- Jens Friis
HOE die dorp Amandelboom Williston geword het, is 'n lekker storie wat 'n paar wye esse deur die verlede gooi.
In Julie 1768 het Johan Abraham Nel en sy gesin met hul wa vanaf Stellenbosch tot by ‘n fontein langs die Sakrivier getrek. Johan se tweede seun is hier gebore en om dit te vier het hy ‘n amandelboom geplant.
Maar anders as in Numeri 17:8 waar geskryf staan "... daar was nie net botsels aan nie, daar was ook bloeisels en dit het selfs ryp amandels gedra", het die boom wat hy geplant het nooit 'n enkele vrug gedra nie!
Nietemin het dit flink gegroei en 'n groot skadukol gegooi - iets kosbaars in dié geweste van die Noord-Kaap.
Dis dan om dié rede dat eerwaarde J.H Lutz en F.W. Reinecke by Amandelboom kamp opgeslaan het in 1845.
Dié twee godsmanne van die Rynse Sendinggenootskap was daar op versoek van die sogenaamde Basters wie gevra het om leiding vir hul wel en weë.
Die Basters, afstammelinge van Europese trekboer-vaders en Khoi-moeders, het wes van die Kareeberg ‘n sukkelbestaan gevoer deur met hul vee van fontein tot fontein te trek. Ook by Amandelboom het hulle dikwels hul vee laat suip.
Hier het die Basters vir die sendelinge twee kliphuisies gebou met perske- en vyebome, skryf Leon Nell in The Great Karoo. 'n Kerk was ook nodig en dié het hulle uit riete gebou. 'n Besoekende sendeling het in 1848 dié kerkie beskryf as “a little plain house made from bushes, which were plastered with earth”.
Williston is sowat 540 km van Kaapstad en teen die 1860’s het blanke trekboere tot hier in die middel van die Hantam-Karoo getrek.
Spoedig hierna sou die Grondafbakeningswet van 1865 dit vir beide die Basters en Boere onmoontlik maak om hul nomadiese lewenswyse voort te sit. Luidens dié wet moes mense wat land beset het eienaarskap daarvan kon bewys, in ‘n posisie wees om aansoek te doen om eienaarskap, of die grond afstaan aan wie die regering dit ookal toeken. Dit het die Basters gedwing om noord te trek óór die Oranjerivier tot by die hedendaagse Rehoboth, 80 km suid van Windhoek.
Sestien jaar later, in 1881, het Amandelboom munisipale status verwerf.
Dít was die dae toe kol. Hampden Willis die koloniale sekretaris was en in 1919 is Amandelboom herdoop na ‘n verboë vorm van kol. Willis se van, naamlik Williston.
Dié naamsverandering was nie slegs te wyte aan Britse-imperialisme nie, maar ook omdat die oorspronklike amandelboom ‘n ontydige dood gesterf het.
Ds. S.H. Kühn, die N.G. herder, het geglo as die oog van die fontein groter gemaak word, sou meer water daaruit vloei. Daarom het hy dit met dinamiet probeer oopskiet. Maar al wat hy daardeur reggekry het was om die nabygeleë amandelboom weg te blaas.
Danksy ‘n reuse boomplantprojek van ‘n onderwyser in die 1930’s herinner Williston vandag nog aan ‘n oase.
Dalk die beste blik op dié dorp is vanaf twee heuwels wat uitkyk op die dorpsbegraafplaas. Op dié koppies sou kerkkore kom sing op veral Kersfees – vandaar die naam Singkoppe.
Gaan maak gerus ‘n draai in dié begraafplaas. Dis deel van die ongewone Grafsteenroete – die enigste van sy soort in die land.
Wat die grafstene besonders maak is die handgebeitelde tierlantyntjies en eienaardige spelwyses op die grafstene. Nulle is dikwels weggelaat en ‘n geboortedatum soos 183 beteken nie dat iemand kort ná Jesus op aarde was nie, maar wel dat sy in 1803 die eerste lewenslug ingeadem het.
Die meeste van dié kopstukke is in die 1800’s gemaak deur James Wright wat vanaf Stirling, Skotland, geëmigreer het.
Terloops, kaarte dui ‘n plekkie genaamd Stirling in die Williston-distrik aan, maar dié plaaswinkeldorpie bestaan lankal nie meer nie.
Die talentvolle James Wright en sy protegé, Cornelius de Waal, het honderde sandsteen-grafstene versier wat steeds staan in die dorpsbegraafplaas, soos ook op plase soos Oest, Koega en Dassieskloof.
Die Williston-distrik is deesdae bekend vir sy skaap- en karakoelbedryf. Groenvoer word ook verbou met water uit die Sakrivier. Die landerye word gevloed – nes Egiptiese boere langs die Nyl maak.
Plaasname soos Benoudsfontein, Potloer, Weggooikolk se Leegte, Hongerfontein en Verjaagsfontein vertel van ‘n oorlewingstryd in ‘n onvriendelike omgewing.
Maar moet jou nie hierdeur laat flous nie. Stop langs die pad: net dalk sien jy van dié wêreld se skaars plante soos hondeballas en oubok, of diere soos die rooi lewerik (Certhilauda burra) en oewerkonyn, Suid-Afrika se mees bedreigde soogdier.
‘n Besondere vonds was ‘n Anomocephalius africans wat in 1995 op die plaas Kruitfontein gevind is. Dié dier was ‘n reptiel en so groot soos ‘n skaap. Volgens kenners bied dit steun dat soogdiere in Suider-Afrika ontstaan het.
Moenie een van die korbeelhuisies verby gaan nie. Nee, dis nie ‘n “bordeelhuisie” nie. En ook nie ‘n “kondoomhuisie” soos een toeris dit verkeerdelik genoem het nie, hoewel dit ‘n besondere "dome" het. Dié boere-igloes se koepels is uit klip gebou omdat daar nie timmerhout vir dakbalke was nie
In die plaaslike museum is handevol boeke van die skrywer Mikro, dalk Williston se bekendste boorling. Hy is in 1903 op Van Reenensplaas gebore.
Nes die landskapskilder Pieter Naudé het ook sy skoondogter, Elmarie Naudé, ‘n holte vir haar voet in Williston gevind. By Die Vliëende Piering verkoop sy geverfde volstruiseierdoppe tot hoede. Dié winkel kan jy nie mis nie, want die eklektiese voorstoep is versier met aalwyne tot motorwieldoppe.
As jy Williston klaar verken het kan jy koers kies na een van sy grootliks onbekende buurdorpe soos Vanwyksvlei (207 km), Brandvlei (127 km) of Fraserburg (93 km).
Dis juis van Fraserburg wat Elna Marais, kuratrise van die Williston Museum, die volgende staaltjie vertel: Eendag lank, lank gelede het die Fraserburgers rugby kom speel in Williston. Fraserburg was ‘n kortkop voor, maar genadiglik vir die Willistoners kom daar toe ‘n trein verby. Die Fraserburgers wat nog nooit vantevore ‘n lokomotief gesien het nie was só verstom oor dié gedoente dat ‘n Williston-kind die rugbybal opgeraap het en tjoef-tjaf ‘n drie gaan druk het. Dit was in die dae toe ‘n drie slegs 3 punte getel het, maar dit was genoeg om Williston te laat wen!