Wednesday, September 14, 2011
Fiets Mauritius plat
Oorslapie op Helmeringhausen nie te versmaai
En dit was met sulke blindelingse geloof wat ons die pad gevat het na Helmeringhausen.
Van dié plekkie het ek niks geweet nie. Dit was bloot 'n naam op die kaart van Suid-Namibië. Maar na drie dae het ons genoeg gehad van Luderitz.
En só gebeur dit toe dat ons een middag laat op die koel stoep van die Helmeringhausen Hotel ons bene kan uitrek. Skuins oorkant ons staan 'n lappie lusern blou in die blom, sonryp perskes hang in die boord, 'n trop boerbokke word kraal toe aangejaag vir die aand. Dis 18:00 en bewolk, maar die kwik staan steeds op 32 grade.
"Ek ruik reën", sê die hotelvrou toe sy vir ons elkeen 'n Duitse bier neersit.
Sy verduidelik dat jy hier 'n sonderlinge versnit van Boere-Duitsers kry wat met swoeg en sweet die mas opkom in die boendoes. Heelparty praat nog daagliks Duits - selfs met hul kinders. En van die geboue herinner ook aan hul Duitse herkoms.
Die plaas Helmeringhausen (10 000 ha) het tot stand gekom tydens die Duitse koloniale era as 'n plaas vir die lede van die Schutztruppe en sou later bekend word vir die uitstekende karakoele wat hier geteel word.
Maar deesdae is Hotel Helmeringhausen die hartklop van dié nedersetting. Dis hier waar die omringende boere bymekaarkom om te kuier-eet oor gawe porsies of waar toeriste oorbly as hul kortpad kies van Keetmanshoop deur die Namib na Sossusvlei en uiteindelik Swakopmund.
Alles hier behoort aan die plaas Helmeringhausen. Daar is nie 'n stadsraad nie en al die infrastruktuur behalwe die enkele hoofstraat behoort alles aan Plaas Helmeringhausen.
Van 'n dorp kan jy dus nie praat nie en die gevoel hier op Helmering (soos die boere dit noem) is eerder plaas. Daar is immers langs die hoofstraat weinig meer as die hotel, boereverenigingsaal (soms ook kerksaal) en 'n laaibank vir vendusievee. Oorkant die straat is 'n vulstasie en algemene handelaar. Die handsentrale word nie meer gebruik nie.
As jy dus laatmiddag of vroegoggend voordat jy in die pad val 'n entjie gaan stap langs die hoofstraat tot by die Konkieprivier gaan jy waarskynlik nie 'n mens teëkom nie. Dalk net 'n boer in sy bakkie wat ver ente moet ry na sy ander plaas om te gaan kyk of alles wel is met sy dorpers, karakoele of beeskudde.
En wat jy nie sal verwag nie is dat hierdie ook die hiemat is van Dawid Minnaar, een van Suid-Afrika se bekendste akteurs.
In die dag of wat wat ons in Helmeringhausen was, sou ons besef: hier kan jy vashaak vir 'n wyle, want dis ongerep en eenvoudig - soos die sout van die aarde. As jy ooit in hierdie geweste kom, is 'n oorslapie in Helmeringhausen gewis nie te versmaai nie.
SOU JY GAAN
* Hotel Helmeringhausen (tel. +264-63-283307) het 22 dubbel en-suite kamers. Ontbyt en driegang aandetes word bedien in die restaurant en bedags word ligte etes bedien. Koue bier is ook altyd byderhand. Vir meer inligting loer by www.helmeringhausen.com.
* Helmeringhausen is sowat 200 km noordoos van Luderitz en 500 km suid van Windhoek by die kruising van die nasionale paaie C14 (Goageb-Walvisbaai) en C13 (Rosh Pinah-Helmeringhausen) en die D414 (Aus-Mariental).
* Stap- en wildbesigtigingstoere kan gereël word.
* Langs die hotel is 'n klein landboumuseum wat tot stand gebring is deur die plaaslike landbou-unie. Onder die interessanthede wat hier uitgestal word is waterboormasjiene en brandblussers van allerlei aard wat eens gebruik is. Toegang is gratis en die sleutel is te kry by die hotel.
Hanover
"Stedelinge ry deur die Karoo na ander stede toe, hou by dorpies stil om petrol in te gooi, koop 'n hamburger, gaan piepie, ry weer aan … en mis die hárt van ons land heeltemal. Wanneer iemand uit 'n stad my vra wat de vloek maak ek hier, weet ek klaar die persoon sal nie my antwoord verstaan nie," het skrywer Paul C. Venter aan rooirose gesê kort nadat hy hom op Hanover in die Noord-Kaap gevestig het. JENS FRIIS wat 'n voorliefde vir klein dorpies het, het op Hanover gaan kuier. Moenie volgende keer met die N1 hier verbyswiep nie, sê hy en doen twee handevol dinge aan die hand om hier te doen.
RYK GESKIEDENIS: As deel van die Graaff-Reinet-distrik vroeër jare moes die gebied waar Hanover vandag staan destyds tevrede wees met die vae geografiese naam Bo-Zeekoeirivier. Die gebied is in die 1820's deur die Britte beset en soos die boeregemeenskap gegroei het, het die behoefte aan 'n eie dorp met 'n eie identiteit toegeneem. In 1854 is die dorp gestig op die plaas Petrusvallei. Dit is genoem na Hannover in Duitsland van waar die voorouers van Gert Gouws, die eertydse eienaar van die plaas gekom het.
AS VAN WIEL: Hanover vorm die middelpunt van 'n boog bestaande uit Richmond, Middelburg en Colesberg (75 km). Maar dit lê ook halfweg tussen Johannesburg en Kaapstad, tussen Kaapstad en Durban, en tussen Port Elizabeth en Upington. Tot vandag toe is dit dus nog steeds 'n gewilde halfweghuis 720 km noordoos van Kaapstad op pad na Johannesburg. Vroeër jare het koetse met passasiers onderweg na die Diamantvelde hierdeur gery en die poskoets na Transvaal en die Oranje-Vrystaat het hier aangedoen. Maar in 1884 met die koms van treine het dit gaande weg stiller geraak in Hanover - 'n seën in sekere opsigte, want Hanover het deels behoue gebly soos in die 19de eeu.
STIL STRAATJIES: Stap deur die stofstrate en herleef 'n tipiese Karoo dorp uit 'n vergange era. Hier is 'n magdom huise uit die pioniersera. Hieronder tel wonings met boligte bokant die deure vir lig en lug, swaar kroonlyste en skuifraamvensters met hortjiesluike alkant. Feitlik al die huise is op die straat gebou met tuine agter - 'n vereiste van die kerkraad wat die dorp ná sy ontstaan bestuur het. Lae klipstoepe skei soms die huis van die straat. Toe verandas later mode was, moes huiseienaars ‘n oorskrydingstarief van een sjieling per jaar betaal.
KERK: In 1859 het Thomas Francois Burgers Hanover se eerste predikant geword. In dieselfde jaar is die eerste N.G. Kerk gebou wat in 1906 afgebreek en herbou is. Indrukwekkend is die reuse preekstoel deur Anton Anreith. Burgers sou in latere jare die president van die Zuid-Afrikaanse Republiek (Transvaal) word en op sy oudag terugkeer na die Karoo. Op die plaas De Dammen buite Hanover en later op Schanskraal het hy onder meer met volstruise geboer. Hy is op Richmond begrawe, maar is later na Zoetvlei verskuif en uiteindelik ter ruste gelê in Pretoria se ou begraafplaas.
VOëLBLIK: Klouter Trappieskoppie uit om die dorp van 'n ander hoek te sien. Dit was Charles Richard Beere, Hanover se eerste magistraat, wat die trappies in die 1870's teen dié koppie uit laat bou het met die hulp van bandiete. Beere wat lief was vir die Karoo en dié uitsig met ander wou deel het gereeld van hier kom kyk hoe die son verrys en sak. Ná sy dood in 1881 is 'n klipstapel bo-op die kop opgerig ter ere aan sy rol tot die ontwikkeling van die dorp. Dit was die einste Beere wat inwoners aangemoedig het om bome te plant sodat hul nageslag koelte in die Karoo kon hê.
SCHREINER-HUIS: Tussen 1900 en 1907 het Olive Schreiner op die hoek van Grace- en Nuwestraat gewoon saam met haar prokureursman, Samuel Cronwright-Schreiner. Dit was Anglo-Boereoorlog en Olive was uitsproke teen oorlogvoering. Daarom het die Britse regering haar bewegingsvryheid aan bande gelê, maar waarskynlik omdat sy ‘n bekende skrywer was en gesukkel het met asma kon sy feitlik kom en gaan soos sy wou en is sy selfs toegelaat om saans ‘n kers aan te steek.
KERKHOF: Die N1 sny die dorp en sy kerkhof in twee. Hier lê drie jong mans J.A. Nieuwoudt, J.P. Nienhaber en Sarel Nienhaber wat tot die einde volgehou het hulle is onskuldig, maar nietemin deur ‘n Britse vuurpeleton tereggestel is tydens die Anglo-Boereoorlog. ‘n Trein het ontspoor by Taaibosch, 20 km uit die dorp en dié drie is daarvoor verantwoordelik gehou. Die teendeel blyk egter uit “Die Oorlogsavonture van genl. Wynand Malan” deur H.J.C. Pieterse. Hierin erken die generaal dat sy kommando verantwoordelik was vir die ontsporing. Die drie jong mans was glad nie betrokke nie. Die Britte het hulle gestuur om voer vir hul perde bymekaar te maak toe die trein die spoor byster geraak het.
DARLINGSTRAAT 3: “Uit Hanover bring ek kappertjiesaad/Uit die tuin van nr. 3 Darlingstraat” het Lize Beekman eens geskryf oor dié gastehuis op Hanover en dis veral Laurika Rauch wat die liedjie bekend gemaak het. Gaan kyk bietjie waar die kappertjies groei.
ONDERGRONDSE WATER is goud werd in die Karoo en omtrent in elke agterplaas staan in ‘n windpomp. Hanover is geseën met ‘n sterk fontein, Die Oog, langs die pad na Middelburg. Leivoortjies wat in 1870 gebou is het die water vir jare na die erwe gelei, maar dié leivoornetwerk het in die afgelope jare erg verval. Nietemin is die erwe steeds geregtig op twee leibeurte per week nes die dorpsvaders vanmeleë bepaal het.
SEEKOEIE IN DIE KAROO: Seekoeie is een van die laaste goed wat jy te wagte is hier, maar op die plaas New Holme is selfs 'n seekoekalfie gebore - die eerste in meer as 230 jaar wat in die Karoo die lewenslig aanskou het. Die laaste seekoeie is hier rondom 1775 gejag. Die seekoeie is enkele jaar gelede uit die noorde van die land hierheen verskuif nadat hulle skade aan boorde aangerig het. Een is dood, maar die kalfie is 'n bewys dat hulle in die Karoo aangepas het.
* VOORDAT JY GAAN: Lees "In die mond van die wolf" van Paul C. Venter oor Karoo-mense se lief en leed.
Wednesday, September 7, 2011
Woordsmous Dana Snyman
JENS: As jy so gelukkig is dat iemand vir jou ‘n kosblik met padkos pak, wat sal jy hoop is daarin?
DANA: My oorlede oorlede ma het altyd vir ons padkos gemaak voor ons die pad iewers heen geneem het: toebroodjies, frikadelle en hardgekookte eiers. Later, toe ek uit die huis is, het sy steeds vir my padkos gemaak wanneer ek daar gekuier het en weer die pad terug na my eie plek gevat het. Ná haar dood, het my oorlede pa daarmee volgehou. Ry ek terug huis toe, is die Tuperware-bak met die padkos altyd daar. Dit sal altyd vir my padkos wees: toebroodjies, frikadelle en hardgekookte eiers.
Watter bestemmings in Suider-Afrika wil jy nog besoek? Waarom?
Een: Ek dink dit is ’n skande dat ek nog nie in die Fugard-teater in die Kaap was nie. Soontoe wil ek binnekort gaan.
En ter wêreld?
Ek droom nie juis veel oor verre lande nie. Maar ek sal nogal die Van Gogh-museum in Amsterdam wil besoek. Ek wil ook nog graag die Kongo-rivier sien.
Waarheen sal jy wil teruggaan?
Ry jy deur Zambië, verby Lusaka, kry jy ’n plekkie met die naam Kapiri Moshi. Daar draai ’n pad weg, in die rigting van Dar es Salaam. Dis ’n teerpad. Ek het dit al twee keer gery in ’n Weg-ryding, maar hierdie keer wil in my ou Valiant daar ry, wiegend Afrika in, met die vensters oop. Ek kan dit nie beskryf nie: Dit was elke keer nog vir my baie, wel, bevrydend om daar te ry. Ek wil met my Valiant tot in Dar es Salaam ry en dit daar vir ’n sendeling of iemand persent gee as my bedrae tot die Afrika Rennaisance. Dan wil terug vlieg Kaap toe.
Waar het jy nog die koudste ooit geslaap?
Een nag in my bakkie in die Richtersveld – die nag toe ek uitgevind het daardie storie oor Old Brown Sherry wat jou in die winter kwansius warm hou, is nie waar nie.
Vir watter publikasies skryf jy deesdae?
Ek skryf ’n weeklikse rubriek vir Die Burger, Beeld en Die Volksblad. Ek skryf ook elke tweede week ’n artikel vir By, wat in bogenoemde koerante verskyn. Ek wil ook baie graag weer vir Weg werk, my tyd was net bietjie beperk in die laaste ruk.
Gaan jy ooit met vakansie sonder om te dink ‘n boek/berig/rubriek … kan daaruit voortvloei?
Helaas nie. Ek kan nie regtig meer ’n onderskeid tref tussen my skryflewe en my, wel, gewone lewe nie.
Is jy nog soveel op pad as in die dae toe jy by Huisgenoot/Weg was?
Nee. En dis goed so. Dit is vir my lekker om vir lang rukkie by my huis op Jacobsbaai te wees.
Waarom het jy huis opgeslaan by Jacobsbaai?
Ek kan in alle eerlikheid sê Jacobsbaai is my gunsteling-plek op aarde. Ek voel bevoorreg om hier te kan woon. Dit mag dalk soetsappig klink, maar baie oggende stap ek met ’n beker koffie in my hand saam met my honde af see toe, en sê vir die Liewenheer dankie dat ek hier kan wees. Ek is geseënd.
As jy weg van die huis is en jy hoor jou huis is aan die brand -watter drie goed moet die bure vir jou red?
My drie honde: Jerry, Kleintjie en Vlooi. Dis nou as hulle nie by my is nie.
Wanneer kom jou nuwe boek uit en waaroor gaan dit?
Die boek se naam is Hiervandaan. In ’n sekere sin is dit die eerste propperse boek wat ek skryf. Dit is ’n soort reisvertelling. Ek begin op die plaas naby Franschhoek waar die Snyman-familie vandaan kom, en eindig by die Geloftekerk in Pietermaritzburg waar my oupa-oupa-grootjie se broek in die museum hang. Ek bekyk die land op my manier en probeer antwoorde vir goed kry wat my pla.
Wat maak ‘n goeie reisartikel?
Dis ‘n moeilike een: Die woorde moet jou saamsleep van die eerste tot die laaste paragraaf.
Wou jy al ooit ‘n roman / riller / … skryf (iets anders as oorwegends travel writing)?
Ja. Ek hoop nie dit klink voorbarig nie, maar ek wil nog ‘n roman aanpak. En ‘n drama.
Wat sal jy jou beroep noem?
Woordsmous.
Het jy ‘n webblad/blog?
Ja, maar dit is nog nie geaktiveer nie. Baie gawe mense van Upington het dit twee jaar gelede reeds vir my ‘gebou’, maar ek kom nie so ver om die laaste inligting vir hulle te stuur nie. Ek het nie soveel geesdrif vir blogs en Facebook en Twitter as wat ek seker behoort te hê nie.
Watter boek lees jy tans?
Philip Roth se Everyman. Ook die kortverhale van Isaac Babel.
Watter CD is in jou kar?
Daar is ‘n klomp. Op die oomblik luister ek baie na Piet Botha, en ook Elvis se gospel-musiek.
Wat is mooiste drie plekname vir jou?
Lusikisiki, Dwaal en Jaagvlakte
Na watter hotel / gastehuis keer jy keer op keer terug?
Die Witput Country Lodge, naby Hopetown. Ek sal ook graag weer ‘n aand in die Beach Hotel op Swakopmund wil slaap. Die eerste keer toe ek in die Witput Lodge geslaap het, het ek diep in die nag wakker geskrik van ‘n vreemde lawaai – en gedink dis die einde van die wêreld. Gelukkig was dit toe net die Trans Karoo-trein wat op die spoorlyn reg langs die lodge verby is.
Wat laat jou frons wat baie vakansiegangers doen?
Oral in die land is deesdae mos sogenaamde stop-en-go’s – daardie plekke waar jy moet stilhou en wag waar daar padwerke is. Dit maak my woedend om al die rommel te sien wat die mense daar by hulle rygoed se vensters uitgooi.
Wednesday, August 31, 2011
MUSIEKFEES BY NUWE GOLDEN GATE-HOTEL
AS jy lankal lus is om te gaan kyk hoe die Golden Gate-hotel en sy chalets lyk ná ‘n opknapping van R30 miljoen, is dit nóú die tyd, skryf JENS FRIIS. Boonop is dié park nou drie keer groter as vroeër.
DIE Golden Gate- Nasionale Hooglandpark bied ‘n musiekfees op 8 en 9 September aan in samewerking met die KwaZulu-Natalse ereveldwagters en die Drakensberg-seunskoor. Hierdie fees is soortgelyk aan die Sunset Serenade wat in die Nasionale Kruger-wildtuin gehou is en sal dien as ’n geldinsamelingprojek om renosterstroping in die nasionale parke te beveg.
En as jy nie lus is om ná die konsert huis toe te ry nie, is die Golden Gate-hotel (ou Brandwag-hotel) net die plek om oor te slaap.
Met Wêreldomgewingsdag vroeër vanjaar is dit amptelik geopen deur me. Edna Molewa, die minister van waterwese en omgewingsake. Die hotel was sedert begin-2009 gesluit en daarna is R30 miljoen bestee om die gebou op te knap.
‘n Omgewingsvriendelike benadering is gevolg. Só word water nou verhit deur sonverwarmers en blaasverwarmers in kamers wat 2 000 kW elk gebruik het, is vervang met paneelverwarmers wat slegs 400 kW gebruik.
Die gebou is struktureel redelik baie verander en die 34 kamers het 55 geword. Daar is nou ook ’n luukse premier-suite en ’n wittebrood-kamer met ’n kaggel en borrelbad.
Al die badkamers is gestroop en nuut ingerig en selfs die hotel se bedrading en waterpype is grootliks vervang. Die chalets by die hotel is ook op beperkte skaal opgeknap.
Die verskillende vleuels se versiering beeld die vier seisoene uit in die Oos-Vrystaat. Met die binneviersiering is daar ryklik van glas, hout en klip gebruik gemaak. Bestaande elemente soos die mooi houttrap en klipwerk is behou, maar sommige mure is met glas vervang om die uitsig te verbeter.
Die restaurant is vergroot en kan nou tot 200 mense hanteer teenoor die 100 van voorheen. Die Mabaleng-sportkroeg is op die kelderverdieping gesetel en loop uit op die hotel se onderste grasperke. Van die Brandwag Lounge, ‘n skemerkelksitkamer, kyk jy uit oor die Brandwagkop wat wag hou oor die Rooiberge en die omringende grasvalleie.
Onder die ander nuwighede tel ‘n hysbak wat ingebou is sodat mense met gestremdhede makliker toegang tot die hotel se drie verdiepings kan hê. Die hotel spog ook nou met uitgebreide konferensiegeriewe vir groot en klein kongresse.
Uiteindelik was die hotel 18 maande lank gesluit, maar die kool was die sous werd. Die blinknuwe Golden Gate-hotel en chalets is gewis ‘n aanwins vir dié deel van die Vrystaat waar toeriste graag uitspan.
PARK NOU VEEL GROTER
In 1963 het die Suid-Afrikaanse regering drie plase in Golden Gate gekoop en aan die destydse Nasionale Parkeraad oorhandig om as die Golden Gate Hoogland Nasionale Park te bestuur.
Mettertyd is verskeie plase bygevoeg en ook tot nasionale park verklaar.
Maar ‘n reuse uitbreiding het onlangs plaasgevind toe die park se grondgebied verdriedubbel het toe die sogenaamde Qwaqwa-natuurreservaat by die Golden Gate Hoogland Nasionale Park ingesluit is.
‘n Groot voordeel hiervan is dat besoekers nou veel groter troppe wild sal kan sien. Die oorspronklike Golden Gate Hoogland Nasionale Park het uit die vallei en die pieke daaromheen bestaan, terwyl middelplatograsvlaktes nou bykom wat die park aan die noorde- en oostekant begrens. Dis op dié middelplatograsvlaktes waar die groot hoeveelhede diere veral voorkom.
Wildbesigtingsroetes word nou in die gebied beplan, asook stap-, bergfiets- en viertrekroetes.
SOU JY GAAN
· Die Golden Gate Hoogland Nasionale Park is 15 km oos van Clarens.
· Vir meer inligting oor die musiekfees stuur ’n e-pos aan Mankhole.modise@sanparks.org of Esther.Khatite@sanparks.org.
· As jy ‘n draai by die Golden Gate-hotel wil maak, besoek www.sanparks.org of bel 058-255-0000. Of as daar nie plek is in die hotel nie, bly oor in die Glen Reenen-ruskamp.
· Buiten oorslaap in die hotel en die musiekfees is daar heelwat te doen in die omgewing waaronder verskeie staproetes in die park. Golden Gate Hoogland Nasionale Park se hoogte wissel tussen 1 800 en 2 800 m, met die hoogste punt Ribbokkop wat 2 828 m hoog is. Die staproetes se moeilikheidsgraad wissel. Onthou om ‘n paar uitgetrapte skoene saam te vat sodat jy nie met waterblase terugkom nie.
· Of jy kan ‘n draai maak by die Basotho-kultuurdorp agter die Phofungberge by Qwaqwa waaroor Naweek+ onlangs berig het.
Monday, August 22, 2011
Maak soos JENS FRIIS en verken ‘n nedersetting naby jou.
DAAR word gesê watter lewenspad jy neem gaan bepaal waar jy gaan eindig, maar met ‘n vakansie is dit anders: dan hoef jy nie altyd ‘n bestemming te hê nie.
Soms is dit van die lekkerste lekkertes om eenvoudig ‘n pad te vat sonder enige verwagtings.
En só moet dit wees as jy oor ‘n naweek besluit om ‘n draai te gaan ry deur jou dorp of stad se distrik.
Op ‘n Saterdagoggend nie te lank gelede slaan ons neus in die wind in die rigting van Jagersfontein met die R706 wat sommige sê is die langste reguit stuk pad in die land.
Op die kop 65 km uit Bloemfontein kruis die Petrusburg/Edenburg-grondpad dit en dis hier waar ons op die ingewing van die omgewing links draai toe die R706 te reguit word.
‘n Verdere 3 km wag Austin’s Post langs die Rietrivier. Sy bome sien jy in die verte vanaf die teerpad.
Oor dié plekkie wat was is beslis in sy ganse bestaan nog g’n reisberig geskryf nie. Maar hierin lê juis die lekker: Om op ‘n plek te kom waar plaaswerkers verbaas na jou kyk as jy ‘n foto neem van hul wêreld. Hier kom immers selde besoekers en jy gaan een van weinig wees wat ‘n prentjie aan die naam “Austin’s Post” sal kan koppel. Ja, dis maklik om deesdae te reis en onontdekte plekke word min.
Dié stippel op ‘n kaart bestaan deesdae uit weinig meer as ‘n plaasopstal en skure. Maar op sy dag het die omliggende boere en werkers hierheen gestroom om die nodige goedjies aan te skaf by die plaas-like winkel. Jy sou ook jou pos hier kon kry en waarskynlik brandstof ingooi. Austin’s Post was voorwaar ‘n pos vir die onmiddellike omgewing.
Maar só vergete is dit nou dat ‘n soektog op Google niks leer oor waar Austin’s Post se wortels lê nie.
Al wat ek wys word is dat dit wel nog ‘n aparte inskrywing as “plek” het in die Geelbladsye met name soos Van der Merwe van Diepfontein, King van Wonderkop en nog ‘n Van der Merwe van Poskraal.
En dis deur dié wêreld suidwes van Bloemfontein wat ons na Wurasoord ry om die N1 noord terug huis toe te vat. Dié voordeel van só ‘n sirkelroete is dat jy nie weer dieselfde pad terugry Bloemfontein toe nie.
En as jy ‘n ekstra uurtjie het kan jy in plaas van Wurasoord ook verder suid ry na Edenburg, die Rietrivier weer oorskruis onderweg na Reddersburg en dan na die Rosestad terugkeer.
SOU JY GAAN
· Die afgelope nat winter beloof goeie veldblommetjies met die dat dit nou warmer word.
· Vat drink- en eetgoed saam en hou piekniek langs die pad.
· Gooi petrol in op Bloemfontein of Edenburg, daar is nie ‘n garage op Austin’s Post of Wurasoord nie.
· Onthou jou sonbril en sonbrandroom.
· Lente en herfs is die beste tyd om dié geweste te besoek. Die winters is vaal en bitterkoud en die Vrystaatse vlaktes is in ‘n droë, uitmergelende somer nie altyd die mooiste plek nie.
Sunday, August 14, 2011
Mattanu: Geskenk van Bo
Mattanu: Beste in dié geweste
JENS FRIIS het gaan kyk waarom die AA vir die Mattanu-wildreservaat in die Noord-Kaap aanslaan as die beste van sy soort in Suid-Afrika.
OP die Mattanu-wildreservaat anderkant Barkly-Wes sou jy sweerlik kon dink jy is in die Bosveld. Hier is nie kremetarte nie, maar die omgewing lyk pure Satara.
Boonop is dit in mid-Suid-Afrika, dis malaria-vry en jy sien diere - baie daarvan.
Dat Mattanu by die Automobiel-Assosiasie (AA) se prysuitdeling in Durban aangewys is as die beste verblyfplek vir 'n klein wildreservaat (minder as sewe kamers) in die land, is ook nie te versmaai nie.
Só val ons kort gelede een Saterdag in die pad vanaf Bloemfontein, eet 'n laatontbyt in Kimberley, steek die Vaalrivier oor by Barkly-Wes en ry die laaste 20 km grondpad deur Kalahari-Bosveld-savanna tot by Mattanu.
Dis bibberend buite, maar in die luukse tente wat blyplek bied is daar ondergrondse verhitting, dik duvets, verhitte handdoekreëlings en lugreëlaars.
Boonop is ek aangenaam verras om te sien dat daar nie plek vir 'n muis is nie - al die tente is vol.
Die Kriek-familie wat Mattanu besit en bestuur is deurwinterde omgewingsbewaarders. Hul voorsate het op 'n familieplaas in die distrik Enkeldoring van die destydse Rhodesië geboer voordat hulle in die 1980's na Suid-Afrika moes verhuis.
Dr. Johan Kriek, die eienaar van Mattanu, is onder meer ’n vlieënier en wildboer. Hy is in 2009 as die nasionale wildboer van die jaar aangewys en was die eerste uit die Noord-Kaap om dié eerbewys te ontvang. Met die aanwys van die wenner word onder meer gekyk na die kandidate se betrokkenheid in die wildbedryf, die bestuur van die plaas en hoe daar na personeel omgesien word.
Dr. Kriek se een seun, Johann, is ook ’n vlieënier, terwyl die ander seun, Jacques, die bemarkingsbestuurder van die wildreservaat is.
Laatmiddag neem Jacques al sy gaste op 'n wildbesigtigingstoer, maar eers stop ons by 'n rehabilitasiekraal waar wild gemonitor word wat deur die lewe gekniehalter word. Hieronder tel 'n bastergemsbokkie waarop die Krieks in die veld afgekom het.
"Sy ma het nie genoeg melk gehad nie en ons het die verswakte bokkie na ons kraal gebring," vertel Jacques.
Die bokkie se naam is Nhamo wat in Shona ‘n woord is vir iemand wat deur ‘n moeilike tyd gaan.
Maar dit wil lyk of daar ‘n voorspoedige toekoms op Nhamo wag, want danksy heilsame koeimelk uit Bretta, 'n staatmaker Jersey, se spene is dié kleinding nou blakend gesond. Bretta was deur die jare reeds pleegma vir ’n buffelbulkalf, ’n sebratjie en swartswitpenskalfies.
Haar Jersey-kalf en die bastergemsbokkie is dol oor mekaar. As hulle nie aan hul ma drink dat die spoeg so spat nie, dan speel die tweetjies al óm haar.
Hopelik sal die bastergemsbokkie eendag weer in die natuur vrygelaat kan word. Naas die eland (wat ook op Mattanu voorkom) is die bastergemsbok die grootste bokspesie.
Swartwitpense, swart rooibokke en siektevrye buffels is van die skaars en bedreigde wildspesies waarmee hier geteel word. Van die oorspronklike bastergemsbokke en swartwitpense het dr. Kriek jare gelede uit Malawi ingevoer.
Dis opvallend dat die meer as 36 wildspesies nie gespanne is nie en daarom kan jy tot naby aan hulle kom. “Dit maak dit ideaal vir internasionale kameraspanne om hier te kom verfilm,” vertel Jacques terwyl ons iets drink by ‘n watergat.
Jy hoor verskeie voëls, maar die riete en gras rondom die dam is dig. Net dan en wan sien jy van die geveerdes.
Dis verstommend hoe ruig die veld handomkeer verander het in die afgelope maande. ‘n Veldbrand November verlede jaar het groot stukke weiveld, ‘n tienbed-chalet, die onthaalgebied se lapa en ‘n luukse tent verteer.
“Iets positiefs wat gekom het van die brand is dat talle uitheemse bosse in die slag gebly het en daar nou meer weiveld is as vantevore. Daar moes heelwat ekstra voeding gegee word vir die wild ná die brand, maar vanweë die goeie reën vanjaar het die veld vinniger herstel as verwag. Vaalbosse, haak-en-steek, swarthaak en kameeldoringbome het onder meer in die slag gebly.”
Dit was die ergste brand wat die familie Kriek beleef het in die 20 jaar wat hulle hier bly.
Talle plase in die omtrek is ook deur die brand verniel. Laatmiddag het brandslaners verbete geveg teen vlamme wat aan ‘n wye front op die Windsorton-pad afgestorm het. Die onbegaanbaarheid van die ruwe terrein het die taak ook nie vergemaklik nie.
“Toe die vuur daai dag omgeswaai het moes ons vroegaand in die swembad spring om van die vlamme weg te kom!”
Maar intussen het die veld flink gegroei en die Krieks het die plaas weer opgeknap, “want Mattanu beteken nie verniet ‘n geskenk van Bo nie.”
Net voordat ons terugkeer kamp toe word ons geseën met ‘n besonderse sonsondergang. Ek moet met my hand skerm om na die rooi gloed agter die kameeldorings te kyk, want my donkerbril lê tuis (soos gewoonlik).
Met ete die aand kan jy kies uit ‘n uitgebreide versameling wyn uit die ondergrondse wynkelder. En vir later wag sigare van oraloor.
Ná ‘n lekker lang nag (soos dit hoort op só ‘n vakansie) was dit tyd vir nóg ‘n wildrit waar ons letterlik omtrent aan die bastergemsbokke en swartwitpense kon vat.
En daarna is ons kuiertjie afgesluit met ‘n ontbyt uit die boonste rakke.
Skuld daai spaarvarkie vir ‘n nag by Mattanu. Die R1 400 wat dit jou gaan kos is die moeite werd – en só het die AA ook gedink. Jy word immers nie sonder rede aangewys as die beste van jou soort in die land nie. Die prys is per persoon en sluit verblyf, ‘n ontbyt, aandete en twee wildsritte in.
Gaan maak gerus ‘n draai. Bogenoemde is nie net papierbeloftes nie.
SOU JY GAAN
* Mattanu is 58 km noordwes van Kimberley.
* Wildbesigtingstoere vir dagbesoekers is moontlik, maar besprekings is noodsaaklik.
* Gaste kan ook gaan stap en voëls uit ‘n uitkykpunt by ‘n vlei dophou.
* Onthou jou sonbril en in die sonbrandroom. Somers wag hier ‘n swembad om die Noord-Kaapse hitte af te spoel.
* Vir meer inligting loer by www.mattanu.com of stuur 'n epos aan info@mattanu.com.
