Monday, June 22, 2009

Julia se Biot



JENS FRIIS vertel hoe hy, vars terug in Frankryk, aan’t gesels geraak het met ‘n sonderlinge dame.

BIOT is een van min heuweldorpies noord van Cannes waar massa-toerisme nog nie sy allesvernietigende opmars begin het nie.
"En mag dit my tog gespaar bly!," wens 'n inwoner, Julia Spencer (82). "Waarom almal alewig elke geleentheid wil aangryp, weet ek nie. Dit kan jou lewe ruïneer en jou voortydig in die graf laat beland!"
Dat soveel grysaards Biot se keisteenstrate bewandel, is 'n bewys dat die Here die inwoners lief het, reken Julia.
Dit is reeds tien voor tien op 'n Woensdagoggend in die hartjie van dié dorp, maar om die stadsplein is daar nog min voete. Die dag word stadig wakker hier.
By die enigste kafeetjie/restaurant wat al oop is, sit ek iets en drink.
Julia is reeds ure wakker "soos dit mos maar met oumense gaan". En nou sit sy haar bene en warm bak in die herfssonnetjie voor ‘n geskenkwinkel van 'n vriendin. Dié winkel staan skouer aan skouer met die kafeetjie/restaurant waar ek sit en dít was die aanknopingspunt vir ons impromptu-gesprek.
Op Julia se skoot lê dié geweste se dagblad. Dit lees sy van hoek tot kant, maar dié lesery gaan maar met 'n slakkepas. Die koerant speel tweede viool, want daar is baie dinge wat éérs haar aandag verg.
Hieronder tel ‘n gewroeg oor die vrou oorkant die straat wie se gordyne "permanent pottoe is", die lug wat vandag "darem baie blou is" langs die Middellandse See, en die priester wat wéér onder sy nikotiendrang geswig het.
Laasgenoemde is vir haar 'n steen des aanstoots. "Tipies Fransman, het my man óók gerook. Hy's dood daarvan. Longkanker. Maar ek lees hulle sê selfs die Franse rook ál minder."
Die kerkklok slaan tien keer en kort hierna word die stilte versteur deur die skoenklankeggo's van 'n vrou op hoë hakke.
Julia kyk op vanaf haar koerant - iets is aan't gebeur.
Uit 'n verdwaalstegie kom die eienaar van die restaurant waar ons die vorige aand wou gaan eet.
Vanaf die straat was dit moeilik om verby dié eetplekke te stap. Dit het nie voorgegee om iets spoggerigs te wees nie, maar die buffet het byna geswig onder die oorvloed - soos dit net in hierdie geweste kan wees waar alles volop is. (Selfs die kleine Biot het elke Dinsdag en Vrydag 'n varsprodukte mark waar boere hul beste suurlemoene, tamaties en olywe kom verkwansel.)
Helaas was daar dié aand g'n plek vir 'n muis by dié eetplek nie.
Tog reken Julia nietemin dat ons steeds 'n draai daar móét gaan maak, want jy kry "gawe, geurvolle porsies".
Volgens my bejaarde gespreksgenoot is die ander geheime van dié restaurant se sukses "dat die baas produktiwiteit met gehalte meng" en "dat sy hou van wat sy doen".
"Maar die belangrikste bestanddeel ...," deel Julia my vertroulik mee "is dat daai vroutjie 'n skeutjie Biot-wyn by omtrent al haar disse voeg. Dís waarom algar daar so lekker kuier-eet."
Ons sou nog lekker lank kon gesels, maar Julia se vriendin het vanuit haar geskenkwinkeltjie na haar geroep. Sy het 'n besending glasware (waarvoor Biot bekend is) ontvang en Julia moes help uitpak.
En só het 'n onverwagse geselsie te gou tot 'n einde gekom.
Soos ‘n vriend al opgemerk het: Dit is immers so dat dit deesdae maklik is om te reis, maar al hoe moeiliker om met plaaslike inwoners te meng.



SOU JY GAAN
* Eet iets by die handvol restaurantjies langs die Places des Arcades en drink die atmosfeer in van hierdie Middeleeuse dorpie wat byna 2 500 jaar oud is.
* Sien hoe Biot se "bubble-flecked" glasware gemaak word by onder andere Verrerie de Biot langs Chemin des Combes.
* Die versteekte Rooms-Katolieke kerkie bly my by. Let op die lys name teen een van die kerkmure. Dít gedenk inwoners wat deur die eeue met hul lewens moes boet weens rampe soos aardbewings en brande.
* Selfs in Augustus tydens die Europese skoolvakansie is Biot selde besig. Ook die weer is by hoë uitsondering goor. Dis dus heeljaar goed om Biot te besoek.
* In die winter sluit baie blyplekke langs die Franse Riviera egter hul deure. Dis wys om veral dan vooruit plek te bespreek.
* Biot is uitstekend geleë. Gunsteling vakansiebestemmings soos Nice, Cannes en Antibes is slegs 'n klipgooi ver. Die Biot-treinstasie is op die Cannes-Nice-lyn, maar dis 4 km vanaf die dorp. Jy sal dus moet stap óf ‘n duur taxi neem. ‘n Beter opsie is een van die vele busse wat Biot met die kusdorpe verbind.