Tuesday, December 27, 2011

Nie te mis in mid-Suid-Afrika

Hier is van die lekkerste lekkers wat JENS FRIIS bybly wat vanjaar in die weeklikse kolom Te Doen (Volksblad) verskyn het. As jy reken jy weet van iets wat in 2012 hier moet verskyn, skryf aan hom by jens.friis@volksblad.com.



EET HIER


* Salm, tuna en selfs kaviaar word elke tweede dag ingevlieg na die Kalahari Gateway-hotel op Kakamas om sushi te maak. “Dis voorwaar ‘n rariteit in die Kalahari!”, sê Aesja O’Callagahan van dié hotel langs Voortrekkerstraat. Dick Venter van die Kalahari Gateway-hotel het die eetplek begin omdat hy dol is oor sushi en Gerrie de Beer van Kaapstad bestuur dit. Self saki (ryswyn) word voorgesit. Onder die kleurvolle rolletjies tel salmrose, Kaliforniese rolletjies en “fashion sandwiches”. Vir diegene wat nie rou vis wil eet nie, is daar springbok carpaccio op die spyskaart. Loer by www.kalaharigateway.co.za of bel 054-431-0838.


* By The Horse & Mill in Colesberg kan jy aansit vir Karoo-tjoppies onder ‘n perdemeul wat gebou is in 1840. Dié meul is in 1891 op die plaas Sewefontein opgerig en in 1977 na die dorp verskuif. Beide die meul en die gebou waarin dit gehuisves word, is nasionale gedenkwaardighede. As jy van Bloemfontein Colesberg inry, is dié besondere restaurant aan jou regterkant in ‘n stil eenrigtingstraat parallel aan die hoofstraat. Daar is sitplek vir omtrent 90 mense as die solder en tuin bygetel word. Verlede Saterdagaand het vier van ons daar geëet. ‘n Rump-steak met kraakvars groenboontjies, geelwortels, skyfies en twee drankies het ‘n billike R110 elk uitgewerk. www.horseandmill.co.za


* Gaan eet by Picnic, ‘n restaurant by die Waterfront in Bloemfontein. Die prys is billik, die produkte vars, die kos geurig en jy kan oor die water uitkyk.


* ‘n Griekse filosoof het eens gesê dat dit ‘n belediging is vir beide die musikant en kok as musiek gespeel word terwyl jy eet, want jy kan nie aan een van die twee volle aandag gee nie. By die Maselspoort-restaurant buite Bloemfontein verskaf Marnie van Wyk egter sulke mooi agtergrond klaviermusiek dat dit beslis die spyse aanwakker. Bespreek vooraf vir ‘n Sondagmiddagmaal by 051-441-6050. Let ook op die foto’s van Maselspoort uit vervloeë dae wat in die restaurant hang.


* Deesdae ry ek nie Trompsburg verby sonder om ‘n brood by die Waterwielbakhuis langs Voortrekkerstraat te koop nie. Dis tuisgebak en kraakvars – nes hul beskuit.


* Vir liplekker tuisgemaakte (boere)kos, gaan na Ouma se Kombuis, 'n wegneemeetplek langs Barba's Cafe in Tweede Laan, Bloemfontein. My gunsteling is Lita Kotze se osstert (oxtail).


* Op die hoë stoep van Philippolis S’n langs Voortrekkerstraat, Philippolis, kan jy aansit by tafeltjies en afkyk hoe die wêreld verbygaan terwyl jy smul aan ‘n stuk sjokoladekoek, ‘n pienk melkskommel of ‘n geroosterde toebroodjie. Hul melkterte is goedkoop, maar hemels en ideaal om huis toe te vat. In dié tuisnywerheid-winkel kan jy ook snuffel deur allerhande tuisgemaakte goete uit dié geweste. Bel Marietjie Cilliers by 082-783-5824 of Angela Agenbag by 079-855-4818.


* Sit aan vir ontbyt of middagete in die huislike restaurant van Miguel Borge langs President Reitzstraat 67, Westdene, Bloemfontein. Op die spyskaart van Vida & Arte is onder meer tortillas, tappas en omelette. Miguel is van Suid-Amerika en in die kos tot die interieur word jy hieraan herinner. Die mure is ‘n passievolle rooi en van die skilderye wat te koop is herinner aan Buenos Aires. Die pragtige ou woning met sy houtvloere is ideaal vir klein partytjies en wynproe-geleenthede. Bel 071-896-2511.



BLY IN DIÉ HOTELLE


* Bly oor in Kimberley se Protea-hotel op die rand van die Groot Gat. Dié vierster hotel het 94 kamers. Weens sy sentrale ligging is dit ideaal om museums, oorlogsroetes en die opgeknapte myndorpie te besoek. Geniet laatmiddag ‘n skemerkelkie op die dek wat uitkyk oor die Groot Gat en die Noord-Kaapse hoofstad. Sien www.proteahotels.com/kimberley. Om te bespreek bel 0861-11-9000.


* Die patio van die Protea-hotel Willow Lake met 94 kamers bied gaste ‘n uitsig oor die Bloemfonteinse dieretuin – nie iets wat jy oral teëkom nie.


* Die hotel in die Golden Gate Nasionale Park is onlangs opgeknap teen miljoene rande.


* Van die De Stijl-hotel se restaurant is daar werklik ‘n onvergeetlike uitsig oor die Gariepdam, die grootste in Suid-Afrika.


* Die vyfster Maliba Lodge in Lesotho is aangewys as een van die beste hotelle ter wêreld deur die lesers van die gesaghebbende Britse reistydskrif Tatler. Die Lodge is geleë in die Tsehlanyane Nasionale Park wat bekend is vir sy pragtige uitsigte. Dit is sowat ‘n uur sy ry van Clarens. Kyk by www.maliba-lodge.com.



DOEN DÍT


* Die tierprojek wat die omgewingsbewaarder en rolprentmaker Johan Varty in 2000 buite Philippolis begin het, bied ‘n sonderlinge geleentheid om vanuit ‘n spesiaal omgeboude voertuig tot naby aan die loslopende tiere te kom. Sover bekend het Tiger Canyons die enigste wilde tierpopulasie in die wêreld. Daar is sowat 45 000 tiere wêreldwyd in aanhouding, maar slegs sowat 1 000 wilde tiere. Dit gaan voor die wind met die projek. Só is daar byvoorbeeld in 2009 twee werpsels tiertjies, altesaam sewe welpies, gebore. Drie van die tierwelpies, waaronder ‘n wit tier, is toe met die hand grootgemaak. http://www.jvbigcats.co.za/


* Onderbreek die sieldodende N1 en rek jou bene by die Kuilfontein-padstal langs die Springfontein-Suid-afrit. Jy sal nie die langwerpige gebou met die erfenisgroen-dak miskyk nie. Die Staplese maak die die lekkerste lam-en-ment-pasteie en moenie hul gebottelde produkte verbygaan nie. www.accommodationspringfontein.co.za.


* Ná uitgebreide herstel- en restourasiewerk het die Kimberleyse trem se wiele darem weer begin draai in 2011. Dit kos R10 per person om vanaf die Groot Gat tot by Tile Africa te ry. Die roete is sedert die sluiting van Bultfonteinweg verkort om die veiligheid van passasiers te verseker.


* By die Kambro-padstal tussen Britstown en Strydenburg kan jy ketties tot gemmerbier koop. Stop beslis hier by Gerhard en Wilma Strauss as jy weer in dié geweste is. Loer by www.kambroaccom.co.za.


* Pak 'n mandjie, gooi 'n kombers oop en eet jou trommeldik op die lowergroen gras van die tuin voor die Oliewenhuis Kunsmuseum in Bloemfontein. Mens kan net dink wat se voorreg dit moes wees vir politici om vroeër jare in dié Kaaps-Hollandse huis te kon woon. Toegang tot die tuin is mahala, maar as jy meer wil uitvind bel 051-447-9609.


* Pak die Naudé’s Nek Pas by Rhodes aan. Op ‘n helder dag kan jy van die kruin (2 260 m) tot by die Transkeise kus sien. Naude’s Nek is op die R396 na Maclear. Maar wees gewaarsku: dis ‘n smal, bedrieglike paadjie wat jy nie moet aanpak as dit gereën of gesneeu het nie. ‘n Viertrekvoertuig is aan te beveel. Laat genoeg tyd toe, want die donker kan jou andersins maklik hier vang.

Tuesday, November 22, 2011

Groenhuis Gastehuis, Philippolis - www.philippolis.co.za, tel. 051-773--73



ONDERWEG - Geboue wat jou sal bybly

Eersdaags gaan waarskynlik ook jy die langpad aandurf tussen die Kaapse kus en die Noorde. Onderbreek die tog deur by dié drie geboue van argitektoniese belang in mid-Suid-Afrika te stop, beveel JENS FRIIS aan.


GRAAFF-REINET: Die Reinet-huis (deesdae 'n museum) op Graaff-Reinet is só sorgsaam gerestoureer dat dit weinig anders lyk as in 1866. In 'n Panorama-tydskrif uit 1957 is geskyf die herstelwerk is as 'n "onpersoonlike, byna argeologiese projek" behartig. Niks is ontsien om die oorspronklike gebou tot in die fynste besonderhede te herskep nie.


Vandag is die Reinet-huis 'n juweel in dié geskiedkundige Karoo-dorp se bewaringskroon. Tog is dit eens so byna-byna gesloop. Teen 1947 was hierdie oudpastorie vervalle en die kerkraad wou dit vervang met 'n moderne woonstelblok (in die hart van die historiese dorpskern!). Gelukkig het bewaringsbewuste Graaff-Reinetters vasgeskop, en in 1950 is die huis tot 'n gedenkwaardigheid verklaar.


Nes die Drostdy, aan die ander punt van Pastoriestraat, is Reinethuis (1812) waarskynlik ontwerp deur die die Franse argitek Louis Michel Thibault.


Nie minder nie as 82 jaar lank is dit bewoon deur ds. Andrew Murray en sy seun, Charles. Ds. Charles was 'n kranige tuinier wat in die uitgestrekte pastorietuin bome, plante en blomme van oral geplant het. In 1870 het hy 'n swartakker-wingerdstok geplant wat die grootste ter wêreld sou word, met 'n rankwydte van 120 m!


Bekendes soos Robert Moffat en dr. David Livingstone het ook deur die jare hier aangedoen.


Ná die bou van 'n meer moderne pastorie in 1904 is die ou pastorie onder toesig van Ellen Murray, suster van Charles, in 'n koshuis omgeskep. In 1907 het sy die naam Reinet-huis daaraan gegee. ­



BLOEMFONTEIN: Die Tweetoringkerk in Bloemfontein dien die afgelope jaar of wat nie meer as aanbiddingsplek vir 'n gemeente nie, maar word gebruik as tuiste vir die Torings van Hoop-projek wat hulpbehoewendes in die Bloemfonteinse middestad ondersteun.


Dié kerk se geskiedenis strek ver terug. Dit was die inhuldigingsplek vir die laaste twee staatspresidente van die Republiek van die Oranje-Vrystaat, F.W. Reitz en M.T. Steyn, kort voordat die Vrystaat deel geword het van die Unie.


Vele bekendes is ook uit dié kerk begrawe, soos vader J.D. Kestell, genl. C.R. de Wet, press. J.H. Brand en einste M.T. Steyn, Emily Hobhouse, en ook die eerste drie staatspresidente van die Republiek - Nico Diederichs, Jim Fouché en C.R. Swart.


Dis reeds in 1963 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar en die eerste predikant was ook iemand met 'n bekende naam: Andrew Murray jr., wat toe maar 21 jaar oud was.


Die eerste kerk, die sogenaamde Ou kerk, is in 1852 ingewy en was op dieselfde erf as die Tweetoringkerk, toe nog aan die buitewyke van Bloemfontein.


Die Ou Kerk het ongepleister gebly, want die aangewese messelaar was blykbaar te lief vir die bottel gewees.


Omdat Bloemfontein flink gegroei het, moes 'n groter kerk gebou word - ook maar goed so, want teen 1870 was die Ou Kerk aan't intuimel. Dis uiteindelik in 1878 gesloop, en terwyl die nuwe kerk gebou is, is eredienste gehou in 'n pakhuis by Fichardts (oorkant die straat waar die Middestadsentrum nou is).


Die argitek William Bennett Hays se plan in die Middeleeuse Duitse styl met twee torings sou die gemeente 33 500 pond uit die sak jaag.


Dít was te dik vir 'n daalder, en daar is besluit op 'n afgewaterde ontwerp in die moderne Romeinse styl deur die argitek Richard Wocke. Die kerk sou 17 500 pond kos en sitplek bied vir 810 mense.


Op 10 Mei 1878 het pres. Brand die hoeksteen gelê. Sowat 6 000 mense het die inwydingseremonie op 7 Mei 1880 bygewoon.


Die nuwe kerk het sommer ver uitgetroon bo Bloemfontein se enkelverdieping-geboutjies.


In 1935 het die westelike toring inmekaar getuimel, waarna die ander toring om veiligheidsredes ook gesloop is.


Die argitek Gerard Moerdyk het gemeen die beste sou wees om 'n nuwe kerk te bou, maar dit het nie gebeur nie. Die twee torings is bloot herbou.


In 1952 is die preekstoel verwoes en die orrelpype beskadig toe boemelaars by die kerk ingebreek en 'n brand gestig het.


In die jare tagtig is die bekende Tweetoringkerk toe uiteindelik deeglik gerestoureer.


In die toringkamer is afgekom op 'n groot vonds van antieke nagmaalgerei en sestien Nederlandse Bybels uit die negentiende eeu.



WINBURG: Skaars ’n kilometer suid van Winburg swenk ’n pad suidwaarts uit die N1 na die Voortrekkermonument en die plaas Rietfontein.
Hier staan ’n eenvoudige, langwerpige kliphuisie waarin Marthinus Theunis Steyn, latere president van die ou Republiek van die Oranje-Vrystaat, op 2 Oktober 1857 gebore is.
Sy pa, Marthinus Steyn, het op die plaas Josephinesdal in die distrik Winburg geboer. Met die dood van sy vader moes hy na Swellendam gaan.
Daarom het hy veiligheidshalwe sy swanger vrou na sy swaer Theunis Cornelius Wessels van die plaas Rietfontein geneem.
“Dit was ’n onrustige tyd,” skryf Karel Schoeman in Boukunsskatte van die Vrystaat. “Die Eerste Sotho-Boereoorlog het die volgende jaar uitgebreek en Winburg was slegs ’n gehuggie baie naby aan die grens van Moshweshwe se gebied.”
En só is die toekomstige president toe in die huisie van sy oom gebore.
Terloops, M.T. Steyn was een van 11 kinders van wie 8 oorleef het.
Benewens sy geskiedkundige waarde is die woning ook van argitektoniese belang.
Dit neem ’n belangrike plek in die ontwikkeling van ons volksargitektuur in, skryf J.J. Oberholster in Die Historiese Monumente van Suid-Afrika.
Tydens die pioniersjare van die Vrystaat is gewoonlik met kleistene gebou, maar soms is klip ingespan. Dit was meer tydrowend, maar wel duursamer. Dit is dan ook ’n rede waarom die woonhuis op Rietfontein ná al die jare behoue gebly het.
“By die oprigting (van die huis) het die boer van die materiaal wat byderhand was, gebruik gemaak. Uit die nabygeleë rantjie het hy die klip vir die buitemure gehaal, uit die leegte die rooigrond vir die rou bakstene vir die binnemure, en uit die vlei die klei vir die vloere en die brandsolder, asook die riet vir die dak.”
By die deurdrumpels en voor die kaggels waar die kleivloer maklik kon uittrap, is perskepitte gelê.
Steyn se geboortehuis is verdeel in ’n slaapkamer, voorhuis en ’n kombuis. ’n Stal en kraal is later aangebou.
Die huis is in 1952 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar.
In 1978 het die provinsiale museumdiens dit met groot sorg gerestoureer om ’n goeie idee te gee van die woonkultuur van die vroeë Vrystaatse Republiek.
Die stal en kraal is verwyder, terwyl ’n bakoond aangebou is.
Sowat 100
m van dié opstal rus diegene wat eens die werf bewandel het in die plaaskerkhof.

Wednesday, September 14, 2011

Fiets Mauritius plat



Maak soos JENS FRIIS en verken dié subtropiese eiland in die Indiese Oseaan met ‘n fiets.

Die songeel blomme van ‘n onbekende boom lê soos konfetti om ons op die grond gestrooi. Dié boom bied weinig skuilte teen die vet druppels van ‘n subtropiese reënbui, maar minstens koel dit ons af.

Dis altyd drukkend in Mauritius, maar die eintlike rede waarom die sweet op ons voorkoppe pêrel is dat ons rondrits op fietse op dié eiland oos van Madagaskar.

Dié fietsryery wat ‘n gans ander kleur aan ons eilandvakansie sou gee het begin toe ons na die monument wat die Helderberg-vliegramp herdenk, wou gaan kyk. Ons wou ‘n taxi huur, maar die concierge, het gesê: “Nee, dis te naby om te ry. Maar tog te ver om te stap. Waarom ry julle nie met die hotel se fietse daarheen nie?”

Om hier fiets te ry is kinderspeletjies, want enigeen kan ‘n 15 km plat trap en dit is al ‘n kwart van die eiland se deursnee. Nes in Nederland is die afstande klein en veral die dele rondom die kuslyn van 177 km is plat. Dis in die middel waar die vulkaniese bergspitse verrys waaronder Pieter Both (825 m) wat vernoem is na ‘n Duitse goewerneur uit die 16de eeu. Bo-op tart ‘n rots die aarde se aantrekkingskrag. Solank dit nie aftuimel nie, is Mauritius honkiedorie, sê hulle.

Maar vir Pieter Both en sy maters kan jy genadiglik misry en net van ver bewonder.

Ons ry verby bougainvilleas en onderdeur hibiscus-bome en voordat ons dit verwag is ons by die Helderberg-monument.

Nooit ooit het ek in 1987 kon droom dat ek eendag hier sou staan nie. Dit was voor middagete op ‘n Saterdag terwyl Edwill van Aarde se Afrikaanse Treffers oor Radio Suid-Afrika uitgesaai is dat die program onderbreek is deur ‘n noodsein. En toe die stem wat iets gesê het soos: “Die Helderberg, ‘n vliegtuig van die Suid-Afrikaanse Lugdiens, word vermis. Dit was op pad van Taipei na Suid-Afrika”.

In die ure wat kom sou ons hoor dat al 160 mense aan boord dood is toe die vliegtuig ontplof het. Onwetend van hul lot, het familielede op die slagoffers gewag by Jan Smuts. Dis die grootste lugramp in die geskiedenis van die SAL, sou Riaan Cruywagen om agt op SAUK-nuus berig.

In die jare wat kom sou ons leer dat onskuldige mense se lewens in gevaar gestel is deurdat ook wapens op dié vlug vervoer is.

Hoe kan enigeen só roekloos wees? Die oorledenes was meestal toeriste, net soos ek wat nou voor die kille marmermonument staan wat hom ontuis voordoen langs die skitterwit strand en kobalblou see.

Die monument is in ‘n goeie toestand, maar hier in die verre was daar skynbaar lanklaas ‘n familielid of vriend, want daar is geen teken van ‘n verdroogde krans.

Ek neem ‘n foto, ons staan nog ‘n bietjie rond en met die wegry neurie ek nugter weet waarom “Eiland van die son, Madagaskar” – iets wat Bles 24 jaar gelede op Edwill se program sou sing.

Op pad na Belle Mare, die naaste dorpie moet ons twee keer stop: eers sodat vyf kwaakers oor die pad kan stap en toe weer vir die prosessie van ‘n Hindu-troue met ‘n bruid in goud, geel en rooi geklee.

Nes in Suid-Afrika ry jy hier ook aan die linkerkant van die pad. Die paadjies is smal, maar die bestuurders is bedagsaam en elke keer wat hulle jou wil verbygaan word dit voorafgegaan deur ‘n kort toet.

Plaaslike inwoners ry selde fiets, maar indien wel is dit met mandjies en sakke wat oorvol is van kruideniersware of groente wat hul na die mark aanry. Vir hulle is fietsry ‘n manier van vervoer en nie ontspanning nie.

In Belle Mare koop ons bloekomboomheuning in die aller mooiste bottelgroen flessies, drink elkeen een van die gewilde Phoenix-bier, en eet gebraaide piesangs wat deurweek is met rum.

Dié rum word gemaak uit suikerriet, ‘n nalatenskap van die Hollanders wat die eiland by die Portugese afgevat het. Nes die Kaap van Goeie Hoop was Mauritius vir die Hollanders ‘n verversingspos onderweg na die Oos-Indiese eilande. Suikerriet is deesdae saam met toerisme en die tekstielbedryf die hoofvertakkings van Mauritius se ekonomie.

Op pad terug na die hotel, maak ons ons twee fietse staan teen ‘n palmboom – van ‘n slot en ketting om dit te sluit is daar nie sprake nie. Die enigste slang in die paradys is dat die gebreekte koraal op die strand nogal kaalvoete kan steek. En só hang ons toe rond in Belle Mare se seewater van sowat 25 C.

Was dit nie vir die fietsryery nie, sou ons nooit al dié dinge op een dag beleef het nie en boonop het ons werklik deel geword van ons ontdekkingstog van Mauritius. Dis net soveel beter as om agteroor te sit in ‘n kar wat jou rondkarwei.

FIETSRYRAAD

* Fietse (gewoonlik bergfietse) is te huur van baie hotelle, gastehuise en motorhuuragentskappe soos in Flic en Flac en Grand Baie. Dit sal jou sowat R25 per dag en ‘n deposito van R1250 kos wat jy kontant moet betaal of deurdat jy jou kredietkaartbesonderhede moet verskaf.

* Toets die ratte, remme en saal voordat jy dit huur.

* ‘n Resiesfiets is lekker vinnig op die teerpaaie, maar as jy die grondpaadjies en strande wil verken is ‘n bergfiets beter, want hoe dunner jou bande hoe vinniger sak jy weg.

* Hoewel die verkeer nie druk is nie (buiten in die hoofstad Port Louis) en die slaggate min, is dit wys om ‘n valhelm te dra.

* Moenie saans fietsry nie, die paaie is swak verlig.

* Hier en daar is ‘n opdraand, maar dan beloon die afdraand jou weer.

Oorslapie op Helmeringhausen nie te versmaai

DIT was Sint Johannes wat gesê het: "If a man wishes to be sure of the road he treads, he must close his eyes and walk.”

En dit was met sulke blindelingse geloof wat ons die pad gevat het na Helmeringhausen.


Van dié plekkie het ek niks geweet nie. Dit was bloot 'n naam op die kaart van Suid-Namibië. Maar na drie dae het ons genoeg gehad van Luderitz.


En só gebeur dit toe dat ons een middag laat op die koel stoep van die Helmeringhausen Hotel ons bene kan uitrek. Skuins oorkant ons staan 'n lappie lusern blou in die blom, sonryp perskes hang in die boord, 'n trop boerbokke word kraal toe aangejaag vir die aand. Dis 18:00 en bewolk, maar die kwik staan steeds op 32 grade.


"Ek ruik reën", sê die hotelvrou toe sy vir ons elkeen 'n Duitse bier neersit.


Sy verduidelik dat jy hier 'n sonderlinge versnit van Boere-Duitsers kry wat met swoeg en sweet die mas opkom in die boendoes. Heelparty praat nog daagliks Duits - selfs met hul kinders. En van die geboue herinner ook aan hul Duitse herkoms.


Die plaas Helmeringhausen (10 000 ha) het tot stand gekom tydens die Duitse koloniale era as 'n plaas vir die lede van die Schutztruppe en sou later bekend word vir die uitstekende karakoele wat hier geteel word.


Maar deesdae is Hotel Helmeringhausen die hartklop van dié nedersetting. Dis hier waar die omringende boere bymekaarkom om te kuier-eet oor gawe porsies of waar toeriste oorbly as hul kortpad kies van Keetmanshoop deur die Namib na Sossusvlei en uiteindelik Swakopmund.


Alles hier behoort aan die plaas Helmeringhausen. Daar is nie 'n stadsraad nie en al die infrastruktuur behalwe die enkele hoofstraat behoort alles aan Plaas Helmeringhausen.


Van 'n dorp kan jy dus nie praat nie en die gevoel hier op Helmering (soos die boere dit noem) is eerder plaas. Daar is immers langs die hoofstraat weinig meer as die hotel, boereverenigingsaal (soms ook kerksaal) en 'n laaibank vir vendusievee. Oorkant die straat is 'n vulstasie en algemene handelaar. Die handsentrale word nie meer gebruik nie.


As jy dus laatmiddag of vroegoggend voordat jy in die pad val 'n entjie gaan stap langs die hoofstraat tot by die Konkieprivier gaan jy waarskynlik nie 'n mens teëkom nie. Dalk net 'n boer in sy bakkie wat ver ente moet ry na sy ander plaas om te gaan kyk of alles wel is met sy dorpers, karakoele of beeskudde.


En wat jy nie sal verwag nie is dat hierdie ook die hiemat is van Dawid Minnaar, een van Suid-Afrika se bekendste akteurs.


In die dag of wat wat ons in Helmeringhausen was, sou ons besef: hier kan jy vashaak vir 'n wyle, want dis ongerep en eenvoudig - soos die sout van die aarde. As jy ooit in hierdie geweste kom, is 'n oorslapie in Helmeringhausen gewis nie te versmaai nie.


SOU JY GAAN


* Hotel Helmeringhausen (tel. +264-63-283307) het 22 dubbel en-suite kamers. Ontbyt en driegang aandetes word bedien in die restaurant en bedags word ligte etes bedien. Koue bier is ook altyd byderhand. Vir meer inligting loer by www.helmeringhausen.com.


* Helmeringhausen is sowat 200 km noordoos van Luderitz en 500 km suid van Windhoek by die kruising van die nasionale paaie C14 (Goageb-Walvisbaai) en C13 (Rosh Pinah-Helmeringhausen) en die D414 (Aus-Mariental).


* Stap- en wildbesigtigingstoere kan gereël word.


* Langs die hotel is 'n klein landboumuseum wat tot stand gebring is deur die plaaslike landbou-unie. Onder die interessanthede wat hier uitgestal word is waterboormasjiene en brandblussers van allerlei aard wat eens gebruik is. Toegang is gratis en die sleutel is te kry by die hotel.

Hanover

"Stedelinge ry deur die Karoo na ander stede toe, hou by dorpies stil om petrol in te gooi, koop 'n hamburger, gaan piepie, ry weer aan … en mis die hárt van ons land heeltemal. Wanneer iemand uit 'n stad my vra wat de vloek maak ek hier, weet ek klaar die persoon sal nie my antwoord verstaan nie," het skrywer Paul C. Venter aan rooirose gesê kort nadat hy hom op Hanover in die Noord-Kaap gevestig het. JENS FRIIS wat 'n voorliefde vir klein dorpies het, het op Hanover gaan kuier. Moenie volgende keer met die N1 hier verbyswiep nie, sê hy en doen twee handevol dinge aan die hand om hier te doen.


RYK GESKIEDENIS: As deel van die Graaff-Reinet-distrik vroeër jare moes die gebied waar Hanover vandag staan destyds tevrede wees met die vae geografiese naam Bo-Zeekoeirivier. Die gebied is in die 1820's deur die Britte beset en soos die boeregemeenskap gegroei het, het die behoefte aan 'n eie dorp met 'n eie identiteit toegeneem. In 1854 is die dorp gestig op die plaas Petrusvallei. Dit is genoem na Hannover in Duitsland van waar die voorouers van Gert Gouws, die eertydse eienaar van die plaas gekom het.


AS VAN WIEL: Hanover vorm die middelpunt van 'n boog bestaande uit Richmond, Middelburg en Colesberg (75 km). Maar dit lê ook halfweg tussen Johannesburg en Kaapstad, tussen Kaapstad en Durban, en tussen Port Elizabeth en Upington. Tot vandag toe is dit dus nog steeds 'n gewilde halfweghuis 720 km noordoos van Kaapstad op pad na Johannesburg. Vroeër jare het koetse met passasiers onderweg na die Diamantvelde hierdeur gery en die poskoets na Transvaal en die Oranje-Vrystaat het hier aangedoen. Maar in 1884 met die koms van treine het dit gaande weg stiller geraak in Hanover - 'n seën in sekere opsigte, want Hanover het deels behoue gebly soos in die 19de eeu.


STIL STRAATJIES: Stap deur die stofstrate en herleef 'n tipiese Karoo dorp uit 'n vergange era. Hier is 'n magdom huise uit die pioniersera. Hieronder tel wonings met boligte bokant die deure vir lig en lug, swaar kroonlyste en skuifraamvensters met hortjiesluike alkant. Feitlik al die huise is op die straat gebou met tuine agter - 'n vereiste van die kerkraad wat die dorp ná sy ontstaan bestuur het. Lae klipstoepe skei soms die huis van die straat. Toe verandas later mode was, moes huiseienaars ‘n oorskrydingstarief van een sjieling per jaar betaal.


KERK: In 1859 het Thomas Francois Burgers Hanover se eerste predikant geword. In dieselfde jaar is die eerste N.G. Kerk gebou wat in 1906 afgebreek en herbou is. Indrukwekkend is die reuse preekstoel deur Anton Anreith. Burgers sou in latere jare die president van die Zuid-Afrikaanse Republiek (Transvaal) word en op sy oudag terugkeer na die Karoo. Op die plaas De Dammen buite Hanover en later op Schanskraal het hy onder meer met volstruise geboer. Hy is op Richmond begrawe, maar is later na Zoetvlei verskuif en uiteindelik ter ruste gelê in Pretoria se ou begraafplaas.


VOëLBLIK: Klouter Trappieskoppie uit om die dorp van 'n ander hoek te sien. Dit was Charles Richard Beere, Hanover se eerste magistraat, wat die trappies in die 1870's teen dié koppie uit laat bou het met die hulp van bandiete. Beere wat lief was vir die Karoo en dié uitsig met ander wou deel het gereeld van hier kom kyk hoe die son verrys en sak. Ná sy dood in 1881 is 'n klipstapel bo-op die kop opgerig ter ere aan sy rol tot die ontwikkeling van die dorp. Dit was die einste Beere wat inwoners aangemoedig het om bome te plant sodat hul nageslag koelte in die Karoo kon hê.


SCHREINER-HUIS: Tussen 1900 en 1907 het Olive Schreiner op die hoek van Grace- en Nuwestraat gewoon saam met haar prokureursman, Samuel Cronwright-Schreiner. Dit was Anglo-Boereoorlog en Olive was uitsproke teen oorlogvoering. Daarom het die Britse regering haar bewegingsvryheid aan bande gelê, maar waarskynlik omdat sy ‘n bekende skrywer was en gesukkel het met asma kon sy feitlik kom en gaan soos sy wou en is sy selfs toegelaat om saans ‘n kers aan te steek.


KERKHOF: Die N1 sny die dorp en sy kerkhof in twee. Hier lê drie jong mans J.A. Nieuwoudt, J.P. Nienhaber en Sarel Nienhaber wat tot die einde volgehou het hulle is onskuldig, maar nietemin deur ‘n Britse vuurpeleton tereggestel is tydens die Anglo-Boereoorlog. ‘n Trein het ontspoor by Taaibosch, 20 km uit die dorp en dié drie is daarvoor verantwoordelik gehou. Die teendeel blyk egter uit “Die Oorlogsavonture van genl. Wynand Malan” deur H.J.C. Pieterse. Hierin erken die generaal dat sy kommando verantwoordelik was vir die ontsporing. Die drie jong mans was glad nie betrokke nie. Die Britte het hulle gestuur om voer vir hul perde bymekaar te maak toe die trein die spoor byster geraak het.


DARLINGSTRAAT 3: “Uit Hanover bring ek kappertjiesaad/Uit die tuin van nr. 3 Darlingstraat” het Lize Beekman eens geskryf oor dié gastehuis op Hanover en dis veral Laurika Rauch wat die liedjie bekend gemaak het. Gaan kyk bietjie waar die kappertjies groei.


ONDERGRONDSE WATER is goud werd in die Karoo en omtrent in elke agterplaas staan in ‘n windpomp. Hanover is geseën met ‘n sterk fontein, Die Oog, langs die pad na Middelburg. Leivoortjies wat in 1870 gebou is het die water vir jare na die erwe gelei, maar dié leivoornetwerk het in die afgelope jare erg verval. Nietemin is die erwe steeds geregtig op twee leibeurte per week nes die dorpsvaders vanmeleë bepaal het.


SEEKOEIE IN DIE KAROO: Seekoeie is een van die laaste goed wat jy te wagte is hier, maar op die plaas New Holme is selfs 'n seekoekalfie gebore - die eerste in meer as 230 jaar wat in die Karoo die lewenslig aanskou het. Die laaste seekoeie is hier rondom 1775 gejag. Die seekoeie is enkele jaar gelede uit die noorde van die land hierheen verskuif nadat hulle skade aan boorde aangerig het. Een is dood, maar die kalfie is 'n bewys dat hulle in die Karoo aangepas het.


* VOORDAT JY GAAN: Lees "In die mond van die wolf" van Paul C. Venter oor Karoo-mense se lief en leed.

Wednesday, September 7, 2011

Woordsmous Dana Snyman

Dana Snyman het aan JENS FRIIS vertel watter padkos hy verkies, waaroor sy nuwe boek gaan en dat hy sy alom bekende Valiant in Dar es Salaam vir 'n sendeling wil weggee.



JENS: As jy so gelukkig is dat iemand vir jou ‘n kosblik met padkos pak, wat sal jy hoop is daarin?


DANA: My oorlede oorlede ma het altyd vir ons padkos gemaak voor ons die pad iewers heen geneem het: toebroodjies, frikadelle en hardgekookte eiers. Later, toe ek uit die huis is, het sy steeds vir my padkos gemaak wanneer ek daar gekuier het en weer die pad terug na my eie plek gevat het. Ná haar dood, het my oorlede pa daarmee volgehou. Ry ek terug huis toe, is die Tuperware-bak met die padkos altyd daar. Dit sal altyd vir my padkos wees: toebroodjies, frikadelle en hardgekookte eiers.


Watter bestemmings in Suider-Afrika wil jy nog besoek? Waarom?


Een: Ek dink dit is ’n skande dat ek nog nie in die Fugard-teater in die Kaap was nie. Soontoe wil ek binnekort gaan.


En ter wêreld?


Ek droom nie juis veel oor verre lande nie. Maar ek sal nogal die Van Gogh-museum in Amsterdam wil besoek. Ek wil ook nog graag die Kongo-rivier sien.


Waarheen sal jy wil teruggaan?


Ry jy deur Zambië, verby Lusaka, kry jy ’n plekkie met die naam Kapiri Moshi. Daar draai ’n pad weg, in die rigting van Dar es Salaam. Dis ’n teerpad. Ek het dit al twee keer gery in ’n Weg-ryding, maar hierdie keer wil in my ou Valiant daar ry, wiegend Afrika in, met die vensters oop. Ek kan dit nie beskryf nie: Dit was elke keer nog vir my baie, wel, bevrydend om daar te ry. Ek wil met my Valiant tot in Dar es Salaam ry en dit daar vir ’n sendeling of iemand persent gee as my bedrae tot die Afrika Rennaisance. Dan wil terug vlieg Kaap toe.


Waar het jy nog die koudste ooit geslaap?


Een nag in my bakkie in die Richtersveld – die nag toe ek uitgevind het daardie storie oor Old Brown Sherry wat jou in die winter kwansius warm hou, is nie waar nie.


Vir watter publikasies skryf jy deesdae?


Ek skryf ’n weeklikse rubriek vir Die Burger, Beeld en Die Volksblad. Ek skryf ook elke tweede week ’n artikel vir By, wat in bogenoemde koerante verskyn. Ek wil ook baie graag weer vir Weg werk, my tyd was net bietjie beperk in die laaste ruk.


Gaan jy ooit met vakansie sonder om te dink ‘n boek/berig/rubriek … kan daaruit voortvloei?


Helaas nie. Ek kan nie regtig meer ’n onderskeid tref tussen my skryflewe en my, wel, gewone lewe nie.


Is jy nog soveel op pad as in die dae toe jy by Huisgenoot/Weg was?


Nee. En dis goed so. Dit is vir my lekker om vir lang rukkie by my huis op Jacobsbaai te wees.


Waarom het jy huis opgeslaan by Jacobsbaai?


Ek kan in alle eerlikheid sê Jacobsbaai is my gunsteling-plek op aarde. Ek voel bevoorreg om hier te kan woon. Dit mag dalk soetsappig klink, maar baie oggende stap ek met ’n beker koffie in my hand saam met my honde af see toe, en sê vir die Liewenheer dankie dat ek hier kan wees. Ek is geseënd.


As jy weg van die huis is en jy hoor jou huis is aan die brand -watter drie goed moet die bure vir jou red?


My drie honde: Jerry, Kleintjie en Vlooi. Dis nou as hulle nie by my is nie.


Wanneer kom jou nuwe boek uit en waaroor gaan dit?


Die boek se naam is Hiervandaan. In ’n sekere sin is dit die eerste propperse boek wat ek skryf. Dit is ’n soort reisvertelling. Ek begin op die plaas naby Franschhoek waar die Snyman-familie vandaan kom, en eindig by die Geloftekerk in Pietermaritzburg waar my oupa-oupa-grootjie se broek in die museum hang. Ek bekyk die land op my manier en probeer antwoorde vir goed kry wat my pla.


Wat maak ‘n goeie reisartikel?


Dis ‘n moeilike een: Die woorde moet jou saamsleep van die eerste tot die laaste paragraaf.


Wou jy al ooit ‘n roman / riller / … skryf (iets anders as oorwegends travel writing)?


Ja. Ek hoop nie dit klink voorbarig nie, maar ek wil nog ‘n roman aanpak. En ‘n drama.


Wat sal jy jou beroep noem?


Woordsmous.


Het jy ‘n webblad/blog?


Ja, maar dit is nog nie geaktiveer nie. Baie gawe mense van Upington het dit twee jaar gelede reeds vir my ‘gebou’, maar ek kom nie so ver om die laaste inligting vir hulle te stuur nie. Ek het nie soveel geesdrif vir blogs en Facebook en Twitter as wat ek seker behoort te hê nie.


Watter boek lees jy tans?


Philip Roth se Everyman. Ook die kortverhale van Isaac Babel.


Watter CD is in jou kar?


Daar is ‘n klomp. Op die oomblik luister ek baie na Piet Botha, en ook Elvis se gospel-musiek.


Wat is mooiste drie plekname vir jou?


Lusikisiki, Dwaal en Jaagvlakte


Na watter hotel / gastehuis keer jy keer op keer terug?


Die Witput Country Lodge, naby Hopetown. Ek sal ook graag weer ‘n aand in die Beach Hotel op Swakopmund wil slaap. Die eerste keer toe ek in die Witput Lodge geslaap het, het ek diep in die nag wakker geskrik van ‘n vreemde lawaai – en gedink dis die einde van die wêreld. Gelukkig was dit toe net die Trans Karoo-trein wat op die spoorlyn reg langs die lodge verby is.


Wat laat jou frons wat baie vakansiegangers doen?


Oral in die land is deesdae mos sogenaamde stop-en-go’s – daardie plekke waar jy moet stilhou en wag waar daar padwerke is. Dit maak my woedend om al die rommel te sien wat die mense daar by hulle rygoed se vensters uitgooi.