Monday, June 23, 2008

Middelpos: Iets tussen nêrens

- Jens Friis

“DAAR is net één garage en bottelstoor, ‘n sinkdakhuis en poskantoor ...”, sing Beeskraal van “Die Ou Plaasdorp”.
Dié treffer kon netsowel geskoei wees op Middelpos – ‘n kolletjie tussen Calvinia en Sutherland.
Hierdie is rerig die vergete kant van die Hantam-Karoo. Die beskawing het (genadiglik) nog nie hier vat gekry nie en slegs dan en wan gewaar jy ‘n tweespoorpadjie wat afdraai na ‘n opstal by Wolwedans, Geelhoek, Visrivier of Bet-El.
“Wees geestelik en fisies gereed vir toerisme op ‘n ander vlak,” waarsku Timeless Karoo, een van ons reisgidse, tydens ‘n onlangse besoek.
Maar dis juis hierdie ongenaakbare woestynagtigheid wat die Middelpos-area se lokaas word. Sy afgesonderde grondpaaie word al hoe gewilder onder veral motorfietsryers en 4x4-entoesiaste.
Met ‘n gewone motor kan jy ook hierheen ry, maar laat genoeg tyd toe, want die grondpadjies laat jou selde toe om vinniger as 75 km/h te ry.
En sorg dat jou motor stofdig is, want hierdie is een van die droogste dele van die land.
Maar hoewel die druppels meestal taai is om te kom, word dié wêreld ‘n oase in goeie reënjare, vertel Kitty Nel terwyl sy in die sonnetjie sit op die stoep van die eenmanposkantoor.
“Watervoëls kom dan uit die niet en die veldblommetjies kry kans om hul koppies uit te steek.”
Min mense kom na Middelpos vir blomme, maar volgens IBSA, die Inheemse Bol-Assosiasie van Suid-Afrika, is dit een van die beste blomkykplekke in die land.
“Een van die beste blomjare ooit was 2006. Toe het ons plante gesien wat ons nie eers geweet het bestaan nie!”, vertel Kitty.
Op die hoek oorkant die poskantoor is Die Winkel, ‘n plattelandse algemene handelaar uit die jare toet.
Hier verkoop Sarrie Mattheus nog Wilsontoffies in papier-cones, en Petrus Struis weeg die uie en tamaties af op ‘n skaal wat met gewiggies werk.
Teen die muur is die volgende boodskappie opgeplak: “Al sal ek die tale van mense / en van engele kan praat / ma ek het die liefde geloop / ryl virrie haat, / dan het ek 'n raserige parraffienblik geraak.”
Ons koop pragtige paraffienlampies en Helena van der Westhuizen, die bestuurder, draai dit vir ons toe in die vorige dag se Rapport. Die lampies mag nie stukkend stamp met die wegry nie.
Helena sê hulle het ‘n voortdurende stryd met die groot handelaars wat nie meer wil aflewer nie. “Die brandstof is te duur en die afleweringskoste te hoog.”
Maar my grootste bekommernis is oor die suigstokkie wat ek pas gekoop het. Dis véél kleiner as in my kinderdae en binne-in is omtrent g’n sherbet nie.
Volgens Helena is daar so 100 kinders in Middelpos se skool en 300 in die dorp, “maar dit hang af in watter tyd van die jaar jy tel, want party doen stikwerk.”
Op dié plaasdorp wat so Afrikaans is as kan kom is daar ook ‘n motorwerktuigkundige, ‘n petrol- en dieselpomp, ‘n polisiekantoor (wat 5 050 vierkante kilometer bedien) en ‘n hotel.
Die Middelpos Hotel (027 341 2507) bedien twaalf soort bier, boerekos en tuisgemaakte brood. Maar jy kan ook buite braai en in die tuin kampeer.
Langs die wasgoedlyn van die hotel staan ‘n massagraf van Britse soldate wat omgekom het tydens die Anglo-Boereoorlog. Generaals Jan Smuts en Jaap van Deventer het op 5 en 6 Februarie 1902 ‘n groot Britse konvooi hier oorrompel en só het ‘n voorradekonvooi van 130 waens in die Boere se hande geval.
Dit was juis tydens die Anglo-Boereoorlog wat die gevierde akteur en skrywer, sir Anthony Sher, se oupa vir Middelpos gekoop het vir ‘n appel en ‘n ei. Volgens Sher was sy oupa “‘n Boerejoodse smous”.
Maar Middelpos se geskiedenis strek veel verder terug, volgens http://middelpos.com.
Stinkkuil, een van die eerste plase in die Suid-Roggeveld, het behoort aan Lucas Visagie, wat dit nagelaat het aan sy kinders.
In 1860 het Daniel Tomlinson ‘n deel van die plaas gekoop van Jan Nel – een van die Visagie-kinders. Tomlinson het ‘n verversingspos hier op die been gebring en daar is op die naam Middelpos besluit. Dít was ‘n goeie naam, want dié winkel moes die groot area bedien tussen Ceres, Sutherland, Calvinia en Williston.
Ná Tomlinson se dood is die plaas verkoop aan die Sher-familie en Middelpos het ontwikkel tot ‘n bymekaarkomplek vir handel, sport en sosiale aktiwiteite.
Vandag is Middelpos een van slegs ‘n handjievol dorpies in Suid-Afrika wat nog in privaat besit is.
Dit het die huidige eienaar al meerdere kopsere besorg, want onder die nuwe bedeling het die verskaffing van munisipale dienste verander van ‘n voorreg tot ‘n reg. Gevolglik moes hy al der duisende rande hierop bestee, terwyl die inwoners nie aldag hul huur (kan) betaal nie Tog sien baie inwoners nie kans om weg te gaan nie, want hul ken geen ander wêreld nie. Hul is hier gebore en getoë. En dis waar hulle wil bly.
Middelpos is nie prentjiemooi nie, maar dit het ‘n oase-atmosfeer omdat dit in die middel van nêrens is.
Stop hier vir ‘n wyle. Sluk iets koels af by die hotel, koop ‘n (klein) rooi suigstokkie by Die Winkel, kyk na ‘n korbeelhuisie wat eens gebruik is as kruithuis, en gooi brandstof in, want die wêreld wat hierdie plaasdorp omring is wyd en verlate.