Thursday, May 8, 2008

Kry groot vrede op Rhodes

DIS ’n genade Paasnaweek het met volmaan saamgeval, want op Rhodes word dit stiknagdonker. Hier is nie straatligte nie en tot onlangs het die meeste huise ook g’n Eskom-krag gehad nie. ’n Voordeel daarvan is die sterre blink buitengewoon helder bokant dié Oos-Kaapse bergdorpie wat bewaringstatus geniet. JENS FRIIS vertel meer.

RHODES se naam pryk gereeld met rede op lyste soos “The Ten Most Picturesque Villages in South Africa”, maar méér kry jy selde daarvan te lees.
My indruk van dié nedersetting was gevolglik verkeerdelik dié van ’n nedersetting op ’n bergkruin waar tien huisies saamkoek rondom die dorpshotel.
Dié aanname het twee foute. Rhodes word in ’n pragvallei omarm deur die Bellrivier. En dan is daar darem ook minstens 50 huise.
Tog word weinig hiervan permanent bewoon. Die meeste is vakansiehuise waar gloeilampe (of dan kerse) slegs brand met highdays en holidays – soos tydens vakansies en langnaweke.
Dan sien jy voertuie van so ver as ND (sewe uur), GP (agt uur) en CA (tien uur). Skielik groei die blanke bevolking van slegs 17 permanente inwoners tot meer as 150.
Maar selfs dan bars die vreedsame Rhodes nie uit sy nate nie.
Wat wel oor dié langnaweke verskil, is dat die gewilde dorpskroeg drukker besoek word en dat die kasregister by buiteverkope klingel.
Só sien ons hoe ’n vrou herhaaldelik ’n kruiwa verby ons tuisgaanhuisie stoot. Haar kruiwa is boordensvol bottels bier en op haar kop balanseer sy vaardig nóg ’n six pack.
Maar dis nie slegs dié sjebienbaas wat geld maak oor langnaweke nie. Ook die plaaslike NG kerk het Paasnaweek gehoop toeriste sal hul sakke kom skud op hul eg plattelandse basaar met van ’n poeding- tot vleistafel.
’n Rede vir Rhodes se ontstaan was dat ’n kerk hier gebou is, maar vir jare reeds woon hier nie meer ’n NG herder nie. Barkly-Oos se leraar durf een keer per maand die grondpaadjie na Rhodes aan om ’n diens te kom lei. So gebeur dit dat daar byvoorbeeld tydens vanjaar se Paassondag geen kerkdiens was nie, maar wel een op 30 Maart. Op dié rusdag kan daar nie laat geslaap word nie, want die diens begin al 07:45 sodat dominee kan preek en dan koers kan kry na Barkly.
Dié verbindingspad is deur die jare glo al baie verbeter en is heel rybaar met ’n gewone motor. Tog vat die 60 km-grondpad byna 60 minute weens al sy haarnaalddraaie.
Daar is inwoners wat hoop dat dit eendag geteer gaan word, want dit sal Rhodes toegankliker maak en meer toeriste bring.
Maar ander maan daarteen, want Rhodes sal hierdeur ’n groot lokaas verloor, naamlik sy afgesonderdheid. Hulle glo ook dit sal misdadigers na hul tuisdorp trek, want skelms sal op teer makliker kan verkas.
Dít sal ’n jammerte wees, want Rhodes is seersekerlik een van die veiligste plekke in ons bloeddorstige vaderland.
Toe ons Paasvrydag die dorpie inry, staan die deure van ons tuisgaanhuisie wawyd oop. Die eienaar, ’n boervrou, het dit vir ons oopgelaat, want sy was onseker wanneer ons sal aanland.
En so is daar nog menige ander bewys van die rus en vrede wat jy in hierdie vallei vind.
Daar word vertel ’n fiets is eens van die drankwinkelbaas gesteel. Weens dié misdaad het die eienaar sy onderneming gesluit. Dit sou eers heropen as die fiets terug was. Die volgende dag het nie minder nie as drie fietse op sy voorstoep gewag!
Maar op Rhodes word darem nie nét gesuip nie. Weens sy ligging is dit ’n gewilde ekotoerisme-bestemming. Forel-hengelaars, stappers, motorfietsryers en bergklimmers stroom hierheen. En dan is dit ook een van dié plekke om te ski in Suid-Afrika.
Die Tiffendell-ski-oord word nou vergroot en dorpenaars hoop dit sal huispryse ’n ekstra hupstoot gee.
Oop erwe verkoop reeds vir R300 000 en huise oor ’n miljoen. Dis glad nie sleg vir ’n dorpie van Rhodes se grootte nie – des te meer as onthou word dat hier slegs drie gesinne in die begin van die jare tagtig gewoon het.
Huise kon toe letterlik vir ’n appel en ’n ei opgeraap word. Ja, as ’n mens maar in die toekoms kon insien!
Terloops, as jy besluit om oor ’n naweek ’n draai te maak op Rhodes is dit wys om vroegdag die pad te vat na jou tuisdorp. Die pad van Rhodes via Barkly-Oos en Lady Grey na Aliwal-Noord is gewoonlik heerlik stil, maar van Aliwal-Noord na Bloemfontein kan dit besig word weens verkeer uit die ou Transkei.