Wednesday, July 16, 2008

Perth: Bloemfontein by die see

Suid-Afrikaners noem Perth dikwels “Bloemfontein by die see”, want dis ‘n kleinerige stad (nes Bloemfontein) waarvan die weskus gevorm word deur die Indiese Oseaan. Maar weens sy duisende Suid-Afrikaanse immigrante is dit bowenal Australië se mees (Suid)-Afrikaanse stad. JENS FRIIS vertel meer van dié pragstad waar die Springbokke vandag speel.

VOORDAT ons onlangs Australië toe is, wou ontstellend baie mense weet: Is dit vakansie óf ‘n verkenningstog (ja, soos hulle voor die Groot Trek gedoen het) vir later se bly?
Omdat jy die tyd invlieg is dit ‘n kort nag oos na Perth, die mees geïsoleerde stad ter wêreld. Dié metropool in Wes-Australië lê geografies nader aan Indonesië as aan Sydney, Melbourne of Brisbane.
Hier aangeland moet jy klokslag die volgende vraag antwoord: “Van waar kom jy?” Maar “Suid-Afrika” alleen is nie goed genoeg nie. Die Aussies wil wéét van wáár in Suid-Afrika? Die Springbokke is immers die wêreldkampioen en bowendien ken iedereen in dié rugbymalland omtrent ‘n Suid-Afrikaanse immigrant.
In die apartheidsjare het die Natte vir die liberale Engelse en Jode gekoggel omdat hulle die pad vat. PFP staan vir “Packed for Perth” het hulle die party van Frederik van Zyl Slabbert gespot. Maar soos my oupa sou sê: moet nooit nooit sê nie, want die wiel draai. Nou is baie van dié einste spotters vóór in die emigrasiery, want dis lankal nie meer net PFP’s wat in Perth gaan uitspan nie.
Omdat Perth immigrante met ope arms ontvang staan dit al bekend as die “Australiese stad van bannelinge”. Die Suid-Afrikaanse regering se laaste syfers het gewys dat relatief min mense na Australië emigreer, maar na al die kere wat ek van my landsgenote daar raakgeloop het, het ek my bedenkinge oor hierdie statistieke. ‘n Dekade gelede het daar na raming 40 000 Suid-Afrikaners in Perth gewoon. Deesdae draai dit glo by die 140 000.
‘n Somaliër wat in Kenia grootgeword het en toe met ‘n Australiese vrou getroud is, neem ons per taxi vanaf die lughawe na ons hotel. “Die brain drain na Australië tref Afrika swaar,” merk hy op. Hy wil weet van die Springbokke, of Madiba nog kan loop en of daar nog toeriste kom, “want die Suid-Afrikaners hier loop te koop met die moord en doodslag. Is dit rerig só erg?"
By die hotel gekom hoor die ontvangsdame dat ons Afrikaans met mekaar praat. “Welkom in Perth,” sê sy, ‘n boorling van Richardsbaai. Sy het na Wellington, Nieu-Seeland, geëmigreer, maar mettertyd na Perth getrek, want Wellington was te nat na haar sin.
“Tog,” vertel sy, “moet jy jou nie misgis met Wes-Australië wat altyd so droog lyk nie. Perth se parke is meestal grasgroen, want hier val meer as 800 mm per jaar."
Dit beteken Perth kry meer reën as Bloemfontein, Johannesburg, Kaapstad of selfs Londen, lees ek later. Veral tussen Mei en Oktober is dit baie nat en in Oktober verander die intense groen landskap in ‘n see van kleur as veldblomme kop uitsteek. "Tog pla dié natweer nie vir my nie, want selfs in die reënmaande is son volop," vertel die ontvangsdame.
Sy gee vir ons 'n kaart van die moderne, kompakte metropool met sy talle wolkekrabbers. Tussen dié hoë geboue kom ons die volgende oggend af op ‘n kerk waar ‘n banier hang met die woorde: “Erediens op Paasvrydag om 09:30. Kom gerus." (Ja, alles in Afrikaans!)
Selfs hier in die middestad is veiligheid nie 'n probleem nie en dis opvallend dat daar feitlik nêrens wagte is nie. “Dis anders hier as in Suid-Afrika,” merk Marcel, 'n Namibiër wat in Perth bly, op, “want in Suid-Afrika leef wetsgehoorsames mos agter tralies terwyl misdadigers op straat is.”
Nog ‘n vriend, Chris, bestempel die Beloofde Land as “sensantional and unreal. Dis rerig die land van melk en heuning. Hier is nie regstellende aksie, korrupsie in die regering, misdaad of politieke onsekerheid nie.”
En so sou ons ook nog met menige ander oud-Suid-Afrikaners te doen kry. Daar was die Durbaniet in ‘n kroeg, die Kapenaar wat hoender verkoop in ‘n KFC, en die meisie wat by ‘n veerbootkaartjieskantoor werk. Sy is in Perth gebore, maar haar pa is van Suid-Afrika en sy was skoon nostalgies omdat hy haar nooit Afrikaans leer praat het nie.
Dan was daar ook gereeld Suid-Afrikaners toeriste wat rondgeloop het in Springboktruie. Die Springbokke pak vandag die Wallabies in Perth se Subiaco. Dié stadion is eintlik vir die Australian Rules gebou; ‘n spel wat op ‘n eiervormige veld gespeel word en dus nie heeltemal geskik is vir rugby nie. Maar dié stadion met sitplek vir 43 000 is nietemin die tuiste van die Super14-span, die Western Force en dis hier waar die toets sal plaasvind.
Mens kan net wonder vir wie die magdermenigte oud-Suid-Afrikaners in Perth vandag gaan skree.