Tuesday, July 29, 2008

Londen se "lelike" "Lego"-logo


Vanaf Vrydag, 8 Augustus sal die wêreld vir 'n paar weke fokus op Beijing, maar ná die afsluitingsfunksie van die 2008 Olimpiese Spele sal die oë draai na Londen.
Vir die Spele van 2012 het die Britte 'n logo ontwerp wat veral byval moet vind by jongmense.
Maar die ontwerpers het die pot lelik mis gesit, want volgens meningspeilings kry selfs die jongklomp nie vat aan hierdie logo nie.
Dis al beskryf as "'n flitsende, flenterse swastika" wat die syfers "2012" uitbeeld, maar dit kos mooikyk om dit raak te sien, want die logo bestaan uit vier hoekige "legstukke" wat misvormde syfers vorm en van kleur en posisie verander.
Daar was groot onsteltenis in Brittanje toe dié "lego"-logo bekend gestel is en talle koerante het hul lesers gevra of hulle nie met iets beters vorendag sou kon kom nie.
Die inskrywings het ingestroom, want baie Britte het gevoel selfs 'n kind sou met iets beters vorendag kon kom.
En toe hulle hoor die amptelike logo het 400 000 pond oftewel R5 900 000 gekos, was hulle behoorlik die josie in.
Onder die klagtes het getel dat die logo "afgryslik lelik" is, dat dit niks van Londen sê nie, dat die kleure van die Union Jack (blou-rooi) nie gebruik word nie, en dat die ontwerp hopeloos te modern is.
Maar dié "artistieke flop" en "kommersiële skandaal" was daar om te bly, want die organiseerders het voet by stuk gehou: iets moderns is nodig vir 2012.
Dit was wel ironies dat 'n bewegende voorstelling van die logo aan die amptelike Spele-webtuiste onttrek moes word ná kritiek van die publiek. Dié besluit is geneem nadat dit bekend geword het dat die verspringende ontwerp epileptiese aanvalle veroorsaak het.