Thursday, February 19, 2009

Beleef die Andes te perd

- Jens Friis
ONLANGS kry ek die skitterende boek "Unforgettable journeys to take before you die" onder oë. Hierin lys Steve Watkins en Clare Jones 'n twintigtal "wonderreise" waaronder 'n kanorit op Kanada se Yukonrivier, 'n staptog saam met Wordsworth deur Engeland, 'n rit per motor deur New England se herfsblareprag tot hoe om die uitgestrekte Uyuni-pan in Bolivia oor te steek.
In dié boek sou 'n rit te perd deur die Andes eweneens kon tuishoort, want dis gewis 'n ongewone en onvergeetlike reis deur 'n ongeskonde wêrelddeel.
Toe die geleentheid hom voordoen om 'n stukkie van dié magtige bergreeks te perd te verken, het ek dit dus nie van die hand gewys nie. Soos 'n wafferse gaucho (Amerikaanse cowboy) het ek en 'n vriend een vroegmiddag ons perde opgesaal by 'n ryskool sowat twee ure oos van Santiago.
Ontdekkingsreisigers, Wilde Weste-uitgeworpenes, en dapper pioniers het sover skaars hul merk gelaat op die Andes. ’n Rede hiervoor is dat die mensdom nooit in ’n stroom hierheen getrek het nie. Dié indrukwekkende berge is te bar en die klimaat allermins vriendelik.
Suid-Amerika word in twee gespalk deur die Andes. Wes daarvan lê hoofsaaklik Chili en oos Argentinië. Tydens 'n vlug van Buenos Aires, na Santiago steek jy die Andes oor. Selfs vir 'n leek is dit duidelik dat dié pieke veel hoër is as dié van die Drakensberge. Maar daar is tog 'n parallel te trek tussen die Drakensberge en die Andes: Nes vir byvoorbeeld Bloemfonteiners wat na Durban wil reis, is die Andes vir die meeste Suid-Amerikaners 'n "lastigheid". Só tydrowend is dit om per pad hieróór te reis dat hulle meestal verkies om te vlieg.
Om dié berge vanuit 'n saal te aanskou is 'n perd van 'n gans ander kleur, want jy beleef die natuur van naderby. Anders as in 'n voertuig is jy nie meer 'n waarnemer nie, maar 'n deelnemer. En anders as te voet kan jy nou groot areas sien waar jy andersins nooit sou gekom het nie. Die perde word nie maklik pê nie en boonop ken hul die voetpaaie langs die duiselingwekkende afgronde. Terugskouend is dit beter om nie daaraan te dink dat dit slegs 'n voetfout van dié diere gekos het en ek - en hulle - sou wegwêreld gewees het.
Die gevoel van drama en spanning word verhoog deurdat die perde dol is daaroor om deur die bergspruite te galop. As jy hulle nie terughou nie, klap die hingste se hoewe blitsig deur die water in die driwwe. Koel druppels spat teen jou lyf en gesig. Dis 'n verkwikkende ervaring, want selfs op hierdie hoogtes kan dit nogal warm word. Dalk dié hoogtepunt vir my was 'n onvergeetlike bergpoel met waterlelies waar die perde kon drink en ons die sweet en stof kon afwas - só in die saal ruik mens vinnig-vinnig pure perd. As jy die Andes te perd wil verken is daar verskeie pakette beskikbaar. Die "toer" gaan uiteraard oor meer as net perdry. Let op watter verblyf, maaltye, noodhulp en (satelliet)kommunikasie die operateurs bied. En sorg dat jy perdryfiks is, want ongeoefende boude word vinnig styf en lam.
'n Rit wat ek graag nog eendag sal wil meemaak is vanaf Las Leñas in Argentinië na die Chileense grens. Só 'n tog duur vier dae. Vir meer inligting kyk by www.laslenas.com.
Nader aan die huis bied African Horseback Safaris perderitte deur Botswana se Okovango-delta. Omdat wilde diere nie vir perde as 'n gevaar beskou nie, is dit moontlik om 'n klipgooi vanaf olifante en kampeelperde te kom. Veral hierom meen die skrywers van "Unforgettable journeys to take before you die" dat hierdie een van die "most exhilarating wildlife journeys" op aarde moet wees.