Thursday, August 14, 2008

Stuurmansfontein: Kliprondawels is volksboukundige juwele

- Jens Friis

CARNAVON. As die plaas Stuurmansfontein se besondere korbeelhuis nie so vrek ver van 'n grootpad was nie, sou sy beddens sweerlik elke aand vol bespreek gewees het.
Want dié nasionale gedenkwaardigheid, wat as gastehuis ingespan word, is een van die besonderste plekke waar ek nog ooit geslaap het.
Hou dus moed as jy die pad hierheen aandurf, want net voordat jy op moedverlore se vlakte tussen Carnavon en Williston gaan sit, lei 'n tweespoorpadjie oor 'n heuwel en lê Stuurmansfontein se oudopstal voor jou.
In die dae voor paaie en drade toe die Karoo se enigste grense die horison was en duisende springbokke op dié vlaktes gewei het, het trekboere dié wêreld hul woning gemaak.
Maar om huis op te slaan was nie maklik nie, want weens die Karoo se intense klimaat was hier vanmeleë geen groot bome nie en gevolglik was daar g'n timmerhout vir dakbalke nie.
Maar 'n boer maak 'n plan. En wat 'n plan was dit nie! Want na eeue staan dié settelaarwonings steeds stewig. En dít wil gedoen wees, want min dinge is bestand teen die Karoo se woeste westewinde en weer.
Oor wie die bouers van die opstalle was hang baie vraagtekens. Baie bronne wil dit hê dat die korbeelhuise op byvoorbeeld Stuurmansfontein, Schuinshoogte, Arbeidersfontein, Goraas en Droogeputs tussen 1825 en 1875 gebou is deur Khoi-arbeiders.
Hierdie koepelvormige hutte lyk soortgelyk aan dié langs die Middellandse See en in Groot Brittanje waar die Kelte dit al as skuilings gebruik het in 2000 v.C.
Daar word vermoed dat 'n Europese messelaar dié boukunskennis na Suid-Afrika gebring het.
Weens 'n gebrek aan timmerhout in die Karoo moes die hele huis uit klip gebou word. Die "sement" het bestaan uit 'n mengsel van kaf en grond. Dis met water gemeng en geknie totdat die regte tekstuur verkry is.
Die huisies was soms reghoekig, maar meestal rond.
Volgens die HAT het korbeelhuise (Engels: "corbelled houses") gewoonlik sirkelvormige mure wat tot op ongeveer 2 meter vertikaal is (dit kon tot 76 cm dik wees), maar daarna buig dit met verdrag na binne totdat dit by die bopunt bymekaarkom.
J.J. Oberholster skryf in Die Historiese Monumente van Suid-Afrika: "Die oorblywende opening word dan met 'n groot plat klip gesluit" as die weer onguur is. Dit sou afgehaal word as dit warm was, 'n vuur binne-in gemaak is of as dit eendag op 'n reëndag wel sou reën.
"Om die instandhouding (van die dak), sonder die oprigting van houtsteiers, te vergemaklik, is plat uit-stekende klippe op gerieflike hoogtes as trapplek gelaat." Só is die klippe wat uitgestaan het dan as 'n leer gebruik om tot bo-op die dak te klouter.
Dié iglo's van tot sewe meter in deursnee se vloere was later van perskepitte, maar aanvanklik het dit bestaan uit miershoopklei wat met osbloed gemeng is. Die boervroue sou dit poleer en met vet invryf totdat die spieëlgladde oppervlak rooibruin skitter.
Soos ook op Stuurmansfontein, is die deur van dié reuse byekorwe reg oorkant 'n venstertjie met 'n houtluik.
"Hierdie venstertjies is doelbewus klein en soms skuins in die muur gemaak sodat in die geval van 'n aanval deur Boesmans hulle nie maklik en direk met hul pyle in die rondawel kon inskiet nie."
Oorspronklik was daar nie hout om deure van te maak nie en die gespande velle van perde of beeste is glo voor die deuropeninge gehang.
In die mure sou nisse vir pakplek ingebou word en aan hake en drade sou biltong en ander huishoudelike goed gehang word.
Soos die landboupioniers vooruit boer sou hulle dan nóg kliprondawels aanbou.
Die meubels was toentertyd beperk tot 'n katel, tafel, 'n paar stoele, en 'n wakis vir klere.
Die Stuurmansfontein-korbeelhuis is sorgsaam gerestoureer, maar vir gaste is daar 'n paar ekstras aangebring soos 'n buite-stort en spoeltoilet.
Die res is so outentiek soos in die dae toe die eerste settelaars hier nes geskop het.
Stuurmansfontein se kliprondawel-opstal is 'n volksboukundige juweel. Jy mag dit nie verbygaan nie!
* Ry só na Stuurmansfontein: Die uitdraaipad na die plaas is 110 km vanaf Williston en 26 km van Carnarvon. Vanaf die uitdraai is Stuurmansfontein ongeveer 29 km verder langs 'n grondpad wat later 'n tweespoorpaadjie word. Bel mnr. Piet en Charmaine Botha by 082 221 7500 of skryf aan stuurmansfontein@telkomsa.net. Besprekings is noodsaaklik. Moenie Charmaine se aandetes misloop nie. Dit word spesiaal by die korbeelhuis in die middel van nêrens afgelewer.