Dit is dan ook dié kleur wat oorheers in dié Toskaanse dorp en veral die Piazza del Campo, die stadshart waar dit 'n uitsondering is as 'n gebou afwyk van dié geel-bruin. Só 'n rol speel dié plein in sosiale omgang dat inwoners nie sal sê: "Ek het jou lanklaas gesien nie," maar wel: "Ek het jou nie in die piazza gewaar nie." Dít sal wees in die suiwerste Italiaans, want anders as Napolitane en Venesiërs gebruik inwoners van Siëna nie hul eie dialek naas Standaarditaliaans nie, maar slegs laasgenoemde.
Sonder variasie herhaal dié éénvormigheidstema in Siëna: nét Standaarditaliaans, slégs geelbruin geboue, 'n sentrale stadsplein met 'n buitengewoon kragtige samebindende atmosfeer . . . Oor die voordele van verskeidenheid-binne-eenheid is al veel gedebatteer. Hieroor dus niks meer nie. Wat wel vasstaan, is dat dié eenheidsgees 'n karakter aan Siëna gee, wat ek sou beskryf as fel en gedissiplineerd, byna rigied.
"Geleë op drie heuwels wat in die middel afloop na die groot plein, bekend as die Campo, het dit 'n atmosfeer behou wat 'n mens nog duidelik aan sy verskriklike verlede herinner," het W.E.G. Louw geskryf in So ver as 'n engel te perd kan ry (1969). "'n Mens dink aan die rampe wat Siëna oorval het: die slagting van die Florentyne, die pes van 1348 (wat die bevolking van 100 000 tot 20 000 verminder het), die gruwels van die beleg van 1554. Dié dinge het tog die 'siel' van Siëna aangetas. Sy fanatieke gees voel ek altyd as die volmaakte teenstelling met die wyse menslikheid van Florence. Selfs die kuns van Siëna het, in vergelyking met dié van sê maar Florence of Venesië, tot 'n soort rituele formalisme verstrak."
Siëna was tot die pes van die 14de eeu net so invloedryk soos Florence. Met die Renaissance het Florence die voortou geneem onder die Medici-dinastie. Anders as die byna hedonistiese kreatiwiteit waarmee Florence soms geassosieer word, het die Pous sy septer oor Siëna bly swaai.
Uit die 14de eeu staan Siëna se katedraal daar almagtig groot. By die middelskip is daar nooit gekom nie, maar die onvoltooide enkele syflank is enorm genoeg dat dit katedraal heet. Wat die middelskip moes wees, word slegs deur 'n onvoltooide muur en 'n klompie pilare aangedui.
Hoeveel groot dinge het nie as groot drome begin nie? Maar Siëna se grootheidswaan - nes die Toring van Babel - het tot 'n val gekom. So asof Siëna anders as Florence of Rome te klein was om die groot gebaar te verduur. "Te groot gedroom, te groot geleef!" sou jy byna wou sê soos D.J. Opperman.
Nietemin is dit nie heeltemal 'n geval van hoog vlieg en laag draai nie. Met 'n bevolking van 60 000 is Siëna vandag wel veel stiller as byvoorbeeld grootboet Florence (60 km noordwes). In die skadu van Florence staan Siëna egter g'n. Die bene waarop dié bestemming rus, is sterk. Andersins sou dit geensins hier só gedy het van toeriste - 'n uitsoekerige spesie - nie.
In nabetragting is dit egter nie na die grootste katedraal, die effekleurige piazza of die menigte straatkafees wat my gedagtes teruggaan nie, maar na 'n klein swembad.
Hieroor kla ek egter vandag allermins, want 'n leivoor het ons gelei na 'n swemsaal waar Romeine al geduik en geskater het. Uit die onkruid wat uit die swembad se plaveisel groei, was dit klinkklaar dat hier deesdae weinig siele kom. Dalk net dan en wan as iemand die paar visse voer, want toe my hand die watervlak breek om die hemp uit te spoel, swem dié gryses nader.
Ons kon net 'n paar minute in daardie koel saal verwyl, maar toe reeds het ek geweet dit sou een van die hoogtepunte der hoogtepunte van my weke lange kuier in Europa wees. Dalk was dit omdat dit iets heel onverwags was, of omdat dit "ons" s'n was terwyl die skares 'n klipgooi verder verbygestroom het. Ek weet nie.
Met die uitloopslag drup-drup die hemp nog in my hand en ek snik toe ons buite kom, want die lig het oor ons gebreek met 'n intensiteit waaraan my oë nie meer gewoond was nie.
Deur stegies wandel ons na die piazza - een van die mees imposante stadspleine wat ek nog gesien het. Dit is groot, halfrond en omsoom met drie- en vierverdiepinggeboue. Die Italiaanse kleursin tref. Feitlik al die mure is geverf in die verbleikte okerkleur, oftewel siënna soos die mengers van verf dit noem. Dié stadshart is 'n kortbegrip van dié ou stad se geskiedenis.
Somers is dit tyd vir die Il Palio-fees hier en vanjaar vind dit weer plaas op Saterdag, 16 Augustus. Vir die inwoners is die perderesies om die Piazza del Campo 'n kwessie van lewe en dood. Uittarting, bluf, venyn, kranksinnigheid, omkopery, vergiftiging en doodsdreigemente het reeds 'n rol gespeel in dié jaarlikse gebeurtenis sedert 1310.
Aktiwiteite in die piazza begin laatoggend en die resies is in die middag. Dit is pasella, maar jy moet jou staan ken as die menigtes hier saamdring. Die resies bestaan daaruit dat jokkies bloots drie maal om die plein jaag. Dit is binne 90 sekondes verby, maar word voorafgegaan deur akrobate wat vlae vyf uur lank deur die lug rondgooi. Die palio is die banier met 'n afdruk van die Maagd Maria daarop wat aan die wenner oorhandig word. Deelnemers kom van elk van die 17 contrade (woonbuurte) van die stad.
Ja, Siëna is naby aan die kern van die beste wat eeue oue tradisies kan bied.
Langs die reguit sy van die Piazza del Campo staan die Palazzo Pubblico. Dié stadsaal se slanke Torre di Mangia (101 m) is die naashoogste toring wat in Middeleeuse Italië gebou is. Anders as dié in Pisa en menige ander kloktorings staan dié stadsaal se toring nog penorent.
By die nabygeleë Palazzo Ravizza het politici en skrywers vanmeleë graag oornag en in die Tweede Wêreldoorlog het Amerikaanse en Britse offisiere dit hul blyplek gemaak. Gedurende die oorlog was dit dan ook die plek waar die Duitse ambassadeur in Rome vertoef het totdat hy geimpliseer is in die komplot om Adolf Hitler op 20 Julie 1944 te vermoor. Buite dra tafels op sypaadjies swaar aan hemelse kos en Chianti. Hierdie is 'n ideale plek om laatmiddag jou bene te laat rus en te mymer oor dié stad met sy menigte kulturele skatte.