As ek reg onthou, is dit Etienne van Heerden wat eens opgemerk het "dat daar iets heel besonders met 'n stad gebeur wanneer dit water ontmoet. Kyk maar hoe Amsterdam, Venesië, San Francisco, selfs kleine Lugano of ons eie Kaapstad met water omgaan".
En so is dit ook met die Chileense stad Puerto Montt en sy onmiddellike omgewing. Was dit nie vir sy waters nie, was daar veel minder om oor huis toe te skryf.
Helaas het my kuier in dié stad op 'n vals noot afgeskop. Reën het op die swart teerpad neergeplets toe ons Puerto Montt binnery. Dit was herfs, maar reeds winter. Die wêreld was plasnat, grou en ys-yskoud.
In die hotel wou die Queen Annestofie skaars smeul, en die stapel komberse op die bed was só swaar dat my voet (en nie ek nie!) geslaap het.
Reeds in Suid-Afrika het ek 'n pamflet oor Puerto Montt gesien. Daarin is beloof dat dit nie om dowe neute is dat toeriste 'n dag of vier vir Puerto Montt opsysit nie. Daar is glo meer te doen as wat 'n vakansie dae het - gaan kyk na 'n gletser of fjord; vang vis; vaar op 'n skip na die koue suide; ry te perd dwarsoor 'n eiland; stap na 'n vulkaan, spring in 'n waterpoel . . .
Maar onder die berg komberse op my koue katel wou-wou die pamfletliefde oor Puerto Montt verwelk. Teen 07:00 word ek wakker en merk dat die oggend flou breek. Van 'n goeie nagrus en die gepaardgaande daglus is daar nie sprake nie. Daarom sluimer ek verder totdat die geraas van 'n gordyn my wakker maak.
"Aitsa!" sê my vriend bly, en wys na die kamervenster waardeur 'n helder plas son val.
En só begin 'n druk dag waar die Puerto Montt-pamflet se papierbeloftes die een na die ander realiseer.
Puerto Montt, die hoofstad van die Región X-provinsie, oftewel Los Lagos, is 1 106 km suid van Santiago. As hawe vir bote na die Verre-Suide en kern van die salmboerdery is dit 'n moderne stad wat die vinnigste groei in Chile.
Oor sy stadstatus was ek verbaas, want Puerto Montt herinner eerder aan 'n groot dorp. Jy misgis jou egter weens die groot erwe en weinig hoë geboue (weens aardbewings). Puerto Montt met sy 100 000 inwoners ís groot in Chileense terme en talle lande het selfs konsulate hier.
Dis in 1853 gestig as deel van die Duitse kolonialisering van die gebied. Onder die inheemse Mapuche-gemeenskap was dit bekend as Melipulli wat "vier heuwels" beteken.
Hierdie heuwels bied 'n goeie blik op die dorp. Op een staan die dorp se campanario (kloktoring). Dóér onder is die Iglesia de los Jesuitas. Dié kerk met sy pragblou koepel dateer van 1872 en is een van die oudste geboue.
'n Klipgooi verder is die Plaza de Armas, die sentrale plein, met sy inligtingskiosk. Kry dorpskaarte hier.
Sowat 2 km wes langs Avenido Diego Portales is die vissersdorpie Angelmó. Hierdie eenvoudige waterfront bied dosyne bekostigbare restaurantjies en kunshand werkstalletjies.
Ek koop 'n geweefde alpakka-serp en twee houtornamente.
Met gidsboek, kamera en sambreel stap ons verby restaurante waar verveelde eienaars ons na hul knus eetplekkies probeer lok. Gewoonlik is Angelmó dié plek vir uitstekende en bekostigbare seekosmiddagetes.
Ons sit aan by 'n restaurant met plek vir net twee tafels. Die grys mika-blaaie herinner aan marmer, en die vleis van die suigmossels wat ons bestel proe - en lyk - soos kreef. Dié gereg noem hulle picoroco al vapor. Hiermee word té blanco (witwyn) bedien, hoewel die restaurante nie gelisensieerd is nie.
'n Sigbare bewys van die ontbosting van die gebied, is dat 'n enorme berg hout weekliks na Japan verskeep word uit die Angelmó-hawe. Die wet van vraag en aanbod weeg swaarder as bewaringsoorwegings.
Uit dié hawe met die mosblou water klief daar ook gereeld skuite na Isla Tenglo, 'n gewilde piekniekplek met 'n 360° panorama van sy piek. Dié beboste eiland is 'n halfuur ver.
Wes van Puerto Montt is Chinqulhue, Calbuco, Carelmapu . . . skilderagtige vissersdorpies wat ingeryg lê soos die oesters op hul seebodem.
Ons wou na Puerto Natales vaar, deur seekanale waar waters klots teen beboste kranse, verby ravyne en watervalle 'n armlengte ver. "Dis een van die móét vaarte ter wêreld," skryf ons reisgids.
Teen sowat R1 741 kry jy etes en 'n bed (bring jou eie slaapsak) in 'n 24-slaapsaalkajuit. 'n Private kajuit met seeuitsig kos R9 875 . Navimag se Magallanes vertrek Donderdae om 16:00, maar dï t kan vertraag (of selfs vervroeg) word weens gure weer.
Weens die gewildheid van die vaarte kon ons nie kaartjies kry nie. Selfs die moontlikheid van kansellasies was skraal. "Daar's 'n ellelange waglys," het die verkoopsvrou verduidelik. So moes ons toe maar die 1 460 km na Puerto Natales vlieg.
Dit was 'n jammerte, maar die voordeel was dat dit veel goedkoper (R886 retoer) én gouer was as die drie en 'n half dae per boot. Nietemin sal ek 'n volgende keer seker maak van 'n bootkaartjie.
Ons was toevallig by die hawe toe die Magallanes uit Puerto Natales anker gooi in Puerto Montt. Daar was die klotsende water teen dié vragskip, die gekraak van die kruier se bagasiewa, mense wat lag, fragmente van gesprekke. "Nooit weer nie! Die beeste in die skeepskratte het onophouelik gemoe," het 'n passasier gesê. "En buiten video's kyk en suip is daar niks te doen op daai skuit nie." 'n Ander was in vervoering. "You only live once, but if you work it right, once is enough. This cruise is a must."
* Vervoerverbindings na Puerto Montt is goed. Daar is gereelde boot-, bus- en vlugverbindings na ander Chileense stede, en selfs na plekke so ver as Buenos Aires. LanChile en Sky vlieg teen R633 retoer tussen Santiago en die El Tepual-lughawe (13 km noordwes van Puerto Montt). Per bus sal die rit van 13 uur sowat R82 kos.