IS dit nie ironies nie dat algar vrede begeer, maar min mense juis dít nastreef wat vrede bring?
En só was dit ook toe die Noord-Kaapse dorp Strydenburg eens naam moes kry.
In 1892 het ’n NG gemeente tot stand gekom op die plaas Roodepan. Maar die toentertydse lidmate het skynbaar skoon vergeet van Job 22:21 wat leer: “Onderwerp jou aan God, dan sal jy in vrede leef, en so sal jy voorspoed hê”. Tot só ’n mate was daar ’n bakleiery dat die dorp “Strydenburg” (die plek van stryd) gedoop is. En soos dit nou maar met ’n bakleiery gaan, vergeet die partye mettertyd waaroor die “fight” rerig was.
Vra jy deesdae rond, kan die vriendelike Strydenburgers jou nie met sekerheid sê wáárom hul dorp só ’n onaangename naam gekry het nie.
’n Moontlikheid is dat daar tweespalt was oor die presiese plek waar die dorp tot stand moes kom. Dit word as rede aangevoer deur Richardson se Historic Sites of South Africa, asook deur Raper se gesaghebbende Dictionary of Southern African Place Names.
Maar Jonathan Deal se Timeless Karoo asook Xplore, die amptelike Satoer-reisgids, meen dit was weens onenigheid oor ’n naam vir die dorp. Die dorpsvaders het blykbaar talle name oorweeg, maar kon nie eensgesindheid daaroor bereik nie. Tydens die tertafellegging van name het iemand toe glo “Strydenburg” (spottenderwys?) voorgestel en dié naam is as laaste uitweg (en as versoenende gebaar?) aanvaar.
Wat ’n mens laat dink aan John F. Kennedy wat eens opgemerk het: “Twee partye se konsensus is nodig om vrede te bereik, maar net een hoef die eerste tree te gee.”
Maar helaas werk dit nie altyd so dat iemand die mindere wil wees nie, want die dorpsnaamvete was nog vars in die geheue toe van Strydenburg se hardekoejawels wéér koppe gestamp het.
Op 26 April 1897 het lidmate van die plaaslike NG gemeente besluit om weens dogma-redes weg te breek en die eerste Gereformeerde Kerk onder die Kruis in Suid-Afrika te vorm.
En binne 18 maande is die Gereformeerde Kruiskerk op 10 September 1898 in gebruik geneem.
Elke familie het sy eie bank kerk toe gebring en só het ’n tradisie ontstaan wat jare gehandhaaf is dat elke gesin sy eie sitplek had.
Dié kerk langs Liebenbergstraat is ’n nasionale gedenkwaardigheid, nes die Karoostyl-huisie langs Van Wykstraat 67, skryf Richardson.
Meerdere soortgelyke huisies het gelukkig deur die jare behoue gebly op hierdie dorp. ’n Grootse jammerte is egter dat ’n moderne NG kerk deesdae diens doen langs die hoofstraat.
Maar in teenstelling met Strydenburg se ryk, gevarieerde argitektuur is die landskap plat en monotoon.
In ’n onlangse onderhoud met Danila Liebenberg van Volksblad sê Etienne van Heerden dat die Karoo hom laat dink aan “weemoed, kaalte, toeverlaat en nederigheid”.
En dit sou ’n raak beskrywing vir Strydenburg kon wees.
“Weemoed” oor nóg ’n Karoo-dorpie wat nooit volle wasdom bereik het nie. “Kaalte” vra geen verdere omskrywing in die Karoo nie. Van “toeverlaat” het ek nog nooit gehoor nie, maar dat verlatenheid jou hier kan oorval, kan ek glo. (Terloops, “toeverlaat” beteken “wykplek” en “beskerming”, leer die Verklarende Afrikaanse Woordeboek.) En die natuur sorg dat jy “nederig” bly – die groot pan langs die dorp is meestal droog en kry net vlak souterige watertjies in reënjare.
Water is dus skaars. Dink net hoeveel rugbyspelers hulle al te pletter geval het op ’n klipperige veld met stryde teen ander dorpe.
Strydenburg is 55 km suidwes van Hopetown en 75 km noord-noordwes van Britstown. As jy die volgende keer die R12 vat van Kaapstad na Johannesburg via Kimberley, sal dit loon om ’n bietjie stadiger te ry deur die skrywer F.A. Venter se geboortedorp. Venter het ook ’n groot deel van sy lewe in die distrik gewoon.
Koop tydens ’n besoek ’n roomys by die kafee langs die grootpad aan die suidekant van die dorp. Hier is nie minder nie as drie vrieskaste propvol roomys – ’n aardigheid in die Karoo! Ja, dit kan inderaad hel warm word in Strydenburg – selfs al het die inwoners lank reeds die strydbyle begrawe oor hul dorp se omstrede naam.