Monday, June 22, 2009

Só is Geneefse fontein "oopgeboor"

- Jens Friis

En hoor jy die magtige dreuning?
Oor die meer kom dit aangesweef ...
Dis die bewys van Genève se ontwaking.
Wat almal laat glimlag en juig.

GENèVE. Die Jet d'Eau, die ikoon van Genève, pryk op omtrent elke yskasmagneet, boek of poskaart oor dié stad, is die logo van die toerisme-kantoor en as dit afgeskakel is sal jy sonder twyfel wonder wat jy mis.
Hoe dié fontein ontstaan het, is 'n fassinerende verhaal.
Die huidige Waterfontein se voorganger dateer uit 1886. Die hidroliese turbines langs die Rhône-rivier se waterdruk is destyds gebruik om masjiene in die stad aan te dryf. Saans was daar egter 'n oormaat waterdruk as die stad se ambagsmanne huiswaarts gekeer het.
'n Opgaarsisteem vir die surplus waterdruk was in die pyplyn, maar tot dan moes daar 'n ander plan gemaak word. As tussentydse maatreël het 'n ingenieur toe 'n klein gaatjie aan die einde van die waterdrukkanaal laat boor.
Die resultaat, 'n fontein wat 30 m die lug ingespuit het, was onmiddellik 'n trekpleister waarheen mense van wyd en syd gestroom het.
Toe die tydelike uitlaat onnodig geword het, het die stadsvaders 'n gulde geleentheid gesien om hul stad te onderskei deur middel van 'n soortgelyke fontein.
Gevolglik is die Waterfontein in 1891 van die Rhône-rivier na die meer wat Genève omsoom, verskuif.
In die jare wat kom sou al sterker pompe en spreiligte aangebring word.
Deesdae troon die Jet d'Eau 140 m die lug in wanneer 500 liter water uit die pyp se tuit gespuit word teen 200 km/h. Vandat 'n druppel die fontein se oog verlaat totdat dit in die meer plons neem 16 sekondes.
Die fontein spoeg daagliks water die lug in gedurende die Europese somer van Mei tot mid-September tussen 09:30 en 23:15. Tussen laat-Maart en April, en mid-September en Oktober is dit Maandag tot Vrydag van 10:00 tot sonsonder te sien, en op Saterdae en Sondae van 10:00 tot 22:30.
Op winderige dae kan die fontein se pluim die omliggende straat en geboue waternat spuit. Daarom word die Jet d'Eau afgeskakel as die wind sterk word.
Om die krag en geraas van die verwoede water die beste te ervaar, moet jy op die pier ("jetty") uitstap. Maar oppas: jy kan dalk net papsopnat word as van die Switserse sproeireën op jou neerplons.