- Jens Friis
BESOEK jy Montréal, die tweede grootste Franssprekende stad naas Parys, is dit verstommend watter onderskeidende Quebecois-kultuur inderdaad bestaan – ’n ongewone bestuiwing van Europese joie de vivre en Noord-Amerikaanse can-do. Die ervaring is byna soos jy jou ’n idilliese rendezvous in Parys sou voorstel, maar Montréal is g’n kloon van die Franse hoofstad nie.Greene Avenue en Sherbrooke Street in Wes-Montréal het ’n tipiese Britse gevoel met hul kroeë en Victoriaanse geboue. Langs grastennisbane word op lowergroen rolbalbane kroket gespeel. In die Queen Elizabeth-hotel het John Lennon en Yoko Ono in 1969 dae lank nie suite 1742 verlaat nie en Give Peace a Chance opgeneem.Montréal herinner Franse ook nie aan Parys nie. Die stad se strate loop, nes dié in New York, in ’n roostervorm. Franse stede, nes Washington DC, is ontwerp rondom sirkels waar boulevards soos die speke van ’n wiel na ’n as lei.Digby die magtige St. Lawrence-rivier loop keisteenstrate verby voor die oudste huise in Noord-Amerika. Sewentien jaar voor Van Riebeeck se koms na die Kaap het Jacques Cartier 1 400 km die kontinent binnegeseil en hier ’n Indiaanse nedersetting, Hochelaga, gevind. Hy het na die heuwel waar om die stad gebou sou word, verwys as mont réal (Frans vir koninklike berg) Vandaar die naam Montréal.Mettertyd het die Engelse die bewind oorgeneem en veral Joodse, Italiaanse, Chinese en Russiese immigrante het hulle hier gevestig. Dit gee ’n kosmopolitaanse gevoel aan Quebec se grootste stad. Op buitelugverhoë, in parke en sale, maar veral in die stegies en pleine naby die hawe, weerklink note uit vreemde wêrelddele. Straatmusikante hou sy-aan-sy-konsert. Feitlik oral is jy veilig. Selfs gure karakters sê “excusez moi” pleks van om jou vreemd aan te kyk sou jy per ongeluk teen hulle stamp.Langs die Rue Notre-Dame is die Hotel de Ville, ’n tipiese Franse stadsaal waar Charles de Gaulle op ’n balkon sy bekende “vive le quebec libre”-toespraak in 1967 gelewer het. St. Denis en St. Laurent Boulevard is omsoom met bistro’s, patisseries met uitstekende croissants en sypaadjie-kafees soos Parys se St. Germain des Pres. In die somer is dit stampvol as Perrier gedrink word teen die ondraaglike humiditeit.Jy eet ’n crepe, kyk hoe ’n straatkunstenaar die portret van ’n kleuter afrond en groet wuiwende verliefdes op ’n perdekoets met ’n “bonjour”. En ja, die Quebecane soen, nes die Franse, graag hul geliefdes op straat.Wanneer vars sneeu in die winter soos bakpoeier onder jou voete op straat kraak, is die talle reuse-boekwinkels net die plek om tyd deur te bring. ’n Magdom koerante en leesstof in Frans is te koop, maar ook heelwat van oral oor die wêreld. Te kry uit Afrique de Sud is Kentridges, Krogs, Coetzees, Mandels en Makebas. Vir die gemiddelde Quebecaan staan Franssprekende Wes-Afrika egter voorop.Die inwoners van Quebec is gaande oor disse wat moeilik in Frankryk of elders in Kanada te kry is – soms met goeie rede. Hieronder tel poutine, ’n bord aartappelskyfies met vleissous en gesmelte mozarella bo-oor. Tog is Kanadese cuisine ietwat van ’n oksimoron. Ontbyt is groot, en soos in Amerika, kompleet met wafels en esdorsingsap (marple syrup) of bagels. Varkpasteie met dik ertjiesop is tradisioneel, maar jy sal waarskynlik dieselfde eet as in Londen of Kaapstad – dalk net minder skaapvleis.Stap jy uit ’n restaurant word jy met die kenmerkende “merci-bye!” gegroet. Die inwoners spring vaardig tussen hierdie twee tale in ’n stad wat onderskeidelik deur Franse, Engelse en Kanadese gebou is. Altesaam 66% van die 3,1 miljoen inwoners praat Frans en net 15% Engels.CD’s deur plaaslike kunstenaars word in toonvensters saam met dié van sangers uit Frankryk uitgestal. Daarna kom jy eers op Amerikaanse pop-musiek af. Selfs Celine Dion, dalk Montréal se bekendste inwoner, verkies Frans, maar snap die noodsaak van Engels en slaan gemaklik oor soos die situasie dit vereis.Want die Quebecane het besef: Erken verskille, maar skat die ooreenkomste na waarde sodat dit as basis kan dien waarop lewens tesame gebou kan word.