Sunday, July 27, 2008

Sprokieskasteel


CHENONCEAU definieer wat 'n sprokieskasteel behoort te wees: onwerklik dik mure, torings, nimmereindigende dakvensters . . . En buite feetjieagtige tuine wat versmelt in 'n kosmiese wêreld asof aardse grense en gebondenheid nie bestaan nie. Die park wat dié kasteel in Frankryk omring, is groot genoeg om sy eie poskode te hê. Met die uitstap stoot die skemer reeds teen die bome op. Nes by talle ander het ons veel langer gebly as wat die plan was. Cháteau de Chenonceau is taamlik onbekend onder Suid-Afrikaners, maar tel nietemin onder die vyf gewildste besienswaardighede in Frankryk. Dit wil gedoen wees, want jare lank het dié grootse, geskiedenisryke land die meeste toeriste ter wêreld gelok. Dit is nie 'n groot kasteel nie, maar die indrukwekkende argitektuur bly jou by. Dis vir seker een van die mooiste kastele in Europa. Chenonceau, 'n romantiese en speelse paleis, is hoofsaaklik deur vroue gebou. 'n Laan platane lei na die voorhof, wat op dieselfde fondament staan as die Middeleeuse fort (1230) wat in 1411 verwoes is. Jean de Marques het met die bouwerk aan 'n toring daar begin, maar ná 'n vroeë dood het die taak om dit te voltooi op sy aristokratiese vrou en seun se skouers gerus.
Nadat Thomas Bohier, minister van finansies belas met Normandië, die beheer oor die dorp Chenonceau oorgeneem het, het hy in 1515 opdrag gegee vir die bou van die sentrale cháteau. Sy vrou, Catherine Briónnet, het grootliks toesig oor die werkery gehou. Die styl van dié sentrale deel van die kasteel is Goties, maar die grondplan het Italiaanse ondertone. Die lang gang wat na die lig en water lei, eggo moontlik Catherine se liefde vir Venesië, meen die kenners. Kort nadat die Bohiers Chenonceau aan Francois I verkoop het om hul skuld te vereffen het dit weer van eienaar verwissel deurdat Henri II, seun van Francois, dit aan sy buite-egtelike geliefde, Diane de Poitiers, gegee het.
Diane se aandeel in die oprigtingsproses was 'n galery van 60 m wat die rivier met verskeie boë oorspan. Ná Henri se dood in 1559 het koningin Catherine de Medici egter wraak geneem op haar man se minnares en die arme Diane gedwing om die kasteel aan haar terug te gee. Catherine het 'n galery bo-op die bestaande galerybrug gebou. Dit het as balsaal gedien en die cháteau het bekend geword vir sy groot partytjies. Dié groot somershuis het Catherine se gunsteling-woonplek geword. Haar seun Francois II en Maria Stuart het 'n paar maande lank daar gewoon ná hul troue in die Notre Dame in Parys. Die tuine rondom die cháteau het Catherine in 1568 met 'n groot kermis ingewy.
Louise de Lorraine, die bedroefde vrou van Henri III, het die cháteau in 1590 geërf en die hoofkamer se plafon swart en wit geverf. Vandag nog voel dié vertrek somber vergeleke met die liggevulde oopte van die res van die vertrekke. Nes destyds word die vertrekke steeds deur kaggels verhit. Die hele jaar deur vul pragtige reuse-blommerangskikkings die vertrekke. Daar is 'n ryke verskeidenheid Vlaamse tapisserieë, skilderye en meubels in die 16de-eeuse kamers met hul pragtige houtplafonne. Die kombuis in die kelder is feitlik op die rivieroewer. 'n Invloedryke Madame Dupin - 'n 18de-eeuse grondbarones - sou Chenonceau tydens die Franse Revolusie van verwoesting red. Die laaste vrou wat 'n leeue-aandeel aan die instandhouding van die kasteel gehad het, was ene Madame Pelouze, wat 'n groot restourasie in 1863 begin het.
Tydens die Eerste Wêreldoorlog het die kasteel as 'n hospitaal gedien waar meer as 2 000 gewondes versorg is. Die Menier-familie, sjokolade-baronne, het dit 'n jaar vroeër (1913) aangeskaf. Vandag is dit staatseiendom. Ná al die jare staan Chenonceau steeds ondanks vloede. In 2000 het die Cher bevaarbaar geword nadat die regering agt sluise ná 'n halfeeu in hergebruik geneem het. Die kasteel is in die winter tussen 09:30 en 18:30 en in die somer tot 19:00 oop.

Foto's en teks: Jens Friis (kopiereg - soos alles op hierdie blog)