- Jens Friis
EK is in New York. Dis kort voor Kersfees. Dit sneeu.
Van Brooklyn waar ek by ’n vriend tuisgaan, neem ek die metro tot by Central Sta- tion. Ek stap verby die NYC Public Library, die wolkekrabbers, die keurige winkels van Fifth Avenue – blok vir blok . . .
En só stap ek duskant sewe The Bar in. Dis feitlik nog leeg. Twee mans speel pool. ’n Derde blaai deur ’n scene-tydskrif: Wie weet wat wag dié aand in die Big Apple?
Laasgenoemde het ’n pragtige stel sterk, wit tande en dis met só ’n glimlag wat hy later my lewe binnetree.
Maar dit was veral sy vraag: “Waar is jy vandaan?” (uiteraard in Engels) wat gelei het tot ’n onverwagse blik op ons gedeelde menslikheid.
Toe hy van sý geboortegrond vertel, hang my mond oop, want dié is een van daai gevalle waar die toeval teatrale effekte bereik.
Van Katutura in Namibië is hy weg in die 80’s. ’n Studiebeurs het bevryding beloof.
Hy wou wegkom, want hy had g’n sin in die oorlog nie.
Maar nog belangriker: Engeland en later Amerika se horisonne was wyer as die Namib s’n.
Toe politiek g’n kwessie meer was nie, was sy seksualiteit steeds.
“Namibië het my ’n dubbele streep getrek,” verklaar hy.
“Dis soos Antjie Krog sê: ‘Kleur kom nooit alleen nie.’ ”
Ná ’n kwarteeu is hy steeds vlot in Afrikaans en het ’n verbysterende kennis van Krog en Kie.
Tog voel ek ongemaklik om in Die Taal met hom hiér te gesels. Dis weens mý mense wat hy weg is uit Afrika.
Maar mettertyd troos dit om te hoor dat dit weens sý bloed is dat hy nie terug is na vaderlandsgrond nie.
Twee maal het hy gaan kuier.
Die laaste keer het hy vir sy pa gesê daar sal nie kindskinders wees nie. Maar dié wou niks weet nie.
“Hulle sê: Tyd heel wonde. Maar soms, gaan die lewe nié aan nie.”
Sy pa is intussen dood. Sy ma leef nog – alleen en oud in Katutura.
Hy stuur dollars, maar gaan kuier nie.
Die jare wég het hulle uitmekaar gedwing.
Feitlik korrek haal hy aan uit Breyten Breytenbach:
mammie
ek het gedog
as ek eendag huis toe kom
sal dit onverwags so teen skemerdag wees
met jare se opgegaarde rykdom
op rûe van ysterkoeie ...
“. . . maar ek droom nie meer van teruggaan nie,” sê hy met ’n sug.
“Dit sal nie gebeur nie, want ek sal dáár meer alleen wees as hiér.”
Die Afrikaan (Amerikaan?) gee ’n teug aan sy Budweiser-bier.
Buite verander die rooi na groen.
’n Hele stroom geel taxi’s trek weg.
Weens jare se worsteling vertel hy sy verhaal rasioneel, maar nou dat daar vir die eerste keer stilte is, aarsel die weemoed vlak.
Wat kan ek tog sê om die seer minder te maak?
In die ou Johannesburgse stasie het ’n teël eens gelees: “Wees uzelf” sei ik tot iemand, maar hij kon niet: hij was niemand.
Dié Namibiër het nie iets anders probeer wees nie.
Hy’s net nooit gegun om homself te wees nie.
En dít is sekerlik een van die aller ergste erge.
“Maar wat help dit tog om jou verlede te blameer?” sê hy dan met ’n gelatenheid wat soms volg weens ’n veelbewoë lewe.
“Selde is iets nét swart of wit. En aan baie is min te verander. Dan is dit dalk die beste om bloot godswater oor godsakker te laat loop.
“Nou dat ek my lot aanvaar het, is ek die gelukkigste nog.
“En soms as ek erg verlang, kyk ek óp. Dis darem ’n troos dat dieselfde son skyn oor my ma in Katutura.”
Toe ek ná die vakansie tuis kom, trek ek my Breytenbach-bundel nader en lees die onderstaande strofe raak.
Dankbaar oor ’n nuutgevonde vriend tik ek dit toe óór en laat die woorde per e-pos vlieg van Afrika na Amerika:
Mag die bome groen bly
en die sterre wit,
en mag daar altyd mense wees
wat mekaar sonder skaamte
in die oë kan kyk –
want die lewe is ’n asem lank
en die sterre op die Anderplek donker.