- Jens Friis
AS Cannes en Nice nog skaars speldepuntstippels is, kan jy al die Îles de Lérins haarfyn uit ’n vliegtuigvenster eien.
Nie omdat die eilande, Île Ste Marguerite en Île Ste Honorat, groot is nie (dis kleiner as Robbeneiland), maar met hul kleed van bloekoms en denne is dit heeltemal anders as die dig beboude Franse Riviera.
Dis dus net ’n wonder dat dié eilande deur die jare ontsnap het aan ontwikkeling, want grond is só duur dat die aanloopbaan by Nice binne-in die Middellandse see gebou is.
In die naburige Cannes roskam fliekresensente nuwe uitreikings, maar op die Îles de Lérins gaan die lewe grootliks voort soos in die dae toe The Man in the Iron Mask hier aangehou is.
Hoewel dié eilandgroep wêrelde verwyder is van Cannes se roesemoes is dit nie ’n dagreis ver nie, maar eerder ’n sabbatsreis. Terloops, ’n sabbatsreis (Handelinge 1:12) is so ver as wat ’n Jood volgens die Joodse voorskrifte op ’n Sabbatdag kon reis, sowat 880 m.
Dié eilande is dus die ideale plek om vir ’n dag die druk van die Franse Riviera agter te laat en net te gaan niks doen.
Hier is só min mense dat jy moontlik ’n strandjie – of beter, ’n seegrot – vir jouself sal kan uitsnuffel. Kyk dan met genoegdoening hoe die lewe voortgaan in Cannes terwyl jy jou voosgestapte voete lawe in die deursigtige waters van die Mediterreense See. Bak in die son. Bekyk ’n rysmier wat manhaftig alleen ’n seewier probeer huis toe dra. Of swem saam met sebra-agtige vissies.
Die spyskaartjie van ons middagmaal het slegs bestaan uit ’n blokkie roquefort, rosyntjies en ’n rosé, want die enigste winkeltjie was dié dag toe.
Baie voetpaaie sny deur dié twee eilande. Veral op hul rûens is dit ruier en kan jy feitlik pal onder ’n blaredak stap. Tog is hier weinig grondbedekkers en herinner dit nogal aan die Weskus.
’n Omie vertel dat daar in dié eilandparadys ook geen slange is nie. Die ergste waarvoor jy moet uitkyk, is glo spinnekoppe.
Hy is deurtrek van rumatiek en begin gesels van sy stoep af toe ons verbystap.
Mense groet en gesels makliker as op die vasteland. Dalk is dit vanweë die afgeslotenheid van die eiland dat hier ’n soort samehorigheidsgevoel heers.
Ná die tyd was ek jammer ek het nie ’n foto van sy woonplek geneem nie, want dit sou ’n goeie kiekie gemaak het. Die grysaard het gesit in die skadu van ’n selonsroos agter ’n bedding roosmaryn. Agter hom was ’n opskuifvenster en langs hom ’n tenk wat broodnodige reënwater opvang. My hart het uitgegaan na sy rooivlerkspreeu wat gefrustreerd rondomtalie in ’n kou gevlieg het.
Die oubaas het al ’n skootjie of vier agter die rug gehad en die wyn was aan’t werk. Stadig, maar spraaksamig, het hy vertel van sy wêreld waar perde nie meer runnik nie, want die staat het die eiland bewaringstatus gegee. Lank gelede het hy ’n roomafskeier gehad, maar dié is weggepak omdat ook koeie nie meer hier mag wei nie. Sou hy wou, is die staat bereid om sy blyplek uit te koop.
Benewens ’n handvol vakansiehuisies, soos die oubaas s’n, is die geboue en ruïnes hier óf kloosters óf tronke.
Die bekendste tronkvoël was gewis The Man in the Iron Mask (bekend gemaak deur die roman van Alexandre Dumas). Dis skrikwekkend om die piepkleine selletjie te sien waarin dié ystermaskerman gekluister was vir ’n dekade in die laat 17de eeu.
’n Gids vertel dat die ystermaskerman moontlik die buite-egtelike broer van Lodewyk XIV kon wees.
Die kleiner Île Ste Honorat is vandag nog die tuiste van die Cisterciënsers. Dié monnike verwelkom jou by hul klooster en die vyf kleiner kerkies op die eiland.
Ook te sien is ’n toring uit die 11de eeu. Hierheen het die monnike gevlug tydens strooptogte deur die Sarasene. Só het hulle tydens opstootjies geseëvier en hul eie seggenskap behou.
En danksy die Franse regering se huidige bewaringsprojek sal Îles de Lérins hopelik altyd die idilliese rusoord bly wat jou ruimskoots beloon as jy ’n uitnodiging aanvaar vir ’n Sabbatsvaart daarheen. ) Koop bootkaartjies by die Gare Maritime (skakel 93 39 11 82) in Cannes se Vieux Port (ou hawe). Dis naby die Palais des Festivals waar die Palme d’Or-rolprentprys jaarliks toegeken word.
Daar is somersvaarte elke halfuur van 07:30 tot 19:00, en terugvaarte op die noenuur en dan uurliks van 15:00 tot 18:00.
Winters kos dit mooier beplanning. Vertrektye is slegs om 10:00, 11:00 en 14:00, en die terugkomslae is 12:00, 15:00, 16:00 en 17:00.