Wednesday, February 1, 2012

Groenhuis Gastehuis in Philippolis: 051-773-0073



Pragtige stemme laat aarde hier beef

- JENS FRIIS


LLANGOLLEN. - Iedereen wat al by 'n rugbytoets teen Wallis was, sal weet hierdie manne kán sing. Al wen hulle nie die wedstryd nie, bly hul dreunsang oor mere en lowergroen berge jou by.


Dis dus g'n wonder nie dat die Walliesers ook die grootste internasionale volksangfees reël. Vir een week elke somer word die dorpie, Llangollen, verswelg deur folk-sangers van oor die wêreld heen.


In 1946, skaars 'n jaar na die Tweede Wêreldoorlog, is planne gemaak vir 'n internasionale eisteddfod geskoei op die alombekende Walliese eisteddfod. Die vader van die fees, Harold Tudor, 'n joernalis van die Liverpool Daily Post , het op Llangollen besluit omdat dié dorpie in 'n pragvallei geleë is. Llangollen het vantevore die nasionale eisteddfod suksesvol aangebied en Tudor het gemeen dié dorpie van sowat 3 000 inwoners kon op omringende dorpies se steun reken.


Vir 11 tot 15 Junie 1947 is die eerste eisteddfod gereël. Weens 'n Franse spoorwegstaking moes heelwat deelnemers ander planne beraam om by die fees te kom. Party het duimgegooi, selwers vervoer gereël of hul pad deur Frankryk oopgesing om te kon betaal.


Met die aankoms van die eerste groep uit Portugal het die organiseerders 'n sug van verligting geslaak: Internasionaal sou die eerste fees wees.


Sedert die 1947-eisteddfod het meer as 3 miljoen mense hierheen gestroom en 400 000 deelnemers opgetree. Die afgelope 20 jaar was die deelnemers uit 114 lande. Van die aarde se uithoeke kom hul waaronder Kazakstan, Lapland en Frans-Guyana.


Met die fees volg jy jou ore agter eggo's van kitare en trompette aan, verby framboosstalletjies en markiestente.


Langs Castle Street stap twee Skotte in hul rokkies verby 'n Boergondiese meisie met 'n mandolien. 'n Wiking staan buite 'n kroeg. Marokkane met 'n Manchester-aksent groet 'n knaap met 'n harp. Hul is daar: Brasilië, Alaska, Suid-Afrika - al die kleure van die internasionale reënboog. Die dorp sing en dans.


Sowat 80 000 feesgangers kom deesdae per jaar na die eisteddfod.


Twee van die drie bekende tenore het hier opgetree. Daar was ongekende belangstelling vir Luciano Pavarotti se konsert in 1995, maar hy was ook lid van 'n koor wat in 1955 kom sing het. Placido Domingo het sy debuut in die Verenigde Koninkryk gemaak op die 1968-eisteddfod.


Ander bekendes is Kiri Te Kanawa, Montserrat Caballe en Shirley Bassey, terwyl koningin Elizabeth, Charles, Diana, Anne en Margaret kom luister het.


Voordat die gordyne toegetrek word, word Wallis se twee volksliedere gesing, God Save the Queen en dán Hen Wlad fy Nhadau . Weet verseker; met die sing daarvan sál die aarde beef.



SOU JY GAAN


* Llangollen is in Noordoos-Wallis, 13 km van die grens met Engeland. Die naaste lughawe is dié by Manchester of Liverpool. Daar is gereelde busse na Wrexham, maar openbare vervoer is skaars in Snowdonia.


* Die wolke uit die weste loop hul vas teen die Walliese berge. Daarom is dit selfs natter en meer bewolk as in die suide van Engeland.


* As die son skyn, is Llangollen ideaal vir buitelugaktiwiteite waaronder 'n staptog na die Horseshoe-pas en na Valle Crucis Abbey, 'n Middeleeuse klooster waarvan nog net die mure staan.


* 'n Snaaksigheid is om op kanaalskuite te gaan ry wat deur 'n perd getrek word. Die perde loop op 'n paadjie langs die kanale. Dié bootjies het op hul dag 'n belangrike rol gespeel in dié gebied se vervoerstelsel.


* Kanovaart is gewild op die Dee-rivier.


* Plas Newydd is 'n statige herehuis wat bekend is vir sy swart-wit houtafwerking en omdat die eksentrieke "Ladies of Llangollen" daarin gewoon het (1780 - 1831).


* Van gastehuise gedy dit, want almal wil baat vind as feesgangers een keer per jaar hierheen stroom.


* Ander reusagtige Walliese feeste wat jy dalk wil bywoon is die Royal National Eisteddfod en die Swansea Festival of Music and Arts.

Poppe grootoog oor wolke

KANSE VIR REëN WORD BETER: Drie Kewpie-poppie kyk na ’n “lug vol helder wolke” (soos een van Karel Schoeman se boeke ook heet). Dié wolke weerkaats in ’n winkelvenster op Rosendal. Die reën was in dele van die Vrystaat en Noord-Kaap maar taai om te val die afgelope maande, maar goeie neerslae word vir die laat-somer voorspel deur die Suid-Afrikaanse Weerdiens. Foto: Jens Friis

Blommeprag by Tenahead

- Jens Friis


DAAR waar die Maluti, Witteberge en Drakensberge een word, wag ‘n onverwagse skat.


Só hoog is dit by Tenahead Mountain Lodge, die hoogste van sy soort in Suid-Afrika, dat hier geen bome is nie en kry jy plante (Alpine flora) wat nêrens elders in Suidelike-Afrika voorkom nie. Gewis ‘n snaaksigheid in Kontrei-wêreld wat behalwe vir die Oos-Vrystaat, bekend is vir sy plat landskappe.


Tenahead het tot stand gekom in 2002 toe ‘n Nederlands-paar vyf aaneenliggende plase gekoop en ‘n natuurreservaat van 3 500 ha só ontstaan het. Só het hulle verseker dat die reën wat in die berge (2 500 m bo seespieël) val, só skoon is dat besoekers dit aan tafel kan drink. Ook het die plant- en dierelewe hierdeur ongeskonde gebly.


In 2006 het River Hotels die Lodge geopen en die reservaat genoem na die Tinaheadberg (2 824 m) waar die Tinarivier sy oorsprong het.


Volgens die bestuurders mnr. Shauna Stephen en me. Nolan Muir is die beste tyd om na dié blomme te gaan kyk einde-Januarie en begin-Februarie.


“Hierdie tyd is eintlik ons lente, want dit word snags - selfs in die somers - koel hier op die berg. Gevolglik vat die saadjies veel langer om te ontkiem en uiteindelik te blom.”



Onder die besondere blomme wat hier voorkom is dioramas (haarlokkies), watsonias, moraeas, helichrysiums en euphorbias.


Hou ook jou oë oop vir ribbokke, bosbokkies en verskeie soorte aasvoëls.



* Tenahead is ‘n klipgooi vanaf die hoogste punt van die Naude’s Nek Pas in die Oos-Kaapse hoogland en grens aan Lesotho. Dit neem omtrent 4 ure om hierheen te ry vanaf Bloemfontein, maar weens padwerke tussen Reddersburg en Smithfield kan dit ‘n raps langer duur. Neem beslis ‘n verkyker, kamera en ook sonbrandmiddel saam. Hoewel die luggie hier bo koel kan wees kan jy jou lelik misgis met hoe sterk die sonstrale is. Sonroom is dus ‘n noodsaaklikheid.

Tuesday, December 27, 2011

Nie te mis in mid-Suid-Afrika

Hier is van die lekkerste lekkers wat JENS FRIIS bybly wat vanjaar in die weeklikse kolom Te Doen (Volksblad) verskyn het. As jy reken jy weet van iets wat in 2012 hier moet verskyn, skryf aan hom by jens.friis@volksblad.com.



EET HIER


* Salm, tuna en selfs kaviaar word elke tweede dag ingevlieg na die Kalahari Gateway-hotel op Kakamas om sushi te maak. “Dis voorwaar ‘n rariteit in die Kalahari!”, sê Aesja O’Callagahan van dié hotel langs Voortrekkerstraat. Dick Venter van die Kalahari Gateway-hotel het die eetplek begin omdat hy dol is oor sushi en Gerrie de Beer van Kaapstad bestuur dit. Self saki (ryswyn) word voorgesit. Onder die kleurvolle rolletjies tel salmrose, Kaliforniese rolletjies en “fashion sandwiches”. Vir diegene wat nie rou vis wil eet nie, is daar springbok carpaccio op die spyskaart. Loer by www.kalaharigateway.co.za of bel 054-431-0838.


* By The Horse & Mill in Colesberg kan jy aansit vir Karoo-tjoppies onder ‘n perdemeul wat gebou is in 1840. Dié meul is in 1891 op die plaas Sewefontein opgerig en in 1977 na die dorp verskuif. Beide die meul en die gebou waarin dit gehuisves word, is nasionale gedenkwaardighede. As jy van Bloemfontein Colesberg inry, is dié besondere restaurant aan jou regterkant in ‘n stil eenrigtingstraat parallel aan die hoofstraat. Daar is sitplek vir omtrent 90 mense as die solder en tuin bygetel word. Verlede Saterdagaand het vier van ons daar geëet. ‘n Rump-steak met kraakvars groenboontjies, geelwortels, skyfies en twee drankies het ‘n billike R110 elk uitgewerk. www.horseandmill.co.za


* Gaan eet by Picnic, ‘n restaurant by die Waterfront in Bloemfontein. Die prys is billik, die produkte vars, die kos geurig en jy kan oor die water uitkyk.


* ‘n Griekse filosoof het eens gesê dat dit ‘n belediging is vir beide die musikant en kok as musiek gespeel word terwyl jy eet, want jy kan nie aan een van die twee volle aandag gee nie. By die Maselspoort-restaurant buite Bloemfontein verskaf Marnie van Wyk egter sulke mooi agtergrond klaviermusiek dat dit beslis die spyse aanwakker. Bespreek vooraf vir ‘n Sondagmiddagmaal by 051-441-6050. Let ook op die foto’s van Maselspoort uit vervloeë dae wat in die restaurant hang.


* Deesdae ry ek nie Trompsburg verby sonder om ‘n brood by die Waterwielbakhuis langs Voortrekkerstraat te koop nie. Dis tuisgebak en kraakvars – nes hul beskuit.


* Vir liplekker tuisgemaakte (boere)kos, gaan na Ouma se Kombuis, 'n wegneemeetplek langs Barba's Cafe in Tweede Laan, Bloemfontein. My gunsteling is Lita Kotze se osstert (oxtail).


* Op die hoë stoep van Philippolis S’n langs Voortrekkerstraat, Philippolis, kan jy aansit by tafeltjies en afkyk hoe die wêreld verbygaan terwyl jy smul aan ‘n stuk sjokoladekoek, ‘n pienk melkskommel of ‘n geroosterde toebroodjie. Hul melkterte is goedkoop, maar hemels en ideaal om huis toe te vat. In dié tuisnywerheid-winkel kan jy ook snuffel deur allerhande tuisgemaakte goete uit dié geweste. Bel Marietjie Cilliers by 082-783-5824 of Angela Agenbag by 079-855-4818.


* Sit aan vir ontbyt of middagete in die huislike restaurant van Miguel Borge langs President Reitzstraat 67, Westdene, Bloemfontein. Op die spyskaart van Vida & Arte is onder meer tortillas, tappas en omelette. Miguel is van Suid-Amerika en in die kos tot die interieur word jy hieraan herinner. Die mure is ‘n passievolle rooi en van die skilderye wat te koop is herinner aan Buenos Aires. Die pragtige ou woning met sy houtvloere is ideaal vir klein partytjies en wynproe-geleenthede. Bel 071-896-2511.



BLY IN DIÉ HOTELLE


* Bly oor in Kimberley se Protea-hotel op die rand van die Groot Gat. Dié vierster hotel het 94 kamers. Weens sy sentrale ligging is dit ideaal om museums, oorlogsroetes en die opgeknapte myndorpie te besoek. Geniet laatmiddag ‘n skemerkelkie op die dek wat uitkyk oor die Groot Gat en die Noord-Kaapse hoofstad. Sien www.proteahotels.com/kimberley. Om te bespreek bel 0861-11-9000.


* Die patio van die Protea-hotel Willow Lake met 94 kamers bied gaste ‘n uitsig oor die Bloemfonteinse dieretuin – nie iets wat jy oral teëkom nie.


* Die hotel in die Golden Gate Nasionale Park is onlangs opgeknap teen miljoene rande.


* Van die De Stijl-hotel se restaurant is daar werklik ‘n onvergeetlike uitsig oor die Gariepdam, die grootste in Suid-Afrika.


* Die vyfster Maliba Lodge in Lesotho is aangewys as een van die beste hotelle ter wêreld deur die lesers van die gesaghebbende Britse reistydskrif Tatler. Die Lodge is geleë in die Tsehlanyane Nasionale Park wat bekend is vir sy pragtige uitsigte. Dit is sowat ‘n uur sy ry van Clarens. Kyk by www.maliba-lodge.com.



DOEN DÍT


* Die tierprojek wat die omgewingsbewaarder en rolprentmaker Johan Varty in 2000 buite Philippolis begin het, bied ‘n sonderlinge geleentheid om vanuit ‘n spesiaal omgeboude voertuig tot naby aan die loslopende tiere te kom. Sover bekend het Tiger Canyons die enigste wilde tierpopulasie in die wêreld. Daar is sowat 45 000 tiere wêreldwyd in aanhouding, maar slegs sowat 1 000 wilde tiere. Dit gaan voor die wind met die projek. Só is daar byvoorbeeld in 2009 twee werpsels tiertjies, altesaam sewe welpies, gebore. Drie van die tierwelpies, waaronder ‘n wit tier, is toe met die hand grootgemaak. http://www.jvbigcats.co.za/


* Onderbreek die sieldodende N1 en rek jou bene by die Kuilfontein-padstal langs die Springfontein-Suid-afrit. Jy sal nie die langwerpige gebou met die erfenisgroen-dak miskyk nie. Die Staplese maak die die lekkerste lam-en-ment-pasteie en moenie hul gebottelde produkte verbygaan nie. www.accommodationspringfontein.co.za.


* Ná uitgebreide herstel- en restourasiewerk het die Kimberleyse trem se wiele darem weer begin draai in 2011. Dit kos R10 per person om vanaf die Groot Gat tot by Tile Africa te ry. Die roete is sedert die sluiting van Bultfonteinweg verkort om die veiligheid van passasiers te verseker.


* By die Kambro-padstal tussen Britstown en Strydenburg kan jy ketties tot gemmerbier koop. Stop beslis hier by Gerhard en Wilma Strauss as jy weer in dié geweste is. Loer by www.kambroaccom.co.za.


* Pak 'n mandjie, gooi 'n kombers oop en eet jou trommeldik op die lowergroen gras van die tuin voor die Oliewenhuis Kunsmuseum in Bloemfontein. Mens kan net dink wat se voorreg dit moes wees vir politici om vroeër jare in dié Kaaps-Hollandse huis te kon woon. Toegang tot die tuin is mahala, maar as jy meer wil uitvind bel 051-447-9609.


* Pak die Naudé’s Nek Pas by Rhodes aan. Op ‘n helder dag kan jy van die kruin (2 260 m) tot by die Transkeise kus sien. Naude’s Nek is op die R396 na Maclear. Maar wees gewaarsku: dis ‘n smal, bedrieglike paadjie wat jy nie moet aanpak as dit gereën of gesneeu het nie. ‘n Viertrekvoertuig is aan te beveel. Laat genoeg tyd toe, want die donker kan jou andersins maklik hier vang.

Tuesday, November 22, 2011

Groenhuis Gastehuis, Philippolis - www.philippolis.co.za, tel. 051-773--73



ONDERWEG - Geboue wat jou sal bybly

Eersdaags gaan waarskynlik ook jy die langpad aandurf tussen die Kaapse kus en die Noorde. Onderbreek die tog deur by dié drie geboue van argitektoniese belang in mid-Suid-Afrika te stop, beveel JENS FRIIS aan.


GRAAFF-REINET: Die Reinet-huis (deesdae 'n museum) op Graaff-Reinet is só sorgsaam gerestoureer dat dit weinig anders lyk as in 1866. In 'n Panorama-tydskrif uit 1957 is geskyf die herstelwerk is as 'n "onpersoonlike, byna argeologiese projek" behartig. Niks is ontsien om die oorspronklike gebou tot in die fynste besonderhede te herskep nie.


Vandag is die Reinet-huis 'n juweel in dié geskiedkundige Karoo-dorp se bewaringskroon. Tog is dit eens so byna-byna gesloop. Teen 1947 was hierdie oudpastorie vervalle en die kerkraad wou dit vervang met 'n moderne woonstelblok (in die hart van die historiese dorpskern!). Gelukkig het bewaringsbewuste Graaff-Reinetters vasgeskop, en in 1950 is die huis tot 'n gedenkwaardigheid verklaar.


Nes die Drostdy, aan die ander punt van Pastoriestraat, is Reinethuis (1812) waarskynlik ontwerp deur die die Franse argitek Louis Michel Thibault.


Nie minder nie as 82 jaar lank is dit bewoon deur ds. Andrew Murray en sy seun, Charles. Ds. Charles was 'n kranige tuinier wat in die uitgestrekte pastorietuin bome, plante en blomme van oral geplant het. In 1870 het hy 'n swartakker-wingerdstok geplant wat die grootste ter wêreld sou word, met 'n rankwydte van 120 m!


Bekendes soos Robert Moffat en dr. David Livingstone het ook deur die jare hier aangedoen.


Ná die bou van 'n meer moderne pastorie in 1904 is die ou pastorie onder toesig van Ellen Murray, suster van Charles, in 'n koshuis omgeskep. In 1907 het sy die naam Reinet-huis daaraan gegee. ­



BLOEMFONTEIN: Die Tweetoringkerk in Bloemfontein dien die afgelope jaar of wat nie meer as aanbiddingsplek vir 'n gemeente nie, maar word gebruik as tuiste vir die Torings van Hoop-projek wat hulpbehoewendes in die Bloemfonteinse middestad ondersteun.


Dié kerk se geskiedenis strek ver terug. Dit was die inhuldigingsplek vir die laaste twee staatspresidente van die Republiek van die Oranje-Vrystaat, F.W. Reitz en M.T. Steyn, kort voordat die Vrystaat deel geword het van die Unie.


Vele bekendes is ook uit dié kerk begrawe, soos vader J.D. Kestell, genl. C.R. de Wet, press. J.H. Brand en einste M.T. Steyn, Emily Hobhouse, en ook die eerste drie staatspresidente van die Republiek - Nico Diederichs, Jim Fouché en C.R. Swart.


Dis reeds in 1963 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar en die eerste predikant was ook iemand met 'n bekende naam: Andrew Murray jr., wat toe maar 21 jaar oud was.


Die eerste kerk, die sogenaamde Ou kerk, is in 1852 ingewy en was op dieselfde erf as die Tweetoringkerk, toe nog aan die buitewyke van Bloemfontein.


Die Ou Kerk het ongepleister gebly, want die aangewese messelaar was blykbaar te lief vir die bottel gewees.


Omdat Bloemfontein flink gegroei het, moes 'n groter kerk gebou word - ook maar goed so, want teen 1870 was die Ou Kerk aan't intuimel. Dis uiteindelik in 1878 gesloop, en terwyl die nuwe kerk gebou is, is eredienste gehou in 'n pakhuis by Fichardts (oorkant die straat waar die Middestadsentrum nou is).


Die argitek William Bennett Hays se plan in die Middeleeuse Duitse styl met twee torings sou die gemeente 33 500 pond uit die sak jaag.


Dít was te dik vir 'n daalder, en daar is besluit op 'n afgewaterde ontwerp in die moderne Romeinse styl deur die argitek Richard Wocke. Die kerk sou 17 500 pond kos en sitplek bied vir 810 mense.


Op 10 Mei 1878 het pres. Brand die hoeksteen gelê. Sowat 6 000 mense het die inwydingseremonie op 7 Mei 1880 bygewoon.


Die nuwe kerk het sommer ver uitgetroon bo Bloemfontein se enkelverdieping-geboutjies.


In 1935 het die westelike toring inmekaar getuimel, waarna die ander toring om veiligheidsredes ook gesloop is.


Die argitek Gerard Moerdyk het gemeen die beste sou wees om 'n nuwe kerk te bou, maar dit het nie gebeur nie. Die twee torings is bloot herbou.


In 1952 is die preekstoel verwoes en die orrelpype beskadig toe boemelaars by die kerk ingebreek en 'n brand gestig het.


In die jare tagtig is die bekende Tweetoringkerk toe uiteindelik deeglik gerestoureer.


In die toringkamer is afgekom op 'n groot vonds van antieke nagmaalgerei en sestien Nederlandse Bybels uit die negentiende eeu.



WINBURG: Skaars ’n kilometer suid van Winburg swenk ’n pad suidwaarts uit die N1 na die Voortrekkermonument en die plaas Rietfontein.
Hier staan ’n eenvoudige, langwerpige kliphuisie waarin Marthinus Theunis Steyn, latere president van die ou Republiek van die Oranje-Vrystaat, op 2 Oktober 1857 gebore is.
Sy pa, Marthinus Steyn, het op die plaas Josephinesdal in die distrik Winburg geboer. Met die dood van sy vader moes hy na Swellendam gaan.
Daarom het hy veiligheidshalwe sy swanger vrou na sy swaer Theunis Cornelius Wessels van die plaas Rietfontein geneem.
“Dit was ’n onrustige tyd,” skryf Karel Schoeman in Boukunsskatte van die Vrystaat. “Die Eerste Sotho-Boereoorlog het die volgende jaar uitgebreek en Winburg was slegs ’n gehuggie baie naby aan die grens van Moshweshwe se gebied.”
En só is die toekomstige president toe in die huisie van sy oom gebore.
Terloops, M.T. Steyn was een van 11 kinders van wie 8 oorleef het.
Benewens sy geskiedkundige waarde is die woning ook van argitektoniese belang.
Dit neem ’n belangrike plek in die ontwikkeling van ons volksargitektuur in, skryf J.J. Oberholster in Die Historiese Monumente van Suid-Afrika.
Tydens die pioniersjare van die Vrystaat is gewoonlik met kleistene gebou, maar soms is klip ingespan. Dit was meer tydrowend, maar wel duursamer. Dit is dan ook ’n rede waarom die woonhuis op Rietfontein ná al die jare behoue gebly het.
“By die oprigting (van die huis) het die boer van die materiaal wat byderhand was, gebruik gemaak. Uit die nabygeleë rantjie het hy die klip vir die buitemure gehaal, uit die leegte die rooigrond vir die rou bakstene vir die binnemure, en uit die vlei die klei vir die vloere en die brandsolder, asook die riet vir die dak.”
By die deurdrumpels en voor die kaggels waar die kleivloer maklik kon uittrap, is perskepitte gelê.
Steyn se geboortehuis is verdeel in ’n slaapkamer, voorhuis en ’n kombuis. ’n Stal en kraal is later aangebou.
Die huis is in 1952 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar.
In 1978 het die provinsiale museumdiens dit met groot sorg gerestoureer om ’n goeie idee te gee van die woonkultuur van die vroeë Vrystaatse Republiek.
Die stal en kraal is verwyder, terwyl ’n bakoond aangebou is.
Sowat 100
m van dié opstal rus diegene wat eens die werf bewandel het in die plaaskerkhof.