Monday, June 29, 2009

Kom voel dat jy lééf . . .




JENS FRIIS het in die Zambezi-rivier gaan baai en letterlik oor die rand van die Victoria-waterval geloer terwyl net sy kop uit die water steek.
ONLANGS speel ek en ’n groep vriende Truth or Dare.“Wat’s die gevaarlikste dog wonderlikste ding wat jy ooit gedoen het?”Aarsel hoef ek nie, want dit sal my immer bybly. “Dis die keer wat ek letterlik uit die waters van die Zambezi oor die rand van die Victoria-waterval geloer het . . . ” Maar verder as ’n inleidende sin kom ek nie. “Nee wat!” sê ’n stem vol ongeloof. “Probeer ’n ander storie . . . Daai een koop ons nie.” En g’n regdenkende mens sou seker nie. Te dik vir ’n daalder klink dit. Maar dié is g’n wolhaarstorie nie. Só het dit gebeur . . .Een smoorwarm Saterdagmiddag stap ek van die Royal Livingstone Hotel na die waterval. Die res van die groep dut en ek wil gaan prentjies maak - die oggend se bewolkte weer was nie ideaal vir foto’s nie. Dis met dié fotonemery dat ek met ’n Zambiër aan’t gesels raak. Hy blyk ’n deurwinterde (nie-amptelike) gids te wees wat besoekers rondwys en só ’n bestaan voer. “Kom ek wys jou Livingstone Island waar dr. David sy tent in 1855 opgeslaan het,” stel hy voor. “Jy kan ná die tyd besluit hoeveel jy my wil gee.” Dis moeilik om dié uitnodiging te weerstaan. Vooraf het ek gelees die eiland is ’n Wêreld-erfenisterrein. Geen permanente strukture mag opgerig word nie en slegs agt mense op ’n keer word toegelaat. Die toegangspoort is ’n boot wat daagliks om 16:00 daarheen vaar.“Kan mens dan daarheen stáp?” wil ek weet.Hy knik. “Kyk, die Zambezi is nou op sy laagste. Groot, groot dele van die rivierbed is droog. Oor drie weke sal die reëns weer begin.”Net vóór die reënseisoen in Desember is die miswolk bo die waterval die kleinste. Dan stort 18 miljoen liter water per minuut hier af teenoor 320 miljoen  liter in April. Maar ten spyte van hierdie skouspel twyfel ek steeds oor die potensiële avontuurtog met die gids. Ek kan tog nie sommerso Suidelike Afrika se langste rivier (2 060 km) invaar (lees: stap) nie.“Wáár is die eiland?” wil ek weet.Dáár (asof nie te ver nie), wys hy met ’n vinger in die rigting van die rivier. Ek skerm met my hand. My donkerbril lê (soos gewoonlik) tuis.“Goed,” sê ek. “Kom, ons stap.”Maar spoedig blyk dit dat die skyn bedrieg. Livingstone-eiland is heelwat verder as wat dit lyk en die sakkende son kleur reeds die horison nartjie-oranje oor Zimbabwe. Ons gaan beslis nie tot by Livingstone­-eiland kom nie. Daarom besluit ons om tot by ’n sekere waterpoel te stap. “Dis een van my geliefde plekke, ’n natuurlike jacuzzi op die rand van die afgrond,” vertel hy.Hier van die Zambiese kant het ons ’n ongewone blik op Victoria se vyf aparte valle - ’n oostelike katarak, die reënboogwaterval, die hoefysterwaterval, die hoofwaterval en die duiwelskatarak aan die westelike kant.Ons spring oor strome, en soms moet ons daar déúr. Dan moet jy jou staan ken, anders vat die stroom jou. Menigeen het al hier afgespring óf geval - onder andere ’n Brit in ’n kano. Op ’n wonderbaarlike manier het hierdie Engelsman oorleef. Hoe, weet nugter. Al die ander is dood. “Ten minste is hier nie ’n gevaar dat ons op ’n krokodil gaan afkom nie,” probeer hy gerusstel. “Krokodil se kind weet om weg te bly van hierdie afgrond.”En ’n áfgrond is dit gewis: teen 110 m diep, 50 m breed en 1,7 km lank is dit veel groter as Niagara of Iguazu.Die vallende water veroorsaak ’n oor­ver­dowende lawaai. Daarom dat die inwoners die waterval Mosi-oa-tunya noem, oftewel “die rook wat donder”. Livingstone het in sy 1855-dagboek geskryf dat die miswolke lyk soos “die rook van groot grasvlaktes wat brand”. Ons kom ’n drietal toeriste (ook met ’n gids) teë wat met groot lof van die kleine rotspoel praat. Maar verder is g’n siel in sig nie. Dis ongelooflik dat ek hierdie natuurwonder vir myself het. Victoria val immers in dieselfde klas as Kilimandjaro, die Sahara, die piramides of die vulkaanparadys Ngorongoro. Dis een van die Sewe Wonders van die Wêreld.Hoewel dit stil hier lyk, gaan dit beter met Zambië se toerisme as ooit weens voort­slepende politieke onrus, bloedvergieting en kapings in Zim. Die laatmiddaglug smeul in die son. Ek vee die sweet af toe ons by die rotspoel kom.Dit moet die bes geleë “jacuzzi” ter wêreld wees: ’n rotspoel genestel presies daar waar die Zambezi-rivier in die Victoria-waterval verander. Soos die gids gaan lê ek op my maag in die rotspoel, rek my nek uit en loer oor die afgrond. Die einste waters wat oor ons lywe spoel, vloei millimeters verder nie meer ­horisontaal nie, maar raak aan’t stort en plof 110 m laer neer.Dit was só ongelooflik dat ek byna my nek verrek het om telkemaal wéér na die wonder te staar. Was ek van lotjie getik om só ver te gaan? Dalk, maar dis wel so dat vrees grootliks vrees kan besweer. Jy raak gewoond daaraan. Soos Livingstone dit gestel het: “The sense of danger vanish­es when you are in the country of the lions.” En wáár is dít meer gepas as hier, waar adrenalienver­slaafdes deur stroomver­snellings en maalkolke roei, van die Vic Falls-brug spring, toeriste op olifante ry . . . of ek oor die waterval-afgrond hang.Kom doen mee as jy ’n woema-mens is wat die lewendigste voel in extremis, die grense wil toets.Maar onthou: dis op eie risiko. Soos my Truth or Dare-maat graag sê: Die kerse met die grootste vlamme brand meestal ook die vinnigste uit..