Monday, June 22, 2009

Arme Mona Lisa

Kultusfiguur of kulturele argetipe, uitlokker of onskuldige ikon, Leonardo se misterieuse madonna bekoor na sowat 'n halfmillennium net meer, skryf Jens Friis.

MIN gesigte is meer bekend en bemind as dié Mona Lisa. In New York het ek haar op 'n stortgordyn uit Korea gesien. Op die sypaadjie voor die Keiser Wilhelm-gedenkkerk in Berlyn was 'n straatkunstenaar haar aan 't sketse. Op 'n vriendin se sitkamerbank in Johannesburg dien sy as 'n kussing.
As Mona Lisa nie 'n klarinet bespeel nie, verkoop sy rekenaars of sigare. Vele beroepe moet dié arme vrou beoefen! Die Chinese kan Mona Lisa Skin Oil aanskaf, en in Pole is sy 'n akrobaat op 'n sirkusplakkaat. En ja, die raarste van die lot is dalk in Amerika waar opblaasbare Mona Lisa-poppe van mensgrootte verkwansel word! Die variasies op die tema is verbysterend. Mona Lisa het deel geword van die mens se kollektiewe onbewuste. 'n Kruising tussen 'n kulturele argetipe en 'n ikon van kitsch.
Op 8 Februarie 1999 trek die tydskrif The New Yorker parallelle tussen Mona Lisa en Monica Lewinsky. In die artikel getitel ``Woman of the Year'' skryf David Remnick van Lewinsky: ``In Monica het ons alles en almal gesien wat ons wou . . . Sy pas in alle interpretasies . . . Sy is orals van regsjoernale tot pornotydskrifte . . . Maar Monica [anders as Mona Lisa] is 'n vrou wat nie meer geheime het nie. Haar oë is nie vensters nie, maar spieëls, en wat ons sien, is vreeslik. Nietemin bly ons staar.''
En met 'n oog wat 'n bars kan kyk, kyk ek in Los Angeles. Langs Sunset Boulevard stal 'n vyftigtal Mona Lisa-liefhebbers uit. Die een het 'n humorsin wat selfs Mona Lisa sou laat kraai. Só probeer sy my oortuig dat Michael Douglas al te veel lyk na 'n afstammeling van hierdie geliefde madonna. 'n Ander druk my dít in die hand: ``Mona-Lisa Cocktail: 3 oz. Vodka, 3 oz. Lemon Soda. Stir and pour into a highball glass. Drink while dancing to the song `Mona-Lisa'.''
Ek sien van telefoonkaarte en koekieblikke tot sokkies met slegs een gemene deler: Was daar al 'n bekender werk in die ganse geskiedenis van die beeldende kunste?
``Niemand wil hul tog nét deur mooi en funksionele goed omring nie,'' verklaar 'n Mona Lisa-fanatikus waarom hy drie identiese kaassnyers het waarop onse Lisa verskyn.
Onnodig om te meld, is dit ook sy wat pronk op Frank Zappa-plakkate, oorringe en porno-speelkaarte op sy uitstaltafel. Dit alles is nie te koop nie, maar wel die Mona Lisa-legkaart wat te kry is op CD-Roms vir Macworld, MacFormat en/of The Mac.
Het hy al die ware skildery in die Louvre gesien? vra ek.
``Nee,'' sê hy. ``In Amerika het ons alles net nie die egte Mona Lisa nie. Maar my ma het haar al gesien. Dit was in Januarie 1963 kort nadat Mona die Atlantiese Oseaan oorgesteek het en deur pres. en mev. Kennedy verwelkom is.''
``Dis eienaardig dat Mona so gewild is, want hierdie Florentynse edelvrou is omtrent die enigste artistieke voorwerp in die Louvre wat nie naak is nie,'' sê sy makker wat wel al in Parys was. ``Elke dag is die menigte wat nie op die Eiffel is nie, voor Mona Lisa, en sy kyk na hulle met daai enigmatiese uitdrukking van iemand wat wonder oor die tydlose vraag: Waarom bly hul foto's neem, hoewel dit uitdruklik verbied word?''
Die misterieuse manier waarop Mona Lisa se glimlag verander, afhangende hoe jy daarna kyk, kan moontlik toegeskryf word aan die fisiologie van menslike sig. ``What is it with Mona Lisa's Smile? It's You,'' kondig die New York Times dié moontlikheid onlangs aan.
Volgens Margaret Livingstone, 'n Harvardse neuro-wetenskaplike, het Mona Lisa sowel ``sentrale visie'' as ``periferiale visie''.
Die eerste fokus op detail en die laasgenoemde op skadu's.
``Hierdie skaduwees suggereer en versterk die booglyne van 'n glimlag. As die kyker se oë egter direk na Mona Lisa se mond gaan, word die skadu's weens sentrale visie nie gesien nie,'' verduidelik Livingstone. ``Gevolglik verskyn en verdwyn die glimlag voortdurend afhangend hoe jy na Mona Lisa se gesig kyk . . . Die aktrise Geena Davis vertoon ook hierdie Mona Lisa-effek.''
Met die skryf hiervan het seminare oor die skildery gedy. Wie behoort die Mona Lisa te besit? vra hulle. Hoe is Leonardo se Mona Lisa gebruik en vervorm deur die moderne wêreld en veral die handel? Wie het die volmaakte Mona Lisa?
Ja, dié vrou bly gewis bekoor - oor grense én tyd heen.