Thursday, June 28, 2007

Vir dié gesoute toeris is reis 'n 'belegging'

Die volgende berig het op 18 Junie 2005 in Volksblad verskyn.
BONUS se artikels lees tog alte lekker, maar wie is die Jens Friis wat so gereeld skryf? Hoe kry die man dit reg om so baie te reis? Dis die vrae wat gereeld Bonus se kant toe kom. BETTA VAN HUYSSTEEN het met hom gepraat en bevredig nou dié nuuskierigheid.
MET besoeke aan 31 lande agter die blad, een land minder as sy lewensjare, is Jens Friis nou al 'n gesoute toeris.
Sy tasse is beperk, "want niks verander 'n reis so maklik in 'n tog as sware bagasie nie". Nietemin gaan hy nêrens nie sonder sy paspoort, Visa-kredietkaart en digitale kamera met gelaaide battery en genoeg geheuekaarte. 'n Notaboek en pen, warm klere en iets om te lees rond die noodsaaklikhede af.
As die reisgogga jou so beet het, wonder 'n mens outomaties wanneer dié gogga sy eerste byt ingekry het.
Friis is 'n boorling van Philippolis waar Engels 'n vreemde, eerder as 'n tweede taal is, maar klein Jens wou meer van die wêreld weet en het penmaats in Berlyn, Chicago en Mauritius gehad om sy Engels op te skerp en meer van die wêreld uit te vind.
Gesinsreise saam met pa Jens, ma Naómi en boet Nico was pure plesier, of dit nou na Ouma in Middelburg was of Jeffreysbaai of Hartenbos toe.
Hy was ene oë en ore op die langpad en ná 'n reis Laeveld toe het hy sy Sub B-juffrou, me. Alta Snyman, lekker uitgeboul toe hy ewe kontant "Tzaneen" kon spel.
'n Onderwyser, wyle mnr. Ben du Preez, het sy belangstelling in fotografie aangewakker en die grondslag gelê vir 'n vaardigheid wat hand aan hand met reis gaan.
Friis het in 1991 matriek aan die Hoërskool M. T. Steyn in Philippolis geskryf en was waarskynlik die enigste hoofseun wat 'n Cravenweek-haker was én Unisa se Graad 7-klaviereksamen geslaag het.
Of die regte die regte rigting vir dié wêreldreisiger was, is nog nie duidelik nie, maar Friis het die grade B. Juris, LL.B en LL.M. aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf en sy studie in konstitusionele reg toe aan die Universiteit van Stellenbosch gaan voortsit.
Die verbintenis met Volksblad het in sy finale B. Juris-jaar begin. Hy wou korrespondent vir Philippolis word, maar daar is gesê hy is te jonk. Sy pa (en naamgenoot), toe skoolhoof, het die pos gekry, maar van dag een af (in 1994) het jong Jens die werk gedoen.
Sy eerste berig vir Bonus het op 4 Desember 1999 verskyn en het ge handel oor 'n gasteplaas by Piketberg.
Sy mediaverbintenis het intussen uitgebrei om Weg , Beeld , De Kat, Die Burger en die Londense tydskrif Quint essential in te sluit.
Op 26-jarige leeftyd was Friis se buitelandse reise beperk tot Namibië, maar sedertdien het die meetsnoere reisgewys vir hom in lieflike plekke geval.
Hy het nie net 'n geoefende oog vir winskoop-aanbiedings buite seisoen ontwikkel nie, maar reis ook graag saam met 'n vriend, want dubbelkamers is goedkoper.
Hy kon groot dele van Noord-Amerika deurkruis omdat hy in Kanada gestudeer het en in Europa was daar die voordeel van verniet bly by familie en sy broer, Nico, eers in Frankfurt en München en later in Londen.
Nog net een keer het hy 'n gratis vliegkaartjie ge kry toe hy 'n fotoartikel vir De Kat in Borneo moes gaan doen. Hier oor sê hy: "Gelukkig kan foto's nie lieg nie, want dit moet moeilik wees om objektief te bly as jy geborg word."
Hy meen in Amerika en Engeland mag daar enkele glamorous travel writers wees wat oral verniet kan vlieg, maar in Suid-Afrika gebeur dit nou nie juis nie.
Friis was al op al die kontinente, uitgesluit Australië. Onder die moets waarheen hy wil terugkeer, is die Guggenheim-kunsmuseum in New York, Montreal, die Nasionale Park Sehlabathebe in Lesotho, Amsterdam, die Teatro Colón in Buenos Aires en die Place des Vosges in Parys.
Hy hou van groter plekke wat die nodige mengelmoes van kultuur, argitektuur, daguitstappies, mooi mense en 'n naglewe bied. Hy sou dus graag 'n draai wou maak in Rio en Tokio. Ná 'n onlangse besoek aan Argentinië en Chili (en vroeër aan Borneo) wonder hy waarom ons so graag na duur Eerstewêreldlande reis.
"Dis net soveel minder uitputtend as die wisselkoers so goed is dat jy sonder om te blik of te bloos in 'n taxi kan spring (nie 'n moltrein of bus nie), aan die plaaslikecuisine kan smul in ordentlike restaurante (nie McDonalds nie), geskenke kan koop en na 'n opera kan gaan kyk."
Hy erken hy bestee waarskynlik te veel geld op reis, maar is ongetroud en beskou sy ondervinding as 'n "belegging". Hy sê iemand het eenmaal tereg opgemerk dat hy reis om dieselfde rede as om te studeer -- om nuwe dinge te beleef. Vir hom is dit 'n seën om vreemde kulture te ervaar, daaroor te skryf en dit sodoende te herbeleef.
Friis het benewens sy skryfwerk verskeie ysters in die vuur. Namens die Motheo-kollege gee hy klasse in basiese rekenaarvaardigheid in sy tuisdorp, hy is die redakteur van die Philippolis Pos(t) , 'n kontreikoerant, en medebestuurder van die Groenhuis-gastehuis. Laasgenoemde is vroeër vanjaar deur House&Leisure aangewys as een van dié tydskrif se 20 topplekke om oor te bly.
Hy weet nie waarheen hy volgende die pad gaan vat nie. "Dalk na Nico in Londen, of na SleeswykHolstein waar ons voorvaders vandaan kom. Dan is daar ook die moontlikheid van 'n viertrekreis na Angola en Botswana. Ek sal maar sien waarheen my voorliefde my lei."