulie en hy het ook ‘n liedjie geskryf, “Bethulie”, wat verwys na die honderde mense wat hier gesterf het tydens die Anglo-Boereoorlog.
PLEK VAN VERSKRIKKING: Tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) is sowat 4 800 in die plaaslike konsentrasiekamp aangehou. Nie minder nie as 1 737 het gesterf. Pres. C.R. Swart het in 1966 ‘n gedenkbegraafplaas ter ere van hulle ingewy. Dis net noord van die dorp op pad na Smithfield. Die grafte is destyds verskuif, want daar is gevrees dat die Gariepdam dit sou oorstroom.
ELLELANGE BRUG: Ook weens die bou van die Gariepdam moes ‘n nuwe brug in 1967 opgerig word om die Vrystaat met die Oos-Kaap te verbind. Die Hennie Steyn-brug wat na Venterstad lei is 1,2 km lank en strek oor die die inloop van die Gariepdam. Dis die langste pad- en spoor-kombinasiebrug in Suid-Afrika. Coreli Roos, Volksblad-korrespondent op Bethulie, sê die inwoners hou daarvan om soms ‘n skemerkelkie te gaan drink op dié brug en te kyk hoe die son sak oor die dorp.
BED MET ‘N UITSIG: En as jy terug wil kyk na die Hennie Steyn-brug is die Oppi Koppie B&B van Hestél Griesel (tel. 082-219-9318, www.oppiekoppie.com) dié plek om te oornag. Van hier het jy ‘n pragtige uitsig oor die dorp, dam en brug. Daar is ook heelparty ander gastehuise en –plase in die omgewing.
TE ETE EN DRINKE: Die Ou Vellies Koffiekroeg (073-188-5321) langs die OVK en petrolpompe in Joubertstraat “is informeel en bied waarde vir geld. Waar hoor ‘n mens nog van ‘n koppie goeie moerkoffie, tee of ‘n kolwyntjei vir slegs R5?,” vra Coreli.
N.G. KERKGEBOU: Dié T-vormigegebou met sy neogotiese kenmerke is een van die oudste in die Vrystaat. Die hoeksteen is in 1886 gelê en die eerste erediens het omtrent 18 maande later hier plaasgevind.
LOUW WEPENER: Kom. Wepener het in 1865 die hoofkommandant van die Vrystaat se suidelike kommando's geword. Hy is kort hierna oorlede met ‘n aanslag op die Basotos se vesting by Thaba Bosigo. Daar word vertel koning Moshoeshoe het sy hart laat uitsny sodat sy die Basotho-kapteins dit kon eet om van Wepener se dapperheid in te kry. Naby die nuwe pad na Springfontein (36 km) staan ‘n gedenksteen vir Wepener.
RESERVATE: Bethulie is geseën met wildreservate omtrent aan alle kante waaronder die Gariepnatuurreservaat aan die Vrystaatse kant en die Oviston-reservaat aan die Oos-Kaap se kant. Dan is daar ook die Tussen-die-Riviere-natuurreservaat tussen die Gariep- en Caledon-rivier. Elande en sebras tot blesbokke en duikertjies is onder meer te sien. Hou ook jou oë oop vir visarende, korhane en pragtige wilde-olyfbome. Troeteldiere word nie toegelaat nie.

Thursday, March 31, 2011

Omsirkel SA se 2de grootste dam

- Jens Friis VLIEG jy van die Kaap Johannesburg toe lê die Vanderkloof, Suid-Afrika se tweede grootste dam, wes van jou. En as jy van die Kaap Bloemfontein toe vlieg, vlieg jy gewoonlik só oor dié dam dat jy nie eens sy wal kan sien nie. Dié eertydse P.K. le Roux-dam is 'n baken, want as jy oor Touwsrivier vlieg sien jy gewoonlik vir die volgende 600 km geen plek weer vaan die beskawing vatplek gekry het nie. Die eerste wat jy dan weer te eien kry is die Vanderkloofdam. Hoewel hy in die Gariep is, is sy water gewoonlik allermins oranje. Uit die lig is dit eerder 'n bleekgroen, maar met die onlangse vloede het dit verkleur tot 'n sjokoladebruin. Dit was juis tóé wat ek besluit het die tyd is ryper as ooit vir iets wat ek al lankal wou doen: om óm Suid-Afrika se tweede grootste dam te ry. Dis 'n harde wêreld dié waar die son gewoonlik barste in die grond brand, maar vanjaar is dit genadiglik anders. Al 310 km staan die gras kniehoogte en verberg die Karoo-bossies. Opdrifsels hang aan heinings se boonste drade. Die skape is moddervet. In só 'n jaar klink dit onwerklik dat die pypleiding van die Oranjerivier na Colesberg (waar ons reis begin) vergroot moet word. NÁ jare se waterprobleme gaan Colesberg hopelik later vanjaar genoeg water hê. Dié Noord-Kaapse dorp kry reeds etlike jare lank water van die Oranjerivier sowat 30 km noord van Colesberg. Maar die pyp daarheen het deur die jare te klein geword, omdat Colesberg onder meer gegroei en spoeltoilette gekry het. Daarom word ’n nuwe pypleiding nou aangelê. Daar is onlangs met die lê van die pype begin en dit moet binne 40 weke voltooi wees – voor die einde van die jaar wanneer baie toeriste weer hier sal oorslaap op pad see toe. Die R717 van Colesberg na Philippolis (55 km) is 'n stil teerpad wat die eertydse N1 tussen Kaapstad en Johannesburg was tot 1972. Dis 'n lekker alternatiewe roete tot die besige N1. Dit lei deur pragtige rantjieswêreld en bied een van die beste uitkykpunte op die die Oranjerivier vanaf die Serfonteinbrug wat die Noord-Kaap met die Vrystaat verbind. Daar is parkeerplek aan beide kante van die brug en omdat hier min verkeer is, kan jy tot in die middel van die brug loop vir 'n breë blik op Suid-Afrika se langste rivier. Buiten vir 'n boorgat of twee kry Philippolis, nes Colesberg, sy drinkwater vanuit die Oranjerivier. En die pypleiding loop van die rivier tot by die dorp feitlik reg langs die teerpad. Dis net by Waterkloof, 'n klein nedersetting kort voor Philippolis, wat die pypleiding kortpad kies. Maar die teerpad loop deur Waterkloof, want die Waterkloofse stemgeregtigdes het glo eens gedreig dat as die pad nie deur hul dorpie loop nie, hulle nie vir 'n sekere kandidaat gaan stem nie. Die Vanderkloofdam stoot op tot sowat 10 km vanaf die Serfonteinbrug wat beteken dat die Vanderkloof feitlik die hele suidelike grens van die Philippolis-distrik vorm wes van dié brug. Dis 'n lang ent, want die Vanderkloof stoot sowat 90 km op. Dié wêreld is grootliks ongerep omdat dit haas onbegaanbaar is langs die rivier. Hier is berge en dale, ravyne en opeengestapelde dolomietrotse soos wat jy nie verwag in die Vrystaat nie. Beleggers het dit raakgesien en stil-stil die een na die ander plaas opgekoop. So het dit gebeur dat die grootste deel van die suidelike distriksgrens nou jagplase is wat buitelanders van oraloor lok. Hieronder tel ook die enorme Laohu-reservaat van 33 000 ha waar geteel word met die hoogs bedreigde Suid-Chinese tier. Slegs 'n klein deeltjie van die reservaat word vir die tierprojek gebruik. Honderde  diere  is  al  hier hervestig en hulle beoog nou ook om vrylopende jagluiperds, ’n simbool van die Vrystaat, hierheen te bring. Helaas is Laohu nie oop vir die publiek nie, maar wel John Varty se wildplaas waar onder meer tiere te sien is. Die uitdraaiplek na Varty se plaas is 1 km uit Philippolis op die Luckhoff-teerpad. Die rigtingwysers dui hier aan dat Luckhoff 84 km ver is. Dis 'n geslane ent, want dis heelpad grondpad. Dis dus wys om koeldrank en petrol in Philippolis aan te skaf. Dié 85 km is die langste afstand tussen twee dorpe op die roete van 310 km.

Monday, January 31, 2011

Hondehemel

KOM ONTDEK DIE PLATTELAND: 'n Hemel vir honde. Wat is lekkerder vir hond se kind as om saam met sy baas oor 'n naweek die pad uit die stad te vat na die platteland? Hier hang Victor, 'n beagle, al glimlaggend uit die motor van mnre. Jens Friis en Niel de Leeuw. Die foto is geneem by die nedersetting Austin's Post in die suidwes-Vrystaat. Foto: Jens Friis

Thursday, January 27, 2011

Naas beste strandstad ter wêreld

Kaapstad is aangewys as die naas beste strandstad ter wêreld. Só het Lonely Planet se lesers gestem tydens dei 2011 Traveller's Choice Awards. In die eerste plek was Barcelona. Kaapstad het beter gedoen as die gewilde Rio de Janeiro en Sydney. Foto: Jens Friis