Thursday, June 21, 2007

24 VRYSTAATSE moets


1. Vredefort-koepel, Vredefort: Hierdie koepel is miljoene jare gelede gevorm nadat ’n enorme meteoriet die aarde getref het. Die meteoriet steek uit en lyk na ’n heuweltjie langs die pad tussen Parys en Vredefort. Die Vredefort-koepel is die Vrystaat se enigste Wêrelderfenisgebied.
2. Clarens: Die “Juweel van die Vrystaat” is nie net besonders vanweë sy berglandskapligging nie, maar ook omdat dit deesdae ’n kultuurmekka is.
3. Naval Hill, Bloemfontein: Kyk hoe die son opkom vanaf hierdie berg in die middel van die Rosestad. Saans lyk die Vrystaat se hoofstad reusagtig van hier. Nes op Vlaeberg in Kaapstad moet jy op jou hoede wees ná sononder. Naval Hill is ook ’n wildreservaat X die grootste in Suid-Afrika wat heeltemal deur ’n stad omring word.
4. Die Basotho-kultuurdorp (20 km oos van die Golden Gate Hoogland Nasionale Park) stel die Sotho’s se leefwyse aan ’n mens bekend. Die hutte dui aan hoe hul argitektuur sedert die 1500’s ontwikkel het.
5. Boeremark, Bloemfontein: Koop mieliebrode tot blindevinke in Langenhovenpark op Saterdagoggende. Die eienaars van stalletjies kom van so ver as Bethlehem en Welkom.
6. Treinspoor, Fauresmith: Dié dorp is slegs een van drie ter wêreld waar die treinspoor deur die hoofstraat loop.
7. Brandfort: Hulle het min hier agtergelaat, maar heelwat bekende Suid-Afrikaners het ’n ruk lank op Brandfort vertoef, onder wie dr. H.F. Verwoerd, Winnie Madikizela-Mandela, Vincent van Gogh se broer, Theo, en C.R. Swart.
8. Oliewenhuis, Bloemfontein: Hierdie eertydse administrateurswoning is nou ’n kunsgalery (0 051 447 9609). Kry iets te ete terwyl die kinders op die beelde by die Afrika-mallemeule ry.
9. Swerms bloukraanvoëls: Suid-Afrika se nasionale voël is nog algemeen in die Suid-Vrystaat. Die kans is goed dat jy van hulle te sien gaan kry tussen Trompsburg en Philippolis, of die grondpad tussen Jagersfontein en Springfontein.
10. Pres. Brand-straat, Bloemfontein: Hierdie is sekerlik die geskiedkundigste straat in die Vrystaat. Stap verby die stadsaal, appèlhof (wat tans vergroot word), die eerste en vierde raadsale (deesdae die Vrystaatse wetgewer) en die eertydse presidensie, alles van sandsteen.
11. Sandsteenkerk, Kestell: Dít is dalk die imposantste van al die Oos-Vrystaat se sandsteengeboue.
12. Vrouemonument en Anglo-Boereoorlogmuseum, Bloemfontein: Die Vrystaat se geskiedenis is deurspek van die ABO (1899-1902). Nêrens kan jy ’n beter begrip hiervan as by die ABO-museum kry nie. Langsaan staan die Vrouemonument ter ere van die vroue en kinders wat in konsentrasiekampe gesterf het.
13. Konsentrasiekampkerkhof, Bethulie: Dié ABO-kerkhof is dalk die bes versorgde in die Vrystaat. Die een by Brandfort word net oopgesluit op spesiale feesdae en die paadjie na Springfontein s’n is só begroei deur rolbosse dat jy nie daar kan uitkom nie.
14. Kersiefees, Ficksburg: Oefen vooraf vir die pitspoegkompetisie in Suid-Afrika se grootste kersieproduserende streek. Hierdie fees lok jaarliks duisende mense na die Oos-Vrystaat (www.cherryfestival.co.za).
15. Grootste dam, Gariepdam: Stap in die wal van Suid-Afrika se grootste dam. Reël met die departement van waterwese vir ’n toer (www.gariepdam.com of 0 051 754 0001).
16. Grootste mensgemaakte gat, Jagersfontein: Dis nou amptelik: Jagersfontein se gat is groter as Kimberley s’n. Kyk uit vir die arende wat teen die kranse van die gat nesmaak.
17. Philippolis: Dié skilderagtige Suid-Vrystaatse dorpie is die oudste nedersetting in die Vrystaat. Stap langs die boomomsoomde Bo-Voortrekkerstraat met sy wit- gekalkte historiese huise. Karel Schoeman het tereg opgemerk dis die “Vrystaat se Stellenbosch” (www.philippolis.co.za).
18. Sonneblomme staan met hul koppe gekeer na die son in Maart. Dié plate geel is oral te sien X ook langs die N1.
19. Winburg was eens die hoofstad van die Republiek van die Oranje-Vrystaat. Pres. M.T. Steyn se nederige geboortehuisie staan in skrille kontras langs die Voortrekkermonument.
20. Pellissier-huis, Bethulie: Dié woning is een van die oudste oorblywende huise vir wit mense noord van die Oranjerivier. Dit staan as ’n monument aan die vroegste sendingarbeid onder die swart volke.
21. Waterkloof is ’n fotogeniese spookdorpie met slegs ’n tiental inwoners (24 km noord van die Oranjerivier op die R717). Die leiwater-erwe word privaat besit. Neem dus jou foto’s uit die stofstraatjies.
22. Rosendal-teater: Chris van Niekerk, Francois van Oppiekoffie in 7de Laan, woon deesdae op Rosendal, waar hy ’n teater en restaurant bestuur. Bekendes soos Anna Davel en Lizz Meiring tree hier op.
23. Jukskeimuseum, Kroonstad: Jukskei is volgens die SA Jukskei-akademie die eerste inheemse sport wat tot internasionale deelname uitgebrei het. Die SA senior jukskei-kampioenskapstoernooi vind jaarliks op Jukskeipark, Kroonstad, plaas. Gaan kyk na die 3 500 voorwerpe in die Jukskeimuseum wat wys hoe dié spel ontwikkel het (www.jukskei.co.za).
24. Klein-Caledon-riviervallei: Hierdie vallei in die voetheuwels van die Drakensberge bied verskeie staproetes deur die Golden Gate Hoogland Nasionale Park.