Monday, June 23, 2008

Om oomblikke te preserveer


"Probeer ten minste vaspen
‘n bietjie van die aard
van die dinge wat jy liefhet
en onthou
‘n mens is tog so gou geneig
om maklik te vergeet
‘n foto keer dat die tyd verweer.

- "Stuur vir my ‘n foto" (Laurika Rauch / Dineke Volschenk)

OP 'n keer lees ek hoe 'n joernalis kla: "Hoekom doen ek dit aan myself, hoekom doen ek dit aan ander (goeie) mense: bestorm hul huise soos ’n nors bul, vra persoonlike vrae, dring aan op antwoorde, vul die leemtes met my eie, perverse indrukke ..."
Dis hieraan wat ek dink toe ek, die ewige toeris, onlangs 'n draai maak by ‘n uitstalling van reisfoto’s in Brisbane. Daar’s die allermooiste kiekies van kultuur- en natuurmagnete soos Tokio tot Tafelberg, maar op feitlik g’neen is ‘n mens nie. En as daar wel ‘n siel is, is dit ‘n ge-pose-de foto.
Met die uitstap raak ek en ‘n vriend aan’t gesels oor dié menslose foto’s, want toeriste tot professionele fotograwe, neem kiekies van plekke, maar selde van die inwoners.
Waarom? Is dit dalk omdat ek en jy (soos die joernalis hierbo) glo ons gaan onsself aan vreemdelinge opdring?
En só draai die gesprek toe oor 'n toeris met ‘n kamera in die hand se (voor)reg om foto’s te mag neem van mense en wanneer daar op hul privaatheid inbreek gemaak word.
Ja, ons wik en weeg oor menige tameletjie, maar die boerpotvraag draai om 'n scenario soos die volgende: Is dit aanvaarbaar om wasgoed in ‘n Italiaanse verdwaalstegie (skelmpies) af te neem terwyl 'n huisvrou dit keurig ophang?
Want 'n fotograaf behoort nes Woody Allen te glo: "No act is so small that it doesn't need an audience."
My vriend merk vol wysheid op dat dit deesdae makliker as ooit is om deur vreemde lande te reis, maar moeiliker om mense eerstehands te beleef – en foto’s van hulle te neem.
Van snaparazzi-foto's hou hy niks. Daarom probeer hy eerder met die plaaslike inwoners gesels en hulle dan sover te kry om in te stem vir 'n foto.
"Dié foto’s het gewoonlik gebeur wanneer ek alleen op reis was," vertel hy. "Solo-reise fokus op jou uitgeslotenheid. Mense is dan meer geneig om jou in hul lewens toe te laat."
Maar gee hy toe: Dis ‘n fyn lyn. In die buiteland ken jy nie kulture goed genoeg om nuanses reg te lees nie. Beteken ‘n Arabier wat koponderstebo verbystap dat hy sleg voel, of eerder skaam, nors óf kamerasku is?
‘n Verkeerde interpretasie kan beteken dat jy ‘n afranseling óf selfs 'n klap kry. En hiervoor is 'n konfliksku toeris mos nie lus nie.
Peat O'Neil, skrywer van die boek Travel Writing, meen as algemene reël mag jy enigiemand in ‘n openbare plek afneem.
Maar selfs hier kan 'n steelfoto van ‘n intieme oomblik taboe wees. Daar is grense wat nié oortree word nie, want soos die bekende stelling lui: Die private het openbare implikasies.
Hierom sê sy: "Vriendelikheid, eerlikheid en goeie maniere is altoos die beginsels wat gevolg moet word by die afneem van mense ... Vra iemand om toestemming as jy hom/haar wil afneem."
Maar doen jy dít is daai preserveerbare oomblik helaas dikwels daarmee heen.
Dis daarom soms die wysste om nie boe of ba te sê nie. Om die risiko te neem werp meestal vrugte af. Die meeste mense laat jou begaan.
In alle tye is ek nog net in Maputo verbied om 'n soldaat voor 'n pragtige staatsgebou af te neem, en 'n blommeverkoopster in Rome het gal gebraak toe ek gevra het of ek 'n kiekie van haar mag neem. Sy wou hê ek moes haar 'n paar lira hiervoor gee.
Hierteenoor is daar male sonder tal waar mense juis afgeneem wóú word, soos die bejaardes op die tehuis se stoep in Graaff-Reinet, die kleurlingkinders in Elim se afgekalkte sendinghuisies, die Maleisiër op sy boot in Borneo ...
Die middeweg is dus: waag 'n kans, maar moenie jou lens lig as jou sesde sintuig waarsku dat só 'n kiekie probleme gaan gee.
As daar dan 'n verlore fotokans is, troos dit om te weet: 'n Foto keer (wel) dat die tyd verweer, maar gelukkig is daar ook ander maniere om te onthou - soos om 'n plek te probeer belééf.
Dít is meestal van groter waarde as om lank te wik en weeg of jy daai foto van 'n inwoner sal neem wat 'n duisend woorde tuis gaan spreek.