Monday, June 23, 2008

Aberdeen se Leunende Toring en die Olyfboom uit Getsemane

“As die nag sy baadjie toeknoop
oor die veld
En die diereriem sy blink tot teen
die skerpioen laat lê
As die tweeling en die kreef
kotteljons oor Beaufort-Wes
En die maan sy beker skink oor
Graaff-Reinet ...”


... dan weet jy jy is in die Groot Karoo.
En die hart hiervan vir my is Aberdeen.
Dié wêreld is regtig egtig groot(s).
En oor die feit dat dit Karoo is, is geen twyfel nie, want Aberdeen - tussen Beaufort-Wes en Graaff-Reinet - lê so na aan wat “Karoo” is, as kan kom.
Onlangs ry ons verby die Beervleidam (soos altyd sonder water) met die reguit stuk teer van Willowmore na Aberdeen.
Dis hiér waar Coenie de Villiers se “Karoonag” (strofe hierbo) verfilm is en ons is oorbewus van katbos en kambro, van rolbosse in die Kamdeboo, die ewige gebrek aan reën en ‘n lug vol geen wolke ...
Die tydlose Karoo sou weinig anders gelyk het in die dae toe Aberdeen in 1855 uitgelê is op die plaas Brakkefontein as ‘n Nederduits-Gereformeerde kerkdorp.
Dis hierna genoem – nie omdat dit enigsins lyk na die Aberdeen in ‘n groene Skotland nie – maar ter ere van ds. Andrew Murray wie wel dáár in Skotland gebore is.
Slegs drie jaar na sy totstandkoming het Aberdeen munisipale status gekry.
Talle van die eerste geboue wat hier staan gemaak is, bied steeds skanse teen die Karoo se westewinde wat woes kan waai.
Hieronder tel die landdros- en poskantore langs Greystraat. Beide hierdie sandsteengeboue met hul teëldakke is in 1898 gebou, vertel Deirdré Richardson in Historic Sites of South Africa.
En volgens Xplore, die amptelike Satoer-gids, is Aberdeen ‘n nasionale argitekturele bewaringsarea.
Langs die boomomsoomde strate met hul leiwatervore staan geboue waarvan die style wissel van Georgiaans en Goties tot Russies en Flaams.
Daar is ‘n handvol uitspattige volstruisbaronpaleise, maar ook talle nederige Karoo-huisies (wat nie minder imponerend is nie).
Dan is daar ook die Anglikaanse, Metodiste en Apostoliese kerke wat almal ‘n eeu oud is, maar die opvallendste is die N.G. Kerk wat die hemel in toring.
Dit staan bekend as die Leunende Toring van Aberdeen. Die gewig van die dakteëls trek dit glo sywaarts, maar ander glo die toring is bloot skeef gebou.
Dis byna 50 m hoog en inwoners sê g’n ander kerk in Suid-Afrika het ‘n hoër toring nie, hoewel ek al gehoor het die een by Noorder-Paarl beklee die eerste plek
Waaroor daar egter waarskynlik meer sekerheid kan wees is dat Aberdeen se kerktoring die verste sigbaar is in die land, want die wêreld wat hierdie dorp omring is pannekoekplat.
Kleintyd toe ons Desembers Jeffreys toe gery het, was dit altyd ‘n speletjie wie eerste Aberdeen se kerktoring kan sien.
Maar hoewel daar onsekerheid is oor op watter rekord hierdie kerk aanspraak kan maak, staan dit vas soos ‘n paal bo water dat jy dié kerktoring nie kan miskyk nie.
Dis ‘n simbool van die toewyding van ‘n gemeenskap wat só ‘n pragtige plek van aanbidding wou bou met beperkte fondse.
Geld was nog nooit hier volop nie, want die Groot Karoo deel selde munte mildelik uit
Langs die kerk staan ‘n olyf wat stam uit ‘n boom in die Tuin van Getsemane.
Dis in 1980 geplant deur ds. F. Vivier ter viering van die kerk se 125ste bestaansjaar.
Shimon Lavee, ‘n Israelse plantkenner, het ‘n dr. Marais, toe direkteur van navorsing by die Instituut vir Vrugte(tegnologie), genader vir hulp, want olyfbome het by die hordes gevrek in Jerusalem.
Marais het sewe lote na Suid-Afrika laat kom vir navorsing, vertel Jonathan Deal in Timeless Karoo.
Koolstofdateringstoetse het bevestig dat die oorspronklike bome in die Tuin van Getsemane meer as 2 300 jaar oud is.
Die Tuin van Getsemane is natuurlik waarheen Jesus op die nag van Sy arres gegaan het in Jerusalem. Tussen die knoetserige ou boomstamme het Jesus geworstel en in doodsangs gebid: “Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van my af weg. Laat nogtans nie my wil nie, maar U wil geskied!” (Lukas 22:42).
Aberdeen se ds. Vivier het van die Getsemane-lote gehoor en het een by dr. Marais gekry.
Die jong olyfboompie is langs die kerk geplan en sy takke hang jaarliks swaar met oestyd. Die olywe word dan ingemaak en verkoop.
Dis ongelukkig onbekend wat van die ander ses ingevoerde olyf-lote geword het.