DIE Klein Karoo se gewilde R62, beter bekend as Roete 62, is geskoei op Amerika se bekende Roete 66 tussen Chicago en Los Angeles. Met die bou van die N2-snelweg in 1958 het die grootpad van Kaapstad na Port Elizabeth die Klein Karoo se dorpies verbygegaan. Vir 40 jaar het dié dorpies gehiberneer, maar weens die gewildheid van Roete 62 is dit in die afgelope paar jaar herontdek. JENS FRIIS het gaan inloer by die sendingdorpies Amalienstein en Zoar.
HALFPAD tussen Ladismith en Calitzdorp lê twee skilderagtige sendingstasies, Amalienstein en Zoar, wie se geskiedenis onlosmaaklik ineen gevleg is.
Bestemmings is dié twee nie, maar wel ideale aandoenplekke om die gewilde R62-roete deur die Klein Karoo te onderbreek.
Liefhebbers van 18de eeuse geskiedenis sal dol wees oor dié sendingstasies, maar vir die res is daar ook ‘n magdom te doen in die onmiddellike omgewing.
Hieronder tel die pragtige Hoeko-vallei waar die gevierde volkskrywer C.J Langenhoven gebore is.
En die mond van die indrukwekkende Seweweekspoort lê letterlik aan die buitewyk van Amalienstein.
Daar is verskeie verklarings vir die oorsprong van die naam “Seweweekspoort” wat wissel van ‘n veedief wat sewe weke lank in die poort weggekruip het tot ‘n verbastering van die van van een van die eerste sendelinge hier, naamlik Louis Zerwick - dus Zerwick-se-poort (Seweweekspoort).
Elke Oktober vind die Seweweekspoort-bergfiets-uitdaagwedren plaas. Die wegspring is gewoonlik by Amalienstein, 25 km buite Ladismith op pad na Oudtshoorn. Die 80 km-fietsers word dan vroegoggend deur die beierende klok van Amalienstein se geskiedkundige kerkie afgesit.
Dié kerk is geverf in die tradisionele blou, mosterd- en roeskleure van die vroeë Lutherse kerk. Volgens Fransen en Cook is dit tussen 1853 en 1873 onder leiding van Duitse sendelinge in die Neo-Gotiese styl gebou.
Halfgebakte kleistene het die bou van hoë torings verhoed. Tog gee die torinkie in die middel op die voorgewel en kleiner torinkies op die vier hoeke aan die bopunte van die steunbere, ‘n gevoel van vertikaliteit wat kenmerkend van die Gotiese argitektuur is.
Maar sending in dié area strek veel verder terug as 1853.
Aan die begin van die 19de eeu het sowat 100 mense op die plaas Doornkraal gewerk. Die Suid-Afrikaanse Sending (SAS) het onder hulle gearbei.
Petrus Joubert was aan die stuur hievan. Hy was die oupa van genl. Piet Joubert, die militêre leier van die Transvaalse Republiek.
Mettertyd is die sendingtasie se naam verander na Zoar, ‘n streek langs die Rooisee waarna verwys word in Genesis 14:2-8. Dit word in die Nuwe Vertaling as “Soar” geskryf.
Die naam het eers “die onbelangrike” beteken, maar toe Lot van Sodom gevlug het, het die betekenis verander na “toevlugsoord”.
Zoar in die Klein Karoo was skynbaar destyds ‘n “hemel”, want mense het daarheen gestroom.
Geldnood het die sendingwerk deur die SAS gekniehalter en daar was groot blydskap toe die Berlynse Sendinggenootskap (BSG) ingestem het om hierheen uit te brei.
In 1842 het die konsessieplaas Zoar te klein geword en die BSG het die buurplaas Elandsfontein aangeskaf met geld uit die boedel van Amalie von Stein.
Sy het aan die hoof gestaan van die Vrouehulpvereniging en het ‘n groot som geld aan die BSG nagelaat. skryf Willie en Sandra Olivier in hul “Toergids vir Suid-Afrika”.
In 1853 is die bogenoemde kerk gebou wat beteken dat die gemeente sy 150ste bestaansjaar in 2003 gevier het.
Weens tweespalt in die gemeente oor onder meer die gebruik van kerse en die kruisbeeld, het die SASG destyds weer verantwoorelikheid vir Zoar aanvaar. Die BSG sou op Amalienstein bly
Rondom 1855 het die BSG met sendingwerk begin op Ladismith. Dit was toentertyd sowat ‘n halfuur te perd van Amalienstein.
Die Lutherse gemeente op Ladismith is op 26 Mei 1856 gestig as ‘n buitestasie van Amalienstein, die eerste vaste standplaas van die BSG in die Kaapprovinsie
Deesdae word die sendingstasie deur die gemeenskap bedryf as ‘n kommersiële plaas tesame met CASIDRA (Cape Agency for Sustainable Integrated Development of Rural Areas).
Soos in soveel oud-sendingstasiedorpies soos Genadendal, Mamre, Elim en Wupperthal, is dit ook hier ‘n stryd om die groot kulturele erfenis te bewaar.
Die toegangshek na die historiese begraafplaas op Amalienstein word byvoorbeeld gesluit om vandale buite te hou. Meer as die helfte van die houtkruise is sedert 2000 van grafte gesteel en as vuurmaakhout gebruik. Talle van die Duitse sendelinge is hier begrawe. Besoekers kan nou ‘n sleutel vir die hek by die pastorie kry
Die wêreld rondom Amalienstein en Zoar staan bekend as Kannaland en sluit Van Wyksdorp, Calitzdorp en Ladismith in.
Die jaarlikse reënval van 240 mm beteken dat plantegroei hoofsaaklik beperk is tot grasveld en droogtebestande bome.
Maar die aarde is vrugbaar en as daar water is ontaard dit in ‘n oase.
Kannaland is bekend vir sy vrugteboorde wat deur die jare aangeplant is. By Amalienstein maak ‘n standhoudende stroom die verbouing moontlik van verskillende gewasse soos appelkose, pere, appels, vye en pruime.
Dié sendingstasie se droë vrugte het reeds in 1851 ‘n goue medalje gewen by Crystal Palace se Wêrelduitstalling in Londen
Ook die Ladismith Wynkelder se Amalienstein-muskadel het al meerdere pryse ingepalm.
Die meeste inwoners van die twee sendingstasies werk in hierdie boorde en wingerde, want hier is geen formele industriële werksgeleenthede nie.
Werkloosheid is dus ‘n probleem, maar die dorpies is nietemin vreedsaam en jy hoef nie onnodig vir jou veiligheid te vrees nie.
Amalienstein/Zoar is 350 km oos van Kaapstad, 136 km noordwes vanaf George en 77 km wes van Oudtshoorn.