Monday, June 22, 2009

Die trein na Matjiesfontein




"Temadorpies" is hoogmode en talle winkelsentrums en (Monte)casino's word hiervolgens uitgelê. Die ware Jakobs soos Pelgrimsrus, Gold Reef City en Matjiesfontein is egter dun gesaai. Laasgenoemde het JENS FRIIS se hart reeds as kind gesteel en hy doen steeds graag in Matjiesfontein aan as hy die pad Kaap toe vat.

Só HET MATJIESFONTEIN GEGROEI TOT WAT DIT VANDAG IS
Dis aan James Douglas Logan wat Matjiesfontein grootliks sy bestaan te danke het. Voor sy aankoms in 1884 was dit vir ses jaar reeds bloot 'n stopplek vir stoomtreine om water in te neem. Nadat die Australiese skip waarop Logan was byna by Kaappunt gesink het, het hy by Simonstad afgeklim, stasiemeester van die pasvoltooide Kaapstad-stasie geword en is later bevorder tot distrik-superintendent van die spoorweë tussen die Heksrivier en Prince Albert Road.
Omdat Matjiesfontein sentraal geleë was vir sy werk, die droë Karoo-lug goed was vir sy swak bors en hy die alleenreg ontvang het om verversings op Matjiesfontein te verkoop, het die Logans hul daar gevestig. Daar word vertel dat Logan, 'n knap sakeman, 'n fortuin gemaak het deur kokend warm sop te verkoop. Voordat dit drinkbaar was, het die trein vertrek, die sop is teruggegooi in die pot en dit was gereed vir die volgende reisigers. Mettertyd het 'n dorpie aangegroei rondom Logan se Hotel Lord Milner - genoem na die Kaapse goewerneur. Logan was Kaapse parlementslid en diesulkes soos die sultan van Zanzibar en sir Randolph Churchill, vader van Winston, het aangedoen by die landheer wat 100 000 ha rondom Matjiesfontein besit het. Met Logan se dood in 1920 was die Karoo-lug-mode iets van die verlede. Boonop is die hoofpad verlê. Die Matjiesfonteindroom het gekwyn totdat die sakeman David Rawdon die ganse nedersetting in 1968 van Logan se kleinseun gekoop het en die Hotel Lord Milner heropen het. Transnet het enkele jare gelede die pragtige stasiegebou opgeknap en 'n konferensiesentrum ingerig. Die Marie Rawdon-museum, wat ook hier gehuisves word, het van die meeste Anglo-Boereoorlog-memorabilia in die land. 'n Britse kamp met oor die 20 000 perde en 10 000 soldate was destyds hier in die veld. Die letters ``VR'' verwys nog na die heerskappy van Koningin Victoria op 'n briewebus langs die poskantoortjie. Langsaan staan die huisie wat Olive Schreiner gehuur het en waarin sy lang gesprekke met Cecil John Rhodes gevoer het. Deesdae is dit 'n gastehuis soos die meeste huise in die dorp. Die Coffee House, vroeër die algemene handelaar, verkoop outydse lekkers en ander eetgoed. Voor die winkel staan nog twee rooi-en-geel Shell-petrolpompe - 'n verwysing na die nasionale pad wat vroeër hier deur geloop het.

EERSTES EN ENIGSTES
Matjiesfontein spog met talle eerstes en enigstes:
* Die eerste internasionale krieketwedstryd tussen Suid-Afrika en Engeland is hier in die middel van nêrens gespeel. Die destydse heer en meester van Matjiesfontein, Jimmy Logan, het twee toere van Lord Hawke se spanne na Suid-Afrika gereël. Later het Logan betaal vir die ganse Suid-Afrikaanse span se toer na Engeland. The Laird's Arms, waar die dors geles kan word, is vol kiekies van die krieketmal Logan, terwyl die meubels daarin van die Marleybone Cricket Club by Lords kom.
* Tweedside Lodge, 'n Victoriaanse huis met 25 vertrekke, was die eerste in Suid-Afrika met elektrisiteit.
* Daar word aanspraak gemaak dat die langste private telefoonlyn in die Kolonie dit verbind het met Tweedside Farm, 20 km suid langs die N1. Dié foon is nou te sien in die bankmuseum straataf.
* Dié dorpie was ook ander vooruit deur sowel elektrisiteitsvoorsiening en 'n rioolstelsel met water te hê.

SOU JY GAAN
* Matjiesfontein is 'n paar minute se ry uit Laingsburg langs die N1 na Kaapstad. Dis dus nie 'n halfweghuis Kaap toe vir Beeld-lesers nie. Maar dis wel 'n lekker oornagplek as jy die eerste dag ver wil ry en dan oorslaap om die volgende oggend vroeg by die see aan te kom.
* Bring winters genoeg warmklere en somers die nodige sonbrandmiddel en sonbrille, want Matjiesfontein is in die Karoo. Dis tipiese woestynweer.
* Sou jy Matjiesfontein as basis vir 'n paar dae wil gebruik is hoogtepunte in dié wêreld Sutherland en Seweweekspoort.
* En as jy soos Sonja Heroldt die Trein na Matjiesfontein wil vat, gooi dan 'n oog by http://www.spoornet.co.za/ of bel 086 000 8888.