- Jens Friis
’n ONVERWAGSE manuskrip lewer dikwels ’n beter boek op as een wat gestuur word met groot fanfare, sê ’n uitgewersvriend.Tydens ’n besoek aan Londen het ek ’n soortgelyke ervaring gehad. Ek het nie met groot verwagtings na die John Soane-museum gegaan nie, maar toe ek daar uitloop, was ek hoogs beïndruk oor hierdie vonds. Dit is nie net ’n argiektuurmuseum nie, maar ’n imposante dorpshuis met ’n allemingtige eklektiese kunsversameling. Sy eertydse eienaar en naamgenoot is in 1753 gebore as die seun van ’n messelaar. In 1777 het John Soane met ’n reisbeurs van die Royal Academy vir drie jaar in Italië gaan woon. Dis dan ook hier waar hierdie argitek begin versamel het aan sy omvangryke kunsversameling. In 1806 het Soane hoogleraar aan die Royal Academy geword. In hierdie tyd het hy ’n huis langs Lincoln Inn Fields gekoop, ’n park wat vandag nog rus bied vir voosgeredeneerde prokureurs in die kern van Londen se regswêreld.Hierdie woning langs Lincoln Inn Fields 12 tot 14 het ’n meervoudige doel vir Soane gedien. Dit was nie net woonplek nie, maar ook sy argitekskantoor, biblioteek, uitstalplek vir van beelde tot skilderye, en ’n gebou waar hy vrye teuels aan sy argitektoniese drome kon gee. Hier kon hy letterlik bou en verb(r)ou. Nietemin getuig die kamers wat hy opgeknap het van basiese riglyne wat hy altyd nagevolg het soos skoon lyne, vindingryke gebruik van ligbronne, oordeelkundige detail en presiese proporsies. Sy Neo-Klassieke styl het uiters gewild geword en sy praktyk het gefloreer. Dalk sy belangrikste werke was die Dulwich College-kunsgalery en die Bank of England. Laasgenoemde het ’n groot invloed gelaat op die ontwikkeling van kommersiële argitektuur, maar is helaas in die 1920’s grootliks deur sir Herbert Baker herbou. Hierdie afbreek van Soane se vlagskipprojek is al beskryf as “die grootste argitektoniese misdaad in Londen tydens die twintigste eeu”. Weens die baie opdragswerk het geld na Soane gestroom en kon hy artefakte versamel wat in die British Museum sou kon tuishoort. Hieronder tel waardevolle brons uit Pompeii, skilderye deur Canaletto en Hogarth, asook ’n sarkofaag van Seti I, ’n Egiptiese farao. Ná die dood van sy vrou in 1815 het hy in hul dorpshuis bly woon. Sy oë het aansienlik verswak, maar hy het steeds stukke bly aankoop en sy versamelings herstruktureer. Met sy twee seuns was hy nie ingenome nie en aan hulle wou hy niks bemaak nie. Daarom het Soane bepaal dat sy huis bewaar moes word sodat “amateurs en studente” hieruit vreugde en kennis kon put. En dis hoe die John Soane-museum tot stand gekom het. Die maklikste om hier uit te kom is deur die moltrein na Holborn te neem. Die museum is ’n klipgooi van hier – reg langs die groen oase genaamd die Lincoln Inn Fields.Die museum is van Dinsdag tot Saterdag tussen tien en vyf oop. Toegang is pasella.Byna 100 000 besoekers doen hier aan per jaar – nogal ’n lot vir ’n huismuseum. Daarom is dit wys om met oopmaaktyd teen tien ’n draai te maak, want anders mag jy dalk in ’n tou staan.