Monday, June 22, 2009

2020 SE KOLOSSE

- Londen
- Parys

- Melbourne

Dié stede sal grootste, duurste en rykste wees

- Jens Friis

CITY MAYORS, die internasionale dinkskrum wat Helen Zille onlangs aangewys het as die beste burgemeester ter wêreld, het 'n lys bekend gemaak van die 100 stede wat hulle glo die grootste sal wees teen 2020.
Teen dié jaar sal Tokio steeds koning kraai met 37,28 miljoen inwoners. Dit word gevolg deur (2) Moembaai met 25,97 miljoen; (3) Delhi met 25,83 miljoen; (4) Dhaka, Bangladesj, met 22,04 miljoen; (5) Meksikostad met 21,81 miljoen; (6) São Paulo met 21,57 miljoen; (7) Lagos met 21,51 miljoen; (8) Jakarta, Indonesië, met 20,77 miljoen; (9) New York met 20,43 miljoen; en (10) Karachi, Pakistan, met 18,94 miljoen.
Tokio is dus grootte-gewys in 'n gans ander liga as sy teenstanders. Dit is bykans dubbeld so groot as Karachi, die tiende grootste stad.
Die beraamde bevolkingsyfers is bereken deur te let hoeveel mense in 2006 in 'n stad gewoon het en dié stad se gemiddelde jaarlikse bevolkingsgroei dan daarop van toepassing te maak tot 2020.
Daar is ook gebruik gemaak van die voorspellings van internasionale en nasionale statistiek-organisasies.
Onder bogenoemde stede sal Lagos tot 2020 die vinnigste groei. Dié Nigeriese stad sal jaarliks 'n allemintige 4,4 % méér inwoners hê. In die tweede plek is Dhaka in Bangladesj (3,79 %) en Delhi in Indië (3,48 %).
Drie van die tien grootste stede sal met minder as 1 % per jaar groei. Hulle is Tokio (0,34 %), New York (0,66 %) en Meksikostad (0,9%).
Interessant is dat twee van die grootste honderd stede na verwagting 'n negatiewe groei sal toon, naamlik Seoul (-0,5 %) en Londen (-0,02%).
Luidens die verslag sal Beihai, China, die stad wees wat die vinnigste sal groei tot 2020 met 'n groeikoers van 10,58 %. In die tweede plek is Surat, Indië met 4,99 % en Kaboel in Afganistan met 4,74 %.
Drie Suid-Afrikaanse stede pryk op dié lys. Ekurhuleni aan die Oos-Rand beklee die 77ste plek en sal na verwagting 4,82 miljoen inwoners hê. Johannesburg is in die 82ste plek met 4,67 miljoen inwoners. Kaapstad haal in die 99ste plek net-net die lys met sy verwagte 3,92 miljoen inwoners.
City Mayors wys in die verslag daarop dat dit uiters moeilik is om 'n "stad" te definieer aangesien verskillende stede deur die jare al só gegroei het dat hulle nou aaneenliggend is. Daarom moet onder meer op sosiale, ekonomiese en kulturele oorwegings gelet word wanneer besluit word watter bewoonde areas 'n stad vorm.
Soos hierbo genoem, sal Lagos die grootste stad in Afrika wees. Dit word gevolg deur Kaïro in die tweede plek met 14,02 miljoen inwoners, Khartoem in Soedan 6,4 miljoen, Dar es Salaam in Tanzanië 5,4 miljoen, Cassablanca in Marokko 5,09 miljoen, Loeanda in Angola 5,06 miljoen, Nairobi in Kenia 5,02 miljoen en Algiers in Algerië 4,93 miljoen.
Volgens City Mayors sal Tokio die rykste stad op aarde wees in 2020. Die daaropvolgende stede is New York (2), Los Angeles (3), Londen (4), Chicago (5), Parys (6), Meksikostad (7), Philadelphia (8), Osaka/Kobe (9) en Washington (10).
Amerika spog dus met nie minder nie as vyf van dié stede.
Al tien bogenoemde welgestelde stede pryk ook op die 2005-lys. Teen 2020 sal sommige bloot van plek verander het.
Maar as 'n stad welgesteld is beteken dit nie noodwendig dat dit duur is om daar te woon nie.
Volgens City Mayors is die aller duurste stad nie in Europa nie, maar wel in Afrika. Nes verlede jaar is Loeanda in Angola die duurste stad op onse planeet.
Ook uit Afrika is Libreville in Gaboen. Dit is die agtste duurste stad.
Die ander stede onder die top tien is almal in Europa: Oslo (2), Stavanger (Noorweë) (3), Kopenhagen (4), Moskou (5), Genève (6), Zürich (8), Basel (9) en Bern (10).