Monday, June 22, 2009

Sutherland: 'n Warm bestemming




- Jens Friis
SUTHERLAND het die twyfelagtige eer om bekend te staan as een van die koudste plekke in die land. Hier het die kwik immers al by -16 C gedraai.
Tog het dit in die afgelope jare een van die "warmste" (naweek)bestemmings geword.
As jy immers nie die hoendervleisweer tuis kan ontwyk nie kan jy netsowel gaan ondersoek instel hoe koud is yskoud. En net dalk, is jy gelukkig en sneeu dit selfs in Sidderland!
Oor dié bibberweer skryf N.P. van Wyk Louw, dalk Sutherland se bekendste boorling, as volg:
ek staan weer by 'n wit poel waar 'n wintermiddag sneeu en ek is klein en hoor verskrik 'n jakkals uit die rante skreeu.
Maar dit is die "blomgroot sterre" waaroor Van Wyk Louw gedig het wat sy geboorteplek werklik op die wêreldkaart geplaas het.
Dié dorp is byna 1 500 m bo seespieël en spog met van die helderste sterbelaaide nagte denkbaar. Dis dan ook 'n hoofrede waarom die Suider-Afrikaanse Groot-teleskoop (SAGT) 18 km buite Sutherland op die Fraserburgpad staangemaak is.
'n Sterpartytjie is op Oujaarsaand 2008 hier gebou waartydens 'n beperkte aantal mense, soos nog nooit tevore, deurnag toegang tot die teleskope gehad het. Dié geleentheid het Suid-Afrika se deelname in 2009 ingelui tot die internasionale Jaar van Astronomie soos verklaar deur die Verenigde Nasies.
Terloops, 2008 was die herdenking van die eerste astronomiese gebruik van die teleskoop deur Galileo Galilei. Dit was 'n gebeurtenis wat 400 jaar van astronomiese observasies ingelui het en 'n revolusie in die mensdom se kennis oor die heelal meegebring het. Ná dié Galilei heet die Galileo Kunsgalery langs Sutherland se hoofstraat waar jy pragtige swart-en-wit foto's kan aanskaf.
Nie te ver van die SAGT-teleskoop staan een van die laaste aktiewe vulkane in Suid-Afrika. Dis moontlik om Salpeterkop met sy onderskeidende donkerswart vulkaniese gesteentes uit te klouter. Selwers het ek dit nie gedoen nie, maar ek kan my net indink dat jy vanaf die piek 'n ongekende blik sal hê oor die die Roggeveld en sy koue sterre-dorp.
Sutherland dateer uit 1857 toe 'n nuwe N.G. gemeente op die plaas De List aangelê is om die Roggevelders te bedien. Die volgende jaar is die eerste woonerwe verkoop. Volgens P.E. Raper se Dictionary of Southern African Place Names is daar besluit dat dié nedersetting sou heet na ds. Henry Sutherland (1790-1879), 'n Skotse predikant van Worcester.
Soos in omtrent alle Karoo-dorpe is die indrukwekkendste gebou op die dorp dan ook juis die N.G. Kerk. Dié Neo-Gotiese kerk is ontwerp deur Charles Freeman, 'n argitek wat ook verantwoordelik was vir die moederkerk op Graaff-Reinet. Dié nasionale gedenkwaardigheid is in 1903 ingewy, maar terwyl dit in aanbou was het die Kakies die kerk beset en dit as slaapplek gebruik, skryf Deirdré Richardston in Historic Sites of South Africa.
Dis oor dié einste kerk wat Van Wyk Louw skryf in sy bekende gedig "Beeld van 'n jeug: Duif en perd". Terwyl die jong seun in die agterplaas van hul huis op die dorp in 'n boek oor die Romeinse geskiedenis lees en die swart hings in die stal hoor, sien hy hoe sy duiwe "met vlerke oop" oor die dorp vlieg:
en hoog sien 'k hulle oor die toring pyl van ons kerk en een groot sirkel trek rondom die dorp, die rante-kom, en seil teen die donkerwolke in wat ver- weg lê en middag maak.
Danksy die ryklike gebruik van donkergrys plaaslike klip het Sutherland 'n merkwaardige argitekturele eenheid. Die boustyle van die kerk, skool, koshuis, polisiekantoor en tronk is byvoorbeeld uiteenlopend, maar dit word deur die gebruik van klip saamgebind. Buiten die donkergrys klip is harpuis-, renoster- en sneeuwit spekbosse ook kenmerkend van dié geweste.
Sou jy Sutherland toe wil gaan is daar omtrent net één pad. Ry met die N1 suid tot anderkant Laingsburg. By die afdraaipad na Matjiesfontein draai jy nie links nie, maar wel regs. Van hier sal die Verlatekloofpas wat uit 1875 dateer jou kronkel-kronkel na die platorand lei. Sutherland lê 120 km vanaf die N1. Onderweg sal jy nie ver verby Gunstefontein ry. Hier het Van Wyk Louw se oupa vanmeleë geboer in die 1880's.
Maar helaas stap die jare meedoënloos aan - selfs in hierdie afgeleë wêreld waar dit weinig anders lyk as toe die eerste trekboere hier huis opgeslaan het.
Dít het W.E.G. Louw maar al te goed besef toe hy ná die dood van sy broer hul geboortedorp besoek en mymer oor 'n vervlietende jeug in "Verslag van 'n winterrein":
Waar is die ruitjies van die plankstoepdeur, rooi en blou en groen? Die tuinmuur, met sy heinings van sipres, 'n donker gang wat oplei na die druiweprieel en die dam? Die agterplaas, met sy duiwehok, sy balie, die warmte van blou gruis? Die stal, met daarbinne, kragtig en swart, die hings wat jou wit oog aankyk in die donker? Dis alles weg. Dis deel van 'n droom. Dis reeds 'n gedig uit die kinderjare van wie hier gewoon het 'n halfeeu gelede . . .

SOU JY GAAN
* Sutherland se toerismekantoor kan gebel word by 023-571-1265. In die omgewing is meer as 20 gasteplase en -huise om te oornag. Maar dis uiteraard nietemin wys om vooruit te bespreek - veral as die wêreld wit getooi is in die winter en die Kapenaars hierheen stroom.
* Dis noodsaaklik om 'n bespreking te maak as jy die SAGT-teleskoop (023-571-2436) wil besoek.
* Winters kan die R354 ysglad wees. So wees ekstra versigtig. Vul jou petroltenk Saterdae, want Sondae is dit soms 'n probleem om petrol te kry.
* Besoek www.astronomy2009.org.za en www.saao.ac.za.